Rewolusie van die hart. Adriana Faling
Sy gee ’n tree uit die donker.
Kom, wys Farouk met sy kop.
Sy hardloop oor die brug en laat die vreesjas op die kaai agter. Die trane kom spontaan toe sy die veiligheid van die boot se portaal bereik. “Dankie, Farouk.”
“Dis malligheid, maar ek sal nooit met my gewete kan saamleef as ek jou hier los nie,” fluister hy en kam gefrustreerd met sy vingers deur sy hare.
“Ek sal onder jou bed wegkruip,” pleit sy.
“Nee, ek deel ’n kajuit.” Hy sluit die deur agter hom. “Kom, maar loop op jou sagste. Ek neem jou na ’n kajuit op die gang waar ek werk. Daar is baie oop plekke, maar niemand mag weet jy is daar nie, gehoor?”
Sy knik en volg hom op haar tone.
Dis doodstil. Saleh hoor haar eie asemhaling in haar ore. Sy probeer haar asem ophou, doodbenoud dat iemand hulle nou sal betrap. Dis egter maklik om sag te loop op die dik matte. Oral is sagte beligting. Dis luuks en pragtig binne, presies soos Saleh al in die brosjures gesien het. Elegante binneversiering, swaar donker meubels, spieëls. Een stel trappe op, nog ’n stel op, en toe regs.
Soos skimme beweeg hulle. In die gang af, tot by die heel laaste deur. Hy haal ’n kaart uit sy sak, laat gly dit deur die gleuf en maak die deur oop. Só skakel die ligte aan en skielik is daar ’n lieflike kajuit voor haar met ’n luukse bed en ’n en suite-badkamertjie. ’n Kamer geskik vir ’n koningin. Dankbaarheid en verligting spoel oor haar, maar sy sien die spanning op Farouk se gesig en sy verstaan die offer wat dit van hom vra.
“Dankie, Farouk,” fluister sy weer diep dankbaar en die trane rol spontaan.
Hy knik net. “Jy kan nie waag om hier uit te gaan nie, Saleh,” fluister hy. “Ek sal later vanoggend vir jou iets te ete probeer bring. Moenie nou stort nie; ek is bang iemand sal die water hoor. Wag tot jy hoor die ander gaste stort. Maar jy sal moet stort, want jy ruik vreeslik,” glimlag hy skeefweg.
“Dis ’n lang storie.” Sy kyk verleë weg. “Baie, baie dankie, Farouk.”
“Ek moet nou gaan slaap, want ek moet weer vroeg op. Ek moet die kamers op hierdie gang kom diens wanneer die gaste ontbyt gaan eet, so tussen agt- en negeuur. Sodra ek klaar is en dit veilig is, kom loer ek in. Moenie die gordyne oopmaak nie.”
“Reg so. Dankie, Farouk,” herhaal sy vir die soveelste keer.
“Die boot vertrek soggens om vyfuur. Dan eers is jy veilig. Ons sal later die res van die reëlings uitsorteer. Heng, Saleh, dis ’n gemors. Wat gaan jy doen?” Sy donker kuif met die grys strepies val skeef oor sy gesig en dit laat hom skielik baie moeg lyk.
“Ashraf het gesê ek moet Kaïro toe gaan. Dis nog baie deurmekaar en ek probeer nie te ver vooruit dink nie, want ek weet nie presies nie. Ek is so bekommerd oor hom, Farouk.”
“Ek sal vir julle bid. Slaap nou eers. Ons praat weer wanneer die son skyn.”
“Ek is verskriklik dors, Farouk.”
“Daar staan ’n bottel water op die spieëlkas; gebruik dit solank. Moenie kraanwater drink nie.” Hy tree saggies uit.
Saleh sak op die sagte mat neer. Dankie, Vader. U het woord gehou.
Toe staan sy op en reik na die bottel op die ingeboude spieëlkas.
Sy drink en drink en drink van die skoon water. Verligting spoel soos die water deur haar. ’n Bietjie van die water los sy vir môreoggend. Sy trek die skoon lakens van die bed af, skop haar skoene uit en nestel haar in die sagte rusplek in. Hoe ironies dat sy in doodsgevaar omring word deur meer luuksheid as wat sy nog ooit gehad het. Sy voel veilig in die afsondering, die duvet vertroostend om haar gevou. Dankie, Here. Wees asseblief met Ashraf in hierdie nag. Sy raak vinnig aan die slaap met haar arm beskermend om haar buik gevou.
Hoofstuk 2
PRETORIA. AUGUSTUS 2010
Salomé Pretorius kry bitter koud. Sy haak haar gekousde voete oor die olieverwarmer se basis, maar dit brand haar. Toe sit sy maar net weer so na moontlik aan die hitte en trek die ou Barney-kombersie – een van die kinders s’n – nog stywer om haar skouers.
Vermoeienis rem aan haar nekspiere, maar sy moet die boeke klaar merk voor sy kan gaan slaap. Die graadviers is ’n oulike groep, maar hulle het almal gesukkel met hierdie Engelse opdrag. Vorige jare was dit tog nie so erg vir die outjies nie? Miskien is dit omdat hulle ’n verlengde skoolvakansie gehad het met die Wêreldbeker-sokkertoernooi waarvan Suid-Afrika die gasheer was. Tydens die kwartaal moes hulle omtrent deur die werk jaag om alles ingepas te kry. Kyk nou net hoe lyk die punte.
Sy is bang haar tamheid begin haar werk beïnvloed. Eintlik kan sy nie glo dat hulle so ’n lang skoolvakansie gehad het en sy al weer moeg is nie. Dit voel of sy in ’n afwaartse spiraal van moegheid en lusteloosheid verval het. Die revue- en kunswedstrydoefeninge waarvoor sy die sangdeelnemers moes voorberei, het ook nie gehelp nie. Hulle het in die vakansie ekstra oefentyd daarvoor ingeruim. As Petrus tog net tuis was.
Hierdie laat, ontydige koue front is genoeg om haar dun nerwe nog verder te skaaf. Die winter was erg koud met die nagte alleen – dit bly maar net goor. Sy hoop elke winter sy kan ten minste ’n elektriese kombers koop, maar daar was weer nie geld nie. Gelukkig het sy ’n warmwatersak en ’n bed en ’n werk. Dit is steeds meer as wat baie mense het wat vannag buite in die koue moet slaap. Tel jou seëninge, Salomé Pretorius.
Sy gaan haal die warmwatersak uit die bed sodat sy dit op haar seer skouers kan sit. Die kinders slaap almal rustig, sien sy toe sy by hulle kamers kom. Dankie tog. Veral Alexander was vandag weer ’n handvol. Hy het sy pa se ferm hand nodig, besef sy maar weer elke keer wanneer Petrus weg is. Dit voel of hy bo-oor haar loop, vier jaar oud of te nie. Sy trek die duvet stywer om hom, gee hom ’n soen op sy voorkop en kyk na sy onskuldige slaapgesiggie.
“Tel jou seëninge, Salomé Pretorius,” sê sy weer saggies vir haarself en stap terug om met nuwe ywer te merk.
Laatnag sit sy uiteindelik haar pen neer en gaan maak toe eers weer seker dat al die deure gesluit is, want in hierdie land weet ’n mens nooit nie.
Sy verpes hierdie histeriese oggende wanneer Petrus nie hier is nie. As hy hier is, help hy ten minste om Alexander aan te trek en pap te maak. Sy is moeg en het sleg geslaap, want Alexander het weer by haar kom inkruip in die nanag. Toe moes sy net koes vir elmboë en knieë. Boonop het sy haar wekker twee keer te veel laat snooze vanoggend.
“Kom nou, asseblief, Alexander. Mamma gaan laat wees as jy nie nou gou maak nie. Talitha! Markus! Is julle klaar?”
“Maar ek wil nie die pienk pap hê nie,” kerm Alexander.
“Toe ek jou wakker gemaak het, het ek jou gevra watse pap jy wil hê en toe het jy gevra vir pienk pap.” Sy probeer kalm bly, maar voel hoe haar seer nekspiere stywer trek.
“Maar dis nie lekker nie. Ek wil dit nie hê nie.” In ’n kermstem wat op haar senuwees werk.
“Goed, dan gaan jy die kleuterskool se pap eet vanoggend, want ons moet nou ry. Talitha, Markus, kom!”
“Nee, ek hou nie van die kleuterskool se pap nie.”
“Ek gee nie om nie. Ek het vir jou pap gemaak en as jy dit nie wil eet nie, gaan jy die kleuterskool se pap eet. Borsel nou jou tande en klim in die kar. Talitha, is jou kosblik in?”
“Ja, Mamma.”
“Nee, ek gaan nie, ek hou nie van die kleuterskool se pap nie.”
“Nou eet dan jou pienk pap. Markus, gaan kry jou skoolbaadjie, dis yskoud.”
“Nee,” kom dit van Alexander.
“Dan bly jy honger.”
Hy hou eintlik van die pap, maar is nou net in ’n magstryd met haar gewikkel.
“Ek kry nie my baadjie nie, Ma!” roep Markus