Die groen maan. Christine le Roux
hom te verwyt nie. “Jy weet hoe ek voel,” sê hy. “En as ek dit vir jou vertel, sê jy ek is verwaand.”
“Jy is,” sê sy verontwaardig. “Jy’s moeg vir meisies wat agter jou aanhardloop. Van die dag dat jy klaar was op universiteit en die plaas by Pa oorgeneem het, hol hulle agter jou aan.”
“Maar dis waar,” protesteer hy. “Was daar een dans of geselligheid in die omtrek waarna ek nie genooi was nie en was ék ooit die een wat die nooiery gedoen het? Nee. Ek het nooit eens die kans gekry nie, my telefoon het elke dag gelui. Selfs die skooljuffrouens het my na hul gesellighede genooi. Dis genoeg om enige man te verskrik.”
“En toe jy uiteindelik een kry agter wie jy moet aanhardloop, toe wil sy jou nie hê nie.”
“Presies.”
Johan is verbaas om te voel dit maak steeds seer. Twee jaar lank het Elise hom aan ’n lyntjie gehou, het hy omtrent op sy knieë voor haar gestaan, en op die ou end het sy sonder ’n terugwaartse blik weggegaan en met haar ou jeugmaat getrou. Die laaste keer toe hy van haar gehoor het, het sy op ’n Bosveldplaas gebly, en het sy al twee kinders gehad.
Corrie klik haar tong gemaak simpatiek. “En toe jy eindelik bietjie van jou eie medisyne terugkry, is jy so gekrenk dat jy niks meer van meisies wil weet nie.” Sy staan op en maak die yskas oop. “Dis nou al so laat, jy kan net sowel hier eet. Die kinders kan enige oomblik terugkom van die skool af, dan is hulle altyd uitgehonger. ’n Mens sal sweer ek gee nie vir hulle toebroodjies saam nie.”
Johan kyk na sy horlosie. “Ek weet nie wat vandag op die plaas aangaan nie, die dag is nou so totaal opgekoffie.”
“Dan kan jy net sowel maar by my kuier. Jy kom selde genoeg hier.”
“Dis nie waar nie! Ek kom nooit dorp toe sonder om hier in te wip nie.”
Sy lag gemoedelik. “Ek dink dis nog ’n rede waarom jy nie tot trou kom nie. Dis te gemaklik hier by jou suster. Ek behoort jou weg te jaag sodat jy ander vrouegeselskap kan opsoek.”
“Ek is doodgelukkig soos ek is,” sê hy.
Sy kyk hom moederlik aan terwyl sy koue vleis en tamaties sny en borde op die tafel begin regsit. Hulle ma is jonk al dood en omdat sy ses jaar ouer as Johan is, het sy oorgeneem as moeder en van toe tot nou het sy ’n baie sagte plekkie vir dié broer van haar. Fisiek verskil hulle baie. Sy is kort en veg haar hele lewe teen ’n gewigsprobleem. Hy was nog altyd lank en gespierd, veral vandat hy heeltyds op die plaas is. Sy het yl donkerbruin hare wat krul as sy net naby die ketel se stoom verbyloop, hy het ongelooflike dik hare wat geen haarkapper getem kan kry nie en wat altyd oor sy voorkop val. Sy brand sproete as sy net naby die son kom en hy is permanent bruingebrand. Haar oë is blou soos hul ma s’n was en syne is byna swart. Maar, dink sy altyd filosofies, sy het ’n man gekry wat dink sy is wonderlik, wat van haar hou nes sy is, en Johan sit steeds alleen op die plaas.
Enkele oomblikke later storm haar drie dogters in en vir die volgende uur is daar nie tyd vir praat of dink nie. Hulle is in die wolke om hul geliefde oom in die kombuis aan te tref, spring omtrent bo-op hom, wil elkeen haar eie storie vertel of somme vir hom wys of ’n opstel vir hom voorlees en tussenin kla hulle ook van verskriklike honger sodat Corrie moet spring om al die mae te vul.
Dis eers toe hulle klaar geëet het dat Johan weer op sy horlosie kyk. “Ek moet wraggies nou aanstaltes maak,” sê hy. “Anders melk hulle voor ek terugkom op die plaas.”
Corrie druk haar hare reg. “Wil jy my nie by die apteek aflaai nie? Ek stap sommer terug.” Sy verdwyn na haar kamer toe om haar gesig op te knap, terwyl sy al die pad opdragte gee vir die dogters.
Toe hulle in die motor sit en hy weer in die hoofstraat af ry, kyk hulle na die hospitaal wat aan die punt van die straat en byna langs die apteek lê.
“Ek wonder of ons nie gou moet gaan vra nie,” sê hy. “Net om te hoor of alles goed afgeloop het. Dit sal my gerusstel.”
“Natuurlik,” stem sy dadelik in en kyk om haar rond toe hy weer voor die hospitaal inry. “Dis Jakobus se bakkie daardie, is dit nie?”
“Dan is hy darem hier,” sê hy verlig.
“Maar ons gaan vra buitendien,” sê sy ferm. “Hy sal seker ook wil dankie sê. As dit nie vir jou was nie . . .” Sy sidder. “Mens wil nie eens dink wat kon gebeur het nie.”
Hoofstuk 2
Johan wou bloot by die ontvangstoonbank verneem na mevrou Duvenage se toestand, maar toe hy en Corrie instap, is dit duidelik dat die hele plek op horings is. Dis nie ’n groot hospitaal nie en Johan is nog altyd getref deur die rustige, gemoedelike atmosfeer van die plek. Almal ken almal – een pasiënt se besoekers is, indien nie familie nie, dan goeie vriende van die ander pasiënte en daar word oor en weer gekuier, na die weer of boerderybelange uitgevra. Veel geheime is daar nie, daarvoor is die gemeenskap te klein.
Vandag is die plek egter in rep en roer. Die meisie agter die toonbank staar na hulle met groot oë en êrens uit die gang bulder ’n man se stem soos ’n brullende leeu. Ander stemme, skerp en berispend, probeer hom tot bedaring bring.
“Genade,” sê Corrie, haar oë ook groot. “Wat gaan vandag hier aan? Ons wil eintlik net verneem na mevrou Du- . . .” Sy kom nie verder nie, die volgende oomblik word Jakobus letterlik die portaal binnegestoot deur ’n dokter en twee susters.
“Ek dink u moet liewer huis toe gaan,” sê die dokter baie verontwaardig. “Onder die omstandighede dink ek nie u teenwoordigheid kan . . .”
Jakobus stoei, ruk hom los uit die dokter se hande en storm by die verslae Corrie en Johan verby. Dis duidelik dat hy hoegenaamd nie van plan is om Johan te bedank nie. Hulle hoor hom met die trappe af strompel en enkele oomblikke later brul sy bakkie oor die parkeerterrein.
“Ons wil . . .” probeer Corrie weer en kyk na die meisie agter die toonbank, maar sy kry nie haar vraag gestel nie, want die dokter pyl op hulle af.
“Wat is u bloedgroep?” vra hy vir Corrie.
Sy noem haar groep en hy skud sy kop, kyk dan vraend na Johan.
“Ek is bevrees ek het geen idee nie,” erken Johan. “Ek hét vroeër al bloed geskenk – by die skou en so aan – maar dis net een van daardie goed wat ek nie onthou nie.”
“Ons het, soos ek u vanoggend gesê het, net ’n baie beperkte voorraad bloed hier vir noodgevalle, maar ons besit natuurlik ’n lys van skenkers wat bereid staan om te help. Ongelukkig kan ons niemand vandag in die hande kry nie. Klein Jan van die bank is een van ons staatmakers en het toevallig ook die regte bloedgroep wat ons soek, maar hy is in die bed met ’n virus. Sou u omgee dat ons u toets sodat ons kan vasstel of u kan help?”
“Nee, natuurlik nie,” sê Johan. “As ek dit geweet het, het ek nie vroeër gery nie, maar julle het gesê daar is niks wat ek verder kan doen nie.”
“Ek weet,” sê die dokter en wink na ’n verpleegster. “Haar man kon ook nie help nie.” Sy stem is koud. “Sy bloedgroep is nie geskik nie.” Hy wend hom tot die verpleegster. “Sal jy sy bloed toets?”
Johan word meegeneem na ’n kamer waar die vriendelike meisie eers sy vinger prik en dan verdwyn. Dit duur nie lank voor sy terug is nie.
“Is dit nou nie ’n wonderwerk nie?” merk sy op. “U kry ’n tweede geleentheid om mevrou Duvenage te help, want u bloedgroep is presies wat ons wil hê.” Terwyl sy gesels, rol sy sy mou op en bind ’n rubberbuis om sy arm. “Pomp u hand so ’n bietjie. Dis reg. Dankie.”
Hy kyk liewers weg terwyl sy die naald indruk. Hy is nie pieperig nie, maar miskien juis omdat hy so min kennis dra van hospitale, vind hy dit alles ’n bietjie vreesaanjaend. “Het haar man toe darem gou opgedaag?” vra hy. “Ek het sleg gevoel om sommer net te ry.”
“O ja,” sê sy, haar oë op die sakkie wat stadig vul. “Maar hy’s ’n snaakse man, jong. Ek ken hom. Hy’t my ’n paar keer uitgeneem verlede jaar, maar ek kon