Ena Murray Keur 2. Ena Murray
as jy dit so wil stel. Ek … het nie geweet jy het dit reeds agtergekom nie. Ek het maar net gedink om jou te waarsku dat dinge nie so onpersoonlik tussen hulle is nie, maar as jy dit reeds weet … Ek is jammer ek het my ingemeng, Louw.”
“Nee, jy het maar net bevestig wat ek lankal vermoed. As jý dit ook al opgemerk het, is dit nie net verbeelding aan my kant soos ek soms dink nie. Het jy … het jy hulle al saam gesien?”
“Ja … dikwels al. ’n Paar keer sonder dat hulle van my bewus was.”
“Ja?”
Sy lyk nou regtig bekommerd en selfbewus en selfs spyt dat sy die onderwerp aangeroer het.
“Asseblief, Louw, moenie van my verwag om te antwoord nie. Ek … ek is nie ’n mens vir stories aandra nie. Jy …”
“Ja, ek weet, maar …” Hy sug. Dit gaan teen sy grein om sy vrou met Zelia te bespreek. Maar op stuk van sake is hy ’n mens. Hy draai sy kop vinnig weg. Eintlik is dit nie vir Zelia nodig om iets meer te sê nie. Haar openlike onwilligheid om te praat, vertel hom genoeg en hy bal sy vuiste.
“Goed. Ons laat dit daar.”
Sy stem en gesig vertel haar die gesprek is afgehandel, maar Zelia het nog nie alles gesê wat sy wou nie. Sy weet dat haar woorde vandag op ryp teelaarde val. Die saadjie wat sy wil saai, moet nou gesaai word.
“Louw … hoekom laat jy haar nie liewer gaan nie?”
Sy kop swaai na haar terug, en sy oë skiet vuur.
“Bedoel jy ek moet my vrou op ’n skinkbord vir Inaki gee, vir ’n skelm hier op die uithoek van die aardbol?”
“Nee, natuurlik nie. Maar hoekom skei jy Pauli nie wanneer ons weer terug is nie? Louw, jou huwelik was ’n fout en jy weet dit. Dis net jou trots wat jou daarmee laat voortgaan. Dis menslik om ’n fout te begaan, maar dis absoluut dwaas om met ’n fout te wil saamleef. Jy, ’n briljante wetenskaplike, wil die res van jou lewe ’n vrou met jou saamsleep wat net skande oor jou bring.”
“Jy praat van my vrou, Zelia!”
“Ja, ek praat van haar!” Sy bedwing met moeite haar humeur. “Ek is jammer. Ek het seker nie die reg om hierdie dinge te sê nie, maar as ek daaraan dink dat ’n man soos jy deur ’n vrou verneder word …”
Haar oë flits vurig na hom. “Besef jy dat Pauli hierdie hele ekspedisie gaan verongeluk? Wat dink jy sal gebeur as jy en Inaki openlik slaags raak? Hy is en bly die leier van hierdie mense. Hy is een van hulle. Ons sal nie ’n enkele ana te siene kry as hy en sy mense teen ons draai nie. En dis presies wat reeds gebeur! Ons sit al ’n maand hier en het nog nie ’n tree gevorder nie. En as ons dan met leë hande moet terugkeer – al die geld wat die borge aan hierdie ekspedisie geskenk het, vermors – en dan nog moet gaan erken dat dit ’n volslae mislukking was omdat professor Louw Hattingh se vrou ’n verhouding met ’n eilandbewoner aangeknoop het … Hemel, Louw, gebruik jou verstand! Besef jy dat sy jou kan breek? Watter groep dink jy sal ooit weer droom om jou by hul ekspedisie in te sluit, veral as jy haar weer gaan saamsleep? Het jy al daaraan gedink wat alles agter jou rug aangegaan het terwyl jy maande lank weg was? As sy onder jou neus so … so te kere kan gaan, wat dink jy doen sy tuis wanneer jy nie daar is nie?”
“Bly stil, Zelia, ek wil nie ’n enkele woord verder hoor nie!”
“Omdat dit die waarheid is en jy weet dit!” Dan sluk sy en sug, staan op en lê ’n sagte hand op die een breë skouer. “Ek is jammer, my vriend. Dis maar net – daar lê so ’n wonderlike toekoms vir jou voor. Jy is so briljant! Dis maar net vir my ’n sonde dat iemand soos jy vermors word op ’n vrou wat jou nie werd is nie. Ek vra om verskoning as ek te veel gesê het. Ek beloof ek sal nie weer daaroor praat nie. Wel, ek loop nou maar.”
Sy is reeds ’n hele paar tree weg toe sy stem haar tot stilstand bring. ’n Fyn vonkie van tevredenheid skiet op in die oë agter die bril. Dan draai sy met ’n sedige gesig om.
“Ja?”
“Wag eers. Daar is iets wat ek jou wil vertel.” Hy kom nader. “Daar is ’n moontlikheid dat ons binnekort tog ’n begin sal kan maak.”
“O?” Sy kyk hom belangstellend aan, hoewel sy goed weet waarvan hy praat. Maar natuurlik weet hy nie dat nog iemand na die gesprek tussen hom en Analola geluister het nie.
“Onthou jy daardie danseres?”
“Danseres? O, ja! Daardie een wat die aand gedans het toe dokter Inaki …”
“Ja. Ek het haar probeer opspoor in die hoop dat sy ons miskien sal kan help. Gisternag het sy skielik in my tent opgedaag.” Hy sug. “Pauli het haar daar gesien ingaan en die duiwel was netnou daaroor los. Sy het natuurlik net een ding in haar kop.”
Zelia se oë is wyd gerek van skok.
“Ken sy jou dan so sleg? Dis ’n belediging!”
“Jy kan dit weer sê. Ek was so woedend dat ek nie eens probeer het om te verduidelik nie. Maar dis nie wat ek wou vertel nie. Kort en klaar kom dit daarop neer dat sy wel bereid is om my na ’n paar ana te neem – maar teen ’n prys. Sy wil saam met ons vertrek wanneer ons die dag weggaan.”
“Wat wil sy in die buitewêreld gaan maak?”
“Ek weet nie. Sy kom my egter baie desperaat voor. Ek kon haar natuurlik nie ’n vaste belofte gee nie, maar ek het belowe dat ek haar sal help sover moontlik. Daar is iets geheimsinnigs omtrent haar. Ek sal egter die kans moet waag, want as sy ons nie na die ana neem nie, kan ons maar môre terug vertrek. Met die res maak ons geen hond haaraf nie.”
“Wanneer sal sy ons wys?”
“Nee. Net vir my. Dit moes ek ook plegtig belowe. Niemand behalwe ek mag hiervan weet nie. Sy sal my ook in die nag gaan wys, maar sy kon nie sê watter nag nie. Ek moet nou maar wag en sien wat gebeur. As ek net eers weet waar die ingange is, kan ons maar voorgee dat ons toevallig daarop afgekom het en aan die werk spring. Maar intussen het dokter Inaki my deur middel van Pauli gewaarsku om van Analola af weg te bly. Daar moet die een of ander verband tussen die twee wees.”
“Wat gaan jy doen?”
“Wat dink jy? Ek dink hy is besig om te bluf, maar al is hy ook ernstig, kan dit my nie skeel nie. Jy weet, Zelia, daar is iets vreemds omtrent hom. Die res van die eilandbewoners se houding kan ek nog in ’n mate verstaan. Soos Pauli gesê het, dit is hul erfenis en vir hulle byna heilig. Maar dokter Inaki … Hy is ’n geleerde, beskaafde man. Hoekom probeer hy so naarstiglik om die ekspedisie in die wiele te ry?”
“Ja, sy houding is beslis vreemd.” Zelia frons ook.
“Ons dokter Inaki is vol geheime. Daarvan is ek seker.” Sy oë trek peinsend saam. “En hy is ’n gladde kalant.”
Zelia kyk hom bekommerd aan. “Louw, jy moet dit liewer nie waag om Pauli hiervan te vertel nie, ek bedoel nou die werklike rede hoekom Analola – dis haar naam, nè? – na jou tent gekom het. Sy sal reguit na Inaki gaan en hom daarvan vertel.”
“Ek besef dit. Dokter Inaki is die laaste mens wat hiervan moet weet. Pauli moet maar dink wat sy wil, daar is te veel op die spel om ’n kans te waag.”
“Ja, en …” met ’n slinkse sydelingse blik na die strak gesig, “sy verdien nie om reggehelp te word nie. As sy dan sulke goed van haar man dink …”
Sy swyg en glimlag fyn by haarself. Arme Pauli! Sy kry haar amper jammer! Die feit bly dat sy, Zelia, daardie selfde gedagtes gekry het toe sy gisternag ’n gestalte voor haar oop tentklap gesien verbysluip het. Daar is geen ongediertes op Paaseiland nie, en dis heeltemal veilig om met ’n oop tentklap te slaap. Sy het suutjies opgespring en gesien hoe die Polinesiese meisie in Louw se tent verdwyn. Sy was ook ’n oomblik lank te verslae om te beweeg. Maar later kon sy haarself nie keer nie en het versigtig agter om Louw se tent gesluip. Binne-in haar het die jaloesie gegloei. Dis erg genoeg dat sy Louw van ’n leë pop, soos sy Pauli nog altyd beskou het, moet probeer afrokkel. Maar dis