Die groen maan. Christine le Roux
een hand lig hy haar slap pols op, maar hy voel bykans geen hartklop nie. Jakobus het haar tot selfmoord gedwing, dink hy geskok. Sy antwoord ook nie, kreun net effens toe haar lyf krampagtig saamtrek.
“Dis die bybie,” sê Bettie, nou effens kalmer omdat iemand darem daar is om te help. “Dis dit.”
Hy draai om, kyk haar ondersoekend aan. “Dink jy so?” Hy wens Corrie was daar, hy weet bedroef min van vrouens. “Ons moet haar dadelik by die hospitaal kry. Dink jy meneer Duvenage is op pad?”
Sy lyk skepties. “Ek sal gou gaan kyk. Uit die oorkantste venster kan mens só diekant sien.” Maar ’n oomblik later is sy terug, haar houding negatief. “Nee, hy sal nie kom nie. Nie as hy besig is nie.”
Hy staan regop, kyk om hom rond en sien die groot badhanddoeke teen die oorkantste reling. “Help my om dit om haar te wikkel,” sê hy, al weet hy dit kan nie veel help nie. Hy het nie die vaagste benul hoe om die bloeding te stop nie. Dan buk hy, skuif sy arms onder die slap liggaam in en tel haar op. “Stap vooruit,” gebied hy vir Bettie. “Maak die agterste deur oop dat ons haar op die agtersitplek kan neerlê.”
Sy weifel net ’n oomblik, kyk na die storthokkie met iets wat na haat lyk en ruk die een plastiekgordyn sonder ontsag af. Dan draf sy voor hom uit, maak die motordeur oop, bedek die sitplek met die gordyn en wys hy moet die vrou daarop neerlê.
“Moet jy nie saamry nie . . . nee, iemand moet hier bly om vir meneer Duvenage te vertel wat gebeur het. As hy kom, sê vir hom ek vat haar hospitaal toe, hy moet dadelik kom.”
“Dis reg so.” Sy staan terug, vee oorstelp oor haar wange.
Hy skakel die enjin aan en trek weg dat Jakobus se netjies geharkte gruis onder sy wiele uitspat. Vader tog, dink hy terwyl hy tussen die wit heinings deur jaag, laat sy tog net bly leef tot op die dorp. Hy is bly toe hy die teerpad bereik, sit die motor in hoogste versnelling en trap die petrolpedaal plat. Hy kan nie glo dat hy enkele minute gelede so rustig hierlangs gery het nie, nou vlieg telefoonpale verby teen ’n geweldige snelheid. Nou en dan kyk hy bekommerd oor sy skouer na die slap liggaam op die sitplek en toe sy kreun, voel hy verlig.
“Ons is nou-nou daar,” sê hy, al weet hy nie of sy hom kan hoor nie. “Byt net vas. By die hospitaal sal hulle weet wat om te doen. Ek is jammer die motor skud so, maar ons moet so vinnig moontlik daar kom.” En om te dink hy was van plan om met die bakkie dorp toe te gaan. Waar het hy haar dán laat lê? Hy is bly toe hy die dorp in die verte sien en nog blyer toe hy voor die lang wit gebou indraai en reg voor die ingang stilhou. Hy val omtrent uit die motor uit, en ’n verpleegster kom hom tegemoet.
“Kan ons help?” vra sy besorg.
“Ja.” Hy maak die agterdeur oop. “Sy is besig om dood te bloei, ek weet nie waarom of waarvan nie.”
Daar is ’n onmiddellike geskarrel, ’n trollie word uitgestoot, sy word daarop getel en vinnig weggeneem. Johan bly verdwaas staan tot die verpleegster weer met hom praat. “Kan u vir ons meer besonderhede gee? Is dit u vrou?”
Hy stap agter haar aan na die toonbank. “Nee, dis mevrou Duvenage. Ek dink haar voornaam is Magdaleen. Hulle is my bure en ek het net daar aangery om hul pos af te gee toe die huishulp my inroep. Daar was niemand tuis nie en ek kon nie wag tot Jakobus – haar man – van die lande af kom nie. Dit het te ernstig gelyk.” Hy vee weer oor sy voorkop.
Op daardie oomblik kom ’n dokter die gang af geloop en pyl op Johan af.
“Weet u wie haar dokter was, Nel of Harmse?”
“Ek is bevrees ek het geen idee nie. Ek ken mevrou Duvenage glad nie en . . .”
“U is nie ’n familielid nie?” vra die dokter amper ergerlik.
“Nee. Nee, ek is net die buurman wat toevallig vanoggend daar aangekom het. Haar man moet op pad wees, die huishulp het hom laat weet.”
“Is hy nie by die huis nie? Dit het tog nie skielik gebeur nie? Sy moet lankal simptome getoon het wat kommer moes wek.”
“Ek weet nie.” Johan skud sy kop. Hy wil nie dislojaal teenoor Jakobus wees nie, hy ken die storie nie regtig nie en hy kan nie staatmaak op wat ’n bevreesde huishulp gesê het nie. “Ek het ook nie tyd gemors nie. Miskien moes ek vir hom gewag het, dit sou seker die regte ding gewees het om te doen, maar . . .” Hy lig sy skouers. “Ek het ook maar geskrik.”
“U het die regte ding gedoen,” sê die dokter.
Johan trek aan sy kraagpunte. “Sal sy . . . ek bedoel, lewe sy darem nog? Toe ek haar daar sien, so wit en . . . Ek was bang ek kom nie betyds by die hospitaal nie.”
Die dokter raak aan sy skouer, ’n vinnige, troostende gebaar. “Ons gaan dadelik opereer en begin met ’n bloedoortapping. Ons voorraad is nie groot nie, maar ons kyk maar eers. Miskien sal ons skenkers moet opbel. Sy het geweldig baie bloed verloor.” Hy verdwyn weer in die gang af.
Johan stap stadig terug na die portaal toe, staan ’n ruk besluiteloos daar en uitkyk oor die parkeerterrein en gaan sit dan op een van die bankies. Die verpleegster agter die toonbank kyk hom simpatiek aan. “Daar’s ’n koeldrankmasjien,” sê sy en wys na die kas teen die muur. “As u dalk dors is.”
Johan skud sy kop en tel die koerant op wat deur iemand agtergelaat is. Hy lees die hoofberig sonder dat iets tot hom deurdring. ’n Ander man, vermoedelik ’n dokter, kom binne, kyk hom tastend aan en kom nader.
“Meneer Duvenage?”
“Nee.” Johan verduidelik weer wie hy is en hoekom hy daar is. “Haar man behoort enige oomblik hier te wees,” verseker hy hom. “Hy kom van die plaas af. Ek het net gedink . . . ek kan haar nie sommer hier los en net wegry nie. Miskien moet ek wag tot Jakobus kom.”
“Daar is niks wat u verder kan doen nie,” sê die dokter. “As haar man op pad is, is alles goed. U kan gerus maar ry.”
Johan huiwer nog. “Is u seker?”
“Sy is nou in goeie hande,” sê die man. “Ons doen ons bes. En dankie dat u haar so vinnig gebring het.”
“Dan ry ek maar.” Hy loop terug na sy motor toe, skielik nie lus om terug te gaan plaas toe nie.
“Waar val jy so vinnig uit die lug?” vra Corrie verbaas toe hy weer aan haar deur klop. “Ek het pas ons koppies uitgewas en hier is jy al weer.”
“Ja, en nou het ek sterk koffie nodig,” sê hy en stap verby na die kombuis.
Sy volg hom. “Wat het gebeur? Jy’t nie ’n ongeluk . . .?”
Hy vertel haar kortliks terwyl sy met die ketel en koppies werskaf. “Dit was regtig vreeslik,” eindig hy sy relaas. “My eerste gedagte toe ek haar sien lê, was dat sy selfmoord gepleeg het.”
“Haai nee!” sê sy geskok. “Jy sê dan jy het haar pols gevoel en dit was so swak. As sy . . . as hulle gesny was, sou jy mos dadelik gesien het.”
“Ek veronderstel so,” sê hy verward. “Ek het nie eintlik helder gedink nie en daar was so ongelooflik baie bloed, maar toe sê Bettie iets van die baba en . . .” Hy lyk ongemaklik.
“Die arme ding,” sê Corrie simpatiek en gaan sit oorkant haar broer. “Ek wonder of hulle die baba kan red?”
Johan antwoord nie, maar al weet hy nie veel van sulke goed nie, voel dit vir hom na ’n onrealistiese hoop. “As hulle net haar lewe kan red,” sê hy somber. Hy drink die sterk koffie wat sy voor hom neersit en voel dadelik beter. Uit sy sak skud hy sy sigarette en steek dankbaar een aan. “Bettie het ’n ding gesê,” onthou hy skielik. “Dat sy, die vrou, vanoggend al vir Jakobus gesê het daar is fout en hy’t glo net gesê sy moet bietjie gaan lê en toe is hy vort.”
Corrie se wenkbroue lig. “Ja,” sê sy dan. “Maar laat ons die man nie te gou oordeel nie. Sy is sy vrou, die arme man moet teen dié tyd baie gekweld wees. Foeitog.” Sy skud haar kop. “En hy was so bly oor die erfgenaam. Hy was ook so lank vrygesel, hy het seker nie vanoggend al besef