Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
Spanjaard lag opgewek.
“U is nie baie hoflik nie, señor. Ek is ’n edelman en die gasvrou was so gaaf om my na die bal te nooi.” Hy bekyk die ander op en af. “Jy doen baie goed vir jouself, Goucher, of maak jy nog van oneerlike metodes gebruik?”
Jeanne snak na haar asem en André sluk hard. As hierdie gesprek nie ’n swaardgeveg gaan afgee nie, dan weet hy nie wat sal nie.
“Jy beledig my, monsieur,” sê Goucher ysig.
Daar is ’n onpeilbare uitdrukking in Da Silva se oë.
“Ek kan nie onthou dat dit jou al ooit gehinder het nie, señor. Of speel jy nou die rol van die edelman met die onwrikbare karakter?”
Goucher verbleek.
“Ons kan by ’n later geleentheid hieroor praat,” sis hy.
Da Silva lag en maak ’n swierige buiging.
“Nes u wil, señor, dit pas my wat u ook al doen.”
Nicole kyk onbegrypend van die een na die ander. Hulle haat mekaar, dink sy ontsteld. Albei van hulle is invloedryk en het die mag om die ander te vernietig. Is dit dalk die rede waarom Goucher nie die kaptein vir ’n tweegeveg uitgedaag het nie?
Goucher is nog ontsteld toe hy Nicole vra vir die volgende dans. Sy stem ietwat teësinnig in en laat toe dat hy haar na die dansvloer lei. ’n Rukkie dans hulle in ’n broeiende stilte voort.
“Ken u die graaf persoonlik, mademoiselle?” wil hy skielik weet.
“So persoonlik as wat ’n mens die persoon ken wat jy twee keer van die dood gered het, monsieur.”
Die koue uitdrukking in sy oë laat haar sidder.
“Dit was baie dom van u. Hy is ’n gewetenlose barbaar.”
Sy byt op haar tande.
“U oordeel te haastig, monsieur.”
Hy kyk geskok na haar.
“Verdedig u hom?”
Sy haal haar skouers liggies op.
“Ek het nie enige rede om die graaf Da Silva ’n barbaar te noem nie, monsieur. Hy het my veilig in die Kaap gebring en daarvoor is ek tog dank aan hom verskuldig.”
“Hoekom het u hom nie laat sterf nie! ’n Man soos hy het geen reg om te lewe nie.”
Sy lig haar wenkbroue.
“Dan sal ek dit waardeer as u in die vervolg niks met hom te doene het nie.”
Nicole verstyf. “U het geen seggenskap oor wie ek mag sien en wie nie, monsieur. Ek hoef u sekerlik nie daaraan te herinner nie.”
“Daaraan sal ek gou genoeg iets kan doen, mademoiselle.”
Nicole antwoord nie. Sy is nie van plan om enigeen toe te laat om aan haar voor te skryf nie. Monsieur Goucher sal ook geen houvas op haar kry as sy dit kan verhelp nie.
Na die dans neem hy haar terug na haar ouers en maak dan by hulle verskoning voordat hy na een van die ander dames toe stap.
Nicole sien Camille eenkant staan met ’n jongman wat sy nie ken nie en sy aanvaar dat dit Paul le Fèbre is. Hy lyk na ’n goeie seun, hoewel nog ’n bietjie jonk. Dan sien sy Da Silva oorkant die vertrek in druk gesprek met Murielle en die jaloesieduiweltjie kom fluister dinge in haar oor. Sy draai vinnig weg sodat sy met haar rug na hulle staan. Sy wil nie sien hoe Murielle die kaptein verower nie. Sy wil nie weet dat hulle mekaar beter leer ken en dat daar miskien iets uit hulle kennismaking sal spruit nie.
“Het monsieur Goucher niks gesê nie?” wil Jeanne angstig weet.
Nicole kyk na haar moeder.
“Hy het net slegte dinge van die kaptein gesê en ek hou nie daarvan nie. Ek ken die kaptein redelik goed, Mamma, en ek sal hom nié as ’n barbaar bestempel nie.”
Haar pa aarsel.
“Ek sal jou aanraai om vriendeliker met monsieur Goucher te wees en nie so gaaf teenoor die graaf van Barcelona nie. Die twee here het ’n ou vete en ek wil jou nie in die middel daarvan sien nie. Jy bly nog my dogter en ek moet jou goeie naam beskerm. Moet my nie op mý ouderdom in ’n swaardgeveg indwing nie.”
“Dit sal nie gebeur nie, Pappa, maar ek is ook nie van plan om monsieur Goucher te laat dink dat ek vir hom sit en wag nie. Ek hou nog steeds nie van hom nie.”
Jeanne skud haar kop.
“Jy moet meer toegeeflik wees, kind. Hy is ’n invloedryke man.”
Nicole kyk na haar moeder.
“Die graaf van Barcelona is my vriend, Mamma, ek kan hom nie in die rug steek nie.”
Haar pa glimlag suur.
“Jy het eienaardige idees omtrent vriende, ma fille. Daardie man sal jou lewe vernietig sonder om ’n oog te knip, of wil jy dit net nie verstaan nie? Hy is gewetenloos.”
“Maar hy is nog ’n edelman,” hou Nicole vol.
“O ja,” erken haar pa, “maar hy gebruik sy mag op die verkeerde plekke.”
Sy sug liggies. Dit sal tog nie help om met hulle te redeneer nie. Hulle sal of mag nooit verstaan hoe sy werklik voel nie.
Nicole dans nog ’n keer of wat met die graaf, maar hy praat nie weer oor die robyne nie. Hy bly die galante heer en sy sjarme laat haar hart weer warm klop. Hy behandel haar soos ’n prinses en Nicole loop op wolke na die tweede dans met hom. Sy sien nie die kommer in haar moeder se oë of die agterdog in dié van haar pa nie. Sy is net bewus van die donker, aantreklike Spanjaard met sy skitterwit glimlag en sy natuurlike sjarme. Sy besef nou finaal dat daar nooit weer ’n ander man in haar lewe kan wees nie. Dit maak nie saak as hy dit nooit weet nie, dit maak net haar eie lewe vol en mooi.
Die volgende oggend net na ontbyt is daar weer ’n besoeker, maar hierdie keer is dit net vir Nicole. Jeanne dring daarop aan om saam te gaan, omdat sy nie daarvan hou dat haar dogter alleen besoekers ontvang nie. Die hospita het gesê dat dit ’n man is en dis ongehoord vir ’n meisie om ’n man alleen te ontmoet. Veral as ’n mens nie weet wie dit is nie.
In die deur van die sitkamertjie steek Jeanne geskok vas toe sy Pedro daar sien staan.
“Hier is geen besoeker vir jou nie, Nicole,” sê sy beslis en draai om om terug te gaan, maar Nicole skuur by haar verby na Pedro.
“Wat is dit, Pedro?” vra sy vriendelik.
Hy kyk onseker van die ontstelde Jeanne na Nicole en dan hou hy ’n pakkie na die meisie uit.
“Hier is dit, señorita. Da Silva kon dit nie self bring nie.”
Sy neem die pakkie glimlaggend by hom.
“Dankie, Pedro, ek sal dit goed bewaar.”
Hy aarsel.
“Señor Da Silva wil hê dat u dit na die volgende bal moet dra, señorita. Hy wil nie hê dat u dit moet wegsteek nie.”
Sy kyk verbaas na hom.
“Maar hoekom dan?”
Hy skud sy kop stadig.
“Ek weet nie, señorita, maar ek doen net wat hy gevra het.”
Sy kyk af na die pakkie in haar hande.
“Weet jy van die vloek wat hierop rus?”
Hy sluk hard.
“Ek weet, señorita, maar ek mag nie teen señor Da Silva se bevele praat nie.”
Sy glimlag skielik.
“Natuurlik, Pedro, en baie dankie dat jy dit gebring het.”
Toe hy weg is, kyk Jeanne na Nicole.
“Ek kan jou nie sê hoe geskok ek is nie,