Ek kies steeds die kerk. Neels Jackson
n>
EK KIES STEEDS
DIE KERK
Stories, stryd en standpunte oor die kerk en die wêreld
Neels Jackson
Lux Verbi
Hierdie boek word opgedra aan Louise, my medepelgrim op die lewenspad.
VOORWOORD
Joernaliste wat die voorreg verdien om twee dekades lank verslag te doen op ’n “beat,” raak dikwels net so goed ingelig – en in sommige gevalle selfs beter – as baie van die mense wat self op daardie terrein werk.
Nie net omdat hulle spesiale talente en gawes het nie – dit moet hulle immers hê om so lank voor die paaltjies te kan bly – maar ook omdat joernaliste die voorreg het om van die beste sitplekke in die arena te kry. Hulle kry die kans om met die bestes, sterkstes, slimstes en magtigstes te praat, hulle te leer ken en dan billik, reguit, eerlik en verstaanbaar oor te dra wat op daardie terreine gebeur.
Hulle beleef die hoogtepunte, die laagtepunte, die toppunt van prestasie, die dieptes van mislukking, die skerp kant van konflik en die skoonheid van vrede. Hulle dra dit só oor dat lesers begryp wát gebeur en hóékom dit gebeur. As hulle dit twintig jaar lank doen, ken hulle die kwessies en die mense later so goed soos hul eie familie.
Neels Jackson was as Beeld se kerksakeverslaggewer juis só ’n joernalis. Hy het daardie plek deeglik verdien. Hy het sy gawes gebruik op ’n manier wat vir hom agting verdien het. By predikante, akademici en ander “beroepsgelowiges.” By medejoernaliste. Ook by die lesers vir wie hy hard gewerk het om te sorg dat hulle begryp wat in die kerke gebeur en wat die neigings in die geloofslewe van Suid-Afrikaners is.
Neels is een van die min joernaliste wat dit reggekry het om ook die vertroue en respek te wen van mense of groepe oor wie hy krities verslag gedoen het. Al was dit soms ’n teensinnige respek.
As kollega is ek telkens getref deur Neels se eerlikheid en erns. Hy gaan nie sommer ligsinnig om met enigiets waarby hy betrokke raak nie. Dit sien ’n mens onder meer in sy fotografie van voëls, die manier waarop hy en sy vrou, Louise, die Camino de Santiago aangepak het, sy liefde vir krieket – hy het dikwels ’n week verlof geneem om ’n vyfdagwedstryd by te woon – en in sy eie geloofslewe.
Elke woord in sy skryfwerk en selfs in gesprekke, is meestal so deeglik bedink en geweeg, elke sin so nadenkend en presies saamgestel, dat dit ’n plesier is om te lees, en moeilik om sy kopie te sny.
Elke woord uit Neels se toetsbord verdien om gelees en weer gelees te word.
Peet Kruger
Johannesburg 2014
INLEIDING
“Jy gaan nie ryk word nie, maar jy gaan ’n ryk lewe hê.”
Male sonder tal het ek dié opmerking gemaak teenoor jong joernaliste of skoolkinders of studente wat ’n loopbaan in die joernalistiek oorweeg het.
Dit was in elk geval my belewenis oor die 23 jaar en 6 maande dat ek ’n joernalis by Beeld was. Ek het toevallig in die joernalistiek beland nadat ek my loopbaan as Afrikaansonderwyser begin het. My opleiding het ’n BA-graad, ’n nagraadse onderwysdiploma en ’n honneursgraad in Afrikaanse letterkunde ingesluit.
Skryfwerk was ’n passie. Die letterkunde het my bekoor en in my eie laaie het die hopies gedigte en stories gedurig gegroei. Terselfdertyd het die nuus my altyd geïnteresseer. Dit het gekom uit die huis waarin ek grootgeword het waar my ouers elke dag ’n koerant gekoop het – en Sondae twee.
Ook die kerklike lewe het my belangstelling geprikkel. In die 1980’s, toe Suid-Afrika onder noodtoestande gebuk gegaan het, het die NG Kerk hom geleidelik begin loswikkel van apartheid.
Ek was in my twintigs, pas getroud en het by twee groepe in Pretoria ingeskakel wat hulle met dié problematiek besig gehou het. Die een was Reforum, ’n forum op reformatoriese grondslag wat kwartaalliks saamgekom het om die kwessie te bespreek. Die ander was Koinonia, dr. Nico Smith se organisasie, wat klowe wou oorbrug deur kontak tussen wit en swart Christene te fasiliteer (vergelyk “Wit en bruin in ’n dubbelbed by die swart Geels”).
Dis teen dié agtergrond dat ek in 1990 gehoor het Beeld soek ’n verslaggewer wat kerksake kan hanteer. Ek het aansoek gedoen en die avontuur het op 1 Junie 1990 begin.
Waar ek gevoel het dat my wêreld as onderwyser so groot was soos die klaskamer en die personeelkamer, het my horisonne as joernalis eindeloos verbreed. Ek het op plekke gekom en mense leer ken van wie Jan en San Alleman net in die koerante lees.
As verslaggewer kry ’n mens te doen met almal van plakkers tot presidente – en op ’n manier leer jy om almal met dieselfde basiese respek te hanteer.
’n Mens leer om te luister, fyn te luister, want jou werk is om die mense met wie jy praat, se perspektiewe met jou lesers te deel, nie om jou eie siening daarvan te verkondig nie.
Die beste kompliment wat ’n verslaggewer kan kry, is as iemand hom- of haarself herken in ’n stuk wat jy oor daardie persoon geskryf het, en kan sê: “Ja, dis ék daardie.”
Op ’n dag vra iemand oor ’n artikel wat ek oor die een of ander kerkmens geskryf het: “Word hulle nie kwaad as jy sulke goed oor hulle skryf nie?” Dít kort nadat die persoon oor wie die storie gegaan het, gebel en gesê het: “Dankie dat jy my korrek gerapporteer het.”
In sý gemoed het hy goed gelyk. Die ander persoon het gedink hy lyk sleg. Die verslaggewer se werk is nie om daardie keuse te maak nie. Hy of sy moet bloot die spieël ophou. Die leser sal self besluit of die prentjie daarin mooi of lelik is.
My werk het my veral na kerkmense geneem. Daar was ander ook: politici en krieketspelers. Kunstenaars, regslui, natuurbewaarders, misdaadslagoffers, sakelui. Brandarmes en skatrykes. Helde en skurke. ’n Bonte mengelmoes uit ons reënboognasie en verder.
Hierdie versameling fokus grootliks op die kerke waar my hooftaak as verslaggewer gelê het. Ek het vroeg-vroeg geleer dat elke kerk, elke tradisie, elke stroom binne die groot Christendom sy eie sterk- en swakpunte het. By elke kerk, het ek gevoel, is daar iets wat jy kan leer en by elke kerk is daar dinge wat jy liefs anders kan doen.
My benadering was om my persoonlik te laat verryk deur ander se sterkpunte, maar om hul swakpunte by my te laat verbygaan.
Miskien is dít wat daartoe bygedra het dat my joernalistiek nie soveel gekonsentreer het op die ondersoek na wat verkeerd was nie. Dáárvan was daar ook, maar in die kerklike woud het ek veel eerder gesoek na goeie paaie.
Veral later in my loopbaan, toe ek self ryper was, het dit vir my al meer begin gaan oor stories wat inspireer, stories van hoop, verhale wat koers aandui. In die groot potjiekos wat elke koerant is, was dít die bestanddeel wat ek wou bydra om die geheelresep ’n ryk smaakervaring te maak.
Die hooftaak van ’n verslaggewer is om nuusberigte te skryf. Dit is die stapelvoedsel van ’n dagblad. Dis egter ook die mees vervlietende deel van die koerant. Vandag se nuus is oor ’n week dikwels vergete. ’n Klein gedeelte van hierdie versameling bestaan daarom uit nuusberigte.
Die meeste van die stukke wat hier opgeneem is, is wat ons in die joernalistiek artikels noem: langer stukke wat meer diepte het as berigte. Baie daarvan is profiele van mense in die nuus, maar soms gaan dit oor kwessies.
Dan is daar ook rubrieke waarin ek my eie ervarings of perspektiewe kon deel, soos die een waaraan die titel van dié bundel ontleen is.
In die volksmond het die woord “sensasie” ’n soort vloekwoord geword om opspraakwekkende, maar oppervlakkige joernalistiek mee te beskryf. Die waarheid is dat ’n joernalis met elke stukkie skryfwerk sy leser se emosies wil aanraak. Soms wil jy jou lesers ontstel. Soms wil jy hulle amuseer. Soms wil jy hulle skok. Ander kere wil jy hulle bly of opgewonde maak. Partykeer wil jy hulle inspireer. Die een ding wat jy nooit, nooit wil doen nie, is om jou leser te verveel.
Hierdie bundel bevat ’n spektrum van soorte skryfwerk wat die leser op verskillende maniere wil aanraak. Uit ’n loopbaan van byna