Frats. Chris Karsten
houtbanke van die kapel, vir dawerende liturgie, en die musiek van Handel, om hulle (en dit is soos ’n goewernante dit stel) geestelik te omgord vir die versoekings en uitdagings van ’n lewe buite die mure van die hospitaal.
In die kapel van die Foundling doop die Reverend Percival Paxton haar: Dolores Tooley. En saam met die kategismus leer sy ook die hospitaal se “Instruksies aan Leerjongens”. ’n Afskrif van dié Instruksies, wat aan elke vondeling by uitlating oorhandig word, is die lig op die pad. Met dié woorde van die goewernante klim Dolly op dertien in die landau, haar bondeltjie vasgeklem in haar bleek hande.
Met die gekrys van die klip onder die wiele en die pote van die perde, ry die koetsier haar weg na haar nuwe lewe toe, as jong binnemeisie in ’n deftige herewoning.
Toe hulle Mayfair uit Tyburn Road inry, is haar neus vasgedruk teen die venster van die landau, haar oë groot en wit, haar lippe oop, die klerebondeltjie op haar skoot. Hulle ry verby parke en tavernes en praal. Sy verwonder haar aan die huise, die tuine, die weelde, die mense in deftige klere. Uit Swallow draai die koetsier in Carrington af, stuur die perde agter om die hoë olms en trek hulle in. Sy word nie verwelkom nie. Sy sukkel uit die tuig uit en stap, op onsekere, dun beentjies agter die koetsier aan na die agterdeur van die somerswoning van Lord Willy, Vierde Burggraaf van Molesworth.
khoena
Die kneukels van haar vingers om die reling is wit. Sy draai nie haar kop weg van die wind wat die seesproei in haar gesig waai nie. Sy proe die sout op haar lippe en sluit nie haar oë teen die brand nie. Ná elke deining sink die Tafelberg en die vorms en lyne van die Kasteel en ander geboue van die Kaap al hoe dieper weg in die blou dynserigheid, totdat dit uiteindelik wegsmelt en daar op die horison net die blouwit mislaag oorbly.
Sy sluk, maar die knop in haar keel wil nie weg nie. Sy vee oor haar wange, maar die trane bly. Sy hou aan met kyk, totdat daar net die see is. Eers dán verslap sy haar greep op die reling. Wanneer sy terugkom Kaap toe, sal sy weer by die reling staan en na die see en die einder staar. Agter die deining en die misbank sal alles weer stadig lyne kry: eers die berg, dan die Kasteel, dan die ander geboue en die mense van die dorp. Net vyf jaar, het Bartol belowe.
Dán, dink sy, sal sy en Goens teruggaan, oor die berge en die vlaktes, ál verder, tot doer in die vallei van die Gamkamma. Hulle sal vry wees en hulle sal hul mense gaan soek, die Gomarib geib, en hul plek. Sy sal haar pa, haar tatab, vra: “Eip, dis ek, Gari-Karib, jou dogter, en hier is Goens, my gab geib, my ouer broer. Ons was lank weg. Gaan wys ons waar lê ons mames.” By die klipstapels, waar hulle lê met die opkomende son op hul gesigte, sal hulle kniel en troos bring oor daardie verskriklike, sondige oggend.
In die nag is dit die ergste, die hulpkrete wat sy nie kon hoor nie. Sy kon net sien en weet dat die dood gekom het. “Torab ui ha, o ge ni!” Sy skrik steeds wakker, nat van die sweet. Dit is ’n nagmerrie sonder einde. Dit is die slegte geeste, die hei noen, wat terug is en haar nie wil los nie.
* * *
Op die perd wat haar tenger liggaam ruk, met haar hande wat klou aan die maanhare, soek die kind deur die rook van kruit na haar mames. Sy sien die stil vrou in die as, die rooi teen haar bors, soos ’n blom wat oopvou, die oë wat opstaar na die blou lug. Die kind wonder hoekom haar mames so stil lê in die as van die vuur. Teen haar ore slaan die knalle dof en meedoënloos vas, doef, doef, doef. Sy voel die perd wat onder haar spring en galop, vassteek en swenk. Deur die kruitwolke sien sy haar mense wat vlug en steier en val. Sy sien die wonde en die monde vol angskrete, maar sy hoor nie hul vergeefse gepleit op hul knieë nie. Haar oë bly terugsoek na die vuur toe en na die stil figuur met die rooi blom teen die sagte bors.
Die agterryers soek die jong opgeskote kinders uit om saam te neem as buit. Die heel kleintjies, die heel oues en die vroue word nie bymekaargemaak nie. Hul dood is die straf vir die mans wat weg is. Wanneer hulle terugkom, sal hulle eers die aasvoëls in die lug bo die kloof sien sirkel en hulle sal weet dat die straf gekom het.
Wanneer dit te veel tyd neem om die roers te laai, en om ammunisie te spaar, word die kolwe gebruik. Daar is geen genade nie. Toe die slagting verby is, sleep die ruiters die takke van die kraal weg en jaag die beeste en die skape teen die hang af. Die bokke is reeds weg, dieper die kloof in. Hulle word gelos, met hul vol uiers en vet spene wat vergeefs gaan wag om gemelk te word.
Die ruiters, nou op ’n stap af teen die hang na die bome en rivier toe, kyk nie om nie. Hulle hang die roers terug oor hul skouers. Net die kind bly omkyk. Sy soek na die vrou in die as van die vuur.
Die leier is gehard teen trane. Onder by die rivier lig hy haar van die saal af. ’n Agterryer por haar met ’n stok aan na die groepie kinders toe. Sy strompel saam met die kinders en beeste en skape oor die klam grond langs die rivier, tussen die tierhout en spekbome, op deur die poort en uit die vallei uit. Die kalbas waarin die kind die water moes dra, lê vasgespoel teen die opdrifsels.
In die kamp op die vlakte word die kinders opgehelp in die waens, by die ander kinders van ’n vroeëre ekspedisie. Hulle is almal verwese en stil. ’n Seun, bietjie ouer as sy, vat die kind se hand toe die rooi osse met die lang swepe aan die loop gekry word. Die getalle van die beeste en skape het aangegroei. Die leier reken hy het goeie werk gedoen. Sy ekspedisie was ’n groot sukses. Sy beloning vir die vee sal goed wees en die kinders sal goeie pryse haal. In die Kaap is daar nie genoeg mense om die werk te doen op die plase en in die huise van nuwe grondeienaars nie.
Agter in die wa bly die kind na die berge toe tuur. Sy sien ’n arend sweef, hoog bo die kranse van die vallei van haar Gamkamma waaruit sy weggevat is. Die berge word algaande kleiner en verdwyn uiteindelik.
* * *
Onder in die skip, uit die wind en sproei van die see uit, bespreek Bartol Boelens en dokter Peniston Woodcock die kontrak wat hulle met mekaar wil aangaan. Woodcock glo Khoena gaan Londen verower. Sy is hul kans vir groot rykdom.
“Vir die vertonings moet ons haar verhuur,” sê Bartol.
“Verkóóp haar,” sê Woodcock. “Ons verkoop haar, vir ’n groot som, aan die eienaar van ’n vertoning. Ek ken een in die East End.”
“Nee!” Bartol se stem is skerp en beslis. “G’n verkoop nie. Sy’s nie ’n vel of ’n bondel vere wat verkoop word nie. Sy’s ’n mens.”
“Siektes en ellendes is ’n pes in Londen. Ons kan ons geld kry. As sy dán iets oorkom, is haar versorging nie ons saak nie.”
“Nee,” sê Bartol weer. “Ek het ’n plig en ’n eer. Wie haar wil hê, kan haar huur. Sy bly by ons.”
Woodcock slaan ’n ander koers in. “Ons kan by Varley’s Very Fabulous Freak Show begin.”
“Sy’s g’n frats nie!”
“Met sulke boude …” Woodcock grinnik. “In Londen sal sy wel ’n frats wees.”
“Khoena is nie ’n frats nie. Sy is in my sorg,” sê Bartol.
“Dit was mý plan, mý moeite om julle op die skip te kry, en ék het die kontakte. My aandeel in haar is vyftig persent.”
“Ek het die helfte van ’n plaas weggegee om haar te kry. Jy kan twintig persent van haar verdienste kry.”
“Sonder my is julle verlore. Ek ken Londen, ek weet wat die mense soek. Vyftig persent.”
Hulle onderhandel en kibbel oor haar soos oor die vel van ’n kameelperd. Bartol beskuldig Woodcock: “Jy is gulsig. Khoena is mý pand. Dit is my laaste sê, so nie vat ons passasie terug Kaap toe.”
Woodcock oorweeg die opsie. “Goed, goed,” skerm hy.
“En jy behandel haar as sy siek word. ’n Siek Khoena sal ons niks help nie.”
Dokter Woodcock reken dít is nie onbillik nie. “Ek sal haar gereeld ondersoek en behandel en haar gesond hou, sodat sy kan optree en geld verdien.”
Hy is sat vir die see en die siek matrose. Dis tyd dat hy gevestig raak. Khoena kan vir hom ’n goeie inkomste verseker en hy sal, eendag, gou, vir sy ryk familie wys