Frats. Chris Karsten
die frons tussen die dokter se wenkbroue en sê: “Twintig riksdaalder en twee bondels volstruispluime. Die beste prys in die Kaap.”
“Agtien en vier bondels.”
Bartol sug. “Goed.”
Weer ’n vlugtige flits van goud. “Ek sal jou aanbeveel by die kaptein, vir die ander velle en die vleis.”
“En die groente en vere. Is jy van Londen af?”
“Ja, wanneer ek nie op see is nie. Ken jy Londen?”
“Ja, maar dis lank terug. Ek was jonk toe ons hierheen gekom het. Twee jaar in Londen. Koffie? Dis nie meer warm nie, en sterk.”
“Dankie, nee.” Sy voorvinger beduie tussen die waens deur, tussen die perde en die osse en die malende mense, na die uithangbord aan die oorkant van Reygerstraat, aan ’n balk op die stoep van die Taverne Kijkuyt. “’n Porter sal smaakliker wees.”
“Kom saam,” sê Bartol. “Daar is helaas geen porter nie, maar ale is daar genoeg.”
“Waar in Londen?”
“Billingsgate. My pa het vis afgelaai op Billingsgate se vismark.”
“Maar jy is nie Engels nie?”
“Lang storie.”
“En jy lyk nie alte gelukkig nie?”
Bartol sluk aan die lou bier. Die punt van sy tong lek die bitter skuim van sy lippe af. “Eendag sal ek teruggaan.”
“Geen familie nie?”
Net Tiebout, en hý kan net sowel geen familie wees nie. Op die vlakte is daar nie vroue nie, net Khoena-hulle, en hy kom te min in die Kaap waar die vroue is. De Mist-hulle, voor die Engelse die goewerment in die Kaap by die Hollanders oorgeneem het, het meisies uit die weeshuise van Holland af na die Kaap toe gebring omdat hier so min vroue was. Maar Bartol het nie, soos Tiebout, erg aan die vroue nie. Hy boer en hy jag en die vroue pla hom nie. Nee, hy het geen familie nie. “Net ek en my broer op die plaas en hy sal nooit padgee nie.”
“Van Holland af?”
“My ma is dood, nog voor ons uit Rotterdam weg is. My pa is hier oorlye aan die koors. Wanneer vertrek die Guinevere terug Engeland toe?”
“Oor sewe dae. Het jy nie wilde diere wat getem is op die plaas nie?”
“Net ’n paar volstruise, vir vere en eiers, en wanneer hulle oud is, vir die vel en vleis.”
Die dokter se vingers vryf oor sy snor. “Kan ek hulle sien, die volstruise? Is hulle baie wild?”
“Toe ons laas gepluk het, het een byna ’n slaaf doodgeskop.”
“Ek ken iemand in Londen wat belangstel.”
“In volstruise?”
“In getemde wilde diere.”
“Môre, wanneer die wa leeg is, kan jy saamry plaas toe. Dis nie ver nie.”
khoena
Op die stil werf gooi die oggendson ’n sipres se lang skaduwee oor die enkele grafsteen. ’n Stukkie grond om die kalksteen, lank terug ingeplant, word skoongehou van die indringers, kakiebos, oliebolle en graspolle. Die naam, krom uitgebeitel, kan hy net oor die glase van sy bril lees toe hy hurk en vooroor leun: Rijckloff Boelens 1799. Hy staan op. Hy sien die stalle en perde, gekniehalter en met hul koppe laag in die wintergras, die groot gestalte van Bartol, gebukkend by die leivoor, twee werkers wat die leë balies van die wa aflaai. Dit was al donker toe hulle gisteraand tuisgekom het. Hulle het net die perde afgesaal en die osse uitgespan. Die broer, Tiebout, het hy nog nie ontmoet nie en hy sien hom ook nie nou nie. Uit die skoorsteen van die opstal krul ’n lui rokie. Hy het wakker geword onder die warm karos op die dagbed in die kombuis toe Bartol die vuur in die swart stoof begin stook het vir die warm, soet koffie in ’n blikbeker.
Verder, teen die duine by die wit pondokkies, vang sy oog die figuur wat aangestap kom na die opstal toe. Sy het ’n los rok aan en ’n helder doek om haar kop. Sy oë volg haar tot sy by die stoep kom en in die donker huis verdwyn. Hy bly kyk na die deur. Sy kom uit met ’n grasbesem, vee die stoep en skud die kussings van die drie stoepstoele uit. Hy staar na haar. Só ’n figuur het hy nog nooit gesien nie, op al sy reise na ver plekke oor al die seë nie.
Dokter Peniston Woodcock geniet die oggendlug en slenter om die stalle. Hy sien die volstruise en besef ’n volstruis met geplukte stertvere, vulgêr gestroop van sy waardigheid, sal nie ’n groot attraksie wees nie. Klante sal nie drie pennies se kykgeld vir ’n volstruis betaal nie. Die groot eiers, dink hy, sal ’n groter attraksie wees as die volstruis. Hy stap na Bartol toe by die leivoor. Uit die opstal kom die reuk van spek wat braai. Hy is honger en sien uit na die brekfis wat die vrou voorberei.
Hy en Bartol spoel hul hande af in die vars, helder water van die leivoor. Dis ’n mooi oggend met geen reën en wind nie. Hulle gaan sit op die skoon stoep en wag. Die vet spek sis neffens die growwe brood met diepgeel botter in die blikborde waarvan die emalje van groen en wit stuk-stuk aferd.
Hy vat die bord en kyk op na haar, vir die eerste keer van naby. Die gesig is fyn en jonk en vol. Die vel van haar gesig en arms en van die hande wat die borde uithou, is die gladde vel van ’n jong meisie, gloeiend, die kleur van ligte heuning. Sy draai om, terug in die huis in. Sy oë verstar op haar figuur, op haar boude wat wieg onder die rok terwyl sy wegstap. So massief, so rojaal, kon hy hom dáárdie deel van die vroulike anatomie nooit voorstel nie.
Hy begin eet, maar toe sy uitkom met die blikbekers vol stomende koffie, kan hy nie wegkyk nie. Hy voel die klopping teen sy nek en teen sy slape. Hy besef dat hy iets besonders aanskou. Hy kyk na Bartol, maar Bartol kyk nie op nie. Die vet van die spek blink om sy mond. Hy sluk die kos met die koffie af en vee die laaste brood deur die vetterigheid in die bord. Die jong vrou wat die huis skoonmaak, die wasgoed was en die kos maak, is vir Bartol nie iets snaaks nie. Sy is maar net een van die werkers op die werf.
Maar Woodcock staar haar steeds agterna. Hy kan nie ophou kyk na haar skommelende boude nie. Hulle is volmaak gevorm, sensueel rond, ferm, maar enorm, heeltemal buite verhouding tot haar kort liggaam. Die res van haar liggaam – die skraal nek, skouers, arms, borste los onder dun materiaal, die kuite en skraal enkels en die klein voete – pas by die kort postuur.
By die deur kyk sy om. Hy laat sak sy gesig na sy bord toe.
“Is sy vir jou snaaks?” vra Bartol oplaas en slurp aan die koffie.
Woodcock knik. “Ja, sy is … anders.”
“Tiebout glo sy behoort aan hom, glo sy is sy eiendom. Hy hou van die slaafse Kaapse vroue.”
“Kan ek met haar gesels?”
“Haar Engels is min, maar sy verstaan dit. Ons praat Hollands, meestal. Ons het haar geleer, van kleins af, vir haar en Goens, die stalkneg.”
“Wat is dan haar eie taal?”
“Sy is hautitou, uit die Gamkamma. My pa het dit so opgeteken, in sy opgaaf van haar en Goens se koop by die slawesmous. Die papiere bewaar ek. Eendag, as sy wil loop, kan sy haar opgaaf kry, om te sê wie sy is en waar sy vandaan kom. Sy is mos ook mens, nes ek en jy.”
Woodcock knik. Mens, maar raar, met sulke boude, en nié soos ons nie. Hy wag dat Bartol terugkom met haar papiere. “Ongelooflik,” mymer hy.
“Ongelooflik?” vra Bartol. Hy gaan sit langs Woodcock op die stoep en vou die dokumente oop. “Hier is dit.”
“Sý is ongelooflik,” sê Woodcock.
Bartol blaai deur die papiere. “Gari-Karib, dis haar regte naam, van die stam Gomarib geib.”
“Waar het jou pa die inligting gekry?”
“Die Hottentotte van die slawesmous het kennis gehad. Hulle het haar Khoena genoem. Dis soos ons haar ken. Khoena. Goens het ook gehelp, haar ouer broer. Hy kon meer onthou. My pa was stip met hulle inboek, vir wettige verblyfreg