Die groen maan. Christine le Roux
CHRISTINE LE ROUX
Die groen maan
HUMAN & ROUSSEAU
Hoofstuk 1
Johan Norval ry so ingedagte dat hy byna die afdraaipad mis. Goedbeplan staan daar op die netjiese bord en hy swaai af en ry met die plaaspad verder. ’n Normale plaaspad is dit nie, dink hy geamuseerd. Jakobus Duvenage is nie die soort boer wat stamperige plaaspaaie sal duld nie. Dis gelyk geskraap en bedek met gruis om dreinering te vergemaklik. Aan weerskante van die pad staan die heinings styf gespan, elke paaltjie stewig en wit geverf, elke hek genommer, geverf en in perfekte toestand. Selfs die landerye lyk netjieser as die ander in die omgewing. Johan is seker geen onkruid sal die vermetelheid hê om in Jakobus se lande te groei nie.
Dis nie asof hy Jakobus besonder goed ken nie, al is hulle jare lank reeds bure, sedert hul pa’s daar geboer het. Jakobus is nie ’n man wat hom laat ken nie. Sy hele lewe bestaan uit sy boerdery, hy kom selde kerk toe, behoort aan geen sosiale vereniging nie, hou hom eenkant. Hy, Johan, en Jakobus het altyd bekend gestaan as die twee vrygeselle – oujongkêrels eintlik, dink Johan nou en moet weer glimlag as hy dink hoe sy suster aan hom neul om te trou. Maar ongeveer agt maande gelede is Jakobus stad toe, en toe hy terugkom, was hy getroud. Die hele omgewing was begogeld deur die nuus en kon nie wag om die bruid te sien nie – maar as hulle gehoop het Jakobus gaan haar trots paradeer, was hulle verkeerd. Sy het op die plaas aangekom en verdwyn. Die eerste mense wat haar gesien het, was verras en het gerapporteer dat sy doodnormaal lyk, normale lengte, bou en beslis aantreklik. Dit het die gissinge laat toeneem. Waar sou die somber Jakobus so ’n meisie gekry het?
“Dis nie uit liefde nie,” het Johan se suster, Corrie, gesê. “Ek ken vir Jakobus, ons was saam op skool, onthou? Hy doen nie ’n ding met sy hart nie, dis net sy kop wat voorskryf.”
“Ag, man,” het Johan haar geterg. “Hoe sal jy nou weet? Ten minste het jy nou een oujongkêrel minder om jou oor te kwel.”
“Ek het hom in die bank raakgeloop,” het sy verder vertel. “En hom gelukgewens met die huwelik. Mens moet tog die regte ding doen, voel ek. Weet jy wat hy gesê het? Ja, nou wag hy net op die erfgenaam.” Corrie het gesug. “Ek sê jou, dis hoekom hy getrou het. Vir ’n erfgenaam.”
“Hoekom nie?” het Johan aanhou spot. “Dis waarom die meeste mense trou, is dit nie?”
Sy suster het hom skuins aangekyk. “Jy kan nie eintlik saampraat nie, kan jy? Ses en dertig jaar oud en nog steeds ongetroud. Ek sal my skaam as ek jy is. Wat gaan eendag van jou plaas word?”
“Jou kinders kan dit erf.”
“Dankie, maar soos jy weet, het ek net dogters.”
“Ek gee nie om nie. Hulle kan kom boer.”
Sy het hom streng aangekyk. “Grappies op ’n stokkie. Ek hoor by Joanie dat die erfgenaam inderdaad op pad is. Jakobus het nie op hom laat wag nie.”
“O, julle is ’n klomp skinderbekke op hierdie dorp!” het hy gelag. “Mens kan ook nie hoes nie of julle weet daarvan.”
“Ons stel net belang,” het sy waardig gesê.
Corrie is getroud met die skoolhoof en as sy ’n ding nie weet nie, is dit nie die moeite werd om te weet nie. Johan ry altyd by sy suster langs as hy op die dorp kom en al terg hy haar so, is dit nogal interessant om al die nuus by haar te hoor. Sy was ook een van die eerstes wat met Jakobus se vrou kennis gemaak het. Hoe sy dit reggekry het, weet Johan nie, maar Corrie het hom vertel dat Magdaleen ’n baie gawe meisie is, fyn opgevoed, intelligent en nie die bloedjong poppie wat almal hulle voorgestel het nie. “Sy is al agt en twintig,” het sy gesê.
“Geen wonder dat Jakobus dan vinnig gespeel het nie,” het Johan gesê.
Corrie het hom kwaai aangekyk. “Mens kan jou ook niks vertel nie, jy spot net.” Sy kon nietemin nie ophou gis nie. “Joanie sê sy was nog nie by die dokter nie, so ek weet nie waar kom Jakobus aan sy spogtery nie. Hy vertel vir almal die erfgenaam is teen die lente hier en intussen was sy vrou nog nie by die dokter nie.”
“Sussie, los die mense uit. Hulle is oud genoeg om te weet wat hulle doen. Vir al wat jy weet, gaan hulle na ’n ander dokter toe op ’n ander dorp. Of ry stad toe. Ek sou, as ek hulle is – met al die nuuskierige agies hier rond.” Sy oë het geblink.
Jakobus weet wat hy doen, dink hy nou terwyl hy tussen die netjiese heinings ry. Hy doen niks sonder deeglike beplanning nie en sy plaas is die bewys daarvan. Ou oom Jakob was nie so nie en in die laaste jare was hy sieklik. Teen die tyd dat Jakobus die plaas oorgeneem het, was dit ’n gemors. Die ander boere het die kop geskud en gewonder of hy ooit die mas gaan opkom, maar hulle het hom onderskat. Jakobus het dag en nag gewerk, damme gebou, sy veestapel verbeter, lande geploeg, die huis opgeknap. Jaar ná jaar kon almal die verbetering sien.
“Ek het nie tyd om kerk toe te kom nie,” het Jakobus vir die dominee gesê. “Ek moet werk.”
Dit was ook sy verskoning vir enigiets anders. Hy moes werk, daar was nie tyd vir kuier, vir verenigings of byeenkomste, vir politiek of vleisbraai nie. Dat ’n dekade van so hard werk nou vrugte afgewerp het, kon niemand betwyfel nie. Goedbeplan is die mooiste plaas in die omgewing, sy vee behaal die hoogste pryse, sy oeste is groot. Dis net dat almal maar bly gis het. Hoe op aarde pas ’n stadsmeisie by Jakobus se streng lewe in? Hoe onderwerp sy haar aan sy onbuigsame dissipline? Dit was asof mense sommer klaar besluit het daar moet met haar ook ’n skroef los wees.
Johan vat die laaste draai, voor die pad om ’n netjiese sirkel voor die plaashuis eindig. Die huis is spierwit geverf, die geute en dak donkergroen. Die bome om die huis is gesnoei, die grasperk gerol en gesny, maar nêrens groei ’n blom nie. Dit verbaas hom nogal – hy ken nie ’n vrou wat nie ten minste ’n roos wil plant nie. Miskien hou Jakobus nie daarvan nie – blomme lewer nie oeste op nie.
Hy skakel sy motor af en tel die pak pos op die voorste sitplek op. Jakobus het hom vroeër die oggend gebel en gevra of hy nie hul pos ook sal kry as hy dorp toe gaan nie, want hy verwag belangrike saadkatalogusse. Johan het ingestem, al kon hy nie help om te wonder wanneer Jakobus ooit dieselfde vir hom sal doen nie.
“Hy’s te suinig!” het Corrie gesê toe hy nou-nou gou by haar tee gedrink het. “Waar het jy al ooit gehoor dat hy vir iemand anders uit sy pad sal ry?”
Hy klim uit die motor uit en stap voordeur toe. Jakobus is miskien nie nou by die huis nie, maar hy kan die pos sommer vir die vrou gee. Hy druk sy vinger op die deurklokkie en wag. As hy nou vir mevrou Duvenage ontmoet, het hy weer iets om vir Corrie te vertel, dink hy. Die volgende oomblik word die voordeur oopgeruk en val Bettie, die bruin vrou wat al jare vir Jakobus werk, omtrent in sy arms. Haar wange is nat, haar oë oopgesper en sy gryp hom aan die voorkant van sy hemp vas.
“O jinne, meneer,” snak sy. “Ek is so bly iemand het gekom. Meneer moet kom help, mevrou is besig om dood te gaan en ek kan niemand kry nie. Ek het Flip gestuur om meneer Jakobus te loop soek, maar hy sê hulle’s doer onder by die onderste lande en ek weet nie meer wat om te doen nie, want sy gaan vir seker dood.”
“Bettie!” sê hy gebiedend, gooi die hoop pos op die naaste tafel neer en sit sy hand op haar skouer. “Hokaai nou. Wat het gebeur? Vertel nou mooi en stadig.”
“Ek weet nie,” huil sy. “Ek kry haar so in die badkamer en ek sê vir meneer sy’s op sterwe. Vanoggend het ek gehoor sy sê vir hom daar’s fout, toe’s hy sommer op die plek kwaad en sê sy moet bietjie loop lê en toe’s hy weg in die bakkie en ek het maar aangegaan met my werk en toe kom ek nou in die badkamer en ek sê vir meneer . . .”
Johan hou haar troostend aan die arm vas. “Wys my, Bettie,” sê hy kalm. “Ons kan die dokter bel.”
Sy storm voor hom uit. “Daar’s nie tyd vir dokters nie!” sê sy histeries oor haar skouer en trek hom met haar saam die lang gang af.
Hy kan nie help om op te let hoe elke kamer waar hulle verbyloop, kraaknetjies is nie. Nêrens lê ’n tydskrif of koerant nie; dit lyk soos ’n hotel. Dan stoot sy hom die badkamer in en hy bly verstar staan. Hy het die nuwe mevrou Duvenage nog nooit gesien nie, maar hy veronderstel dis sy. Sy lê