Ena Murray Keur 2. Ena Murray
dit net dokter Inaki, en ja, die nonne en priester op hierdie eiland is wat Engels magtig is. Met die res gaan dit maar sukkelend en meestal met handgebare. Julle kon miskien gesels het solank die lamp gebrand het, maar daarna … Of hoe voer jy ’n gesprek in gebaretaal in die stikdonkerte?”
“Sy praat Engels.”
Dis ’n byna histeriese laggie wat meteens in haar opborrel.
“Werklik, Louw? Ek is byna lus om jou eie woorde na jou terug te gooi en jou te vra waarmee jy nog vorendag sal kom! Sy praat Engels!” Haar oë blink kliphard, spottend. “Sê my – met ’n Cambridge- of ’n Oxford-aksent?”
Sy oë blits en hy prop sy vuiste vinnig in sy kakiebroek se sakke asof hy hulle nie ’n oomblik langer buite kan vertrou nie.
Weer moet hy sy selfbeheersing tot die uiterste inspan om normaal te antwoord: “Dis die waarheid. Sy praat skewe Engels, maar ons kon mekaar verstaan.”
“O, daaraan twyfel ek nie – ek bedoel, dat julle mekaar verstáán het. ’n Man en vrou hoef nie ’n gemeenskaplike taal te hê om mekaar te verstaan nie. Selfs ék weet dit darem ook.”
“Pauli, my vrou …” Hy sluk eers. “Jy is daarop uit om my te tart. Ek het jou al hoeveel keer gewaarsku, maar jy slaan daar geen ag op nie. Jy speel met vuur.”
“Regtig?” Sy lyk heel geïnteresseerd. “Maar dis lekker, nè? Jy weet mos. Jy doen dit al maande en maande wanneer jy op jou ekspedisies is. Ek begin so stadigaan verstaan hoekom jy so versot daarop geraak het. Dit hou die lewe interessant – veral op ’n eensame, afgesonderde eiland.”
Sy oë is twee harde splete terwyl hy haar ’n oomblik stilswyend staan en beskou.
“As jy dink dat jy en Inaki saam met vuur gaan speel …”
“Hier is niemand anders nie, is hier?”
“Ek is hier. As jy dan lus voel om met vuur te speel …”
“O, maar ek kan nie met jóú nie. Jy is nie beskikbaar nie. Te besig!”
“Ek sal nooit te besig wees daarvoor nie.”
“O, ek weet. Maar nie met my nie. Daar is mos niks aardigheid daaraan tussen man en vrou nie …”
“Maar ons is nie man en vrou nie.”
“O, ja … Wel, ek dink nie ek sal daarvan hou om in ’n tou te gaan staan nie, dankie.”
“Tou?”
“Ja. Netnou kom ek daar by jou tent aan en hier staan al klaar twee voor my en wag dat jy jou tentklap moet oopmaak. Foei, dan is ek nog heel agter in die ry ook.”
Sy lag kortaf, en die bitterheid skemer deur.
’n Spier begin teen die kant van sy gesig spring.
“As jy bang is daarvoor, kan ek nog altyd na jou toe kom.”
“O, nee wat, dankie. Ek haat dit om in my slaap gesteur te word. Netnou is jy weg wanneer daar ’n onverwagte kuiergas opdaag. Dink net aan die teleurstelling!”
“Jy is werklik vas oortuig daarvan dat ek snags … Ek kan vandag nog my intrek by jou in jou tent neem. Miskien sal jy my dan glo.”
Haar oë vernou, blits dan uitdagend.
“Sal jy, Louw?”
Lank, baie lank staar hulle na mekaar – en Louw Hattingh weet sy het hom in ’n hoek. Hy kan nie sy intrek by Pauli neem nie, want hy moet in sy tent wees wanneer Analola hom soek. En sy daag net in die nag op.
Pauli weet nie waar sy die krag vandaan haal om in hierdie oomblik spottend te glimlag nie.
“Sien jy, Louw? Jou waarskuwings en dreigemente is net so onaanvaarbaar soos jou verduidelikings. Neem jy my kwalik dat ek hulle met die minagting behandel wat hulle verdien?”
Skielik klem sy hande weer haar skouers vas, kyk hy haar met gloeiende oë aan.
“Jy kan met hulle maak wat jy wil, my vrou, maar ek bedoel elke woord wat ek gesê het en jy sal dit besef voordat ons van hierdie eiland af padgee – ek sweer dit!”
En dan, die eerste keer, voel sy haar man se mond op hare neerkom, voel sy sy hande agter haar rug afstroop, hoe haar liggaam teen syne gedwing word, voel sy die krag van sy groot liggaam oor hare troon, spoel daar ’n oomblik die ongetemperde hartstog van ’n sterk man oor haar. Dit voel vir haar asof hy haar hart met sy lippe wil uittrek terwyl hulle hare oopdwing.
Meteens is sy weer vry.
“Hoe … hoe durf jy! Dink jy ek is een van jou straatslette om my so …?”
“Jy was gewaarsku, Pauli. Ek het jou gewaarsku dat ek my perke het … en dat ek hulle, waar dit jou aangaan, bereik het. En gaan net voort om my te tart … daar is nog baie waar hierdie vandaan kom – en meer!”
Hy swaai om en stap uit.
Pauli storm na haar tent, haar tweede koppie tee onaangeraak op die tafel in die kantoortent.
Daardie nag is die kamp reeds in duister gehul toe ’n geheimsinnige gestalte soos ’n slang op haar maag die lang grashelling afseil, die oë skerp en waaksaam. Die kop draai gedurig rond asof sy bang is vir agtervolging. Sy wag ’n hele ruk voordat sy die laaste oop kol vinnig oorsteek en dan in ’n tent verdwyn. Hoewel Louw haar half en half verwag het, skrik hy effens toe sy tentklap vinnig opgelig en dan weer laat val word. Sy bly roerloos staan, maar hy kan haar gespanne asemhaling hoor.
“Analola?”
“Sjuut! Ons moenie praat nie.”
Hy staan versigtig van die kampbedjie af op en reik na sy hemp en skoene. Omdat hy gedink het sy sal kom, het hy hom nie ten volle ontklee nie. Hy kom langs haar staan en loer versigtig deur ’n skrefie na buite, maar alles lyk verlate.
“Dit lyk veilig. Kan ons maar gaan?”
“Ek dink so. Kom.”
Hulle sluip vinnig uit, Analola voor met Louw kort op haar hakke, ’n rol tou en ’n sterk flits in sy hande. Vinnig swaai sy blik na die tente. Hulle staan roerloos in die soel nag. Mag die gode gee dat Pauli slaap, dink hy vinnig, en val dan plat langs Analola neer toe hulle die grashelling bereik. Dan volg hy haar voorbeeld deur op sy maag te seil totdat hulle uit sig van die kamp is.
Zelia hou hulle dop in die dowwe maanlig. Dan, toe sy hulle nie meer kan sien nie, stap sy self na buite …
Oomblikke later word nog ’n tentklap opgelig en Pauli loer versigtig uit. Sy kon sweer sy het ’n vreemde geluid gehoor … ’n Oomblik staan sy besluiteloos. Alles lyk so rustig. Miskien het sy haar dit verbeel. Onseker rus haar blik op Louw se tentklap. Dan ruk haar kop op. Van die agterkant van die kamp af kan sy iemand versigtig sien nader sluip. ’n Oomblik is sy verward, maar dan eien sy die gestalte. Dokter Inaki!
Sy frons. Wat sal hy hierdie tyd van die nag hier kom soek?
En meteens weet sy …
’n Yskoue rilling gaan deur haar liggaam. As Analola weer vannag by Louw in die tent is, sal hulle op heter daad betrap word! Sy weet daar is nie tyd om te dink nie. Sy moet Louw waarsku!
Toe die naderende gestalte ’n oomblik agter die tent wegraak, beweeg sy vinnig en vlug op haar tone na die tent langsaan.
Sy roep saggies, dringend, maar ’n doodse stilte omvou haar. Paniekerig soek sy na die bed in die donker en haar hart ruk in haar keel. Dis leeg!
Buite die tent is daar ’n sagte skuifgeluid en angs wil haar oorweldig. Wat moet sy doen? Hy gaan ontdek dat Louw weg is … en Louw se afwesigheid kan net één ding beteken … dat hy die Polinesiese meisie êrens gaan ontmoet het … êrens waar dit veiliger sal wees en nuuskierige oë niks sal waarneem nie.
Buite word die tentklap baie saggies opgelig.
9
Louw