Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux
Hoofstuk 11
In die weke hierna werp Theo al sy energie in sy werk. Die groot huis met sy min kamers lê soos ’n deurgesnyde piering teen die effense rantjie waarop dit gebou is en dikwels as hy daar is, hou mense stil om te kyk. Die halfmaanronding van die huis bestaan feitlik net uit glas en hierdeur sien hy hoe die winter stadig verbygaan en die eerste groen blare aan die bome oopmaak. Een van sy opdragte was om nie die natuurlike bome op die perseel uit te kap of te beskadig nie – iets waarmee hy volmondig saamstem – en soos die huis sy finale afronding bereik, lyk dit al hoe meer asof dit maar altyd daar was, nog iets wat aansluit by sy filosofie.
Wat wel aan hom krap, noudat dit te laat is vir ’n vitterige eienaar om eise te stel, is die feit dat daar niemand is wat goedkeur of opgewonde is nie. Die gereelde oproepe of briewe van die trustmaatskappy verseker hom die huis is presies wat hulle wou hê en daarmee moet hy genoeë neem. Maar hy sou tog daarvan gehou het as ’n individu, die mense wat in die huis gaan woon, vir hom sê dis vir hulle mooi, dis wat hulle wou hê.
Van Therese hoor hy nie en as hy bel, is sy onbereikbaar. Ná hulle die middag by die huis gekom, hy sy tas uitgehaal en die motorsleutels vir haar gegee het, het hy haar nie weer gesien nie.
“Dankie,” het sy daardie middag vir hom gesê, “dat jy haar so mooi bestuur het en vir die naweek.”
“Was dit regtig vir jou lekker?” het hy gevra. “Ten spyte van Hansie?”
Sy het lank na hom gekyk, gelyk asof sy iets wou sê en daarteen besluit.
Hulle het nie weer die luiperd gesien nie, maar genoeg bokke, sebras en kameelperde om haar gelukkig te hou. Sy het ook groot gedeeltes van die dag by sy ma gesit en gesels of saam met sy ma eiers uitgehaal, hoenders kosgegee of etes gemaak. Hy het lankuit in die son op die stoep gelê en homself wysgemaak dis baie lekker dat hy haar nie heeldag moet amuseer nie.
En die derde nag het hulle nie eers daaroor gepraat nie. Hy het sy matras langs hare op die vloer gegooi, die mure, vloerlyste en dak bekyk vir tekens van Hansie of sy gesinslede en geslaap met sy arm om ’n toegerolde Therese. Sy het blykbaar klaar gesê wat sy wou sê, óf oor sy liefdeslewe óf oor die gevaar van grillerige spinnekoppe, want sy was nie spraaksaam nie en het rustig geslaap lank voor hy sy gedagtes genoegsaam hokgeslaan het om self te slaap.
“Mag ek jou soms bel?” het hy haar gevra voor sy gery het.
“Ag, dis nie nodig nie,” was haar minsame antwoord.
Om te bel en Sandra op die lyn te kry, was ook nie sy idee van pret nie. Sy het hom onophoudelik vertel van hulle vakansie in die Seychelle, die trouplanne wat nou vorm aanneem, wat ’n gelukkige mens sy is om iemand so standvastig soos Riaan te gekry het.
“Is Therese daar?” vra hy elke keer nes hy ’n woord kan inkry.
Die antwoord is altyd dieselfde. “Nee.”
En sy is die een wat vir hom gesê het sy wil nie saans uitgaan nie, dink hy wrokkig. Sy wil vroeg in die bed klim met ’n boek en hou meer van haar elektriese kombersie as enigiets anders.
“Waar is sy?” vra hy elke keer vir Sandra. “Wanneer kan ek haar in die hande kry?”
“Ek vra nie uit nie,” sê Sandra geskok. “Weet jy nie dat dit die hoeksteen van ’n goeie verhouding is tussen woonstelmaats nie? Ons moet mekaar se privaatheid respekteer.”
Wat hom selfs meer kriewelrig maak, is wanneer Sandra vertel van die huis waarin sy en Riaan gaan bly. Dit klink vir hom baie oninteressant, maar sy beskryf elke kamer en plant in die tuin met ’n entoesiasme wat sy vantevore net vir haar liggaamsdele gehad het.
“Bly Therese dan alleen agter in die woonstel?” vra hy.
“O nee, sy het haar eie planne.”
“Watse planne?”
“Theo, moenie so inmengerig wees nie. Dis nie vir my om dit vir jou te sê nie. As sy wil hê jy moet weet waarheen sy gaan, sal sy mos self vir jou sê.”
Hy raak knorrig en Kerneels kom dit agter.
“Iets is fout,” sê hy een middagete in Figaro. “Ons ken nie ons Theo só nie. ’n Nuwe meisie laat jou huppel en ’n ou een laat jou bokspring, want dit beteken jy is weer vry en kan begin soek na die volgende een.”
“Onsin,” sê Theo somber.
“Jenny is verlede tyd – of is ek verkeerd?”
“Sy was nooit enigiets nie, maar ja, dis verby.”
Hy het dit so taktvol moontlik gedoen, maar daar was geen manier waarop hy langer by Jenny kon gaan kuier nie. Tydens hulle laaste ete – in ’n restaurant, nié weer deur haar gekook nie – wou hy lag elke keer dat hy haar kuiltjies gesien het. Om vir ’n meisie se bates te lag, is ’n seker teken dat daar geen romanse kan wees nie.
“Dis die naamlose een,” raai Kerneels nou.
“Therese. Ek het jou gesê haar naam is Therese.”
“Dis reg. Mooi naam. Is sy die rede vir die wroeging?”
“Ek wroeg nie.”
Kerneels eet sy broodrolletjie omdat hy twee kilogram verloor het noudat dit warm genoeg is om soggens vroeg te gaan draf. “Dis ’n tegniese punt. Iets is verkeerd, en aangesien ek weet jy is baie gelukkig met al jou bouprojekte, kán dit net ’n meisie wees. Jy’s al so van jy ná die langnaweek teruggekom het. Is jy verlief op haar?”
“Nee!”
“Pes jy haar?”
“Nee!”
Kerneels gee op. “Vergeet dan van haar en word weer jou ou, sonnige self.”
“Ek kan nie van haar vergeet nie. Sy is te onskuldig. Ek moet weet of sy veilig is, of sy . . . of sy . . .”
Kerneels se oë rek effens, maar hy besluit wyslik om die onderwerp te los. “Dit het uiteindelik gebeur,” sê hy daardie aand vir sy vrou. “Ons het geglo dis onmoontlik en ons was verkeerd. Theo het sy Moses teëgekom. Theo het geval.”
“Seker ’n meisie wat niks met hom te doen wil hê nie,” sê Janie wys.
“Absoluut,” sê Kerneels en soen haar hand, wat na gerasperde wortels ruik. “Julle vrouens is so slim.”
Theo het nou ’n nuwe selfopgelegde taak. Elke etenstyd ry hy na ’n ander biblioteek, maak asof hy na ’n besondere boek soek en bekyk al die personeel. Dat dit onnosel is, besef hy gou. Therese het self gesê sy ry etenstye rond; dit is dus baie moontlik dat hy al by die regte biblioteek was, maar dat sy uit was. Hy wissel dus sy besoektye en konsentreer net op die biblioteke binne ’n sekere radius van Sandra se woonstel. Tot Therese die motor gekoop het, het sy per bus gery en hy kan nie sien dat sy onnodig ver sou ry nie.
“Dis mos die ideale opset,” kan hy haar ma hoor sê. “As jy Sandra se woonstel deel, is jy lekker naby jou werk.”
Toe hy inderdaad een oggend so teen elfuur in die stil biblioteek instap en Therese tjoepstil op haar hoë stoeltjie agter die toonbank sien sit, verdiep in ’n boek, wil hy begin huil van pure blydskap.
“Therese!” sê hy toe hy by haar kom.
“Sjj,” sê sy waarskuwend en kyk na ’n paar bejaarde mense wat langs die lang tafel sit en lees. “Ons praat sag hier.”
“Ek het jou gekry,” sê hy.
Sy lyk verbaas. “Jy weet mos ek werk hier.”
“Nee, ek het nie geweet nie. Ek was al by al die takke. Dié een ook, maar dit was etenstyd, jy was nie hier nie.”
Sy glimlag behulpsaam. “En noudat jy my gekry het, kan ek jou help met iets? Wil jy graag aansluit?”
“Nee, ek is lid. Nie hier nie, by die tak naby my huis.”
“Dit maak nie saak