Tryna du Toit-omnibus 9. Tryna du Toit
sou hy op hierdie mooi herfsdag doen? In ander omstandighede sou sy dit nogal geniet het om Kaapstad vir hom te wys. Om saam met hom in die Tuine rond te loop, die Maleierbuurt en die mooi strande te besoek, om hom met die sweefspoor teen Tafelberg op te neem en sy gesig te sien as hy vir die eerste keer die wonderlike panorama wat aan hulle voete lê, aanskou. En dan onthou sy: in die vyf jaar wat verby is, het Emile ver gereis en baie gesien. Wat kan sy hier in Kaapstad vir hom wys wat hy nie reeds in ander lande gesien het nie?
’n Oomblik is sy weer vasgevang in heimwee, in gedagtes aan wat kon gewees het. Dan skuif sy die gedagtes doelbewus opsy en draai met ’n glimlag na Jack.
“Ek dink jy is reg. Ek het self so ’n gevoel dis vandag ons gelukkige dag.”
Dit was ’n opwindende middag. Hulle het eers saam met vriende van Jack geëet en daarna tussen die skare rondgestap. Veronica het haar verkyk aan al die mense wat daar rondgemaal het. Die rykes en die armes, sommige met glimlaggende, onbekommerde gesigte, ander op wie se gesigte jy kan sien dat dit vir hulle dodelike erns is watter perde eerste by die wenpaal aankom.
Sy het later saam met Jack en sy vriende na die perde vir die hoofwedren gaan kyk.
“Watter een kies jy?” vra Jack.
“Ek hou van daardie een,” sê sy en wys na ’n mooi klein skimmel wat toe net by hulle verbykom. Jack lyk teleurgesteld.
“Een van die buiteperde!” sê hy fronsend. “Waarom hou jy van haar?”
“Ek hou van haar naam: Silver Wings. Sy is nommer vyf en vyf is my gelukkige nommer. Ek hou ook van die manier waarop sy haar pote optel en van haar kalmte te midde van al die opgewondenheid.”
Jack se glimlag is tergend en so ’n bietjie uit die hoogte.
“Vroulike intuïsie, nè? Maar dié keer is jy verkeerd. Sy het nie ’n kans nie. Daar is die wenner,” sê hy en wys na ’n groot, lewendige swart perd wat met moeite deur sy jokkie ingehou word. Sagter vervolg hy: “Dis ’n baie vertroulike wenk wat ek gekry het. As jy enige spaargeldjies het, sit dit op Black Devil.”
Sy skud haar kop.
“Ek hou nie van sy naam nie en ek hou ook nie van die uitdrukking in sy oë nie. Nee, Silver Wings is my perd en as dit nog nie te laat is nie, wil ek graag ’n rand op haar sit.”
“Ek sal dit vir jou opsit,” belowe Jack met ’n glimlag. “Maar moenie my blameer as sy laaste kom nie.”
“Dis reg, juffrou. Bly by jou perd,” sê ’n vreemde stem saggies langs haar. “Silver Wings gaan vandag maklik wen.”
Sy swaai om om te sien wie die spreker is. Dis ’n ouerige man, vuil en verwaarloos, met bloedbelope oë en ’n sterk reuk van drank wat aan hom kleef. Sy wil eers wegdraai sonder om te antwoord, maar daar is iets so pateties aan hom dat haar hart versag.
“Het jy geld op haar gesit?” vra sy.
“Ses rand – alles wat ek kon bymekaarskraap. Vanaand slaap ek óf by die Grand óf by die Salvation Army.”
Sy kyk hom ’n oomblik simpatiek aan, maar sy laggie is aansteeklik en met ’n glimlag sê sy: “Ek hoop dis die Grand!”
Toe hulle ’n rukkie later terug pawiljoen toe stap, sê sy vir Jack, wat nie die woordewisseling tussen haar en die oubaas gehoor het nie: “Ek gaan roekeloos wees. Ek wil hê jy moet vir my twee rand op Silver Wings sit.”
“Vir wen of ’n plek?”
“Vir ’n wen.”
Hy neem die geld by haar.
“Is jy seker jy wil dit nie liewer op Black Devil sit nie?” vra hy, maar sy skud beslis haar kop. Toe hy ’n rukkie later terugkom, sê hy met ’n breë glimlag: “Ek het vir ons elkeen twee rand op Silver Wings gesit. Nou sal ons sien of daardie vroulike intuïsie van jou iets beteken.”
Dit was inderdaad Veronica se gelukkige dag. ’n Rukkie later het sy deur Jack se verkyker gesien hoe Silver Wings die hoofwedren met meer as ’n lengte wen. Black Devil, wat op een tydstip in die bondel vasgepen was, het nie eens ’n plek gekry nie.
“Jy is vyftig rand ryker, Veronica,” sê Jack opgewonde. “Ek kon ’n sak vol geld gehad het as ek na jou geluister het. Volgende keer sal ek beter weet.”
Hoe het die man geweet? wonder Veronica so tussen die geesdriftige gelukwensinge van Jack en sy vriende deur. Hoe het hy geweet Black Devil gaan vasgepen word en dat Silver Wings met meer as ’n lengte gaan wen?
Sy sien weer die oubaas met sy bloedbelope oë en vuil, verwaarloosde klere; sy hoor weer sy spotlaggie: “Vanaand slaap ek óf by die Grand óf by die Salvation Army,” en sy ril effens. Arme ou boemelaar! Hoe en wanneer het hy die pad byster geraak? As hy nou net sy wengeld verstandig wil gebruik, kan hy die wolf ’n hele ruk van die deur af hou, maar sy weet dis ’n ydel hoop. Vanaand slaap hy in die Grand, maar binne ’n week sal dit weer die Heilsleër wees.
“Daar sal nie ’n volgende keer wees nie,” sê sy vir Jack. “Ek hou nie van dobbel nie.”
Jack lag lekker.
“Dis net skok. Dit tref verskillende mense op verskillende maniere. Volgende week is jy weer hier.”
Jack het haar genooi om die aand saam met hom te gaan eet en hulle oorwinning te vier en sy het sonder aarseling ingewillig. Koenraad het sy ma vir die naweek na familie in die Paarl geneem, sy het geweet Adèle en Elma is besig, en om op ’n Saterdagaand alleen tuis te sit – en dit ná so ’n opwindende middag – sou ’n antiklimaks wees.
Terwyl sy bad en aantrek, is haar gedagtes by Jack Verster. Sy ken hom nou byna twee jaar lank en in dié tyd het sy houding teenoor haar geleidelik verander. Sy dink aan die aand, heel aan die begin, toe sy ook saam met hom gaan eet en dans het en die potjie wat hulle geloop het toe hy haar later huis toe gebring het. Hy het blykbaar ook – soos baie ander mans – gedink hy kan kanse waag omdat sy ’n geskeide vrou is en hy was nogal vies toe sy hom koel en beslis op sy plek gesit het. Die volgende dag het sy ’n kort briefie van hom gekry waarin hy haar om verskoning vra: hy het blykbaar die aand te veel sjampanje gedrink en hy hoop sy sal hom vergewe.
Sy het nie geantwoord nie en daarna het sy hom ’n lang ruk nie gesien of van hom gehoor nie. Dit is natuurlik die einde van hulle vriendskap, het sy gedink – sonder veel spyt – en sy was baie verbaas toe hy haar ’n paar maande later, toe hy weer in die Kaap kom, bel en nooi om die aand saam met hom uit te gaan.
“Jy hoef nie bang te wees nie – ek het my les geleer,” het hy liggies bygevoeg, en omdat sy eensaam was en in die verlede sy opgewekte geselskap geniet het, het sy weer gegaan. Daarna het hy haar gereeld uitgeneem wanneer hy in Kaapstad was, en hoewel sy nog altyd op haar hoede teenoor hom was, veral wanneer hy ’n paar drankies ingehad het, het hy haar nooit weer gepla nie. Verlede jaar, nadat die parlement verdaag het en hy weer terug Pretoria toe is, het sy af en toe ’n briefie van hom gekry, en toe hy saam met sy minister na ’n konferensie in die buiteland is, het hy vir haar ’n mooi borsspeld uit Italië gestuur.
Sal sy daarvan hou om mevrou Jack Verster te wees? wonder sy nou. Nie dat daar in die onmiddellike toekoms veel gevaar vir so iets bestaan nie. Jack geniet nog sy vryheid. Maar die dag sal seker kom dat hy moeg word vir die lewe van ’n vrygesel en voel dis tyd om met ’n huis en ’n familie te begin, dat hy een van sy baie vriendinne met ’n huweliksaansoek sal vereer.
Sal sy graag daardie persoon wil wees? Sy weet nie. Sy geniet sy geselskap en sy hou daarvan om saam met hom uit te gaan, om al die interessante figure van wie die gewone mens net in die koerante lees, te ontmoet. Sy weet hy is ambisieus en sy vrou sal saam met hom in die hoogste kringe beweeg, maar die vooruitsig staan haar nie juis aan nie. Om bestand te wees teen die storms van die tyd moet jou huis op ’n stewiger fondament gebou word.
En tog, is dit nie ook maar net ’n kwessie van geluk nie? Die een trou vir liefde en maak ’n hopelose mislukking van sy lewe. Die ander een trou vir sekuriteit – vir die materiële dinge wat die huwelik hom of haar sal besorg –