Ena Murray Keur 2. Ena Murray
hulle eet of soos dit vir die ma is om haar suigeling te voed. Dis deel van hul daaglikse bestaan. Daar is geen komplekse, geen inhibisies nie. Sy wil weggaan van die eiland na die groter wêreld anderkant die waterkim, en haar liggaam is die enigste betaalmiddel wat sy het. En sy sal met vreugde betaal, dit weet Louw ook. Dit sal nie bloot net vergoeding vir ’n guns wees nie.
Hy antwoord versigtig, want onder geen omstandighede wil hy hierdie meisie te na kom nie. Sy is die enigste hoop vir hierdie ekspedisie.
“Analola, maar het jy al daaraan gedink … wat as ons anderkant kom? Wat dan? Waarheen sal jy gaan? Wat sal van jou word?”
“Maar ek bly by jou, natuurlik. Ek sal nooit van jou af weggaan nie. Ek sal by jou bly totdat ek nie meer vreugde kan verskaf nie.”
“O? En dan …?”
Daar is eers ’n oomblik stilte. “Dan sal ek iemand anders soek. Wat is jou naam?”
“Louw.”
“Louw.” Sy spreek dit langsaam uit met ’n vreemde betowering en ook haar stem het meteens ’n intonasie wat die man laat besef dat hierdie gesprek in die donker nie te lank gerek moet word nie.
“Jy sal met my tevrede wees, Louw. Jy sal nie spyt wees nie …”
Hy is meteens intens bewus van haar nabyheid, van die intieme afsondering, en hy staan vinnig op. Hy kan hom amper verbeel dat hy die swart oë in die donker sien blink.
“Daaraan twyfel ek nie, Analola. Maar werk voor plesier. Eers werk, dan … wat jy dit ook al wil noem. Ek het ten eerste hierheen gekom om te werk. Jy kan my help.” Hy aarsel en voel gemeen, maar hy is in ’n hoek gedryf en êrens móét hulle ’n begin maak. “Sodra ek klaar gewerk het, kan ons weer praat oor … die ander saak. Tot dan … dus, hoe gouer jy my help om my werk afgehandel te kry … asseblief, Analola!”
Hy kan haar gespanne asemhaling hier dig voor hom hoor en hy kom agter dat sy ook opgestaan het.
Eindelik praat sy weer. “As ek … as ek jou na ’n ana neem, sal jy my saamneem?”
Weer swymel sy suwwe verstand soos hy dink. “Dit hang af wat ek in die ana kry.”
“Maar ek sal jou na meer as een kan neem. Ek weet van ’n hele paar.”
“Het jou familie dan meer as een ana gehad?”
“Nee, maar ek weet van nog ander ook … ana waarvan die ander niks weet nie. Net ek en … net ek weet van hulle. Ek sal jou na hulle toe ook neem.”
Hy sug, kies dan sy woorde uiters versigtig: “Analola, ek belowe ek sal jou met my saamneem as dit enigsins moontlik is. Ek kan nie iets belowe wat ek nie weet of dit in my vermoë is nie, maar … as ek enigsins kan, sal ek jou help. Goed?”
“Ja, goed, net … Louw, niemand mag weet nie, niemand nie, verstaan jy? Niemand, niémand nie!” Haar stem is baie dringend.
“Goed. Net ek sal weet. Maar hoe gaan ons maak dat niemand sien as ons na die ana gaan nie?”
“Ek sal in die nag kom. Ek sal jou kom haal. Ons twee gaan alleen.”
“Wanneer?”
“Ek weet nie. Jy moet hier wees, in jou slaapplek, as ek kom.”
“Maar sal jy die ana in die nag kry?”
“Ja. Ek sal. Ek loop baie in die nag rond. Ek ken elke plek. Ek sal hulle kry.”
“Goed. Dankie, Analola. Ek dink jy moet nou liewer gaan. Netnou sien iemand jou hier …”
“Ja, ek gaan nou.”
Hy voel in die donker na die tentklap, lig dit op.
“Analola, is jy … e … het jy mense op die eiland? Waar is jou familie? Of het jy dalk ’n man?”
“My familie bly hier. Ek bly nie by hulle nie.” Haar stem is eienaardig bot. “Ek ken hulle nie.”
“Maar waar bly jy dan? Alleen?”
“Nee. Ek … gaan nou. Ek kom weer.”
Net so onverwags soos sy verskyn het, verdwyn sy weer. Net die dowwe ligskynsel van ’n flou sekelmaan syfer deur die opening na binne.
Hy stap na buite, maar hoe hy ook al soek, is dit net die slapende kamp en die wye, deinende grasheuwels wat hy sien. Hy is onbewus daarvan dat ’n paar oë vernou op sy kaal bolyf gerig is – en dat hierdie persoon nog lank agter die tentseil staan totdat sy egalige asemhaling gehoor kan word.
Pauli voel suf en afgemat toe sy die volgende oggend uit haar tent kom. Sy het die vorige nag min geslaap. Dit was ’n lang en donker nag vir haar, die langste en donkerste wat sy nog beleef het. Sy het gedink dit sal nooit weer lig word nie. Met moeë oë kyk sy ’n oomblik oor die grasveld voor haar. Buite het dit lig geword – eindelik – maar binne-in haar is dit nog donkernag. Vinnig draai sy haar oë weg toe sy toevallig Louw se tent sien. Vanoggend staan die tentklap teruggeslaan, maar gisternag …
Hoe gaan sy hom in die oë kyk? En hoe sal sy dit uithou as hy ewe onskuldig en vriendelik terugkyk? Sy moet ook nog dokter Inaki se waarskuwing oordra, maar ná wat gisteraand gebeur het … hoe kan sy dit doen? Hy sal dink dis net jaloesie en … deels sal hy reg wees!
Want in die nag wat verby is, het Pauli een van die grootste skokke van haar lewe gekry. Jaloesie, en veral jaloesie op haar man, het sy nog nooit geken nie. ’n Mens is net jaloers op iemand vir wie jy omgee, wat baie vir jou beteken. En Louw Hattingh was nog nooit meer as ’n onpersoonlike anker waaraan sy kon vasklou toe haar vaste lewenspatroon onder haar gewankel het nie. Daardie eerste aand met dokter Inaki se ontvangspartytjie was sy geamuseer toe sy die jaloesie in Zelia se oë gesien het, hoewel sy ook later effens omgekrap gevoel het. Maar toe het sy dit nog nie as jaloesie geëien nie. Sy het net ’n gek gevoel omdat dit háár man was vir wie die Polinesiese meisie so openlik uitnodigend gedans het. Sy het beledig gevoel.
Maar gisteraand … toe sy op die bed neerval, was dit soos ’n fisieke pyn binne-in haar. Nee, meer nog. Dit het soos ’n hoogoond in haar gesmeul – ’n blinde, allesoorheersende jaloesie wat haar deur die lang nagure gemartel en gefolter het totdat sy dit wou uitskreeu! Dit het haar magteloos en verslae en gefrustreer gelaat en ook … bevrees vir hierdie vreemde monster wat sy in haarself ontdek het. En tog kon sy niks daaraan doen nie. Soos ’n onstuitbare stroom het dit deur haar gevloei, deur die mure van haar hart en sinne gebars totdat sy kwalik die drang kon onderdruk om Louw se tent binne te storm en daardie … daardie Jesebel aan haar rooi hare daar uit te sleep, weg van haar man af, háár man … want hy ís haar man! Louw Hattingh is nog haar man en – skokkend, ongelooflik, maar waar – hy moet haar man bly!
Sy beeld, soos hy daardie aand in die vuurlig gelyk het, het voor haar rondgedans en nou was dit nie net met nuwe oë wat sy na hom gekyk het nie, maar met jaloerse oë. Hy is hare. Die feit dat hy nog nooit werklik aan haar behoort het nie, maak nie meer verskil nie. Hy is wettig hare! En sy wil hom nie deel nie – nie met ’n Polinesiese Jesebel óf met die slim doktor Meyer nie!
In haar verbeelding het sy daardie pragtige liggaam in Louw se arms gesien lê; gesien hoe sy vingers die rooi hare streel; hoe sy mond die oop lippe soek en vind; hoe die sagte, vol vroulike rondings teen sy sterk liggaam aandruk … en sy kon mal word daarvan! Want – en daarby kon sy nie verbykom nie – dis in groot mate haar skuld … Die een keer toe haar man toenadering gesoek het, het sy hom weggestamp asof sy ’n meisietjie was wat nie die feite van die lewe ken nie. Daarna … Louw het weliswaar nooit weer self toenadering gesoek nie, maar sy het hom ook nie die geringste aanmoediging gegee om dit te doen nie. Inteendeel, sy het hom om ’n egskeiding gevra!
Kan ’n mens werklik só simpel, só sotlik, só blind wees? En nou is dit te laat! ’n Beeldskone meisie wat openlik getoon het dat sy bereid is om hom alles te gee wat ’n man maar kan verlang, is reeds by hom in die tent. En wanneer hierdie ekspedisie verby is en sy agtergelaat moet word, is Zelia daar om die oorskiet op te raap. Vir haar, sy vrou, het daar niks oorgebly nie!
Dis