Tahiti, verre land. Ena Murray
ion>
ENA MURRAY
Tahiti, verre land
Jasmyn
1
Matrone Christa Olivier glimlag vriendelik. “Ek is bly jy het so gou op my oproep gereageer, Weda. Die sakie waaroor ek met jou wil gesels, is eintlik baie dringend. Sit gerus, dan kan ons die besonderhede bespreek.”
Weda neem gehoorsaam plaas terwyl sy nuuskierig wonder waaroor haar eertydse matrone haar so dringend wil spreek. Dalk oor ’n betrekking? Gedurende die maande dat sy na haar pa omgesien het, het sy en matrone Olivier kontak behou, want dit was vir die ouer vrou ’n groot teleurstelling toe Weda verplig was om haar beroep prys te gee pas nadat sy as operasiesuster gekwalifiseer het.
Maar albei het besef dat sy niks anders kon doen nie. Plig het geroep. Sy het haar verpleegstersuniform uitgetrek en haar pa agt maande lank pligsgetrou verpleeg totdat hy drie weke gelede eindelik uit sy lyding verlos is.
Die gryskopvrou in die netjiese blou uniform is iemand wat nie doekies omdraai nie. “Weda, hoe sal jy daarvan hou om, voordat jy weer hier by ons in die tuig val, eers op ’n lang bootreis te gaan en ’n paar dae op ’n tropiese eiland deur te bring?”
Weda kyk haar verward aan. Dan lag sy. “Dit klink wonderlik, matrone, maar ek het nie geld vir so ’n reis nie.”
“Maar as alles vir jou betaal word?” dring die matrone by haar aan, en moet glimlag vir Weda se algehele verbasing. “Die feite is kortliks dat ’n passasier op die Franse boot wat hier in Durban se hawe lê, skielik ernstig siek geword het en in die hospitaal opgeneem is. Sy is die privaat verpleegster van ’n jong Franse meisie wat saam met haar ma na Tahiti op pad is. Die dogter, verstaan ek, het kort gelede beserings in ’n motorongeluk opgedoen en hoewel sy onderweg is na herstel, het sy nog die hulp van ’n verpleegster nodig. Die Franse vrou, madame Levaux of sommer net kortweg Madame – soos sy verkies om aangespreek te word – het my gevra of ek nie van ’n verpleegster weet wat hulle verder op die reis kan vergesel nie. Ek het onmiddellik aan jou gedink. Dit sal jou die wêreld se goed doen om ’n bietjie weg te kom en uit te rus voordat jy weer begin werk. Alle koste word betaal en die salaris is ook goed.”
Toe die meisie haar net stomgeslaan aankyk, vervolg sy: “Dis natuurlik vir jou om te besluit, Weda, maar ek weet wat die afgelope agt maande van jou geverg het. Ek wil jou baie graag terughê in my hospitaal, maar ek hoop dat jy, ter wille van jouself, dié geleentheid sal aangryp. Die bootreis op sigself sal al ’n wonderlike vakansie wees. En madame Levaux het beloof om jou, wanneer jy wil terugkeer, op die eerste vliegtuig of boot te sit. Wel?”
Weda glimlag verdwaas. “Ek … Dis so skielik! U hét gesê … Tahiti, nè?”
Matrone Olivier kan nie help om te lag nie. “Ja, dis reg. Tahiti! Ek is bevrees dat ek jou nie lank tyd kan gee om daaroor te dink nie. Die boot vertrek oor twee dae, en daar is baie dinge wat gereël moet word as jy besluit om saam te gaan. Is daar enige rede hoekom jy nie kan gaan nie?”
“O, nee. Geen rede nie. Dis net … Ek het nooit in my lewe gedroom dat ek ook eendag op ’n bootreis sal kan gaan en ver plekke sien nie. Dis … wonderlik!”
“Dan sal jy gaan?”
“Wel, ja, dankie. As u ook dink dis goed so …”
“Ek sal madame Levaux dadelik bel en haar jou telefoonnommer gee. Dan kan julle twee self verder reëlings tref.” Sy staan op en soen Weda innig. “Gaan geniet elke oomblik, my kind. Moet nou net nie so onder die bekoring van daardie eiland raak dat jy glad nie wil terugkom nie, hoor?”
Weda lag. “O, nee, matrone, dít sal nie maklik gebeur nie. Ek kom seer sekerlik terug en hoop hier sal dan vir my ’n plekkie oop wees.”
“Jou betrekking wag op jou wanneer jy terugkom. Beskou hierdie tydjie nou as ’n wonderlike tussenspel in jou lewe, iets om altyd te onthou.”
Eers toe sy hul woonstel binnestap en Marina Roux, haar beste vriendin, nuuskierig opkyk, besef Weda werklik wat gebeur het.
“Wat wou matrone so dringend gehad het?”
Weda skud haar kop asof sy self nie kan glo wat matrone wou gehad het nie. “Sy het my gevra of ek nie met ’n boot na Tahiti wil gaan nie.”
Marina kyk haar fronsend aan. “Ag, komaan, man, moenie laf wees nie. Wat wou sy gehad het? Het sy jou ’n pos as operasiesuster aangebied? Wanneer begin jy?”
Weda lag en sak langs haar vriendin neer. “Dis regtig waar, ou Rien. Ek vertrek oor twee dae na Tahiti, jy weet mos, die eiland …”
Marina sit regop en kyk haar vriendin aan asof sy so pas verklaar het dat sy saam met die volgende maanvlug gaan. “Kind, jy het sonstraal,” verklaar sy opgewonde. “Jy het natuurlik weer te lank gedraai en die bus verpas en die hele ent pad in die bloedige son geloop. Gaan lê dadelik. Ek sal iets vir jou bring …”
“Ek makeer niks nie, lawwe ding,” lag Weda opgewonde maar ook ’n bietjie senuweeagtig. Sy het so skielik besluit … “Dis waar! Onthou jy die Franse passasierskip wat nou hier in die hawe lê?”
Marina knik en sy verduidelik kortliks. “Matrone het my nie veel tyd gegee om te besluit nie. Om die waarheid te sê, ek moes dadelik sê of ek kan gaan of nie. Matrone is egter oortuig dat ek moet gaan. Dus … oor twee dae vertrek ek na Tahiti … Marina, maak jou mond toe! Netnou val daar ’n vlieg in!”
Marina klap haar mond hoorbaar toe, maar haar oë bly groot en rond. “Tahiti! Maar ek het dan gedink dis sommer net ’n liedjie wat Jurie Ferreira altyd sing. Jy weet mos – Taahiii-ti, vêêê-re laaand, oo skoonste paa-raa-dy-ys!”
Weda moet lag. “Nee, verspotte ding! Daar is werklik so ’n eiland op die aardbol. Maar ek verwag natuurlik nie dat ’n musiekonderwyseres iets van aardrykskunde sal weet nie!”
“O, hoor die slim verpleegster! Wel, vertel my dan waar lê dié wonderlike, skoonste paradys presies.”
“Ek weet nie,” erken Weda verleë en daar is nou ’n bietjie onsekerheid in haar oë. “Marina, ek wonder of ek so gou moes ja gesê het …”
“Natuurlik moes jy, jou aap! Waar gaan jy ooit weer só ’n kans kry, en dit nog op ander se koste? Wag, ek dink hier êrens moet nog ’n ou skoolatlas in die boekrak wees. Ja, hier is dit. Waar sal ’n mens begin soek?”
“As dit ’n eiland is, moet dit êrens in die see lê,” bied Weda aan en Marina glimlag geamuseer.
“Dis nou slim,” laat sy droog hoor. “Wel, hierdie kaart het die grootste stuk see. Kom ons soek eers hier.”
Weda frons. “Maar dis die Stille Oseaan waar jy nou soek. Dis halfpad om die aardbol!” protesteer sy.
“Wat daarvan? Jurie sing van ’n vêêê-re land en nie eens jou madame Le-dinges sal dit kan nader skuif nie. Hier! Hier staan dit. Uitdruklik: Tahiti.”
Weda buk nader en haar onsekerheid neem toe. “Dis dan net ’n stippeltjie in die blou oneindigheid! Kyk daar, dit lê in die middel van … van nêrens!”
“Hm.” Ook Marina klink nie meer so opgewonde nie, maar sy doen haar bes om haar vriendin op te beur. “Dis seker regtig ’n droomparadys. Kyk, dit lê net kort bokant die Steenbokskeerkring, dus in die trope. Dis natuurlik een van daardie droomeilande wat bestaan uit ’n volmaan, wuiwende palms, orgideë in die blom, ’n potblou see, ’n inkblou hemel, ryp papajas en avokado en piesangs en … al daardie klas goed. Vreeslik romanties en so meer!” Sy glimlag bemoedigend. “Ag, maat, die wêreld is maar net groot vir ons gewone, arm mense. Vir die rykes is dit so groot soos ’n tennisbal. Wat gaan soek dié madame Le-dinges en haar dogter daar?”
“Ek weet nie. Ek weet net hulle is op pad daarheen. Sy sal my vanmiddag bel sodat ons my paspoort en dies meer in orde kan kry.”
In die twee dae wat volg, is daar nie tyd om aan vertwyfeling aandag te gee nie. Dis of ’n warrelwind Weda getref het. Paspoorte en ander formaliteite word saam met madame Levaux afgehandel – ’n madame oor wie Weda nie met sekerheid ’n indruk kan vorm nie.
Daar is ’n meerderwaardige hooghartigheid