Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
Nicole word uit die koets gehelp en sy, haar ouers en Camille word na die voordeur gelei. Daar word hulle aan monsieur en madame De Villiers voorgestel.
Nicole hou dadelik van die mollige, opgewekte madame De Villiers. Sy is op ses-en-veertig nog baie mooi en menige ouer man se oog bly ’n bietjie langer op haar rus as wat nodig is.
Die kamer waar die bal gehou word, is nie baie groot nie, maar daar is ook nie baie gaste genooi nie. Net genoeg om dit ’n gesellige aand te maak.
Die Rousseaus gaan half eenkant van die ander staan. Dis nie dat hulle uit hulle plek voel nie, maar hulle verkies om te wag dat daar iemand opdaag wat hulle ken.
Nicole se blik dwaal oor die gaste. Sy sien vir Murielle Benezet in ’n pragtige tabberd van diepblou satyn met silwer borduursel. Sy word omring deur ’n viertal jongmans wat wedywer om haar aandag.
Nicole kyk af na haar eie tabberd en voel skielik amper vaal langs die beeldskone Murielle. Dan skud sy die gedagte van haar af. Sy was in elk geval nie van plan om die aand besonder baie te geniet nie. Sy weet dat sy hier is bloot om aan Jacques Goucher vertoon te word en die gedagte maak haar ongelukkig. Sy wil nie met Goucher trou nie … Sy wil alleen wees met haar verlange na Ramirez, na die wind teen haar wange, die oneindigheid van die oseaan, die nag op die see. Dit is alles dinge wat ’n diep indruk op haar gemaak het en waarmee sy die donker Spanjaard assosieer.
’n Roering onder die mense laat haar opkyk, en dan verstyf sy.
In die deur van die vertrek staan hy, donker en aantreklik soos sy hom leer ken het, maar vanaand is hy soos ’n edelman geklee met haelwit krawat en mansjette, ’n manjifieke figuur in ysblou. Hy vul die vertrek met sy teenwoordigheid, ’n klein siniese glimlaggie plooi om sy mondhoeke.
Jeanne leun oor na Nicole.
“Wie op aarde sou dit wees? Dit moet ’n baie belangrike man wees, want kyk net hoe keurig is hy aangetrek … Kyk goed na hom, chérie, want dit is soos ’n edelman moet lyk. Só trots en selfversekerd.”
Nicole is oor haar ergste skok en draai na haar moeder.
“Ek ken hom, Mamma, dit is Ramirez da Silva, die kaptein van die El Mar.”
6
Da Silva se verskyning veroorsaak konsternasie in die Rousseau-gesin, maar elders word hy vriendelik en met ope arms verwelkom.
Met ’n bonsende hart sien Nicole hom in hulle rigting beweeg. Oral word hy voorgestel deur madame De Villiers. Die dames is duidelik beïndruk en hulle glimlag en fladder hulle wimpers agter keurige waaiers. Die half spottende, sardoniese glimlag bly huiwer om Da Silva se mondhoeke. Sy gesigsuitdrukking verander nie toe hy Nicole bereik nie.
Sy sluk hard en glimlag vaag.
“Ek is seker daarvan dat julle mekaar reeds ken,” sê madame De Villiers vriendelik. “Dit is monsieur die graaf Ramirez da Silva van Barcelona.”
Nicole knipper haar oë.
“Ek het nie geweet jy het ’n titel nie, monsieur,” sê sy. Haar moeder kyk vinnig waarskuwend na haar, maar sy ignoreer dit. “Jy kon my minstens gesê het.”
Sy glimlag verdiep.
“Daar is baie omtrent my wat jy nie weet nie, señorita.”
“Dit glo ek goed, monsieur,” antwoord sy met ligte sarkasme in haar stem.
Sy oë flikker net effens. “Gaan ons swaarde kruis?”
Sy kyk vinnig na hom.
“Hier is ek nie bang vir jou nie.”
Hy lag sag. “Ek het nie geweet dat jy hoegenaamd vir my bang is nie.”
Madame De Villiers glimlag.
“Julle sal my nou moet verskoon. Ek moet teruggaan na my ander gaste.” Daar is ’n nuuskierige uitdrukking in haar oë toe sy weer na Nicole kyk, dan draai sy om en laat hulle alleen.
Camille se oë blink terwyl sy Da Silva nuuskierig aanstaar. Nicole weet wat in haar suster se kop aangaan en sy sidder. Camille is nie opgewasse teen Da Silva nie.
Dansmusiek begin speel en Da Silva lei Nicole na die vloer. Haar ouers staan hulle met gemengde gevoelens en aankyk.
“Monsieur Goucher sal nie kan kers vashou by hierdie man nie,” sê André bekommerd.
Jeanne frons bekommerd.
“Wat gaan ons doen? As Nicole op hom verlief raak, gaan hy haar wegneem na Spanje.”
André skud sy kop.
“’n Man soos Da Silva het al veel van die wêreld gesien om hom deur ’n vrou te laat vang. Ons kan maar gerus slaap, my vrou.”
“Ek hoop jy is reg.”
Op die dansvloer is Nicole en Da Silva in ’n menuet vasgevang. Hy dans met ’n besondere grasie wat haar effens laat glimlag.
“Jy het ’n mooi suster, señorita,” sê hy skielik.
Sy kyk agterdogtig na hom.
“Soek iemand wat teen jou opgewasse is, monsieur,” sê sy skerp.
Hy lag sag.
“Soos jyself?”
Sy verkleur en kyk ongemaklik weg.
“Dis nie wat ek bedoel het nie. My suster is maar sewentien en jy is heeltemal te oud om in haar belang te stel. My ouers sal dit nooit goedkeur nie.”
Daar is ’n flikkering in sy donker oë toe hy na haar kyk.
“U het eienaardige idees omtrent my. Ek het bloot gedink dat sy mooi is en dis al.”
Nicole glimlag verlig.
“Ek is jammer as ek u verkeerd geoordeel het, monsieur. ’n Man sê gewoonlik nie ’n meisie is mooi tensy hy in haar belangstel nie.”
Die dans loop ten einde en hy lei haar van die vloer af.
“Ek het met ’n doel hierheen gekom, señorita,” sê hy en hou haar terug voordat hulle weer by haar ouers aansluit.
“En wat is dit?” vra sy, intens bewus van die ander meisies se nuuskierige en afgunstige blikke op haar.
“Ek wil die robyne by jou laat. Gister was daar weer iemand op die skip wat na die robyne kom soek het. Die juwele is nie veilig terwyl die El Mar nog in die baai lê nie.”
Sy kyk verbaas na hom.
“Maar hoekom sal dit juis by mý veilig wees? Ek is bang vir daardie juwele, of het jy dan van die vloek vergeet?”
Hy skud sy kop, en kyk byna smekend na haar.
“Daar rus geen vloek op hulle nie. Iemand hier aan die Kaap wil hulle hê en ek wil uitvind wie dit is. Dan sal ek vertrek en ek sal jou nooit weer met ’n guns lastig val nie.”
Sy frons liggies.
“Is dit dan só belangrik om uit te vind wie die robyne wil hê?”
“Dis dalk ’n leidraad na die geheim. Baie min mense weet hoegenaamd dat daar ’n geheim agter die robyne is.”
Nicole aarsel. Sy wil nie by hierdie saak betrokke raak nie, maar aan die ander kant sal dit beteken dat sy hom weer sal sien. Haar hart wen die tweestryd.
“Nou goed, ek sal dit doen.”
“Gracias, señorita.”
Sy glimlag.
“Jy moet my nie so gou bedank nie, monsieur.”
Hy neem haar terug na haar ouers. Voordat hy hulle egter kan verlaat, sluit Jacques Goucher by hulle aan. Da Silva draai om toe die man agter hom praat en skielik is dit asof ’n harde, koue masker oor sy gesig val. Sy oë is soos graniet toe hy die ander man sien.
“Señor