Frats. Chris Karsten
frats
Chris Karsten
Human & Rousseau
Vir my mames,
’n ster van die goeie !nau
voorspel
In die vroeë oggend wag hulle, tussen die tierhout en spekbome, onder op die sandoewer van die rivier. Skimme in wasige misnewels wat om stamme en in takke hang. In die mis wat hulle uitsig boontoe versper, kan hulle nie hul prooi sien nie en die prooi kan húlle nie sien nie.
Hulle wag.
Agter hulle is die poort waardeur hulle gekom het.
Die leer van die saals kreun en die pote van die perde trap-trap in die nat sand en op wildemalvas en lelies. In die soetdorings, hoër op, op die plato teen die hang van die kloof, roep twee loeries mekaar en koekoeke krys uit die misvliese.
Die strale van die opkomende son begin die mis nou dun uiteenbrand sodat hoog bo ’n lappie blou lug verskyn. ’n Witkruisarend sweef stil tussen die spitse van die vallei se kranse. Teen ’n hang lig bergkwaggas hul koppe. Die brandwagbobbejaan se oë is agterdogtig op die wasigheid tussen die takke langs die rivier. Tussen die slierte van die mis, ver onder, bespeur hy die perde. Hul bekke pluk-pluk aan die stange en die hoewe kap in die sand.
In die stil vallei wag die ruiters vir die son om hoër en skerper deur die poort te kom, om die laaste mis te verdryf. Die leier krap in sy stowwerige baard. Sy oë tuur onder die hoed se rand uit deur die laaste dynsige takke. Hy lig sy arm en wys teen die hang op. Op die plato merk hulle die lui rokie van ’n vuur wat opkrul in die lug. Die rokie is die teiken waarna hulle soek.
Dan, deur die poort hoog agter hulle, is die son ineens skerp oranjegeel, die mis weg, die wag verby. Die strale val in skerpblink spatsels deur die takke op die water van die Gamkamma.
Die leier se roer is blinkgevat. Hy haak sy duim agter die leerband in om die roer van sy skouer af oor sy hoed te lig. Die perde se koppe ruk aan die stange en hul ore draai agter die geluide aan van roers wat gereed gemaak word. Die leier skud kruit uit die krom beeshoring in die loop; uit die leersak aan sy heup vat hy behendig die ronde loodkoeël raak. Hy stamp die kruit en koeël in die lang loop vas.
Die perde proes en hul pote trap modderwater uit die sand. Hul neuse ken die reuk van buskruit, hul ore die klap van snaphane en hulle voel die geskuifel in die saals van groot liggame wat regskuif.
In die soetdorings op die plato swyg die loeries ineens en tussen die sikadeë, eeue oud, lig die bergkwaggas weer hul koppe. Maar die kwaggas is nie vandag die prooi nie. Die prooi is by die rokie, op die gelykte teen die hang, net bokant die bome se kruine, waar twee vroue vooroor buk en in potte roer.
Die bokvleis in die potte is oorskiet van die vorige aand se ete. Die stemme van die twee vroue sweef sag op die stil lug. Hulle gesels oor hul kinders en oor hul mans wat weg is op die jag en hulle wonder wanneer die jagters gaan terugkom. As hulle met die buit kom, sal dit nie nodig wees om die melkbokke te slag nie, die aba-gomas, hul rykdom. Die ou bok se vleis sal nog twee dae hou, as hulle ingord, en nie baie eet nie. Daar is ghaap en bessies en tsamma en bokmelk, en daar is water.
Onder by die rivier tussen die bome wys die leier weer na die rokie op die plato. Sy verspieders was reg. Hulle het die prooi gekry. Hy tel vyftien beeste en tien skape in die kraal van doringtakke. Die straf vir die diefstal van hul vee sal geregverdig wees. Hy tuur na die vroue by die vuur en na die windskerms van riet. Hy sien nog vroue en kinders wat uit hutte skuifel, met die slaap nog in hul gesigte en lywe. Hy is verras en spyt om net vroue en oumense te sien, en die kinders.
Die ruiters se aandag is intens op die kraal en die gemoedelike gedrentel om die vuur. Niemand merk die kind nie. Die kind kom teen die hang af, tussen boslelies en pienk proteas en lang gras deur, ’n kalbas op haar kop. Eers toe sy in die nat sand hurk en die kalbas in die water plons, steier die leier se perd. Hy sien die kind. Sy staar hom en die ruiters met die roers grootoog aan. Toe haar mond oopgaan om te skree, kap die leier in die lieste van sy perd. Die perd spring vorentoe, die leier leun langs die saal af en raap die kind van die grond af op, tot voor hom op die saal.
Die vroue by die vuur hoor die gil. Hulle kyk om, af na die bome by die rivier. Die loeries vlieg uit die bome op, die bergkwaggas spring tussen die klippe dieper die kloof in en die bobbejaan, met sy geel slagtande ontbloot, skree om die trop te waarsku. Hoog bo duik die swewende witkruisarend agter die hoë spitse in en verdwyn.
Die leier, met die kind voor hom op die saal, lei sy ruiters tussen die bome deur, die stewels se hakke in die lieste van die perde. Die perde se kragtige lywe ruk vorentoe, soek die maklikste pad teen die hang op. Die hoewe kap oor klippe, heide, malvas en lelies, op na die kraal en die vuur toe. Die perde se oë is wit, die neusvleuels gesper. Die ruiters ry die perde op die stang en skuimbek teen die hang uit na hulle prooi toe.
Die leier vuur die eerste skoot. Die kind skrik, haar ore slaan toe en sy ruik die kruit wat ontplof. Sy klou aan die saal en die perd se maanhare. Die kruitrook brand in haar neus en oë. Deur die waas van haar trane steier ’n vrou agteroor in die warm kole van die vuur. Die mense vlug uit die hutte, maar die doringtakke wat hulle moet beskerm, keer hulle in die kraal vas.
Die ruiters gooi nog kruit in die lope, stamp die loodkoeëls vas, haal die hane oor en trek die snellers, weer en weer.
Die voëls is weg. Diep in die bosse en kranse skuil die wilde diere. Die dood het na hul vallei toe gekom.
khoena
Sy voel die geeste in haar. Dis altyd ’n slegte teken.
Die pot is aangebrand en misvorm van langdurige rinnewasie op die warm plate van die swart houtstoof. Sy strooi die growwe, geel meel in die stoom en roer die meel en water. Maar haar gedagtes is nie by die houtlepel en die pap nie. Ook nie by die sout wat sy tussen duim en wysvinger byknip nie. Die geeste, wat so lank weg was, is ineens in haar kop.
Khoena klop die lepel teen die rand van die pot en sit die deksel op. Wanneer sy buk vir nog ’n stomp in die vuur sien sy deur die klein kombuisvenstertjie vir Goens aangestap kom. Hy het die hout, wat hy vir die stoof gesplits het, in sy arms.
Voel hy ook die geeste? wonder sy. Vanaand moet hulle praat. Dis tyd vir onthou, dink sy, van hul ander wêreld; dis Gamkamma-tyd.
Swygsaam stapel hy die hout in die hoek langs die stoof.
“Goens.” Haar stem is ’n fluistering vol ontsag. “Die hei noen is by my.”
Hy kom orent, onthuts. “Daar’s g’n hei noen nie. Dis verby, Khoena.”
“Ons moet praat, Goens. Dis al wat help,” pleit sy.
In die deur huiwer hy ’n oomblik, sy oë op haar. “Dis die wind wat jou pla, nie die geeste nie.”
“Die wind bring hulle. Die wind is die teken,” sê sy toe hy uitloop. “Ek hoor hul stemme op die wind.”
“Ons sal praat,” roep hy oor sy skouer. “Maar maak eers reg. Tiebout is op pad. Die gei gab is honger.”
Sy kyk weer na die wind agter die venster, na die wasige deining van die sandstof oor die duineveld. Sy lê die lepel op die pot se deksel neer en vryf haar handpalms aan haar voorskoot af.
Miskien bring die stilte én die wind die geeste. Miskien wyk hulle met Tiebout se koms. Tiebout kom uit die Kaap uit soos ’n lustige leeu, ’n gei gab met paringsreuk in die neus, sonder keer. En hy vat haar. Hy kry nie genoeg by die Kaapse vroue nie. Wanneer Tiebout haar vat, is daar nie stiltes nie. Sy is onmagtig teen sy besete drifte. Hy vat haar wanneer Bartol weg is. Met Bartol op die werf, is Tiebout stug, ongeërg. Maar Bartol weet. Van sy hanskinders weet Bartol álles, van hul herkoms en hul aankoms hier op Loutersvalleij, klein, vaalverwese van die stof van weke se trek op ver paaie.
Sy hang die voorskoot aan die spyker teen die muur. Die huis is skoon, die vensters oop om Bartol en Tiebout se slaapkamers lug te gee. Wanneer Bartol van die jag af gaan terugkom, dié weet sy nie, maar haar oë is op die verwaaide duine. Terwyl sy wag vir Tiebout se verskyning, pluk sy gespanne aan die rok wat styf span