Frats. Chris Karsten
Mans staan met hul gesigte en kaal bolywe oor die stoom van die groot vate. Die stomende vate laat hom dink aan potte in die hel waarin sondaars gekook word. Hy steek by een vas. Die man staan op ’n lae platform, albei hande om ’n reusehoutspaan geklem. Sy vel is nat van die sweet en die stoom. Die spiere van sy sterk skouers en arms rimpel en rol en bult van die inspanning om die vat te roer. Die man kyk deur die stoom af na die oë op hom. Simon sien die wange, voorarms en bors verseng van volgehoue blootstelling aan die hittedamp uit die kleurvate. In die kreukels van sy verskroeide vel is ’n reënboog van kleure geëts, soos die vreemde simbole van ’n heidense stam.
“Mister Beeby?” vra Simon.
Die man wat die swaar, nat materiaalbondel in die kleurvat omroer, rol net sy oë met ’n sywaartse knik van die kop na ’n deur toe. Simon stap verby bedompige bale tekstiel. Bokant die bale, aan die vuil plafon, hang pommades van kamfer en soute om motte weg te keer. Beeby wys hy moet sit.
“Jy stel belang in die tekstielbedryf,” sê Beeby. Hy het traag ingestem tot die onderhoud.
“Ja. Is dit slawe wat daar werk?”
“Wil jy oor slawe skryf?”
“Net gewonder.”
Beeby kom orent. “Het nie baie tyd nie. Wat wil jy weet?”
Stowwerige pulpwalms van cochenille en insekte uit ver plekke is diep ingebed in Beeby se klere.
Stom oë volg die twee mans op hul roete deur die fabriek en pakhuis. Oë van vroue met hul hande in die water van wasbalies om die weefsel skoon te spoel van stof; die swaar duffel en tweed, die katoen en gaas, kant en tulle, damas, kaliko, sy, satyn, molvel en sabel. Oë van vroue met jong gesigte, hul hande skurf en verskrompel van ure, dae, maande in water. Oë van mans met bolywe en gesigte in die stoom van die vate waarin die materiale gekleur word, hul velle ’n kranksinnige kleurepalet. Oë, die kleur van smarag, van die vrou met die bos rooi hare. Wanneer sy die hare met die agterkant van haar hand uit haar gesig vee, is daar ’n wit letsel op haar voorkop.
“Dolly,” sê Horace Beeby terwyl hy na haar kant toe kyk, “kan jou meer vertel van ons kleurpigmente. Die kleure is die belangrikste.” Sy hand wuif oor die vet flesse waaruit sy die kleursel vir die stoomvate skep, dit weeg en meng om te voldoen aan die deftiges se aptyt vir flambojante tooisel.
Simon bestudeer haar. “Ek het jou al gesien.”
“Jy verbeel jou,” is die vinnige antwoord. “Jy wil weet van die kleure?” Haar oë is op Beeby se rug.
Sy vertel en Simon krabbel en maak rowwe sketse van die dowwe oë, die gesigte sonder emosie. “Jy lyk tog bekend.”
“Die helder geel is van die stampers van Toskaanse krokusse uit die velde rondom Florence.”
“Hulle is slawe hier, nè?” sê hy.
“Die ryker, dieper geel word genoem giallorino, uit die lawa van Vesuvius, naby Napels,” sê Dolly, die kleurselvrou.
“Slawe is onwettig, daar’s ’n wet.”
“Hierdie pers is oricello, en dáár is oker en vermiljoen.”
“Hoe lank werk jy al hier?”
Haar oë loer onderlangs en vlugtig van die pigmentflesse af in die rigting van Horace Beeby se kantoor. “Die rooi saffloer kom uit Egipte en die rottekruid van die Rooi See. Jy sal my in die moeilikheid bring.”
“Dis nie my bedoeling nie. Maar iets moet gedoen word.”
“In dié fles is gemaalde galneute uit die Balkan. Hulle het geen ander inkomste of werk nie.”
“Hulle word misbruik en mishandel.”
Ineens is Beeby by hulle, agter tussen die bale uit. “Het jy al jou inligting? Hier’s nie tyd vir klets nie. Sy’t werk om te doen.”
“En om die kleurpigmente in die weefsel te fikseer, is daar die rotsaluin van die Swart See af,” sê die jong vrou.
“Waar slaap hulle? Hoeveel word hulle betaal?” vra Simon oor sy skouer, agter Beeby aan.
Simon Pickering se eerste opdrag, as jong skribent by die Penny Chronicle, was om verslag te doen oor die vieringe ná die triomf van Trafalgar, en om saam op die dokke te wag vir die terugkeer van Lord Horatio Nelson van die Spaanse kus af. Sy grootste kwelling tóé, met daardie storie en die vasmeer van die HMS Victory, was nie die omvang van die ironiese tragedie nie. Jonger, sorgeloos, het dit hom meer gepla dat die liggaam van die Engelse admiraal, vir die lang Atlantiese terugvaart, in ’n kuip vol brandewyn gemarineer was. Hoekom nie rum nie?
Die verklaring, het hy later gelate aanvaar, is waarskynlik eenvoudig: brandewyn se bewese medisinale kwaliteite, vir die behandeling van siekes en die preservering van dooies. Rum is vir verposing, in groot volumes, saans met sy kop tussen die Little Swan se mildelike boesems. Die nagevolge, die volgende oggend, is ’n geringe prys om te betaal: die mengsel van talmende aromas in sy neus, van Fanny Spankie se verslane parfuum en renserige lendene, van soet rumsweet, en van die pyn in sy skedel, asof hy getref is deur ’n musketkoeël uit die kruismas van die Redoutable.
Maar in die Little Swan trotseer hy hierdie nagevolge, want hy luister na die geklets en geskinder. Hy hoor van groot ellendes in die stink strate van die East End. Hy hoor van armes wie se kinders honger gaan slaap omdat hulle afkoopgeld moet gee aan die tronkhoof van Bridewell. Hy hoor van die tronkhoof se voorliefde vir vet slette; hoe hulle betaal word met dreigemente van eensame opsluiting in klam, koue selle. Hy hoor van fratse wat misbruik en aangehou word soos diere, en van slawe wat uitgebuit word. Maar hy soek nie ’n etiket as kampvegter vir enige saak nie. Dis te veel van ’n las vir ’n lewe sonder komplikasies.
Dit wat sy oor vang in bronstige praatjies, bly egter broei.
khoena
Haar hande, vingers gestrengel, rus op die lae staldeur. Die reuke van die stal is ’n gerusstelling. Sy lig haar ken en snuif na die hawer in trôe, na die velle wat ingesout aan balke hang vir winddroog, na die stofmuf van opgestapelde pluime van volstruise, na die sweet van perde wat skoon en glad geroskam is. Skerp in haar neus, veral, is die leervet waarmee Goens die tooms en saals soepel insmeer. Dit is die reuke van háár wêreld, saam met die lui, sekere hale van Goens se hande, blink van die vetsmeersel.
“Kan ons krale maak?” vra sy oor die stal se deur.
“Jy het al ’n spul,” sê hy sonder om op te kyk.
“Is die riempies reg? Is dit gelooi?”
“Die riempies is reg.”
“Maar is hulle dun?” vra sy hardnekkig. “Ek soek nie dik riempies nie. Inrygriempies moet dun wees, die krale is fyn.”
“Hulle is dun,” sê Goens. “Is jou werk klaar in die huis, dat jy kan ginnegaap waar ’n man werk?”
Uit die sak van haar voorskoot hou sy die krale in ’n oop palm na Goens toe uit. “Is hulle nie mooi nie?” Die voorvinger van haar ander hand roer tussen die krale. Hulle is van skulpies, groen en blou en dieprooi, en van die doppe van volstruiseier en skilpad. Saans, om die vuur voor hul wit kalkhuisie, skuur en slyp sy die skulpies en doppe in delikate vorms en teksture, en met els en vyl boor Goens die gaatjies vir die dun inrygriempies. Dit is fyn, tydsame werk vir hul vingers, maar dit help om hul koppe oop te maak vir die onthoutyd. En wanneer die nag ook oopmaak vir die sterre bokant hulle, por sy Goens vir stories oor die Gomarib geib, oor hul mense van die Gamkamma.
Onder die sterre, onder die gamiroti met Goens se stem om die kole, leef hulle in hul ánder, verlore wêreld, van sang en dans en lag. Vóór daardie verskriklike dag toe Gaoenob die dood na hul vallei toe gebring het. En dit is voor Tiebout, en Goens wat moet wyk uit hul wit slawehuisie wanneer die drang Tiebout pak om sy luste in haar katel te kom uitstort. Maar omdat Tiebout so skaars in hul gesprekke is, kyk Goens verbaas op toe sy sê: “Hy is nie ’n leeu nie, net ’n hiëna.”
“Is