Ena Murray Keur 2. Ena Murray
kalm stem: “Ek sou dit nie doen as ek jý is nie, doktor Meyer. Want ek is nog Louw se vrou – en vir jou inligting, en vir dié van al die Polinesiese meisies in die Suidsee – hy sal my man bly. Louw verkeer blykbaar onder ’n wanindruk. Jammer dat hy jou verkeerde inligting gegee het, maar … Louw Hattingh is my man en ek is nie van plan om hom ’n egskeiding te gee wanneer ons terug is of enige ander tyd nie. Dus … jy en die Polinesiese meisie kan maar voortgaan om soos kinders teen mekaar mee te ding. Ek is nie in die stryd nie. Ek het klaar gewen.”
Zelia besef dat Pauli inderdaad hierdie ronde gewen het. Sy durf nie haar geluk te ver beproef nie. Sy het reeds baie gewaag. Maar sy is redelik seker dat Pauli nie vir Louw van hierdie gesprek sal vertel nie. By die tentklap draai sy weer terug.
“Jy is ’n dwaas, Pauli. Laat Louw liewer vry of …”
“Of, doktor Meyer?”
“Of jy kan dalk te laat besef dat jy dwaas was.”
“Dit sal die toekoms ons maar moet leer.”
Louw is alleen in die kantoortent toe Zelia daar instap. Sy is nog hewig ontsteld en dis nie nodig om toneel te speel nie. Haar hande bewe opsigtelik. Toe Louw haar sien, pers hy sy lippe op mekaar en vra kortaf: “Wat het gebeur? Jy lyk ontsteld.”
“Ek is!” Sy sak op ’n bankie neer en skud haar kop. “Dis hopeloos, Louw. Sy wil na geen rede luister nie. Ek … verskoon my dat ek dit sê, maar ek kan nie anders nie – ek het lanklaas ’n meer onvolwasse vrou teëgekom as Pauli … en iemand met soveel vuil gedagtes! Weet jy wat sê sy vir my?”
“Ek kan byna raai, maar gaan voort.”
“Sy beweer dat ek en jy … ons twee op ekspedisies … O, jy weet wat ek bedoel. Sy is kleinlik en opgevreet deur jaloesie! Sy sê ek en Analola is eenders! Sy glo natuurlik onwrikbaar haar eie vertolking van Analola se aanwesigheid in jou tent gisternag. Ek kon ewe goed aan daardie bank vertel het dat jy nie daardie soort man is nie.” Sy kyk hom stip aan. “Louw, hoe kan jy saam met so ’n vrou lewe – iemand wat so min vertroue in jou het, sulke verskriklike dinge van jou dink? Sy gaan jou verwoes!”
“Ek … weet nie meer wat om te dink nie, Zelia.” Hy sug en vee oor sy oë. “Ek kan dit net nie van Pauli glo nie! Sy was nie so nie! Dis of iets in haar gevaar het sedert ons hier aangekom het! Dit kan net Inaki se invloed wees …”
“Miskien gedeeltelik, maar dalk was sy maar altyd so. Jy het haar net nooit werklik geken nie, Louw.”
“Miskien is jy reg. Ons het mekaar swak geken. Baie gesien, maar nie juis geken nie. En tog …”
Hy swyg. Wat help dit om hieroor te praat? Hy staan op.
“Ek is jammer, Zelia, oor … alles wat jy moes aanhoor. Jammer dat jy ook in die gedrang gekom het.”
Skielik lê haar hand teen sy arm en hy staan ook op en beweeg effens nader. Versigtig draai sy sy afgewende gesig na haar met ’n handpalm teen sy wang. Haar oë is begrypend, vriendelik in syne.
“Vergeet daarvan. Dis eintlik niks, Louw, ek is jou vriendin. Jy weet dit. As jy my nodig het …”
Hy plaas sy hand oor hare, kyk op haar af, glimlag skrams.
“Dankie, Zelia. Jy is ’n staatmaker.”
Sy vlei haar kop teen sy bors aan.
“Moenie dat hierdie dinge jou onderkry nie, my vriend. En as jy my hulp nodig het, praat net.”
Deur skrefiesoë sien sy ’n gestalte in die tentopening verskyn, maar sy maak nie aanstaltes om van Louw af weg te beweeg nie. Dis eers toe Pauli byna langs hom staan dat Louw haar gewaar en instinkmatig padgee. Die oë wat na hom kyk, is koel, onpersoonlik; so ook haar stem.
“Moenie dat ek julle hinder nie. Ek kom soek net tee. Charles sê hy het die tee hier kom neersit. O, daar is dit.”
Sy stap na die tafeltjie waar die teepot en koppies neergesit is, en agter haar heers ’n doodse stilte. Zelia en Louw se oë ontmoet veelseggend en eersgenoemde swaai haar hande moedeloos in die lug en stap dan uit.
Doodluiters, met ’n kalmte wat sy nie weet waar sy dit vandaan haal nie, skink Pauli vir haar tee in en draai om. Louw staan voor haar.
“Pauli, dis nie wat jy dink nie.”
“Waarvan praat jy?” Haar oë kyk hom groot aan, doodonskuldig.
Hy keer net betyds ’n kragwoord. “Ek praat van netnou … wat jy gesien het …”
“Wat het ek gesien?”
“Verdomp, Pauli, jy sal my tot raserny dryf! Ek sweer dis die eerste keer …”
“Dat dit in daglig gebeur? O, ek glo jou. Ek glo jou natuurlik. Gewoonlik doen jy dit onder die veilige bedekking van die nag.”
“Luister hier …”
“Nee, Louw. Nou luister jý na mý! Ek is seker maar die kind waarvoor jy my aansien. Ek het eers die afgelope vier en twintig uur agtergekom dat ek vir jou werklik baie kinderagtig moet voorkom in vergelyking met die ervare vroue aan wie jy gewoond is. Maar ek wil jou darem dit sê: ek mag onvolwasse wees volgens jóú standaarde – maar ek is nie ’n idioot nie! Daar skort niks met my verstand óf my oë nie.”
“Dis juis die moeilikheid! Jou verstand en oë, alles van jou is … is besete! As jy net na my wil luister, my net wil gló!”
“Ek het nie lus om met jou te redeneer nie, Louw. Sien is glo, nie waar nie? En wat ek sien … walg my.”
Die wit kring lê weer om sy mond en sy oë blits soos dolke in hare.
“Hoekom het ek jou ooit saamgebring? Hoekom het ek?”
“’n Goeie vraag. Ek sal self graag die antwoord wil weet. Hoekom?”
“Ek wonder nou self, Pauli. Ek wonder hoekom ek my siel soveel sonde aangedoen het.”
Sy kry dit selfs reg om effens te glimlag.
“Dit klink amper komies om jóú van sonde te hoor praat, veral om te hoor dat ék jou grootste sonde is! Wonderlik hoe mense se siening van sake kan verskil, nè?” Sy draai terug na die teepot. “Kan ek vir jou ook tee inskink?”
“Pauli.” Hy skuif langs haar in en sy vingers gryp haar hand vas. “Asseblief, ek probeer werklik hard om my selfbeheersing te behou en om redelik teenoor jou te wees. Goed. Ek erken jy het miskien rede om … om kwaad te wees. Ek weet nie hoe jy agtergekom het dat sy in my tent was nie … Jy het seker maar op my gespioeneer. Dit daar gelaat. Ek erken ruiterlik daardie Polinesiese vroumens was by my in die tent, maar nie die hele nag nie en nié om die rede wat jy dink nie. Ons het net gesels.”
Sy kyk na hom op, intens bewus van sy vingers wat hare pynlik vasknel, en so intens bewus van die verlange in haar om hom te glo, om sy verduideliking sonder meer te aanvaar. Sy wil hom so graag glo …
“Net gesels, Louw? Ook nadat jy die lamp doodgedraai het?”
“Ja. Ook nadat ek die lamp doodgedraai het.”
“En jy verwag werklik dat ek dit moet glo?”
“Ja, want dis die waarheid.”
’n Oomblik hou hul oë mekaar gevange in ’n intieme kring.
“Goed, Louw. Nou – waaroor het julle gesels?”
Sy sien sy gelaatstrekke verstrak … en binne-in haar sak die flou vlammetjie van hoop weg.
“Sy was lank daar binne by jou. Kan jy nie aan één dingetjie dink waaroor julle gesels het nie? Van daardie hele lange gesprek nie eens één dingetjie onthou nie?”
“Pauli …”
Sy skud haar kop heen en weer, ruk haar hand beslis los uit syne.
“Laat staan maar, Louw. Jy het reeds erken dat jou siel al soveel sonde het dat ek nie nog daaraan gaan byvoeg deur jou