Weermagstories. Roelf Schoeman

Weermagstories - Roelf Schoeman


Скачать книгу
onderdrukking van onaangename, hartseer en skokkende gebeure is by baie mense aanwesig. Die uitdaging is om los te kom van hierdie onderdrukking en mense by te staan om van die swaar las ontslae te raak.

      Ervarings wat mense in vuurgevegte deurgemaak het, waar makkers brutaal om hulle sneuwel, spook steeds by sommige soldate wat by die oorlog betrokke was. Familielede het ook nie altyd ’n goeie begrip van hierdie mense se werklike ervarings as daar nog nie ’n behoorlike oop gesprek oor wat werklik gebeur het, was nie.

      Die tradisionele gebruik om by die etenstafel te sit en met belangstelling na mekaar se stories te luister is nou belangriker as ooit. Daar is reeds bewyse van hoe die vertel van ’n mens se storie genesing en selfs versoening in gesinne gebring het. Die hoorder kry ook meer begrip van wat die verteller ervaar het en in watter konteks dit alles gebeur het.

      Elkeen van ons se storie is uniek, want mense beleef en interpreteer dieselfde insident verskillend – daarom behoort hierdie stories vertel te word. Wanneer daar weer en weer uitgevra word om meer te hoor van wat werklik gebeur het, verander die inhoud of die belewenis daarvan vir die verteller én die hoorder. Dit is met hierdie herhaaldelike belangstellende luister dat die konteks van dít wat gebeur het, beter verstaan word en selfs só verander dat die verteller by die werklike verhaal uitkom. Dan kom daar genesing.

      Menige soldaat of veteraan wat steeds met gebeure uit die verlede sukkel, moet die geleentheid gebruik om dit wat met hom of haar gebeur het, oor te vertel. Veral soldate wat in gevegte was, moet besef dat radikale deursigtigheid van die belewenis ontstaan deur daaroor te praat en dat juis dit tot volle genesing lei. Sedert die stigting van die 61 Gemeganiseerde Bataljongroep (voortaan 61 Meg) in 1979 en die 38 oorgrensoperasies waarby die eenheid betrokke was, is daar besef dat iets gedoen moet word. Daar is steeds veterane wat met skok, hartseer, pyn en trauma leef, maar wat dit ontken of wat die dinge wat pla, probeer vergeet sonder om iets daaraan te doen. Daar is besluit om veterane te nooi om hulle wedervarings op skrif te stel en dit op die 61 Meg-webblad te plaas.

      Die 61 Meg-veteranevereniging funksioneer in streke waar tien en meer veterane periodiek bymekaarkom en die geleentheid kry om hulle operasionele ondervindings en stories met mekaar te deel. Vir sommiges is hierdie byeenkomste van groot waarde en ’n bron van krag en inspirasie.

      Geen storie het net een kant nie. Dit is keer op keer bewys dat stories van die Grensoorlog, wanneer dit in ’n groep vertel word, uiteenlopende ervarings na vore bring wat sodoende die konteks verander. Stories wat in groepsverband vertel word, wys ook dat bepaalde herinnerings loskom en meer betekenis aan gebeure, en veral traumatiese ervarings, gee. Oor ’n periode van twee jaar is daar meer as 300 skriftelike bydraes gepubliseer. Roelf Schoeman, wat deel geword het van die ondersteuning aan veterane, het besluit om van hierdie stories in hierdie boek te plaas. Dit is nie moontlik om die positiewe reaksie hierop te kwantifiseer nie, alhoewel daar onomstootlike bewyse van spesifieke gevalle van genesing en aanvaarding is.

      Die boek deur Louis Bothma oor die besoek wat 61 Meg-veterane aan Angola gebring het, Anderkant Cuito, bevat verskeie voorbeelde van ontmoetings tussen partye wat voorheen teen mekaar geveg het en wat uiteindelik vryelik oor die oorlog met mekaar kon gesels. Dit het vir albei partye geweldig baie beteken in die proses van versoening en aanvaarding. Wanneer die dag aanbreek dat voormalige vyande in Suid-Afrika (statutêre en nie-statutêre magte) begin om hulle stories met mekaar te deel, sal dit ook die dag wees wat hierdie land van versoening en vereniging kan begin praat.

signature.tif

      Generaal-majoor (afgetree) Johann Dippenaar

      ERKENNINGS

      Baie dankie aan almal wat my ondersteun het om hierdie boek ’n werklikheid te laat raak. Sonder julle bydrae sou hierdie stories nie vertel kon word nie.

      Dankie aan my ouers vir die ouerhuis waarin ek kon grootword. Pa Roelf, jy is vir my ’n voorbeeld wat ek nog al die jare kon nastreef. Dankie dat jy my lief gemaak het vir stories. Ma Nelie, dankie dat jy gesorg het dat ons ouerhuis altyd ’n veilige hawe is waarheen ons tydens die storms van die lewe kon onttrek waar ons weer krag kon kry om aan te gaan.

      Vir my vrou Elize, dankie vir al jou ondersteuning en bemoediging. Saam kon ons ’n tweede huwelik en hersaamgestelde gesin maak werk – ten spyte van al die uitdagings.

      My kinders, Hardus, Eksteen en Roelize, julle is kinders waarop enige pa trots sal wees en ek weet daar wag ’n wonderlike toekoms op julle.

      Aan proff Yolanda Dreyer en Julian Müller en dr Andre de la Porte by wie ek so baie oor narratiewe gesprekvoering en pastorale sorg kon leer. Julle het my ondersteun in die proses om ’n nuwe loopbaan te kon begin.

      Vir my kollegas by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening – prof Malan Nel, dr Stephan de Beer en dr Hannes van der Walt – dankie vir die geleentheid en ondersteuning om ’n verskil in ons gebroke gemeenskap te kan maak.

      Vir al die militêre leiers onder wie ek as lid van die SAW en later die SANW kon dien, baie dankie vir die insette en leiding in soms moeilike en uitdagende omstandighede.

      Aan al die storievertellers wat bereid was om hulle stories met ons te deel. Ek vertrou dit sal vir die lesers net so ingrypend wees as wat dit vir my is.

      Aan die manne van die veteraneorganisasie van 61 Meg Infanterie Bataljon wat my by hulle skouerskuur-geleenthede betrek het. Veral genl Johann Dippenaar, genl Roland de Vries, Gert Minnaar en Ariel Hugo, dankie vir die inligting en julle ondersteuning met die skryf van die boek.

      Lux Verbi, in die besonder Veronica Scholtz, dankie vir julle geloof in die boek en ondersteuning om dit op die ou end die lig te laat sien. Sonder julle betrokkenheid sou die boek nie kon wees wat hy is nie.

      INLEIDING

      Die onderhoud met Anthony Feinstein oor sy boek, Kopwond: Vergete slagoffers van die Bosoorlog, op Radio Sonder Grense in 2011, het my baie opgewonde gemaak oor sy boek wat toe pas verskyn het. Hy was as dienspligtige ’n psigiater by die Mediese Afdeling van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en het dus baie met die sielkundige aspekte van die oorlog te doen gekry. Ek het die afgelope jare navorsing oor die sielkundige effek van oorlog gedoen en daarna uitgesien om sy boek te lees. Sy storie het my egter onkant betrap. Dit het soveel herinnerings en onverwerkte emosies in my losgemaak dat ek besef het dat ek, ter wille van myself en my gesin, myself moet onttrek en die boek so gou moontlik moes deurlees. Dit was die Vrydag en aan die einde van die naweek was ek klaar met die laaste hoofstuk. My gesin het my gemoedstoestand gesien en my alleen gelaat om deur my emosies te werk.

      Ek en Anthony het in dieselfde tydperk diensplig gedoen. Hy sluit sy boek af met ’n beskrywing van sy ervaring toe hy weer ’n ou weermagbasis waar hy die meeste van sy intense ervarings gehad het, gaan besoek het. Sy besoek het heeltemal anders verloop as wat hy verwag het, want hy het heelpad terug vanaf die Tsandi-basis gelag. Die vertel van sy storie het dus vir hom genesing en bevryding gebring. Ek was jaloers op Anthony, want ek het nog nie hierdie bevryding ervaar nie. Sy storie het my met herinnerings wat ek nog nie deurgewerk het nie, gekonfronteer, maar ook weer laat besef watter genesende krag die vertel van stories het. Dit het my aangemoedig om aan te hou om my storie op die regte manier oor te vertel en selfs hierdie boek te skryf en ander dienspligtiges aan te moedig om ook nie meer stil te bly nie. Anthony woon nie meer in Suid-Afrika nie en het sy storie baie effektief binne die konteks van ’n Engelse burger van Suid-Afrika vertel. As Afrikaner-jongman het ek my diensplig en veral die gebeure in ons land ná die Grensoorlog anders as Anthony ervaar.

      In 1989 was daar wêreldwyd ingrypende veranderings wat ’n invloed op Suid-Afrika sou hê. Die val van die Berlynse Muur op 9 November het die einde van Kommunisme en die Koue Oorlog aangekondig. Op 8 Augustus het mnr Pik Botha, destydse minister van buitelandse sake, genl Magnus Malan, minister van verdediging, en genl Jannie Geldenhuys, hoof van die SAW, op ’n perskonferensie die SAW se onttrekking uit Angola aangekondig. Op 22 Desember is die New York-akkoord ná ’n paar rondtes samesprekings onderteken. Dit het ’n amptelike einde aan die Grensoorlog gebring.1

      Hoewel daar vrede en ’n nuwe bestel


Скачать книгу