Ek kies steeds die kerk. Neels Jackson
psalms wat psalms van depressiwiteit is.
En dan is daar ook die vloekpsalms, dié psalms waarin die vyand verwens en vervloek word en wat dikwels vandag in kerke as problematies ervaar word. Soos Psalm 137, wat afsluit met: “Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen ’n klip verbrysel.”
In sulke gevalle het hy met die toestemming van die Psalmkommissie maar versag. “’n Mens sal iets sê soos ‘mag dit dan ook sy nageslag tref.’ ”
Een oggend, vertel Cloete, sit hy met só ’n vloekpsalm en hy vorder nie. “Jy moet getrou bly aan wat hier staan en ek kom nie reg nie, en ek loop hier uit en gaan posbus toe en kry ’n aanslag van die inkomstebelasting waarin hulle sê hulle het my dokumente nagegaan van die afgelope vyf jaar en ek weet nie hoeveel duisende rande moet ek betaal nie … Ek het teruggekom en toe die son sak, was daai vloekpsalm klaar. Tóé begryp ek jy kan heilig verontwaardig raak.”
Opperman was reg, sê Cloete, oor hoe ’n digter homself moet inleef in allerlei wêrelde. Hy haal aan: “Sewe selwe in myself gesluit.” ’n Digter moet sewe selwe hê. Jy moet as digter jouself kan verplaas. Jy moet onder ’n ander vel kan inklim. Hy verwys na sy gedig “Kleurloos” in die bundel Jukstaposisie, waarin hy dit het oor mense wat net een lewe in een liggaam leef, terwyl daar baie liggame is waarin ’n mens kan woon.
Self lewe hy “in drie verdiepings.” Hy lees graag oor die geologie, “want ek wil weet wat onder my aangaan.” En hy stel belang in die astrofisika – “nie dat ek altyd grondvat nie, maar ek verstaan darem waaroor hulle praat” – omdat hy wil weet wat bokant hom aangaan.
Dis soos Psalm 8 “wat gaan van die visse in die water onder ons voete, tot in die verste sterre; dis ’n psalm wat alles dek waarvan ons weet …”
Hy vertel hoe hy te werk gegaan het. Op een bandjie het hy die teks van die psalm opgeneem, op nog een die wysie. Dan het hy oor en oor in die motor daarna geluister as hulle byvoorbeeld afry Onrus toe. “Op dié manier leef jy met die ding in jou en ná ’n tyd kom dit maklik.” In Onrus het hy dikwels in vriende se strandhuis gewerk aan die psalms, en as hy vashaak, gaan visvang.
“Ek het een oggend gesien,” en hy val homself laggend in die rede om te wys hoe ’n gek beeld hy nou gebruik, “hier kom Moses op Poseidon se rug aangery. Toe het ek Psalm 90 gekry.”
En terwyl die kommissies wat sy werk moes nagaan en goedkeur hom soms vies gemaak het, is hy baie dankbaar vir die steun wat hy ook van dié mense gehad het. Hy noem prof. Herrie van Rooy as Ou Testamentikus, dr. Daleen Kruger as musikoloog, dr. Heilna du Plooy as literator. Daar was proff. Cas Vos, Riempies Prinsloo, Attie Barnard en Gerrit Olivier, almal lede van die kommissies wat met die psalms werk.
Noudat hy klaar is, is hy tevrede met sy werk, maar in Churchill se woorde sê hy: “I am unhappy without a war.”
Op sy leeftyd is daar baie mense wat Maandag bank toe gaan en kyk hoeveel geld hulle het, sê Cloete. Die res van die week weet hulle nie wat om te doen nie. Só kan hy nie leef nie. Daarom is hy jammer dat dit verby is. Hy sal nou maar ’n ander avontuur soek.
(Uit Beeld, 15 April 2000.)
CHRISTINA VRA MINDER BEPERKENDE GODSDIENSTAAL
(Christina Landman)
Toe Beeld Saterdag op sy voorblad lei met ’n berig onder die opskrif “Teoloog skok met d-woord,” het daar ’n lamheid oor haar gesak, sê prof. Christina Landman van Unisa. Word al haar werk dan nou só van die tafel gevee? het sy gewonder. Ek het met haar gesels oor haar werk en oor taalgebruik.
Sowat twee jaar gelede het prof. Christina Landman ’n skuif in haar teologie gemaak van ’n teologie van bevryding na een van heling. Haar feministiese teologie was byvoorbeeld een van bevryding, maar vandag praat sy veel liewer oor vennootskappe, “partnerships” soos sy dit noem. Oor die seer en gesond maak van verhoudings tussen mense.
Sy praat by baie kerke van verskillende denominasies oor dié tema. Vanjaar het sy reeds by sowat honderd kerke gepraat. Twee naweke gelede het sy van die Donderdag tot die Maandag sewe optredes gehad. Aan sulke optredes verleen sy hoë prioriteit, al geskied dit bo en behalwe haar akademiese werk by Unisa.
Die goed waaroor sy praat, suig sy nie uit haar duim nie, sê Landman. Dit is ervarings van mense wat sy in die praktyk teenkom. En sy sien hoe mense wat na haar luister, ontdooi omdat sy oor hul ervarings praat.
Baie van die ervarings waarmee sy te doen kry, kom uit die geselsgeskiedenisprojek wat sy vir Unisa se Instituut vir Teologie en Religie doen. Dit behels dat sy met mense van verskeie kerke gaan gesels en hul stories dan opteken.
Daar is talle stories van lyding maar deur dit op te teken, help sy mense om dit met hul eie godsdienstigheid te integreer. Dis ongelooflik bemagtigend vir mense wat nie dink hulle het ’n storie wat iets werd is nie, as hulle sien hoe hulle eie verhale opgeteken is, sê Landman.
En dis veral vroue wat dink hul eie stories is nie belangrik nie.
Haar tweede bron is die terapie wat sy doen as deel van die doktorsgraad in pastorale terapie (haar tweede doktorsgraad) waarmee sy besig is. By die Kalafong-hospitaal, waar sy deel van haar praktiese werk doen, is dit stories van verlies wat sy teenkom.
Die soort van ervarings wat daar uitkom, is dat ’n vrou Sondag haar dogter begrawe wat dood is weens vigs, terwyl hulle nie geweet het sy het die siekte nie. Maandag word die vrou se man doodgeskiet in taxigeweld en Dinsdag word sy self verkrag.
In die terapie wat Landman in die wit gemeenskap doen, kom daar talle verhale van vroue se lyding in huwelike na vore.
Sy haal statistiek aan uit navorsing in Australië as aanduiding van hoe dit ook in Suid-Afrika gaan. In tussen 70% en 90% van voorhuwelikse verhoudings in die middelklas is daar reeds sprake van verbale geweld. In 30% van sulke verhoudings is daar fisieke geweld.
Sy het self gewerk met twintig gevalle van vroue wat in psigiatriese klinieke opgeneem is ná verbale geweld deur hul mans. Dit is oor dié soort goed wat sy in kerk ná kerk praat, soos onlangs in die NG gemeente Bloemfontein-Noord. Dis in dié verband dat sy vir mense voorbeelde noem van goed wat gebeur. Soos dat ’n professionele vrou by die huis kom en deur haar man as ’n “dom doos” uitgeskel word.
As sy só iets aanhaal, is dit juis om vir mense te sê dís die soort taal wat nie in verhoudings gebruik moet word nie. Daar is talle sulke voorbeelde. Sommige is baie erger, sê Landman. “Wil die kerk nie daarvan weet nie?”
In Bloemfontein-Noord het sy haar boodskap oor verhoudings en die seer en gesond daarvan aan die hand van tien verhoudings in die Bybel gebring. Die gemeente het dit goed ontvang. Die dominee het gesê dié goed gebeur, sê Landman.
Sy dink ’n oomblik na as ’n mens haar vra oor die styl waarin sy praat en skryf.
“Ek probeer miskien woorde vat waar hulle nog nie was nie, maar dis héélmaakwoorde. Dis nie dat jy stir en jy los dit daar nie.” Haar boodskap is: “Hierdie is die woorde wat onder ons leef wat mekaar seermaak, maar daar is ander waarmee ons met mekaar kan praat.”
Ja, sê sy, sy het ook ’n pad geloop. Die bydraes wat sy deesdae vir Beeld se rubriek “Godsdiens Aktueel” skryf, lyk anders as dié wat sy geskryf het toe sy meer as vyf jaar gelede daarmee begin het.
Maar dit lyk vir haar daar is waarskynlik ’n gaping tussen haar en die samelewing. Sy besef nie altyd dat haar woorde mense ontstel nie. Sy doen dit nie met opset nie, maar omdat mense gewoond is aan kanseltaal … Sy val haarself in die rede. “Jy weet mense gooi kansels uit, maar hulle het nog nie kanseltaal uitgegegooi nie.”
Dit bring haar by ’n belangrike ding wat sy probeer doen: om ’n nuwe godsdienstige taal te kweek. Sy probeer doelbewus tradisionele godsdienstige taal ondermyn. Nie om die kerk te ondermyn of om mense se godsdienstige ervarings te ondermyn nie. Die godsdienstige tale wat die kerk het, Calvinisme en piëtisme, laat die kerk nie toe om oor sekere goed te praat nie. Dit laat