Elza Rademeyer Omnibus 7. Elza Rademeyer

Elza Rademeyer Omnibus 7 - Elza Rademeyer


Скачать книгу
’n vriend wat saam met my werk. Nie dat ek enige verduideliking aan jou verskuldig is nie. As ek ’n meisie wil vra om saam met my uit te gaan, sal ek beslis nie jóú toestemming vra nie. Vir jou voel ek niks anders as veragting nie!”

      Hy is nie voorbereid op haar reaksie nie. Toe hy weer by sy positiewe kom, is sy besig om hom te gooi met alles wat sy in die hande kan kry. Hy koes net betyds weg vir ’n asbak wat met ’n slag die muur tref. Hy wil eers lag, maar haar verwilderde oë laat hom skrik. En toe sy histeries op hom begin gil, gryp hy haar vas en druk haar mond toe. Sy gaan so te kere dat hy haar hardhandig op die bed moet vaspen.

      “Wat makeer jou?” vra hy geskok. “Is jy van jou verstand af?” Dit duur egter lank voordat sy genoeg tot bedaring kom dat hy dit kan waag om sy hand van haar mond af te haal.

      Sy skree nie weer op hom nie, maar haar oë is steeds verwilderd toe sy sê: “As jy dit ooit weer waag om vir my te sê jy verag my, sal ek nie verantwoordelik gehou kan word vir my dade nie. Dit was nie mý skuld dat Dewald Norman aangerand het nie. Hoe moes ek weet hy het sulke moorddadige neigings in hom gehad?”

      “Goed, ek is jammer ek het dit gesê,” paai hy haar, bang vir die waansinnige uitdrukking in haar oë. “Maar jy moet ophou om my so te treiter met jou telefoonoproepe en besoeke. Dit kan nie langer so aangaan nie.”

      Haar gesig ondergaan plotseling ’n metamorfose. “Dis waar wat jy sê,” sê sy lieftallig en toegeeflik. “Ons kan nie langer so aangaan nie. Hoekom trou ons nie môre nie?”

      “Ons hét die saak mos nou al ’n hele paar keer bespreek, Selma. Hoe kan ek met jou trou as ek jou nie liefhet nie? Ons kon mekaar dan nooit gelukkig maak in die vyf jaar wat ons getroud was nie. Hoe sal ons dit nou regkry?”

      “Dis sy! Dis háár skuld dat jy nie met my wil trou nie!”

      Hy gee ’n moedelose sug. “Daar bestaan nie ’n sý nie. Ek het jou al honderd keer gesê ek het nié ’n vaste meisie nie.”

      “Ek glo jou nie.” Sy klou hom skielik vas. “Ek het jou lief, Gustav! Verstaan dit tog!”

      “Dis jou verbeelding wat vir jou sê jy het my lief. As jy my werklik liefgehad het, sou jy nie ’n buite-egtelike verhouding met Dewald aangeknoop het nie.”

      “Hy het my betower. Hy’t allerhande mooi beloftes gemaak. En jy was altyd so besig. Jy’t nooit vir my tyd gehad nie!”

      “Jý het nooit tyd gehad nie, Selma. Hoeveel aande het ek by die huis gebly om Norman op te pas terwyl jy in die vroeë oggendure eers huis toe gekom het?”

      “Dit was oor ek sosiale verpligtinge moes nakom vir my werk … Jy wou my nooit vir ’n vakansie oorsee neem nie. Al my vriendinne was al oorsee, maar ek …”

      Hy los haar. “Verwyte gaan jou nêrens bring nie. Ek het geen begeerte om geld op oorsese reise te verspil nie.”

      Toe hy omdraai, gryp sy hom vas en ruk hom met soveel geweld nader dat hy half bo-op haar val waar sy op die bed lê. “Kom ons speel net vir dié een aand alles is weer reg tussen ons. Net vir ’n paar oomblikke. Toe, wat sê jy?”

      Hy kyk na haar waar sy onder hom lê. Die waansin op haar gesig is weg. Haar oë is geheimsinnig en haar mond aanloklik getuit. Sy is nog steeds ’n begeerlike vrou. Sy besit steeds ’n sensualiteit wat baie mans sal mal maak. Hy dink aan die aand in Johannesburg toe hy geswig het voor haar aanlokking; gedink het dit sal help om sy huwelik te red. Maar dit was ’n daad sonder liefde of teerheid. ’n Daad wat hom ewig sal berou. Hy weet sy sal hom weer met ’n triomfantelike blik aankyk as hy voldoen aan haar versoek, en hy ruk hom met ’n gevoel van walging los uit haar omhelsing, raap sy baadjie van die stoel af op en loop by die deur uit.

      Hy ry soos ’n besetene van die hotel af weg. Toe sy ergste woede bedaar, kom hy agter hy is by die Punt. Sy oog val op die naambord van die restaurant. ’n Koppie koffie, dis wat hy nou nodig het, besluit hy. Toe parkeer hy sy motor en loop die restaurant binne.

      8

      “Jy moet ophou om jou oor my te bekommer,” sê De Wet vir Esbeth. “Bekommer jou liewer oor jouself. Kyk net hierdie donker kringe onder jou oë. Jy slaap nooit meer ordentlik nie. Natuurlik Gustav Opperman se skuld.”

      “Hoe kan dit sy skuld wees? Ek het hom wie weet wanneer laas gesien.”

      “Juis. Dís waarom jy nie kan slaap nie. Vergeet van hom, man. Jy kan in elk geval beter doen as om jou met die giere en geite van ’n geskeide man op te hou. Waarskynlik is hy dalk al klaar weer getroud met sy gewese vrou.”

      “Ag, kom ons gesels oor iets anders,” probeer sy wegskram van die gevoelige onderwerp. “Hoe smaak jou seekos?”

      “Heerlik! Hei, en nou, as jou oë so rek?”

      Sy knyp vinnig haar oë toe. Toe sy dit weer oopmaak, is sy net betyds om Gustav by die restaurant se deur te sien uitgaan. Haar groot oë het De Wet ook laat omkyk.

      “Waar het hy dan gesit dat ons hom nie gesien het nie?” vra hy vir Esbeth toe hy sy kop terugdraai. “Of het hy net iets by die toonbank gekoop?”

      “Hy’t seker net iets by die toonbank gekoop,” sê Esbeth. Maar sy weet dit is nie waar nie. Gustav het in die deur omgedraai toe hy haar gesien het.

      “Die man is ook orals,” laat De Wet misnoeg hoor.

      “Gits, hoekom klink jy so gegrief?” vra Esbeth. “Hy kan mos kom en gaan soos hy wil.” Toe sy sien dat Eben met die suikerpot peuter, raas sy onnodig kras met hom; sy is skielik sommer uit haar humeur uit.

      De Wet gee haar net ’n vernietigende kyk voordat hy weer doenig raak met sy eetgerei. Eintlik lyk dit eerder asof hy sit en stoei met die kos in sy bord en dis ook vir Esbeth ’n marteling om met die ete voort te gaan. Sy weet sy moet haar nie aan Gustav se temperamentele optredes steur nie, maar hoe kan dit anders? Sy sal hom nooit uit haar gedagtes kan weer nie, want … ja, laat sy dit maar teenoor haarself erken, haar hart behoort aan hom.

      Dit gaan moeilik om met De Wet oor daaglikse onbenullighede te gesels terwyl sy die hele tyd bly wonder waarom Gustav omgedraai het toe hy haar sien. Is hy bang sy sal haar opdring aan hom?

      Later die aand talm De Wet voor haar woonsteldeur. “Gaan jy my nie nooi vir koffie nie?” vra hy toe dit vir hom lyk asof sy geen aanstaltes gaan maak om hom binne te nooi nie. Eintlik wou hy sy goeie nuus vanaand met haar gedeel het, maar Gustav se verskyning by die restaurant het die hele aand bederf.

      “Nie vanaand nie. Ek wil maar in die bed gaan klim.” Sy druk Eben by die deur in om solank sy tande te gaan borsel met ’n bemoedigende “Mamma kom nou”.

      “Esbeth, vergeet van Gustav Opperman. Hy kan jou niks bied wat ek jou nie ook kan bied nie. Ek gaan volgende week vir ’n paar dae oorsee en as ek terugkom …” Hy sit sy arms besitlik om haar lyf.

      “Oorsee?” onderbreek sy hom verbaas. “Wat gaan jy daar maak?”

      “Ek gaan my geld haal. En as ek terugkom …”

      “Geld haal?” onderbreek sy hom ongelowig. “Waarmee is jy besig, De Wet? Is jy by smokkelhandel betrokke?”

      Hy lag oor haar geskoktheid. “Wat maak dit saak hoe ek die geld kry? Feit is, ek gaan een van die dae een van Mosselbaai se rýk manne wees. Ek het al klaar gaan kyk waar ek vir my ’n huis gaan bou waarvan ’n vrou maar net kan droom.”

      Sy stoot hom weg. “Jy is met onwettighede besig. Los dit, De Wet. Hulle gaan jou vang!”

      “Sal jy spyt wees as hulle my vang?”

      Sy vererg haar vir sy ligsinnigheid. “Nee, miskien móét hulle jou vang sodat jy verstand in jou kop kan kry!”

      “Dink jy dan ek het ’n tekort aan verstand?”

      “As jy verstand het, gebruik jy dit nie. Wat van jou arme ma as jy …

      Hy gee haar nie kans om haar


Скачать книгу