Ena Murray Keur 2. Ena Murray
’n Oomblik staan hulle net teenoor mekaar, sien hy haar nou van nader, die volmaakte liggaam, die lang rooi hare, die donker blik wat uitdagend maar tog ook met ’n tikkie onsekerheid op hom rus asof sy nie seker is hoe welkom sy sal wees nie. Louw het nie ’n benul wat om te sê nie. Wat het sy hier kom soek?
Tot sy blye verrassing praat sy meteens op versigtige Engels.
“Ek is Analola. Onthou jy my?”
Hy glimlag en die spanning breek in hom. Hulle sal mekaar ten minste kan verstaan!
“Natuurlik. Ek soek al dae lank na jou …”
“O?” Sy gee versigtig ’n tree nader, haar oë waaksaam. “Hoekom?”
“Ek wil graag met jou praat.”
“Praat?” Sy frons verward, en haar bewegings verstil meteens. Sy kyk hom ’n oomblik bestuderend aan, glimlag dan skielik breed. Die swart oë vonkel. “Net praat?”
Louw Hattingh glimlag fyn en antwoord versigtig, bewus daarvan dat die donker blik oor hom gly, oor sy kaal borskas, oor die stewige bene wat onder die kortbroek uitsteek, dan weer terug na sy gesig waarop die lamplig speel.
“Ja. Voorlopig … net praat.”
Sy knik haar kop, nog steeds glimlaggend.
“Goed. Jy praat. Dan ek praat. Ons klaar praat.”
Louw se geamuseerde, diep laggie bereik die luisterende ore aan die buitekant van sy tent. Hy wys met sy hand.
“Kom sit. Ons kan nie die hele tyd staan nie.” Sy neem plaas en vou haar lang vingers soos ’n soet kind op haar skoot. ’n Oomblik kyk hy stil op haar af. Nog nooit het hy iemand soos hierdie vreemde Analola raakgeloop nie, so volkome kind en … soms so volkome vrou.
Louw gaan sit ook en steek weer ’n sigaret aan.
“Goed, jy eerste. Waaroor wil jy praat?”
Sy skud haar kop.
“Nee. Jy eers praat. Dan ek.”
Hy glimlag weer. “Wel, ek wil baie graag inligting van jou hê. Analola, jy weet hoekom ons hier is, nè? Ons soek na die ana. Niemand wil ons vertel nie. Ons wil nie die goed daarin steel nie. Ons sal niks vat wat julle nie self vir ons gee nie. Maar ons het van baie ver gekom om te kyk wat alles daarin is en dit te bestudeer sodat ons julle meer van jul verlede en jul voorvaders kan vertel.”
“Ons weet. Ek kan jou álles vertel …” Sy frons nou liggies.
“Nee, ek praat nie van die Langore en Kortore en Hotu Matua nie. Dit weet ons reeds. Maar daar is ’n vermoede dat hierdie eiland reeds voor Hotu Matua se koms bewoon was. Ons sal dit in die grotte kry deur opgrawings …”
Sy skud haar kop beslis.
“Nee. Hotu Matua was eerste … éérste. Niemand voor hom nie.”
Louw sug. Vir Paaseiland se bewoners lê die begin van die wêreld by Hotu Matua … en klaar.
“Maar dit kan nie kwaad doen om ons net die goed te wys nie, Analola. As daar iets is wat julle vir ons wil gee, sal ons natuurlik bly wees. Maar ons sal niks wegdra nie. Hoekom wil julle dit nie vir ons wys nie?”
“Die aku-aku is sterk. Die aku-aku sal nie daarvan hou nie.”
Louw frons geïrriteer. Dis nie die eerste keer dat hy en die ander ekspedisielede hulle teen hierdie aku-aku-praatjies vasloop nie. Sover hy kon uitmaak, is dit bose geeste. In elke mens is ook ’n aku-aku. Daar is dele van die eiland waar niemand dit waag om ’n voet te sit nie, en geen omkoopgeskenk sal hulle daartoe beweeg nie, want daar is die aku-aku baie sterk, glo hulle.
Toe Thor Heyerdahl hier was en met die opgrawings van die moai begin het, het hulle aanvanklik vas geglo dat ’n vreeslike lot hom sou tref, want die aku-aku sou kwansuis ontevrede wees. Maar toe hy niks oorkom nie, het hulle hom as ’n soort bonatuurlike wese begin beskou, met ’n sterk genoeg mana, of bonatuurlike krag, om hom teen die bose aku-aku te beskerm. Daarna het hulle aan hom alle moontlike hulp verleen.
Sy oë vernou. As hy soos Thor Heyerdahl net eers een se vertroue kan wen, bewys dat hy niks oorkom as hy in ’n ana beland nie …
Sy blik keer terug na die meisie. Dis hoekom hy so naarstiglik na haar gesoek het. Ná soveel weke van swoeg en sweet is dit duidelik dat hulle niks uitgerig gaan kry met die res van die eilandbewoners nie. Sy enigste hoop is nou op hierdie pragtige meisie gerig. Sy is hom duidelik goedgesind, en miskien sal sy hom help.
“Luister, Analola, bring my net na een ana. Ek aanvaar volle verantwoordelikheid. Kom ek iets oor, sal niemand jou verwyt nie. Kom ek niks oor nie, sal dit bewys dat my mana sterk genoeg vir die aku-aku is en dat hulle niks kan doen nie. Asseblief!”
Sy kyk hom onseker aan en haar blik dwaal onrustig om haar.
“Die aku-aku sal my straf. Hulle sal weet dis ek wat die ingang verraai het. Ek mag nie. Ek is ’n vrou. Dis net die mans wat na die ana mag gaan. Daar mag geen vreemdeling ingaan nie. Nie eens iemand van ’n ander familie nie.” Weer dwaal haar donker blik bang om haar rond. “Niemand mag weet dat ek vanaand hierheen gekom het nie. En as die aku-aku weet ek was hier …”
“Analola!” Louw probeer geduldig wees. Hoe onsinnig hierdie dinge ook al vir hom is, moet hy besef dat hulle vir hierdie meisie net so werklik is as sy wetenskaplike feite vir hom. Hy sug en probeer weer. “Hoe sal hulle weet jy is hier en waaroor ons praat?”
“Hulle is oral. Hul oë is oral.”
“Ek kan die lamp doodblaas as jy wil. Sal dit jou gelukkiger maak as dit liewer donker is?”
“Asseblief. Dis beter dat dit donker is. Dis nie net die aku-aku wat soms dinge sien wat liewer ongesien moes gewees het nie.”
Hy kyk haar stip aan, maar sy verduidelik nie verder nie en hy buk, draai die lamppit laag en blaas dit dan dood. Die donkerte is meteens intens om hulle en buite staan twee mense versteen in hul voetspore …
Die aarde wentel ’n oomblik om Pauli waar sy steeds op dieselfde plek staan. Sy kan nie hoor wat binne-in die tent gepraat word nie, maar dis seker ook nie nodig nie. Daar kan net één rede wees hoekom die Polinesiese meisie vannag na Louw se tent gekom het … en die feit dat die lamp doodgeblaas en die tent nou in ’n intieme donkerte gehul is terwyl die tentklap roerloos bly hang, vertel sy eie verhaal, gee al die verduidelikings wat nog nodig mag wees.
Nog ’n paar sekondes bly Pauli soos ’n standbeeld staan, en dan, toe dit duidelik is dat die tentklap nie opgelig sal word nie, swaai sy in haar spore om en stap haar eie tent blindelings binne. Sy val op die kampbedjie neer … en dis asof sy in ’n bodemlose put van ellende en hartseer wegsink.
In die tent, onbewus daarvan dat nog ’n paar ore gespits na hul fluistergesprek luister, is Louw weer aan die woord, hoewel hy ietwat van ’n gek voel om in stikke duisternis met sy gas te praat.
“Goed, Analola, ek het klaar gepraat. Dis nou jóú beurt. Jy weet nou wat ek verlang. Dink daaroor na. Waaroor wou jy gepraat het?”
Haar stem kom gedemp en gespanne deur die donkerte na hom. “Ek wou jou vra om my saam met jou te neem wanneer jy die dag hier weggaan. Asseblief! Neem my net saam! Ek kan nie langer hier bly nie! Ek sal mal word! Ek sal enigiets vir jou doen. Ek sal jou vahine wees. Ek is ’n goeie vahine. Ek sal vir jou werk … enigiets doen wat jy sê …”
“Maar ek het reeds ’n vrou, Analola,” sê Louw vinnig. Hy het vooraf geweet hy moet komplikasies verwag, maar … haar saamneem wanneer hulle vertrek! Hy glimlag grimmig in die donkerte. Professor Islinger sal ’n hartaanval kry en aan wat Pauli sal kwytraak, wil hy liewer nie dink nie! Maar dan … wat sal dit haar skeel? Sy kan nie wag om ’n egskeiding te kry nie.
“Dit maak nie saak nie. Jy hoef my nie ook vir ’n vrou te vat nie. Ek sal net jou spesiale vahine wees. Ek … ek is mos mooi vir jou, is ek nie?”
Hy voel meteens die syagtige