Elza Rademeyer Omnibus 7. Elza Rademeyer
wag nie tot sy motor wegtrek voordat sy haar kamer toe haas agter Eben aan nie. Is De Wet verlief op haar?
Bekommerd gaan sy lê en sy het ’n slegte nag vol nagmerries oor De Wet wat deur die polisie gesoek word en oor Gustav wat saam met ’n bruid voor die kansel staan.
Gustav se stem oor die telefoon, vroegoggend terwyl die droom nog vlak in haar gedagtes lê, is so onverwags dat sy nie dadelik kan praat nie.
“Is jy daar?” vra hy dringend.
“Ja, ek … e … hoor jou.”
“Het ek jou wakker gelui?”
“Nee, ek was darem al wakker.”
“Esbeth, kan ek jou vanmiddag ná werk kom oplaai?”
“Oplaai? Waarheen?”
“Danabaai toe. Ek wil jou graag die huis gaan wys wat ek … gekoop het.”
“Wat het ek met jou huis te doen?” vra Esbeth ergerlik.
Gustav klink afgehaal. “Stel jy dan nie belang nie?”
“Nee, hoegenaamd nie!”
“O, ek het maar gehoop … Luister, ek kan dit nie net so los nie. Ek móét jou weer sien!”
“Vir wat wil jy my sien?”
“My toekoms hang daarvan af.”
“Wat bedoel jy?” vra sy versigtig.
“Ek sal jou vertel as jy saam met my Danabaai toe ry vanmiddag.”
“Ek kan nie. Ek het ander dinge om te doen.” Toe verbreek sy sommer die verbinding. Sy weet nie wat Gustav se motiewe is nie, maar as hy darem glo hy kan met haar gevoelens woer-woer speel … Om Selma se huis vir háár te wil wys!
Aan sy kant begluur Gustav die geluidlose hoorstuk iesegrimmig voordat hy dit terugplaas op die mikkie. Sy moet haar darem verbeel hy sal hom só maklik laat koudsit! Sy sal hom in die oë moet kyk wanneer sy vir hom sê sy wil niks met hom te doen hê nie, anders sal hy dit nie glo nie. Hy kan nie langer so aangaan nie. Oor een ding het hy nou sekerheid: Hy het haar lief. Onteenseglik lief. Dit help nie om langer teen die gevoel in hom te stry nie.
Toe hy ’n paar uur later in sy motor klim, vergeet hy om daarop bedag te wees dat Selma dalk weer op hom spioeneer.
Esbeth sien hom voor haar winkel stilhou. En haar hart maak ’n snaakse tuimeling toe hy die boetiek binnegestap kom. Sy het moeite om haar blydskap weg te steek en oënskynlik gewoonweg te vra of daar iets is waarmee sy hom kan help.
Hy kyk vlugtig na die ander klante in haar winkel, gaan staan dan reg voor haar om hulle af te sluit. Hy voel hoe sy hart bons toe hy die ligte fladdering van haar wimpers sien, die senuweeagtige gebaartjie waarmee sy ’n haarsliert uit haar gesig vee. Sy kan stry soos sy wil, kom dit by hom op, hy weet sy voel iets vir hom.
“Ja. Ek soek gordyne vir ons huis,” sê hy met sy blik in hare.
“Jammer, maar ek hou nie gordyne aan nie.” Sy skeur haar blik weg van syne. “Net vroue- en kinderklere.”
“Jy sal my nogtans moet help met die maak van die gordyne.”
“Hoekom moet ék jou daarmee help?”
“Ek ken niemand anders in Mosselbaai wat my daarmee kan help nie en my tante uit die Transvaal kom Maandag kuier. Sy sal dit ongemaklik vind om in ’n gordynlose kamer te slaap.”
Esbeth kry die gevoel dat hy so effens die spot met haar dryf, maar sy weet nie hoekom nie. Nog minder hoe om daarop te reageer. “Ek maak klere,” verweer sy haarself.
“As jy klere kan maak, kan jy tog seker gordyne ook maak?”
“Het jy al die materiaal gekoop?”
“Nee, ek sal die geld gee. Jy moet dit koop.”
“Hoe sal ek weet waarvan jy … e … julle hou?”
“Jy het goeie smaak. Jy sal die regte gordyne koop.”
“Ek sal nie weet hoeveel om te koop nie. Het jy die mate?”
“Watse mate?” hou hy hom opsetlik dom.
“Die mate van die vensters!” vies sy haar onnodiglik.
“Wat het dit met die maak van die gordyne te doen?”
“Alles! Ek bedoel, jy moes mos weet hoeveel materiaal om te koop.”
“Sal jy my help om die mate te neem?”
“Ek kan nie. Jy sien mos hier is klante in my winkel.”
“Ek sal wag tot jou winkel sluit.” Hy kyk kamtig aandagtig op sy horlosie. “Dis minder as ’n uur. Sien jou weer buite.”
Toe Esbeth haar winkel sluit, wag hy in sy motor wat langs hare geparkeer staan. Dit baat haar niks om haarself tot kalmte te maan nie. Toe hy uit die motor klim en nader gestap kom, klop haar hart onstuimig in haar keel.
“Jy kan jou motor hier los as jy wil. Ons kan net vir Eben by tant Ralie gaan oplaai en dadelik ry,” sê hy vir haar.
Sy besluit om nie met hom te argumenteer nie. Haar vrae oor sy gewese vrou kan wag tot later. Dit kan tog nie kwaad doen om haar net vir ’n wyle te verbeel hy hou van haar nie.
Hulle ry ’n hele ruk in stilte nadat hulle Eben by tant Ralie opgelaai het. Maar haar senuwees kan die uitgerekte stilte nie verduur nie. Sy probeer gewoon klink toe sy vra: “Wanneer beoog jy en Selma om in te trek?”
Hy loer vlugtig na haar en frons. “Ek en Selma? Wat laat jou dink ek koop die huis vir my en Selma?”
“O, ek het maar gedag …” Sy swyg ongemaklik toe hy weer na haar loer en terselfdertyd sy hand oor hare op haar skoot vou.
“Vergeet van Selma. Ek het geen begeerte om ooit weer ’n huis met Selma te deel nie.”
Dit raak ademloos stil in haar. Die klip in haar binneste smelt soos was. “Hoekom wil jy die huis dan vir my gaan wys?”
“Ons kan netnou daaroor gesels. Wanneer ons daar is.”
Sy maan haarself om nie opgewonde te raak nie, maar die veld, die lug, alles lyk skielik uitbundig vrolik. Sy voel vir die eerste keer in ’n lang tyd weer die milddadigheid waarmee die son skyn toe hulle voor ’n pragtige ruim huis stilhou en deur ’n ietwat verwaarloosde tuin na die voordeur loop.
Hy sluit die voordeur oop en laat haar eerste ingaan. Die huis is karig gemeubileer en sy kry die geur van nat verf. Hy kom staan agter haar toe sy naby die venster gaan staan om na buite te kyk. Sy hande raak liggies aan haar skouers. “Wat dink jy van die huis?” vra hy effens hees.
“Dit is mooi. ’n Pragtige uitsig.”
“Sal jý daarvan hou om hier te bly?”
Sy probeer haar uiterste bes om kalm te bly. “Hoekom vra jy dit?”
“Omdat ek hoop jy gaan ja sê as ek jou vra om die huis met my te deel.”
Sy draai stadig om. “Te deel? Wat presies bedoel jy, Gustav?”
Sy hande skuif met haar bo-arms af en vind ’n rusplek op haar heupe. “Ek het jou lief. Dit moet jy al kon agtergekom het.”
Dit raak wonderlik stil in haar. Sy kyk hom met groot oë aan, stom.
Hy kyk haar sag maar deurdringend aan. “Ek weet dis seker baie onverwags, maar …” Sy stem raak gesmoord. “Ek kan my gevoel vir jou nie langer vir myself hou nie, Esbeth. Ek wil jou myne maak. Het jy … my … Ek bedoel, staan ek ’n kans om jou liefde te wen? Of is jy … De Wet en jy …”
Sy het ’n onverklaarbare vreugde aan sy onbeholpenheid. Haar arms kruip asof vanself om sy nek. “Daar is niks meer as vriendskap tussen my en De Wet nie. En as jy wil weet of ek jou liefhet … Ja, ek het. Sommer baie, baie lief.”