Rewolusie van die hart. Adriana Faling
weet, maar ek dink ek het dit by die skool vergeet.”
“Ek wil tierpap hê,” huil Alexander.
“Ons moet ry, Mamma; dit is al tien oor sewe,” sê Talitha.
“Dink jy ek weet dit nie, Talitha?” Sy weet sy moenie begin skree nie, maar sy kry dit nie gekeer nie. “Ek is net een mens en ek moet vir vyf mense dink. Hoekom het jy jou baadjie by die skool gelos, Markus? Weet jy wat kos skoolbaadjies? En hou nou jou smoel, Alexander, voor ek dit toeklap.”
Nou huil Alexander volstoom. Markus sê niks en Talitha het daardie seergemaakte uitdrukking wat sê dit was ’n onregverdige uittrap. Dis eintlik alles my skuld, weet Salomé. Sy moes met die eerste wekker al opgestaan het.
“Loop klim in die kar, die lot van julle. Julle maak my so die hoenders in!” skree sy skuldig. “Markus moet nou maar vries en Alexander honger ly, want ons moet nou ry.”
Alexander skree vir die eerste prys en sit waar hy sit. Daar is nie meer tyd vir tande borsel nie; hy moet nou net so in die motor. Hy kan sy pienk pap by skool gaan eet. Sy gryp haar handsak, die boks gemerkte boeke en die papbakkie met die een arm, Alexander met die ander. Hy skree en skop en probeer haar byt deur haar dik jas, maar sy behou haar greep.
Toe klap hy met opset die papbakkie uit haar hand en die volgende oomblik – asof in vertraagde beweging – is daar pap oor die boeke, haar jas, selfs haar hare. Die papbakkie rol oor die grond. Alexander is meteens doodstil en kyk uitdagend na haar. Twee ander pare oë staar geskok.
Here, help my of ek gaan hierdie kind nou doodslaan, bid sy in haar hart terwyl sy alles op die grond neersit en ’n oomblik net so bly sit.
“Kom ek help Mamma,” sê Talitha versigtig, kry ’n lap en begin die boeke afvee.
Salomé staan stadig op en sê niks, trek haar vuil jas uit en gee die motorsleutel vir Markus. “Sluit solank die kar oop, Markus, en help vir Alexander in,” sê sy gevaarlik kalm. Sy stap badkamer toe om die pap van haar hare te gaan afvee. Pienk pap. Sy bekyk die prentjie in die spieël, begin eers lag en toe moeg huil. “Ag, Petrus. Ek het jou nodig by die huis,” sê sy vir haar spieëlbeeld.
My genade is vir jou genoeg, kom die bekende woorde in haar gees op.
“Dit voel nie so nie, Here,” antwoord sy hardop terug en begin verwoed skoonmaak.
Talitha kom stil in met die stapel boeke.
Salomé vee haar trane af en probeer om nie die bietjie grimering wat daar was heeltemal af te vee nie. “Dankie, my liewe kind.” Sy druk haar ’n oomblik vas. “Ek is jammer ek het geskree,” sê sy in haar dogtertjie se hare.
“Toemaar, Mamma. Is Mamma okay?”
“Hang af of ek nog pienk pap in my hare het?” vra sy gelate. “Kyk gou agter, asseblief.”
“Ja, wag, buk af, Mamma, dat ek dit kan uithaal.”
“Dankie, poppie.” Sy kyk ’n laaste keer na haar haarstyl wat nou lyk asof ’n koei haar gelek het. “Ag tog. Kom. Ons is nou baie laat.” Sy gryp ’n ander baadjie uit die kas en hulle hardloop gangaf.
Alexander is stil in die motor. Weer een-nul in sy guns, dink Salomé wrang. Hy is al tien-nul voor.
“My baadjie was in die kar, Mamma,” verbreek Markus die stilte.
“Wel, jy kan jou seëninge tel, want as dit weg was, was dit weg. Ek koop nie weer een nie.”
“Ja, Ma.” Onderdanig opstandig.
Stilte. “Kom, ons moet nog bid vir die dag.” Dis dalk hoekom alles so skeefgeloop het. “Ons bid sommer terwyl ons ry. Liewe Vader, baie dankie vir ’n nuwe dag. Dankie vir kos en klere en ’n warm bed; dis alles genade uit u hand. Ons bid vir die mense wat koud kry en honger is. Help ons om vir hulle ook te kan gee. Ons bid veral vir die mense van die kerke in die geslote lande; versterk en bemoedig hulle, Here. Wees asseblief met Pappa daar ver. Beskerm hom en gee hom die geleentheid om u liefde vir die wêreld te wys en die evangelie met iemand te deel. Beskerm ons asseblief elkeen vandag by ons verskillende skole en bring ons weer vanmiddag veilig bymekaar. Dit bid ons is Jesus se Naam.”
“Amen,” koor almal saam toe hulle by Alexander se skooltjie stop.
Salomé gaan sit altyd in die musiekklas wanneer sy ’n af periode het. Sy het weer boeke om te merk, maar vanoggend se drama met Alexander krap steeds aan haar. Sy staar by die venster uit met die stapel boeke oop voor haar. Wat doen sy verkeerd? Waarom is dit altyd ’n kop-aan-kop-botsing met die kind? Sy het tog ’n goeie verhouding met die ander twee en kan wraggies nie onthou dat hulle so moeilik was nie. Ja, sy weet hy het ’n sterk wil, maar sy wil so graag ’n goeie verhouding met hom ook hê.
Die moegheid en moedeloosheid maak dat sy sommer tranerig is toe daar ’n klop aan die deur kom. Sy knip haar oë vinnig. “Kom in.”
Dirk. Sy het hom vanoggend in die verbygaan gevra of hy asseblief na die wasmasjien kan kom kyk.
“Hei!”
“Haai, Dirk.”
“En as jy so sit?”
Sug. “Dis daardie klein mannetjie van my; hy trek die bloed onder my naels uit. Hy’t my vanoggend met sy pap gegooi. Oor my hare, klere en selfs die graadviers se boeke. Kan jy dit glo? Net vier jaar oud.”
“En ek dag jy’t net ’n nuwe haarjel probeer,” terg hy.
“Ha-ha, baie snaaks. In elk geval, ek wonder maar net hoe bou ’n mens ’n verhouding met so ’n moeilike knapie. Hy’s my kínd. Ek kan tog nie sy grootste vyand wees nie?”
“Ek hoor jou.” Hy kom sit op die punt van haar lessenaar.
“Hoe doen jy dit? Was een van jou kinders so moeilik?”
“Dewald was ook maar ’n handvol ná Celia se dood,” dink hy terug. “Ek het maar net baie tyd saam met hom deurgebring. Bal gegooi, boekies gelees, sulke goed. Toe het dit vanself oorgegaan. Maar ek dink dit was vir my makliker omdat hy ’n seun is. Riana was weer vir my moeiliker, maar sy het haar hart uitgehuil en met haar skooljuffrou ’n verhouding opgebou, daarna het dit ook met haar beter gegaan.”
“Ja, ek bring seker net nie genoeg tyd saam met hom deur nie. Dis net so ’n deurmekaarspul wanneer Petrus weg is. Ek is besig met die buitemuurs hier en ry die ander twee rond. Maar nou ja, ek sal ’n plan moet maak met hom.”
“Sterkte.”
“Dankie. Hoor hier, sien jy kans vir daardie wasmasjien van my? Jy’t mos gesê ek kan op jou knoppie druk?”
“Presies. Jy’s welkom. Ek kan sommer laatmiddag verby kom?”
“Asseblief, man. Ek kan net nie sonder die masjien klaarkom nie.”
“Nee, dis goed so. Ek bring sommer die kinders saam, as dit reg is. So teen vieruur?”
“Dankie, dis perfek.”
Ag, Dirk is so ’n gawe ou, dink sy toe hy uit is. Sy kry hom soms jammer, so manalleen met die twee oulike kinders. Sagte ou. Hartseer ou. Foeitog.
Sy voel sommer beter. Wat Alexander betref, sy sal ’n plan moet maak om meer tyd saam met hom deur te bring. Sy moet iets doen, anders gaan niks verander nie. Toe trek sy die stapel boeke weer nader en begin met nuwe ywer merk.
Dirk hou net so ná vieruur voor die huis stil. Sy twee kinders hop uit die motor en begin dadelik met haar twee oudstes speel. Hulle het mettertyd al lekker maats geword.
“Ag, dankie, Dirk. Kom sommer deur. Hier staan dit, in die waskamer.” Sy loop vooruit.
“Nie eens ‘Hoe gaan dit?’ of ‘Wil jy koeldrank hê’ nie? Nee, ‘Kom sommer deur’,” sê hy met ’n laggie terwyl hy instap.
Sy lag hardop en steek in haar spore vas. “Ag, ekskuus, ek is hopeloos te taakgedrewe. Wil jy koeldrank hê? En hoe gaan dit?”