Frats. Chris Karsten
“Ek wil jou saamvat, na ’n nuwe wêreld en ’n nuwe lewe toe, sonder al die swarigheid.”
“Maar al ons mense is hier.”
“Ek weet, en jy sal terugkom. Dis nie vir altyd nie. Jy verdien ook ’n beter lewe. Dokter Woodcock kom van Londen af en hy ken baie mense daar. Hy sal ons help. Hy sal sorg dat ons beter kan lewe.”
In die Kaap het sy al gehoor van Londen. Dis ’n towernaam. Dis waar al die skepe vandaan kom en waarheen al die skepe teruggaan wat hier vasmeer. In die Kaap, wanneer sy saam met Goens mark toe gaan, praat die ander vroue met ’n blink kyk in hul oë van hoe hulle ook eendag op ’n skip gaan klim Londen toe, om weg te kom. En hulle praat van konings en koetse en mooi klere. Hulle sê Londen is die hart van die wêreld, ver oor die see. Maar sy is nie seker wat konings is nie en sy ken net ’n perdekar en ’n ossewa, en het nie erg aan verspotte klere nie. “Ek sal nie daar aard nie, seur Bartol. My plek is hier. En eendag, wanneer ek wil weg, sal ek Gamkamma toe gaan, na my mense toe. Ek en Goens het gepraat daaroor om hulle te gaan soek.”
“Khoena,” en Bartol leun na haar toe oor, “die Guinevere lê in die baai en oor vyf dae vaar sy weg, Londen toe. Dis dokter Woodcock se skip en ons kan saamgaan. Hy wil hê ons moet saamgaan en hy gee vir ons die kans om saam te gaan. Ons sal jou beskerm en jou betaal, en met die geld wat ons jou in Londen betaal, kan jy doen wat jy wil. Jy kan terugkom en met die geld sal jy ’n huisie kan koop, vir jou en Goens. Julle sal vry wees om na die Gamkamma toe te gaan, en jy sal jou mense daar kan help.”
“Hoekom ék? Hoekom sal julle my betaal, daar in Londen?”
Sy merk die vlugtige ontmoeting van die oë voor dokter Woodcock sê: “Jy sorg hier in die huis vir Bartol en Tiebout. Jy was hulle klere, jy maak die huis skoon, jy maak die kos. Sonder jou kan hulle nie so leef nie. In Londen sal jy ons help, ook in die huis en met ons klere en kos. Daarvoor sal ons jou betaal. Maar daar is baie ander werk waarvoor hulle goed betaal. Daar is shows, en almal wil in shows werk, want dan kry jy nóg meer. Londen is ’n groot plek, baie groter as die Kaap, met derduisende mense, en die mense daar is baie ryk.”
Khoena kyk stip na Woodcock terwyl hy praat, dan na Bartol, en vra weer: “Maar hoekom ék? Daar is tog ander vroue daar, in Londen, wat in die huis vir julle kan sorg, met klere en kos en skoonmaak?”
Woodcock kug en verskuif op sy stoel. Hy laat Bartol praat. “Die shows is spesiaal. Die mense in die shows kom van oral oor die ganse wêreld. Hulle kom met skepe uit die Ooste en die Weste. Maar uit die Kaap is daar niemand nie. Hulle sal baie betaal om iemand uit die Kaap te sien in hul shows, iemand soos jy, want jy is ook spesiaal. En ek is daar en ek sal altyd daar wees om vir jou te sorg, en die dokter ook. Wil jy nie ook hier padgee nie, Khoena? Is jy nie ook moeg vir die plek nie? Net vir ’n paar jaar, dan kom jy terug en jy hoef nie meer vir enigeen te werk nie.”
Die groot besluit is of hy die troef nóú moet speel, of wag daarmee. Hy besluit op die troef, terwyl sy nadink: “En Tiebout kom nie saam nie. Tiebout sal jou nooit weer seermaak of enigiets met jou kan doen nie.”
Dit was ’n goeie besluit oor die troef. Hy sien dit in haar oë en hy sien dit aan haar kop wat net so effens, so amper ongemerk, een keer knik. Woodcock staan uit sy stoel op, stap die huis binne, en toe hy uitkom, hurk hy by Khoena op die stoep. Hy hou ’n doekie na haar toe uit, van geel satyn, met ’n motief van fyn fleur de lis daarop geborduur, omsoom met delikate wit kant. Bartol herken die doekie wat in die dokter se bosak was toe hulle mekaar die eerste keer ontmoet het.
“Vat dit, Khoena, dis vir jou,” sê Woodcock. Met albei sy hande vou hy haar hand om die doekie. “Dít is van die pragtige goed wat in Londen wag. Dink net aan die mooi klere. Jy sal soos ’n prinses voel.”
Toe die dokter sy hande wegvat, is die satyndoekie in haar hand. Dis lig soos ’n donsveertjie in haar palm. Haar vingers sluit stadig en sag om die doekie asof sy bang is dit breek of verdwyn. Sy bring dit na haar gesig toe. Die satyn streel oor die vel van haar gladde heuningwang. Van ’n prinses weet sy niks nie, maar sy hou van die doekie. In haar lewe het sy nog nooit iets so sag, so delikaat, besit nie.
Bartol staan op en stap na die stalle toe. Goens moet die perd vir dokter Woodcock opsaal sodat hy die brief van permissie by die kaptein van die Guinevere kan gaan kry.
simon
Hulle betaal om na die fratse te kom kyk. Hulle kry nie genoeg van die fratse nie. Hulle kom verwonder hulle aan die groot aap wat soos ’n mens kan loop. Die Pan Troglodyte, so word aan hulle vertel, is in die ekwatoriale woude van Donker Afrika gevang, vyf voet hoog en honderd en vyftig pond op die skaal, met arms wat nege voet weerskante toe uitstrek. Hy is so sterk soos vyf mans en sluk ’n pint bier in een teug weg. Wat verswyg word, is dat die Pan Troglodyte agt en veertig jaar oud is, met skaars genoeg krag in sy bene vir elke aand se vertoning.
Hulle kom verwonder hulle aan die wit laskaar, die albinofrats van die kus van Malabar, met sy hare die kleur van ryk, geel botter en sag soos sy. Sy vel is pienkwit, amper deurskynend, vol sere. Hulle snak na hul asems wanneer hy homself beseer om hulle te vermaak. Sy bleekblou oë is skeel en byna blind.
Hulle kom kyk, veral, na die Amazon Warrior, wat, só lui die reklame, sonder tong in die reënwoude van Sentraal-Amerika aan die voet van die Andes gevang en getem is.
Die ou kleremaker in die voorste ry is een van die fratse se gereelde toeskouers. Hy en sy vrou is gelukkiger as baie van die ander. Hulle verdien vaste geld met hulle kontrak om warm jasse vir die polisie te maak. Hy sny die patrone, sy naai die pante aanmekaar, hy pers dit met warm ysters op die koolstoof, sy werk die knope aan. Dit neem hulle twee dae, van soggens sesuur tot saans nege-uur om een jas te maak. Hulle kry twee sjielings vir ’n jas, en moet die gare self koop, én die swaar wolmateriaal, ten duurste, by Horace Beeby, tekstielhandelaar van Somerstown. Twee aande elke week, wanneer sy siek ou vrou in die koue bed klim met haar moeë oë en stywe vingers van die jig en van die werk met die growwe jasse, trek die kleremaker sy eie, verslete jas aan en klim met die trap af, skuifel uit in die straat, om na die fratse te kom kyk. Hy sit die hele aand met een bier in die hand en maak net kort-kort sy lippe nat. Die fratse help hom om ’n wyle sy eie lot te ontvlug. Wanneer hy na die fratse kyk, besef hy daar is ander menslike wesens wat minder gelukkig is as hy.
Die stemme, vrolik en welluidend vol bier en rum en gin, dra uit tot in die donker straat, saam met die lig van die olielampe en die waskerse wat flou en verwronge deur die ruite na buite kaats. Buite, op ’n venster smetterig van roet en stof, skaars leesbaar in die vuil lig, kondig sierlike Gotiese letters Simon Pickering se bestemming aan: The Coal Whippers’ Arms.
Simon het die fratse, die mense én diere, in die argiewe van die Penny Chronicle en The Gentleman’s Magazine gaan navors en aangeteken, vóór sy besluit om na Varley’s Very Fabulous Freak Show in die Coal Whippers’ Arms toe te kom.
Fratse is nie nuut nie, het hy gelees. Vyftig jaar gelede al het nuuskieriges in die Tower of London tougestaan, teen ses pennies ’n kop, om die rariteite te kom besigtig. Eers ná die besoek aan die wilde diere in die hokke, het die besoekers na die kroonjuwele gaan kyk, dof en donker en vervelig. Dié ou diamante is in kerslig sonder sprankel. Die kroonjuwele steek sleg af teen die leeu wie se brul jy oor die Teems kon hoor, teen die volstruis wat met klippers gevoer word, teen die olifant wat appels met sy slurp in sy bek druk.
Daar was ook, het Simon gelees, in Covent Garden en die Haymarket die Amazing Dromedary uit die Arabiese woestyn naby die ruïnes van Palmyra, en die Surprising Satyr en die Noble Porcupine.
Maar Simon Pickering stel meer belang in die menslike fratse as in die diere. Hy het ook gelees van die jaarlikse Saint Bartholomew Fair waar eienaars toe al, vyftig jaar gelede, hul menslike fratse kom koop, verkoop en vertoon het. In die tavernes, herberge en biersale het die toeskouers mekaar verdruk om die jong Terrible Cannibal uit Mongolië te aanskou, sy tande vlymskerp gevyl, die Pincushion Father & Son, wat lag terwyl hulle dosyne ystervarkpenne in mekaar se velle druk (voor ’n advertensiebord wat aankondig dat die pa en sy seun, agt jaar oud, te koop is vir ’n winskopie van net vyfhonderd ghienies). Die Wonderful Elephantiasis Man se hele liggaam was bedek met