Weermagstories. Roelf Schoeman

Weermagstories - Roelf Schoeman


Скачать книгу
en dit het hulle nie gehelp om vrede te maak met die oorlog wat hulle so baie gekos het nie.

      Daar is steeds omstredenheid oor die gevegte by Cuito Cuanavale en oor wie regtig die oorlog in Angola gewen het. Die South West Africa People’s Organization (SWAPO) teen wie die SAW geveg het, het op die ou end aan bewind gekom in Namibië en dit het die gevoel dat die oorlog onnodig was, versterk. Ek onthou nog met watter gemengde gevoelens ek gekyk het hoe die ou Suid-Afrikaanse vlag tydens die onafhanklikheidsviering op 21 Maart 1990 in Namibië gestryk, en die nuwe vlag onder groot gejuig gehys is. Niks het my egter voorberei op die ontnugtering wat ek as voormalige dienspligtige en later ook as lid van die Staandemag in die jare negentig in Suid-Afrika sou ervaar nie.

      Dienspligtiges is in die jare tagtig deur die blanke gemeenskap op die hande gedra. Met my uniform aan kon ek net langs die hoofpad gaan staan en ’n vriendelike oom en tannie sou my gou oplaai en behandel asof hulle my reeds goed ken. Hulle sou ook dadelik vertel van hulle seun of familielid wat ook besig was met diensplig. Op die grens het ons gereeld briewe van geliefdes in die “States” ontvang wat ons verseker het van hulle gebede en ons aangemoedig het om sterk te staan in die verdediging van ons nasie en ons land teen die vyand wat ons wil beroof van alles wat vir ons kosbaar was. Ek onthou hoe vrywilligers van kerke (by ons bekend as “dankie-tannies”) kospakkies na die grensbasisse gestuur het.

      Amper elke familie het iemand gehad wat diensplig gedoen het. My ma het Gabrielle Malan se boek, Ek het iemand op die grens, gekoop om haar te help om my meer effektief te ondersteun. Ek het weer vir my gesin die humoristiese boekreeks van Johan van Pletzen, Briewe van Kleinjan, gestuur om die ligter kant van diensplig vir hulle te wys. Daar was rolprente soos Grensvegter, Ses soldate en Boetie gaan Border toe. Leon Schuster het die liedjie “Ag man dis lekker in die Army” geskryf. Vermaaklikheidsterre het die grensbasisse besoek en ons is as die helde van die samelewing beskou.

      Die stelselmatige ontnugtering van die oorgangsproses in die jare negentig en veral die beeld wat ek ervaar het van die ou SAW en dienspligtiges wat tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) geskets is, het my ontnugter. Soos Hermann Giliomee dit in sy boek Die Afrikaners – ’n biografie stel, was die twee jaar lange WVK waar daar maksimum-publisiteit gegee is aan die gruweldade wat deur die veiligheidsmagte gepleeg is, ’n groot skok vir baie wit mense en veral die Afrikaners.2

      Die werklikheid van die breër Suid-Afrikaanse konteks van die Grensoorlog het toe eers tot my deurgedring. Die SAW het daarop geroem dat hulle polities neutraal is en nie een politieke party ondersteun nie. Dit het hulle ook bewys deur onverbiddelik teen linkse en regse ekstremistiese groeperings soos afvallige lede van Umkhonto we Sizwe (MK), Azanian People’s Liberation Army (APLA) en die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) wat die vrede bedreig het, op te tree. Hulle het dus in die oorgangsjare stabiliteit vir die politieke oorgangsproses na ’n meerderheidsregering verseker. Hierdie beeld van die SAW is tydens die WVK oorskadu deur die beelde van wat ’n klein element verkeerd gedoen het. Dit wou voorkom asof die breë Suid-Afrikaanse samelewing nie die onderskeid kon tref tussen die positiewe bydrae van die ou SAW en dienspligtiges en die minderheid oortreders nie, en almal oor dieselfde kam geskeer het.

      Ek onthou nog hoe teenstrydig die ervaring van die nuwe Suid-Afrikaanse “reënboognasie” van die jare negentig teenoor dié van die samelewing in die jare tagtig was. Eers nadat ek die gedeelte oor oorlogstrauma in Judith Herman, ’n psigiater wat intensiewe navorsing oor trauma gedoen het, se boek Trauma and Recovery gelees het, het ek besef wat met my gebeur het. Ons was net soos die Amerikaanse soldate wat in die Viëtnamese oorlog geveg het, ontnugter oor hoe die bevolking ons ná die oorlog hanteer het. Ek het ook ervaar dat dit waarvoor ons al die jare in die Grensoorlog geveg het, nie deur die algemene bevolking erken is nie.

      Chris Louw se “Ope brief aan Willem de Klerk” in Mei 2000 het ’n diskoers in Afrikaner-geledere oor die vraag of diensplig regtig die moeite werd was aan die gang gesit wat my baie opgewonde gemaak het.3 Met sy boek, Boetman en die swanesang van die verligtes, was Louw die eerste persoon wat die frustrasie van die groep Afrikanermans verwoord het oor wat hulle in die jare negentig ervaar het. Die gesprekke wat hy ontlok het, sou ’n groot invloed hê op die denke van die sogenaamde “Boetman-generasie” wat diensplig gedoen het. Dit wou dus voorkom asof die Afrikanermans vir die eerste keer werklik bereid was om te begin praat oor wat hulle ervaar het. Toe ek egter in 2002 met ’n uitgewer oor ’n moontlike boek oor die verwerking van die ontnugtering wat dienspligtiges beleef, gesels, was die antwoord dat hulle nie dink die boek sou aftrek kry nie omdat dit lyk asof die dienspligtiges nie oor die Grensoorlog wil praat nie. Hoewel ek baie gretig was om ’n boek te skryf was my ervaring in daardie stadium ook dat die blanke samelewing nog nie oor diensplig wou praat nie en die tyd nog nie ryp was nie.

      Die afgelope jare is verskeie boeke soos JH Thompson se boek, An Unpopular War: Voices of South African National Servicemen,4 egter oor die Grensoorlog geskryf en vurige debatte is in die media gevoer oor wie die oorlog gewen het en of die oorlog die moeite werd was. Dat oudsoldate toenemend in groepe onder leiding van veteraanorganisasies die ou slagvelde besoek om vrede te maak met die dinge wat daar gebeur het, was ook verblydend. Militêre veteraanorganisasies skep ook geleenthede vir ouddienspligtiges om hulle stories te vertel en die verlede te verwerk. Dit was ook opmerklik dat die meeste boeke gehandel het oor mense wat hulle unieke stories vertel. As narratiewe terapeut, wat terapie doen met mense deur hulle toe te laat om hulle stories te vertel, was ek dankbaar oor die nuwe tendens.

      Nadat ek Feinstein se boek gelees het, het ek besluit om nie net my storie te vertel nie, maar ook riglyne vir my mede-oudstryders te gee oor hoe hulle finaal vrede met die oorlog kan maak. Tydens die toepassing van narratiewe terapie, het ek ervaar hoe mense meer perspektief kry en genesing van emosionele wonde ervaar wanneer hulle hul stories vertel. Deur hierdie boek wil ek die dienspligveterane aanmoedig om die seer en ontnugtering van hulle unieke stories in ’n veilige omgewing aan iemand wat waarlik na hulle luister, te vertel. Ek wil ook hulle familie, veteraanorganisasies en die geloofsgemeenskap betrek in die proses om hulle te ondersteun. In die jare tagtig was die holistiese ondersteuning van die blanke samelewing vir my ’n riem onder die hart. Kan ons nie weer saamstaan om mense wat nog sukkel om vrede te maak met ’n oorlog wat al lankal verby is, te ondersteun nie?

      “’n Christelike gemeenskap is daarom ’n genesende gemeenskap, nie omdat wonde genees word en pyn verlig word nie, maar omdat wonde en pyn openinge of geleenthede word vir ’n nuwe visie. Gemeenskaplike belydenisse word dan ’n gemeenskaplike verdieping van hoop, en gedeelde swakhede word ’n herinnering aan een en almal van die komende krag.”

      – Henri Nouwen (Vertaal uit The Wounded Healer)5

      Die eerste hoofstuk van hierdie boek handel oor die psigologiese impak van oorlogstrauma op ’n individu. In hierdie gedeelte wil ek my mede-oudstryders daarop wys dat dit wat ons ervaar het, normaal was. Selfs dit wat ons nou ervaar, is ook normaal. Dit is nie ons skuld nie, want dit is maar net die uitwerking van dié dinge wat met ons gebeur het waaroor ons nie beheer gehad het nie. Daar is baie lesse te leer uit hoe die Amerikaners en ander oorlogsveterane die trauma wat hulle ervaar het, verwerk het. Ek wys dus op die ooreenkomste met ander oorloë en veral dit wat ons en die Amerikaanse veterane van die Viëtnamese oorlog ervaar het.

      In die tweede hoofstuk bespreek ek die narratiewe gesprekvoering en waarom ons genesing ervaar deur ons stories te vertel. ’n Mens behoort jou storie so te vertel dat jy daardeur perspektief oor die verlede en dit wat werklik gebeur het, kan kry. Om ’n storie nou te vertel oor dinge wat so lank terug gebeur het, is nie maklik nie en daarom skram ons weg daarvan. Daarom behoort jy, wanneer jy dit nou doen, so te doen dat dit nie net maar ’n tevergeefse proses is wat homself herhaal nie.

      Om jou verhaal aanhoudend vir ’n kroegman of iemand wat nie werklik daarin belangstel nie te vertel help jou niks nie. Wanneer jy dit egter vir iemand wat daar was en met dieselfde probleme as jy worstel, vertel om oplossings vir wat jy nou ervaar te soek, sal dit definitief ’n genesende effek op jou hê en jou help om ’n beter perspektief te kry. Ons gee ook riglyne aan familie of enige ander mense wat ander wil help om hulle stories te vertel.

      Nadat ek hierdie basis gelê het van hoe iemand gehelp kan word om stories te vertel, sal ek in die volgende hoofstuk eers my storie as inleiding tot verskeie ander stories van genesing, hoop


Скачать книгу