Tryna du Toit-omnibus 9. Tryna du Toit
ons sal sien. Kom dan so gou jy klaar is. Ek gaan solank kyk wat daar in die kas is.”
In haar eie woonstel trek sy die gordyne toe en skakel die leeslampie aan. Dan, met die hoed in haar hand, bekyk sy die vertrek krities, byna soos ’n vreemdeling daarna sou kyk. Sy sien ’n ronde Sweedse tafel met vier ligte stoele; twee lae, gemaklike Sweedse stoele met helderrooi kussings – alles op afbetaling gekoop – ’n klein maar goeie gramradio, seker ’n luukse maar vir haar ’n noodsaaklikheid; swaar, roomkleurige gordyne; ligte, handgeweefde matte op die vloer en ’n paar etse en van haar eie skilderye teen die muur. ’n Ingeboude kas doen tegelyk diens as klere- en linnekas. Daar is ook ’n elektriese verwarmer en ’n ingeboude boekrak wat haar boeke en ’n paar mooi ornamente huisves, en sy dink die geheel maak ’n gesellige indruk. Buite op die stoepie staan haar esel en die divan waarop sy slaap. Verder is daar ’n ruim ingangsportaal, ’n kombuisie en ’n badkamer. Dis nie veel nie, maar dis haar eie plek wat sy met niemand anders hoef te deel nie. Hier kan sy maak soos sy wil, kan sy haarself wees.
Daar kom wel dae dat die vertrek vir haar te klein word, dat dit voel asof die mure haar wil vasdruk, maar ’n lang wandeling langs die see of ’n middag op die gholfbaan help haar gewoonlik om perspektief te herwin.
En diep in haar hart is daar natuurlik nog die hoop dat sy eendag weer ’n man sal kry wat haar liefde, sekuriteit, ’n eie huis en kinders kan gee. Dié keer sal sy weet hoe om haar liefde te vertroetel, sodat dit steeds sterker word. Sy sal nie haar geluk ’n tweede keer deur haar vingers laat glip nie.
Net soms is sy bewus van ’n gevoel van beklemming. Die jare gaan so vinnig verby. Sy is reeds agt-en-twintig. Wie sê sy sal ’n tweede kans kry? Die mans van haar leeftyd is byna almal al getroud of verloof of het reeds hulle keuse gemaak. En die paar wat oorbly verkies meestal die geselskap van jonger meisies. Baie mans kyk ook agterdogtig na ’n geskeide vrou: Waarom het haar eerste huwelik misluk? Wie sê dit sal met die tweede een beter gaan?
En Emile? Sover sy weet, is hy nog ongetroud. Nadat hy uit die buiteland teruggekeer het, moes hy natuurlik weer van voor af begin, maar sy het by ’n vriendin in die noorde gehoor hy doen goed in sy werk. Hy kan sekerlik ’n weeldeartikel soos ’n vrou bekostig. Dalk het hy reeds een uitgesoek.
Sy is nou jammer sy het nie sy ete-uitnodiging aanvaar nie. Die verlede is dood en begrawe, en daar is geen rede waarom hulle nie soos twee beskaafde mense kan saam eet en ’n uur of twee gesels voor elkeen weer sy eie pad gaan nie. Hy dink seker dit was ’n bietjie kinderagtig en onvolwasse van haar om sy uitnodiging te weier. Maar dis nou te laat om iets daaraan te doen. En as sy dink aan alles wat verby is, aan die vyf jaar van swye wat soos ’n kloof tussen hulle lê, is sy bly dat sy so beslis nee gesê het.
’n Uur later het sy en Adèle klaar geëet en die skottelgoed gewas en sit hulle elkeen in ’n gemakstoel met ’n koppie koffie. Adèle is opgewonde oor haar dogter se kuier en Veronica luister na die planne wat sy beraam om dit so lekker moontlik vir Elma te maak.
“Dis wonderlik dat sy so gereeld kan kom kuier,” merk Veronica later op.
“Net twee maal per kwartaal! Tensy dit ’n baie spesiale geleentheid is. Maar ek verstaan dat hulle streng moet wees, dat hulle nie gedurig uitsonderings kan maak nie. Ná so ’n naweek is die kinders altyd meer onbeheerbaar as gewoonlik. Die hoof sê vir my dit neem gewoonlik ’n paar dae voor hulle weer heeltemal in hulle roetine is.”
“Maar jy dink tog jy het reg gedoen toe jy haar koshuis toe gestuur het?”
“Ongetwyfeld. In die omstandighede was dit die enigste oplossing. Wat moes middae van haar word terwyl ek by die werk is? Ek het my byna morsdood bekommer die rukkie wat sy hier by my gebly het.”
Veronica knik instemmend. Dis hoekom sy nog altyd dankbaar was dat sy nie ’n kind het nie. En tog, as haar baba gelewe het, sou haar verhaal nie miskien vandag anders gewees het nie?
In Adèle se geval was dit ’n ander vrou, ’n jong tikster wat in haar man se kantoor gewerk het. Albei kinders is aan Adèle toegesê, maar later het sy ingewillig dat die seun, wat twee jaar jonger as Elma is, teruggaan na sy pa toe. Nou sien sy hom hoogstens een keer per jaar wanneer hy ’n paar weke lank by haar kom kuier.
“Vertel my van die uitstalling,” onderbreek Adèle na ’n rukkie haar gedagtes. “Wat was so wonderlik daaraan?”
Veronica vertel haar van Sestien en van die ander skilderye, en Adèle luister belangstellend.
“Ek sal eendag gaan kyk as jy my herinner,” belowe sy. “Maar jy weet ek is maar ’n doodgewone ou pleb wat niks van hierdie dinge af weet nie. Ek het geen talente nie: al wat ek kan doen, is kos kook en klere maak en huis aan die kant maak – en dit het ek so goed gedoen dat ek op die ou end my man en huis kwyt was.”
Haar stem is kalm en gelyk en die mooi gesig verraai geen gevoel nie, maar Veronica verstaan iets van die bitterheid en selfverwyt wat agter die woorde opgesluit lê. ’n Oomblik weet sy nie wat om te sê nie. Sy het al dikwels gedink dit is seker makliker om die man wat jy liefhet aan die dood af te staan as aan ’n ander vrou.
Meer om die atmosfeer te verlig as iets anders sê sy: “Jy sal nooit raai wie ek vandag by die uitstalling raakgeloop het nie. Nee, dis nie iemand wat jy ken nie, maar ek het jou van hom vertel. Emile de Klerk, my … my gewese man.”
Adèle kyk na haar met skielik verskerpte belangstelling.
“En jy sê nou eers vir my! Wat soek hy hier in die Kaap? Het jy met hom gesels?”
“Ek het ’n hele rukkie met hom gesels. Hy sê dis ’n sakebesoek.”
“Is hy weer getroud?”
“Hy het nie gesê nie en ek het ook nie gevra nie. Toe ek laas gehoor het, was hy nie getroud nie, maar dit was ’n hele paar maande gelede.”
“Jy kon darem gevra het. Of stel jy regtig nie belang nie?”
Veronica is bewus van haar vriendin se ondersoekende blik en sê liggies: “Ons het nooit in daardie rigting gesels nie, maar ek stel nie eintlik belang nie. Ek het hom meer as vyf jaar laas gesien of iets van hom gehoor. In vyf jaar verloor ’n mens kontak, raak jy heeltemal vervreemd van mekaar. Hy het my gevra om een aand saam met hom te gaan eet – daar is glo dinge wat hy met my wil bespreek – maar ek het nee gesê.”
“Waarom?”
Veronica haal haar skouers liggies op.
“Ek het gedink dis beter so. Daardie fase van my lewe is vir goed verby. Ek het geen begeerte om weer al die ou koeie uit die sloot te grawe nie.”
Adèle haal ’n sigaret uit haar handsak en steek dit peinsend op. Na ’n rukkie sê sy: “Veronica, was jy nog nooit spyt dat jy van jou man geskei het nie?”
Toe Veronica nie dadelik antwoord nie, vervolg sy: “Laat ek dit liewer so stel: As jy jou lewe kon oorhê – wetende alles wat jy vandag weet – sou jy presies dieselfde opgetree het?”
“Nee, natuurlik nie. Maar dis verby en niks of niemand kan dit ongedaan maak nie. ’n Mens hoop maar net,” vervolg sy met skielike bitterheid, “dat die ervaring wat jy so ten duurste koop vir jou later in die lewe van waarde sal wees.”
“Dit betwyfel ek ten sterkste. Jy kan ander miskien help, ander wat dieselfde probleem het, maar wat jouself betref – as jy reeds alles verloor het, of byna alles wat die lewe die moeite werd maak, wat help al die wysheid wat jy met die jare opgedoen het?”
“Ek weet nie, tensy dit help om ’n beter mens van jou te maak,” sê Veronica liggies in ’n poging om die atmosfeer ’n bietjie te verlig. Toe Adèle nie antwoord nie, vervolg sy sober: “In elk geval, dis maklik om nou te praat. Ek is seker al kon jy jou lewe oorhê, sou jy presies dieselfde opgetree het. ’n Mens het mos jou trots en selfrespek, en as jou man die dag vir jou kom sê hy het jou nie meer lief nie – dat hy met iemand anders wil trou – wat kan jy anders doen as om hom te laat gaan?”
“Jy kan baie doen,” sê Adèle bitter. “Daar is dinge wat belangriker is as jou