Ek kies steeds die kerk. Neels Jackson

Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson


Скачать книгу
waar hy ná sy aftrede as aartsbiskop en gemeentepriester gewerk het. Die afgelope anderhalf week het hy sy laaste vergadering van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskopperaad bygewoon.

      Kerklik en polities het hy veranderings beleef en help bewerkstellig wat in die geskiedenis as keerpunte opgeteken sal word en sit hy met ’n skatkis interessante staaltjies.

      Soos die slag toe hy genooi is na ’n banket op die jag van koningin Elizabeth toe dit Durban aangedoen het. Eenkant het hy iemand alleen sien staan en nader gestap om ’n geselsie aan te knoop. Dit was koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes.

      “Vertel my van jul konings sedert Cetshwayo,” het Hurley gevra. Terwyl die koning vertel het, het nog iemand hom by hulle aangesluit. In die skemer kon Hurley nie dadelik sien wie dit is nie.

      “Daar was ook groot koloniale kommissarisse,” het die man opgemerk, waarop Hurley gereageer het met: “En party wat nie so wonderlik was nie.”

      “Die sendelinge was erger,” het die man gesê, wat Hurley ’n bietjie verleë gelaat het, maar waarop koning Goodwill geantwoord het: “Hulle het ons skole gebou.”

      Daardie man, lag Hurley, was prins Philip, eggenoot van koningin Elizabeth. Die prins is mos hoeka daarvoor bekend dat hy altyd die verkeerde ding sê.

      Hurley vertel hy is in 1915 gebore, “’n paar maande ná Beyers Naudé.” Jare later sou hul paadjies kruis toe hy by Naudé se Christelike Instituut aangesluit het.

      Oor sy eie standpunt teen apartheid sê Hurley hy moes seker maar gebore gewees het met ’n sekere instink vir maatskaplike geregtigheid. Sy eie rol in die stryd was een van “hoofsaaklik praat.”

      Vir Naudé het hy ’n groot bewondering. Hy het ’n Damaskus-ervaring van die hoogste graad gehad, sê Hurley. En hoewel hy ’n ondersteuner van Naudé was, was Naudé hom ver voor met goed soos samewerking met jong swart mense.

      Self het Hurley een keer byna ’n potjie geloop met die gereg. Hy het in die vroeë jare 80 met ’n verslaggewer gepraat oor die wandade wat Koevoet in Namibië gepleeg het en is aangekla van beswaddering van die polisie.

      Adv. George Bizos sou hom verteenwoordig, maar drie dae voordat hy in die hof moes verskyn, is die saak teruggetrek. “Ek dink hulle wou my net besig hou,” lag Hurley. Vandag bestempel hy daardie jare as moeilik. Dit was deurmekaar jare, vol ongelukkigheid en geweld.

      Tydens die skryf van sy memoires is dit vir hom moeilik om te onthou presies wat alles wanneer gebeur het. Maar hy lag as hy gesels oor 1989, die jaar toe massaoptogte hul verskyning in Suid-Afrika gemaak het. Destyds was Hurley al in die 70 en hy noem dit “’n jaar waarin ons baie oefening gekry het.”

      Praat ’n mens oor die hoogtepunte van sy lang loopbaan is dit egter nie die stryd teen apartheid wat hy eerste noem nie, maar die Tweede Vatikaanse Konsilie van die vroeë jare 60. Die Rooms-Katolieke Kerk waarvan Hurley in 1947 die jongste biskop en in 1951 die jongste aartsbiskop geword het, was destyds ’n gefortifiseerde kerk. Oor eeue heen het hy hom afgesluit van invloede van buite.

      Daar was die groot kerkhervorming van die 16de eeu, die wetenskaplike revolusie van Copernicus en Galileo, ’n filosofiese revolusie met die Aufklärung, die nywerheidsrevolusie … Maar die kerk het hom van dit alles geïsoleer. Toe roep pous Johannes XXIII die wêreld se sowat 2 000 biskoppe in Rome byeen vir die aggiornomento of “opdatering” van die kerk.

      Van die pouse wat hy leer ken het, was Johannes XXIII die wonderlikste, vertel Hurley met ’n warmte in sy stem. Toe hy en ’n ander biskop dié pous ontmoet, het die pous aan hulle gesê: “Kom in, kom in, vertel my van jul vreugdes. Ons het almal probleme en ek meer as julle. Kom ons praat liewer oor ons vreugdes!”

      En toe hulle vertrek, sê die pous hulle moet kniel dat hy hulle kan seën. “Mag die almagtige God ons seën; ek het dit nodiger as julle. In die Naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees,” het die pous gebid, waarop die twee biskoppe skaterend daar weg is.

      Dis hierdie pous, hierdie “saintly man,” wat die deure van die kerk oopgegooi het sodat daar vars lug kon inkom. Vir Hurley, met sy liefde vir die geskiedenis, was dit ’n wonderlike ervaring om deel te kon wees daarvan.

      Daar is op alle gebiede hervorm. Hulle het byvoorbeeld afstand gedoen van Latyn as die taal waarin die mis in alle Katolieke kerke regoor die wêreld bedien moes word. Vir die eerste keer kon Katolieke die mis in hul eie taal aanhoor.

      Daar was hervormings wat leer betref en in die kerk se verhoudinge na buite. Baie meer klem is geplaas op die Bybel en daarmee het die Katolieke nader beweeg aan Protestantse kerke, vertel Hurley.

      Daar was moeilike kwessies, soos voorbehoeding, maar pous Paulus VI, Johannes XXIII se opvolger, het bespreking daaroor verbied. Sy mening, sê Hurley, is dat dit bespreek moet word. As die konsilie dit bespreek het, sou daar verandering gekom het, dink hy. Dis iets wat moet gebeur.

      Ook oor ander netelige kwessies in die Rooms-Katolieke Kerk, soos die ordening van vrouepriesters en die selibaat van die ampsdraers, dink hy só. Dit móét bespreek word. Verandering sal kom. “Dit móét kom.” Dit kan nie gekeer word nie.

      In die kerk is daar al gesê dat dit progressiewe sieninge soos dié is wat veroorsaak het dat Hurley nooit ’n kardinaal geword het nie. Hy lag daaroor. “Die pous het dit nooit aan my gesê nie,” antwoord hy. Hy meen dat daar oor die wêreld in elk geval baie verdiensteliker gevalle was van mense wat ook nooit kardinale geword het nie.

      Die destydse sportboikot teen Suid-Afrika was een van die dinge wat vir Hurley persoonlik ’n moeilike kwessie was. Hy was lief vir sy rugby en krieket en het graag toetse bygewoon.

      Op die vraag of hy op Kingsmead was in daardie “goue uur” in Februarie 1970 toe Graeme Pollock en Barry Richards ’n blitsige vennootskap van 103 teen Bill Lawry se Australiërs geslaan het, reageer Hurley onthuts: “Nee! Ek was in ’n vergadering van biskoppe!” Maar hulle het darem elke nou en dan die telling gekry en kon nie glo hoe die Suid-Afrikaners lopies slaan nie.

      En toe kom die sportboikot. Hy moes maar op sy tande byt en toegee dat dit seker nodig was, vertel Hurley. Maar dit was nie vir hom lekker nie.

      Nou is daardie en soveel ander groot stryde vir Hurley agter die rug. Nou is dit net die teboekstelling van sy memoires wat wag.

      Op die telkaart van die Katolieke Kerk sou ’n mens kon aanteken: Hurley … 86 nie uit nie. In die toekoms sal mense onthou dat hy ’n groot beurt gespeel het.

      (Uit Beeld, 2 Februarie 2002.)

      ’N MENS LOOP VOOROOR OM WEG TE STEEK DAT JY VROU IS

      (Annalie Steenkamp Nel)

squiggle.jpg

      Annalie Steenkamp Nel is in baie opsigte die toonbeeld van ’n moderne vrou: selfversekerd, bekwaam, goed versorg, mooi, intelligent, maar sy mag (nog) nie doen waarvoor sy opgelei is nie: om predikant in haar kerk te wees.

      Dis nou net meer as tien jaar gelede dat sy die teologiese opleiding voltooi het wat van ’n predikant van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika verwag word. Nou het die nasionale sinode besluit dat vroue nog drie jaar moet wag voordat ’n besluit geneem sal word of hulle as predikante gelegitimeer kan word.

      As sy terugdink, onthou sy ’n gediggie wat sy op skool oor God geskryf het. Die roeping om predikant te word, het geleidelik sterker geword. Drie maande nadat sy haar studie voltooi het, het die Gereformeerde kerk Akasia haar genader om pastorale werk te doen. Dit was vir haar ’n uiterlike bevestiging van haar innerlike roeping.

      Maar die pad wat sy geloop het, was nie altyd maklik nie. Sy praat van skuins opmerkings deur omies en vertel dat sy nie self die verslag oor haar werk aan die kerkraad kon voorhou nie.

      “’n Mens begin later vooroor loop om weg te steek dat jy vrou is …”

      Daar was gevoelens van woede, skaamte, selfbejammering en verlies waardeur sy moes werk. In 1995 het sy by die Assosiasie


Скачать книгу