Elza Rademeyer Omnibus 7. Elza Rademeyer
nie wat hy sê nie, maar onderbreek hom nie. “Ek moet jou vertel, maar jy gaan my verag.”
Sy beur effens weg, haar liggaam bewerig van angs oor sy woorde. “Wat moet jy my vertel?” Toe sy in sy oë kyk, druk die angs haar hart ook toe sodat sy skaars kan asemhaal.
“Selma … verwag ’n baba.”
’n Yskoue rilling vaar deur haar lyf. Sy weet nie wat sy te wagte was nie, maar … Haar oë gaan asof vanself toe en sy sluk swaar, druk haar kop weer teen hom vas.
“Jou kind?” vra sy uiteindelik sag, met sy hartklop in haar oor.
“Ja.”
Sy opmerking van vroeër die middag kom by haar op: “It takes two to tango.” Sy beur haar kop weer weg om met ’n fronsie na hom te kyk. “Ek het gedag julle is geskei?”
“Ons is.”
“Dan verstaan ek nie. Miskien moet jy voor begin.”
“Dis baie moeilik om te verduidelik.”
Sy maak haar los van hom en stap met gemengde gevoelens van teleurstelling, hartseer en selfs ook woede kas toe om die koppies uit te haal. “Praat maar, ek luister.”
Die skielike kilheid van haar houding maak dit vir hom moeilik om te bieg. Maar hy voel sy behoort te weet. “Ons was darem nog getroud toe dit gebeur het,” sê hy met ’n stem wat onnatuurlik skor klink. “Maar dit regverdig nie my daad nie, want ons was al vervreem.”
“Was dit voor of ná jul seuntjie se dood?” vra Esbeth toe hy stilbly.
“Voor Norman se dood.”
“Dus moet sy al ’n hele paar maande swanger wees,” sê Esbeth verlig. Sy sou dit gehaat het as dit meer onlangs gebeur het.
“Sy beweer sy is amper vyf maande swanger.” Hy reik na ’n stoel, vee met sy hande oor sy gesig. Sal Esbeth verstaan?
“Ons huwelik was van die begin af gedoem. Sy is onverklaarbaar wispelturig en emosioneel. Dit was vir my baie moeilik om haar te verstaan. En ek kon haar nooit tevrede stel nie, want wat sy gister nog presies só wou hê, wou sy die volgende dag net mooi anders hê. Toe ek Mosselbaai toe gekom het, het ons saam besluit om te skei. Ek is so vyf maande gelede uit Johannesburg toe, juis vir die afhandeling van die egskeiding, toe sy met die idee kom dat ons ’n laaste poging moet aanwend om die huwelik te red.”
Hy haal swaar asem, kom Esbeth agter. Alles om haar voel onwerklik – doods.
“Ek het haar lankal nie meer liefgehad nie, maar was bereid om te probeer ter wille van Norman. Ek was lief vir my kind. Maar dit het net vir drie dae goed gegaan. Toe betrap ek haar en my beste vriend saam in die slaapkamer terwyl hulle …” Hy swyg, vervat dan moeisaam sy vertelling. “Dit was vir my ’n dubbele skok. My vrou met my beste vriend … Ek het onmiddellik my tasse gepak en teruggekom Mosselbaai toe. ’n Week daarna is die egskeiding afgehandel. En nog ’n week later het Dewald my kind só ernstig aangerand dat hy aan sy wonde beswyk het.”
“Het jy nooit vermoed dat sy en jou vriend … dat daar ’n verhouding tussen hulle was nie?” vra Esbeth verslae.
“Soms het ek gewonder of sy nie ontrou was nie, maar van Dewald het ek dit nooit verwag nie. Hy was dan my vriend! En dít wat hy aan my kind gedoen het …”
Esbeth se hande bewe só van ontsteltenis toe sy trane in sy oë sien, dat sy van die koffie in die piering stort toe sy dit voor hom neersit.
“Hoe weet jy dis jou kind wat sy verwag en nie Dewald s’n nie?” vra sy skielik hoopvol.
“Dewald kon nie ’n kind verwek nie,” sug Gustav. “Ek het gedink … dit sal beter wees as ek jou maar dié dinge vertel, al kan ek nie verwag dat jy dit moet verstaan nie.”
Iewers vandaan kry sy die krag om te sê: “Toe maar, ek verstaan. Veral ná vanmiddag. Soms gebeur dit dat jou vleeslike begeertes jou gesonde verstand oorheers.”
Haar woorde skok hom nugter. “Is dit ál wat vanmiddag vir jou beteken het?”
Sy voel hoe sy bloos en keer vinnig haar rug op hom om oënskynlik by die wasbak besig te raak. “Kom ons vergeet van vanmiddag.” Haar hele liggaam raak aan die bewe toe hy opstaan van die stoel en langs haar kom staan.
Hy draai haar stadig om sodat sy nie anders kan as om hom in die oë te kyk nie. “Al kan ek geen beloftes aan jou maak nie, wil ek hê jy moet weet dat vanmiddag die één dag in my lewe is wat ek nooit sal vergeet nie.”
Sy sluk swaar en sien hom ook sluk voordat hy sê: “Ek is jammer ek het jou kom pla. Het jy al geslaap?”
“Nee, ek het sommer lê en lees. Wat gaan jy doen … omtrent Selma?”
Hy sluit sy oë vir ’n paar oomblikke. Toe hy dit oopmaak, kyk hy haar deurdringend aan. “Ons moet keer dat sy uitvind van jou bestaan. Sy sal die wêreld vir jou onmoontlik maak as sy moet weet dat ons twee … dat ek jou uitgeneem het.”
“Ek verstaan,” sê Esbeth met ’n gevoel van doodsheid. Hy sien dus, ten spyte van alles, tog kans om weer met sy gewese vrou te trou. Die toekoms lê skielik vaal en mistroostig eensaam voor haar uitgestrek. Maar sy sal die mas opkom sonder hom, dink sy met ’n gevoel van verontregting. Dit sou net makliker gewees het as sy nie die herinneringe aan vanmiddag gehad het om saam met haar te dra nie. Die teerheid van sy soene, die ondeunde blik in sy oë, sy skroeiende hande teen haar warm vel …
Toe ’n ingehoue snik haar bors laat ruk, loop sy vinnig om tafel toe. Vloek of sy hom sal laat agterkom sy huil! Laat hy sy gewese vrou terugvat. Laat hy haar in sy verstand in vat! Sý, Esbeth, is nie oor hom verleë nie.
“Wat het die man, dié Dewald, aan jou kind gedoen?” vra sy ná ’n lang stilte.
“Volgens Selma se getuienis in die hof was daar ’n rusie tussen haar en Dewald. Hy het Norman uit sy bedjie gaan pluk en sy gramskap op die kind uitgehaal. Hy’t hom met die vuiste bygedam en sy koppie teen die muur gekap …”
“Waar is hy nou? In die tronk?” vra sy toe hy swyg.
“Hy is Weskoppies toe verwys vir sielkundige waarneming voordat hy verhoor kan word.”
Dis lank stil. Sy weet nie wat om te doen nie. Haar blik val op die twee koppies koffie voor haar op die tafel. “Kom drink jou koffie, dit word koud.”
“Gaan jy my kwalik neem as ek dit nié drink nie?”
“Nee, natuurlik nie. As jy nie lus is daarvoor nie …”
“Sal jy verstaan as ek vir eers wegbly van jou af?” vra hy pleitend.
Sy staal haarself. “Natuurlik verstaan ek.”
Toe die voordeur agter hom toegaan, staan sy lank verslae daarna en kyk. Toe haas sy haar kamer toe om die snikke in haar kussing te gaan smoor.
Sy staan die volgende oggend sonder fut op. De Wet is besonder opgewek toe sy hom oplaai. Hy kom nie agter sy is nie haarself nie. Op pad werk toe is hy vol grappies. En toe sy elfuur met ’n koppie tee omstap na sy winkel, is hy steeds in ’n vrolike stemming.
“Wat sal jy maak as ek skielik ’n skatryk man word?” vra hy laggend vir haar terwyl hy met sy teekoppie agter die kasregister inskuif om ’n ogie op haar winkeldeur te hou.
“Hoekom? Het jy vir ’n wedstryd ingeskryf?”
“Beantwoord eers my vraag.”
“Wel, wat verwag jy moet ek doen? Ek sal jou natuurlik gelukwens.”
“Met ’n soen.”
“Ja, goed, met ’n soen,” sê sy toe sy na sy ondeunde gesig kyk.
“Met ’n ordentlike soen.”
“Goed dan.”
“Dan beter jy begin oefen.”
“Wat bedoel jy? Het jy ’n prys