Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
spreekster.
“Is daar iets met die Du Toits verkeerd?”
Die meisie kyk na haar.
“Verkeerd! U vra nog! Madame Du Toit het die laaste drie geleenthede elke keer dieselfde tabberd gedra! Die laaste keer het sy ’n waaier by iemand geléén!”
Nicole bly liewer stil. Kan ’n mens so selfvoldaan wees?
“Madame De Villiers het sekerlik ’n fout gemaak,” meen madame Benezet. “Ek self sal madame Du Toit die aand maar liewer ignoreer. Sy behoort haar plek te ken.”
Nicole byt op haar tande. Sy voel lus om by die vertrek uit te vlug, maar dit sou onvergeeflik van haar wees. Sy sal nooit weer na enige geselligheid genooi word nie. Dit voel soos ’n ewigheid voordat die dames eindelik een vir een opstaan om te vertrek.
Jeanne bly egter sit en Nicole is verplig om haar moeder se voorbeeld te volg. Toe almal uit die vertrek is, is dit net sy en Jeanne en Murielle en haar moeder wat nog by die tafel sit.
Madame Benezet kyk na Nicole.
“Ek sal u aanraai om liewer nie weer oor enige ontstellende onderwerp in hierdie kring te praat nie, mademoiselle. Daar is sekere dinge wat dames net nie bespreek nie. U moeder het u tog daaroor ingelig.”
Camille kom sit weer by die tafel nadat sy ’n vriendin gaan groet het.
“Nicole het ons baie interessante dinge vertel,” sê sy opgewek.
Jeanne kyk na haar jonger dogter.
“Dis nou genoeg, Camille. Die saak is heeltemal genoeg bespreek.”
Madame Benezet glimlag styf.
“Ons sal mekaar seker op die bal sien, of hoe, Jeanne?”
Jeanne knik.
“Ons sal almal daar wees. Ek hoop van harte dat die jonge Paul le Febre nou ’n besluit oor Camille sal maak. Hy lyk na ’n vooruitstrewende jongman.”
“Hy is nie juis die soort man wat ek vir Murielle sal kies nie. Sy sal ten minste met iemand soos Jacques Goucher moet trou.”
Nicole kyk vinnig na haar moeder en sien dié se ontsteltenis dadelik raak.
“Ek verstaan hy is ryk,” sê sy.
Murielle glimlag.
“Ryk genoeg vir my. Ek wil nie met ’n sukkelaar trou nie.”
Nicole sê niks en eers later toe sy en haar suster en moeder in die koets op pad terug is na die herberg toe, praat hulle weer daaroor. Jeanne is hewig ontsteld oor die nuus dat madame Benezet besluit het dat Murielle en Goucher moet trou. Dit gaan al haar eie sorgvuldige planne verongeluk.
Nicole gesels nie saam nie. Innerlik is sy dankbaar dat dit nie so maklik gaan wees om haar met Jacques Goucher te laat trou nie. Dit gaan nogal vernuftigheid van haar ouers se kant kos om dit bewerkstellig te kry.
Sondagmiddag hou ’n silwerige koets voor die deur van die herberg stil en kort daarna word monsieur en madame Rousseau en Nicole versoek om na die sitkamer van die herberg te gaan.
Niemand het ’n idee van wie die besoeker kan wees nie, maar aan die verskrikte uitdrukking op die gesig van die bediende wat hulle kom roep het, moet hulle aflei dat dit ’n belangrike persoon moet wees.
Nicole is ongeërg. Sy kan maar net nie dieselfde opgewondenheid voel wat daar by haar moeder te bespeur is nie. Camille kondig luid aan dat die persoon in ’n baie mooi koets gekom het.
Jeanne betig haar dogter omdat sy afloer en dan gaan hulle met die trap na onder.
Hulle besoeker is ’n lenige jongman van om en by dertig jaar oud. Hy is op ’n vreemde manier aantreklik met sy netjiese bakkebaard, helderblou oë en donker hare wat in ’n swart fluweelstrik agter sy nek saamgevat is. Sy uitrusting van diepblou satyn is ietwat onvanpas in die eenvoudigheid van die herberg.
Hy kyk op toe hulle inkom en sy blik rus ’n breukdeel van ’n sekonde langer op Nicole as wat nodig is. Dan draai hy met ’n glimlag na André.
“Ek maak verskoning as ek ontydig is, monsieur, maar ek moet môre weer na Fransche Hoek vertrek en ek sal nie terug wees voor die bal Saterdagaand nie.”
André Rousseau glimlag breed.
“Mais non, monsieur! U is glad nie ontydig nie.” Hy draai na Nicole. “Ek wil u graag aan my dogter voorstel. Nicole, dit is monsieur Jacques Goucher.”
Nicole steek haar hand na Goucher uit en hy druk sy lippe liggies galant op haar vingers.
“Dit is ’n aangename voorreg, mademoiselle,” sê hy.
“Aangenaam, monsieur,” groet sy effens styf terug. Op hierdie oomblik onthou sy weer Ramirez da Silva en sy ruwe sjarme. Daar is niks van Da Silva se geheimsinnigheid of vurigheid by Goucher te bespeur nie. Hy is koud en berekenend.
Hy draai na haar pa.
“Ek sal die saak weer met u bespreek na die bal, monsieur. Ek hoop u verstaan dat daar geen besondere haas is nie.”
“Natuurlik nie, monsieur,” sê André spytig. “U kan my dogter op die bal beter leer ken. Dis heeltemal toelaatbaar.”
Goucher glimlag koel vir Nicole. Daar is ’n flikkering in sy ysige blou oë waarvan sy nie veel hou nie, maar sy glimlag tog terug. Dan kyk sy weg asof sy nie verder in sy teenwoordigheid belangstel nie.
Jacques Goucher frons toe hy na André kyk.
“Ek weet dat dit ongehoord is, maar mag ek ’n oomblik alleen met u dogter praat, monsieur?”
André twyfel, maar dan knik hy stadig. Dit is vir hom belangrik om Nicole met hierdie man getroud te sien.
“Oui, monsieur.” Hy beduie vir Jeanne om hom te volg en oomblikke later is Nicole en Jacques alleen.
“U weet seker teen hierdie tyd waaroor hierdie ontmoeting gaan, mademoiselle,” sê hy styf.
“Ek ly nie aan illusies nie, monsieur. Dis ’n slegte gewoonte wat die Franse het om hulle dogters se huwelike te reël.”
Hy lyk ietwat uit die veld geslaan oor haar openhartigheid.
“Dit dra skynbaar nie u goedkeuring weg nie, mademoiselle, maar ek is ook nie daaraan gewoond om geïgnoreer te word nie.”
Sy glimlag half.
“Dit spyt my werklik, monsieur, maar as iemand my nie interesseer nie, kan ek nie belangstelling veins nie.”
Hy beskou haar ondersoekend.
“U is baie uitgesproke, mademoiselle, veral as ’n mens u posisie in aanmerking neem.”
Sy glimlag liefies, en kyk hom reg in die oë.
“Daar is niks met my posisie verkeerd nie, monsieur, maar ek neem aan dat u eerder in iemand soos mademoiselle Murielle sal belangstel. Sy sal u nie teleurstel nie.”
Hierdie keer gaap hy haar letterlik aan.
“U opvoeding laat veel te wense oor, mademoiselle!” sê hy skerp.
Sy lag klokhelder.
“Dis nie my opvoeding nie, monsieur, dis my reis hierheen wat my so effens verander het.”
Hy kug sag agter sy hand.
“Hm, ja, ek het van u heldhaftigheid gehoor en dit pas nie by ’n dame nie.”
Sy kyk hom vierkantig in die oë.
“As u na ’n regte verfynde dame soek, is u by die verkeerde adres. Dis nie my moeder se skuld dat ek so voel nie. Om die waarheid te sê, dit ontstel haar dat ek nie daarvan hou om te sit en leë praatjies te maak met ander meisies nie. O, en ek moet tog asseblief nie die delikate dames se fyn gevoelens ontstel deur van bloed en messe en moorde te praat nie!”
Daar is weer die flikkering in sy blou