Frats. Chris Karsten
en die mag van ’n seur om my lyf te vat en my vrou te kneus. Hy dink hy is ’n leeu, maar hy is swak. Ek lag vir hom, die hiëna, en jaag hom weg. Hirase, kxoin xoen gye, gobese!”
“Astrantheid sal hom kwaad maak,” waarsku Goens.
“Hy kan my nooit besit nie.”
“En die hei noen, is hulle nou weg?”
“Nee,” sê sy, “die wind bring hulle. Die wind bring die slegte geeste.”
“Die slegte geeste het ver agtergebly. Hulle dwaal in die Gamkamma. Die hei noen kan nie hier kom nie; hier op Loutersvalleij is jy veilig. Laat ek die krale sien, of die riempies dun genoeg is.”
“Kan ons teruggaan?” vra sy ineens, haar oë op die fyn krale tussen Goens se vingers, glimmend van die leervet.
“Wat praat jy, Khoena? Dis verby. Daar is vir ons niks oor nie.”
“Dis ons plek. Dis ons mense.”
“Die vallei is van die dood. Hulle is weg.”
“Ons tatab is nog daar. Ons pa sal nie weggaan nie. Hy wag vir ons.”
“Jou kop dwaal,” sê Goens. “Kom, help my om die koeie in te bring. Dis melktyd.”
Hy stoot die staldeur oop en hulle stap na die lusernkamp om die paar koeie uit te keer vir die melkstal.
“Ek wil die grafte sien,” sê sy, haar hande vlytig met die spanrieme. “En ek wil sien waar ons gespeel het, en gesing en gedans het toe ons klein was.” Hy kry sy sit op die melkstomp, vat die emmer by haar en druk dit tussen sy knieë onder die koei se vol uier vas. Sy hou die blikkie en sy vingers smeer die salf aan die vet spene. “Tsoei Goatse, abo itse, en xoena oeire, eda sida oeire,” neurie sy hul onthoulied aan hul grootvader, vra sy beskerming, terwyl die wit melk skuimend in die emmer begin spuit.
“Ons tatab is lankal weg. Dit is hul gewoonte om te trek,” sê Goens. “Daar is niemand oor nie.”
Sy hurk by hom, by die agterpote van die koei wat hy melk. “Dit was óns werk om die biri te melk, en die aba-gomas. Dit kan ek onthou. Melk is die werk van die vroue en jag is vir die mans.”
Hy grinnik, met die spene tussen sy vingers en sy kop skuins aangedruk teen die koei se buik. “Kan jý ’n koei melk, of miskien ’n bok?”
“Ek was te klein,” skerm sy. “Ek het net vasgehou, nog nie gemelk nie. Ek was net ’n kind. Die aba tarás het gemelk.”
“Jy het ’n vrou geword, voor ons weg is. Jy het oaxais geword, jy was ’n vroukind toe die dood in die vallei gekom het.”
Sy knik op haar hurke langs hom. Die uier is drooggemelk. Sy vat die emmer en keer die melk uit in die groot kan terwyl Goens die spanriem loswoel vir die volgende koei. “Ons mames en die aba tarás het die kindstof van my afgewas … met die eerste maandbloed.”
Goens skuif swygend onder die uier in. “Ons is nou in ’n ander wêreld. Hier melk die mans.”
“Seur Bartol sorg goed vir ons, dis net Tiebout …”
“Ons leef goed,” beaam Goens. “Ons kan nie meer swerf nie, ons is nie meer Gomarib geib nie. Ons het nie meer die gewoontes van jag en trek in die wildernis nie.”
“Maar kan ons teruggaan, ’n slag?” vra sy weer. “Om te sien waar ons wás, voor hierdie nuwe wêreld?”
“Eendag,” sê Goens. “Miskien eendag.”
“Jy is al wat ek het, my gab geib, my broer,” sê sy ineens sag. Haar vingers is vlugtig op sy skouer voor sy omdraai en wegstap om te gaan sorg vir die kos wat in die potte op die swart houtstoof prut. Die son sit laag. Die oranje skynsel van die soresta ga kxab is die teken dat die werkdag einde toe staan. Dan soek Tiebout waswater en koffie op die groot stoep. Die blikbord moet hoop van die kos, want hy is groot en honger, soos ’n gei gab, al is hy g’n leeu nie, net ’n swak hiëna.
bartol
Hy skiet die kameelperd in die Piekenierskloof. Dit duur die hele middag tot diep in die aand om die vel af te slag. Eers laatnag, om die vuur in die koue, langs die wa met die sterre en Suiderkruis in die hemel, is die vel klaar ingesout, die vleis opgesny en in die balies met pekel gesit. Bedags is die son warm en hy wil nie ’n kans waag met die vars vel en vars vleis nie. Die kameelperd is die laaste op die jagtog en die jagter is tevrede. Bartol sê vir sy slawe môre draai hulle om, môre vat hulle die pad terug Kaap toe.
Vroegoggend, met die eerste lig van die son op die winterveld, pak hulle die velle op die wa, dié wat eerste afgeslag is heel onder. Die vel van die kameelperd lê heel bo, ingevryf met growwe sout in die bloederige weefsel waar dit van die vleis af losgesny is. Die ander velle is van twee springbokke, drie rooibokke, twee leeus en twee sebras. Die vleis, behalwe dié van die leeus, is opgesny en in die balies gepekel. Dit was ’n suksesvolle jagekspedisie.
Bartol sal goeie pryse kry vir die vleis en die velle, veral vir die skaars vel van die kameelperd, wanneer die volgende skip uit Oos-Indië die Kaap aandoen om voorraad in te skeep vir die vaart na Engeland. Hy los sy slawe, Tammerlaan, Lijs en Wolla, met die wa en vrag en ry vooruit om die reëlings te gaan tref en die pryse vas te stel vir die vleis en velle wat saam met vars water, graan en groente vir die skip bestem is.
Laatmiddag, skuins teen die sterk suidooster en met die stof en sweet van die lang rit in sy hare en gesig en klere, klim hy voor die opstal van sy perd af. Hy strek sy arms bokant sy kop en buig sy rug om die stramheid uit sy lyf te kry. Die jong stalkneg vat die perd se leisels. Bartol haal sy bondel en sy geweer van die perd af en koes skuins teen die wind op na die stoep toe. In die kombuis gooi hy sy bondel op die tafel, sy hoed op die bondel en stut die geweer teen ’n stoel. Langs die swart houtstoof skep hy met ’n blikbeker uit ’n groot emmer water in ’n skottel en spoel die stof en sweet van sy gesig en hare en hande en dik voorarms af. Die palm van sy hand voel oor die stoof. Die plate is koud. Daar is nie kookwater vir koffie nie en sy keel is droog van die stof. Hy wonder waar sy is. Dis nie haar gewoonte om half te werk nie. Dis die tyd van die middag wanneer die stoof warm is en sy die potte vir die aandete regmaak, die aartappels skil en die boontjies en pampoen opsny. Die vleis is gewoonlik al halfpad gekook. Die pot met koffie prut altyd eenkant op ’n warm plaat.
Maar vanmiddag is die stoof koud. Hy frons. Hy stap uit oor die stoep en lê skuins teen die wind na die stalle toe waar Goens sy perd klaar koudgelei het. In die stal, beskerm teen die wind, borsel die stalkneg die wit salpeter van die perd se vel af, gooi vars hooi in die trog en sorg dat die perd water het.
Hy vra vir Goens: “Wat gaan aan? Hoekom is die huis so stil?”
Goens kyk nie op terwyl hy die perd roskam nie. Hy beduie net met sy kop deur die oop ingang van die stal in die rigting van die ry wit slawehuisies teen die duine.
“En my broer?”
Die staljong knik net, en eers toe Bartol se gestalte by die ingang van die stal uit is, kyk Goens op. Sy oë volg die figuur wat teen die wind beur in die rigting van die bokspondokkies. Goens se hande werk ywerig met die roskam oor die perd se hare.
Die fyn sandkorrels van die duineveld steek teen die vel van Bartol se kaal arms en gesig. Hy leun vooroor en probeer met een arm sy skrefiesoë teen die sandwind beskerm. Die wit sand trek soos ’n lae mis oor die duine. Die suidooster ruk en pluk aan sy klere. Hy stap sonder aarseling na een van die pondokke toe. Agter die muur wat hom beskut, is die wind opeens weg, net die gefluit en gesuis nog in sy ore en die sand wat klou aan sy gesig en klere. Sy groot hande klap teen sy broek en hemp, vryf oor sy gesig en hy stamp sy voete.
“Verpeste wind,” brom hy. Hy wens dit was nie nodig om weer in die huisie, op hierdie godverdomde Kaapse vlakte, in te gaan nie. Hy druk die plankdeur oop. Die enkele vertrek is donker ná die verblindende sand in die laatmiddagson. Ligstrepe val van buite af deur die gate in die sak en die lap voor die vensters en deur die halfoop deur agter hom.
Hy hoor vinnige asems en ruik sweet en bedompige lywe. ’n Figuur beweeg. Die buitelyne