Ek kies steeds die kerk. Neels Jackson
af preek, as deel van die erediens.
Ek kon dit nogal verstaan. In die Sondagskool het ek genoeg gehoor van die “Roomse Gevaar.” In die geskiedenisklas in st. 6 het ek dit weer geleer toe ons die Hervorming behandel het. Vandag word die Rooms-Katolieke Kerk steeds gereken as een van die Christelike kerke wat ekumenies die verste van die NG Kerk af staan.
En tog.
Ek het tevore al met vader Bonaventure te doen gehad. En met die Roomse biskoppe van Suid-Afrika. Ek het al met hulle oor verskeie aspekte van die godsdiens gepraat.
Hulle pas eenvoudig nie in die prentjie uit my Sondagskooljare nie.
En toe sit ek die oggend in die kerk en kyk hoe vader Bonaventure die trap van die preekstoel bestyg.
Ek het gewonder of hy ’n pak klere sou dra. Maar toe die deur van die konsistorie oopgaan, verskyn hy in sy lang bruin priestergewaad, soos die priester in die advertensie wat hoe lank uitgehou het, maar eindelik tog moes swig voor die versoeking van ’n heerlike tros druiwe.
Aan sy voete het vader Bonaventure ’n paar bruin sandale gedra, sonder sokkies.
Toe ons deur die geloofsbelydenis is, kom hy aan die woord. En ek luister met gespitste ore na sy gebed.
“God, ons Vader,” begin hy en hy sê dankie dat God ons bymekaargebring het om saam sy Naam te prys. “Lei diegene wat U na u Koninkryk roep, tot eenheid in geloof en liefde dat hulle saam U en U alleen mag dien,” vra hy twee sinne later. Hy bid vir berou oor sonde en vir eenheid van God se gemeente. En hy vra dit “deur ons Here Jesus Christus, u Seun, wat met U en die Heilige Gees leef en regeer: een God tot in ewigheid.”
Hy lees sy eie vertaling van een van die Psalms voor en daarná Paulus se lofsang uit Romeine 11. Toe hy daarmee klaar is, kom die enigste duidelik Rooms-Katolieke kenmerk van die diens na vore. Sy een hand beweeg na sy voorkop en sak af tot voor sy maag. Met die vingerpunte bymekaar, trek dit die horisontale lyn van skouerknop tot skouerknop om die kruis te voltooi. En sy mond sê die woorde wat so bekend is in die gereformeerde tradisie: “In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”
Sy preek is eenvoudig. Dit gaan oor die vraag: “Wat is godsdiens?” Beteken dit, vra hy die gemeente, dat ons in diens van God staan? Of dat God in ons diens staan? Hy vra die vraag oor die samelewing. Oor die politiek. Oor die ekonomie. Dieselfde vraag word gevra oor mense se persoonlike lewe.
“Baie mense bly taamlik ver van die gebed af totdat hulle siek word of ’n ander ramp hulle oorval. En dan word God skielik oorval met gebede en vrome praktyke,” sê hy. Sy woorde sny deur ’n klomp opvattings oor kultuur. En ek dink daaraan dat ’n dansonderwyser eens vir my gesê het party mense loop net, selfs al dans hulle. Ander dans, selfs al stap hulle net.
En met sy woorde dans die digter deur konsepte waaroor my gedagtes al hoeveel keer gestrompel het. Tot by sy teks: Paulus se lofsang aan God. Dit is ’n belangrike deel van egte godsdiens, leer hy, dat ons tyd bestee om ons te verwonder aan God se grootheid, sy wysheid, sy kennis. En die teks word oopgebreek sodat ons iets van Paulus se verwondering oor God kan deel.
Later sluit hy af: “Dit alles kom neer op ’n bewondering van die almagtige God van liefde. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.”
Ek het later ’n bandopname van die preek gekry om weer te hoor wat vader Bonaventure gesê het. Sy woorde kon ek nie onthou nie. Maar in my gemoed het daar weer iets oopgegaan oor die grootheid van God. En ek het besef: As die sterre hul oë knip, sal dit dáároor wees.
(Uit Beeld, 21 September 1993.)
OUER, MOEËR ADRIAAN VLOK STAP ’N EENSAME PAADJIE
Mnr. Adriaan Vlok is sestig, maar die man wat ’n dag en ’n half lank in kruisverhoor geneem is voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie se amnestiekomitee, lyk ouer.
Heelwat ouer, in elk geval, as die joviale minister wat ’n klompie jare gelede nog buite die stadsaal van Verwoerdburg gestaan en skerts het met kiesers wat tougestaan het om te stem. Sy gesig is maerder, sy hare yler en daar is klein plooitjies op sy vel wat nie altyd daar was nie.
Dis nie maklik om voor die amnestiekomitee van die Waarheids-en-Versoeningskommissie te verskyn nie. Hoe onthou ’n mens alles wat tien, twaalf jaar gelede gebeur het, hoekom dit gebeur het, presies wat gesê is?
Veral as jy nog ondervra word deur advokate wat elkeen sy eie agenda het en wat jou woorde probeer plooi sodat dit sy saak pas.
Teen die einde van sy kruisondervraging gee Vlok self miskien die belangrikste rede waarom dit moeilik is: “Dis nie lekker om skuld te aanvaar nie.”
Tydens die onderbreking, nadat sy kruisverhoor afgehandel is, wil hy niks sê nie. Op regsadvies, sê hy. Maar jy hoor iewers hoe hy laat glip dat dit ’n eensame paadjie is om te stap. En ’n mens sien dit, want al sit twee regsmense langs hom wanneer hy getuig, al is sy generaal van destyds skuins agter hom en al is daar verskeie ander operateurs wat saam met hom amnestie vra, sit hy ’n ete lank alleen in die saal en blaai deur sy dokumente.
Terwyl oudkapt. Michael Bellingan se getuienis aan die gang is, sit hy heel agter, skuins onder die borde wat in verskeie tale sê: “Openbaring is genesing.” En toe sy prokureur met ’n stapel dokumente onder sy arm ingestap kom en Vlok hom wil help, sê die regsman: “Toe maar, jy dra ’n baie swaarder las.”
Maar as die kruisverhoor begin, is sy stem nog so wakker en jonk soos altyd. Cosatu se prokureur probeer aantoon dat ’n veldtog van bomaanvalle en brandstigting teen sy organisasie gemik was.
Ja, gee Vlok toe. Hy stem saam, dit lyk só. Maar nee, hy was nie destyds bewus van só ’n veldtog nie.
Die SARK se regsman wil hê dat Vlok moet erken dat dié liggaam nie geweld gesteun het, daarby betrokke was of die ANC/SAKP gesteun het nie. Die gesprek loop dié kant toe en dáárdie kant toe en telkens wanneer dit lyk of die oudminister in ’n hoek beland, erken hy hom daaruit: “Ja, ons was verkeerd, maar dis hoe ons dit destyds gesien het. Dis hoe ons gedink het. Maar ons was verkeerd.”
Nooit probeer hy gebeure van destyds wegpraat nie. Dikwels kan hy nie presies onthou nie, maar telkens verduidelik hy hoe hy en sy mense destyds gedink het. Hy laat nie toe dat regsmense hom woorde in die mond lê waarmee hy nie saamstem nie. Maar nêrens probeer hy die skuld op iemand anders afskuif nie.
In ’n stadium wend hy hom tot die regter om hulp: “Voorsitter, hy kan nou met woorde speel, maar ek is in die moeilikheid.”
Wanneer die SARK aanvoer dat die regering ’n oorlog van geweld teen hom en Cosatu gevoer het, antwoord Vlok amper heftig: Nee, dis nie korrek nie. Hulle het wel ’n oorlog gevoer teen dié organisasies, maar net met wetlike instrumente. Dit was eers toe wetlike instrumente nie meer gehelp het nie dat hulle onwettige dade gepleeg het.
Mettertyd kry die SARK-man sy erkenning. Nie die SARK nie, nie die Katolieke biskoppe nie, nie enige lidkerk van die SARK was betrokke by geweld nie. Maar die regering van destyds het geglo Khotso-huis word misbruik deur bomplanters en ander opstokers.
Oudpres. P.W. Botha se regsman is besorg oor ’n gesprek tussen Vlok en sy kliënt. Ja, bevestig Vlok, Botha het geensins gesê hy moet onwettig optree nie. Maar, voeg hy by, hy kon geen ander afleiding maak uit Botha se opdrag as dat onwettige optrede nodig was nie.
Teenoor Botha se regsman gee Vlok toe: Binne die Staatsveiligheidsraad is die konnotasie “doodmaak” nooit aan woorde soos “elimineer” en “neutraliseer” gekoppel nie. Teenoor Bellingan se regsman sê hy egter ook: As hy ’n operateur was wat sulke woorde in ’n dokument gelees het, sou hy dit “letterlik verstaan het.”
Teen die tyd dat die kruisverhoor byna klaar is, sit Vlok vorentoe op sy stoel, sy hande bymekaar voor sy mond soos iemand wat bid dat dit tog moet klaarkry. Maar van die kommissarisse het ook nog vrae.
Hoe voel hy nou oor sy verskyning