Tryna du Toit-omnibus 9. Tryna du Toit
van die Eensames, soos Adèle dit spottend noem. Sy is al diep in die sewentig, ’n fyn, aristokratiese vrou met spierwit hare en ’n fier, regop houding en ’n wonderlike lewensfilosofie. Met haar opgewekte geaardheid, lekker humorsin en warm belangstelling in die lewe is sy ’n interessante mens en Veronica geniet dit altyd om by haar te gaan kuier en met haar te gesels.
“Nee, ek het nie geweet nie. Ek was die laaste tyd so besig, ek het haar ’n bietjie verwaarloos. Wat makeer haar?”
“Sy sê dis net verkoue, maar ek dink dis ’n griepaanval. Ek het gister vir haar ’n bietjie sop geneem en sy lyk vir my maar pap en sy het ’n baie slegte hoes. Maar sy wil nie daarvan hoor om die dokter te laat kom of haar kinders te laat weet nie.”
“Koppig en onafhanklik!” sê Veronica met ’n glimlag. “Ek sal netnou ’n bietjie daar gaan inloer.” Sy aarsel ’n oomblik, dan vervolg sy: “Jy sal nooit raai wat ek vanmiddag gaan doen nie.”
Adèle kyk nuuskierig na haar, getref deur die intonasie in haar stem.
“Nee, ek weet nie. Vertel.”
“Ek gaan vir Emile die Kaap wys. Ten minste,” vervolg sy terwyl sy na die lae miswolke kyk, “soveel daarvan as wat ’n mens op ’n kort, reënerige herfsdag kan sien.”
“So? En wanneer is dit alles beplan? Toe ek laas gevra het, het jy gesê jy dink hy is al terug Transvaal toe.”
“Hy het vanoggend gebel. Hy hou vol daar is iets wat hy met my moet bespreek voor hy teruggaan en ek het toe maar gesê ek sal saamgaan. Maar moet nou asseblief nie weer allerhande vreemde gedagtes kry nie, Adèle. Jy sal net teleurgesteld wees.”
“Sorg maar dat jy jou kaarte reg speel en ek hoef nie teleurgesteld te wees nie. Moenie so hardkoppig wees nie, Veronica. Veg vir jou geluk. As jy dit nie self doen nie, sal niemand anders dit vir jou doen nie.”
Veronica sug ongeduldig.
“Verstaan jy nie? Daardie deel van my lewe is ’n geslote boek. Klaar en afgehandel. Ek het jou gesê ons het gedurig rusie gemaak en was bitter ongelukkig saam. Ek het geen begeerte om daardie ervaring te herhaal nie. Dan bly ek liewer die res van my lewe ongetroud.”
“Toe maar, ek het jou maar net ’n bietjie geterg,” sê Adèle haastig toe sy sien haar vriendin is omgekrap. “En, soos jy sê, die alleenlewe het ook sy kompensasies.”
“Veral as jy so ’n oulike dogter soos Elma het wat naweke en vakansies kom kuier,” sê Veronica liggies, haar oë op die mooi kind met die blonde vlegseltjies wat haar so met die blinkvet eekhorinkies vermaak. Dan onthou sy skielik Adèle het nog ’n seun ook – ’n seun wat honderde myle ver van haar is, wat sy ook liefhet en na wie sy gedurig verlang, maar wat besig is om van haar weg te groei. Sy stel voor dat hulle ’n bietjie in die Tuine rondstap voor hulle gaan eet.
Later, terwyl Adèle met ’n bekende gesels en sy en Elma die goudvissies bewonder wat so vlug en vol grasie tussen die wit, ligpers en rooskleurige waterlelies swem, gesels hulle ’n bietjie.
“Hou jy van die koshuis?” vra sy nadat sy geluister het na ’n staaltjie wat Elma oor een van haar onderwyseresse vertel het. Dis of daar ’n wolkie oor die kind se jong gesiggie val.
“Ek dink dis baie lekkerder by die huis,” sê sy sag. “Maar Mammie moet werk en sy bekommer haar net as ek bedags alleen by die woonstel is. En gelukkig is daar altyd naweke en vakansies om na uit te sien.”
“En jou pappie?” vra Veronica sag, omdat sy al dikwels gewonder het wat in Elma se hart omgaan. “Onthou jy hom nog?”
“Ek onthou hom nog goed. Daar was ’n skoppelmaai in die tuin en Pappie het altyd vir my en boetie geswaai. En in die aande, as ons almal voor die vuur sit, het hy vir ons stories vertel. Van Rooikappie, en Wolf en Jakkals, en Sneeuwitjie …”
“Gelukkig is jy nou groot genoeg om self stories te lees,” sê Veronica.
“Ek verlang darem partykeer baie na Pappie en na boetie,” erken Elma en die wolkie is nog daar. “Veral as my maats se pa’s vir hulle kom kuier of vir hulle presente stuur – of vir hulle skryf,” voeg sy stil by.
“Skryf jou pa nie gereeld nie?” vra Veronica sag. Miskien is dit vir Elma ’n verligting om ’n slag haar hart uit te praat.
“Net as ek verjaar. My pa is weer getroud,” verduidelik sy asof sy alles daarvan weet, “en Mammie sê hy is baie besig, hy het nie baie tyd om te skryf nie. En my boetie is so lui, hy antwoord omtrent nooit my briewe nie.”
“Mans is maar so lui om te skryf,” troos Veronica met ’n glimlaggie. “Maar ek dink nou net daaraan: oor veertien dae is dit mos al weer vakansie, dan kom jy weer huis toe.”
“Ek weet nog nie of ek huis toe kom nie. ’n Maat van my wil hê ek moet saam met haar na haar oupa se plaas toe gaan en ek dink … ek sal miskien maar gaan.”
Veronica kyk ondersoekend na Elma, getref deur iets in haar stem wat baie soos berusting klink. Dan sê sy geesdriftig: “Ek dink dit sal baie lekker wees. Dink net aan al die pret wat julle sal hê.”
“As Mammie ’n paar dae verlof kan kry, sal ek liewer hiernatoe kom,” sê Elma, en daarop het Veronica geen antwoord nie. In haar hart bewonder sy vir Adèle wat, ná alles wat gebeur het, nooit ’n enkele bitter woord teenoor Elma rep nie, maar uit haar pad gaan om die beeld wat die kind in haar hart van haar pa het, te help bewaar.
Sou sý groot genoeg gewees het om in dergelike omstandighede dieselfde te doen?
Ten spyte van die wolke wat so dreigend bokant hulle koppe hang en die hartseer wat af en toe deurgeskemer het, was die Sondagoggend daar in die Tuine vir hulle al drie ’n lekker verposing ná die besige week wat verby is. Die droë herfsblare het onder hulle voete geritsel, die geur van die najaarsrose met hulle diep gloeiende kleure was oral. Net die gedagte aan haar afspraak met Emile die middag het Veronica se gemoedsrus effens verstoor.
Hulle was nog besig om te eet toe die misreëntjie begin neersif en teen die tyd dat hulle die huis haal, reën dit hard. Sy gaan reguit na mevrou Louw se woonstel toe en die ouer vrou maak self vir haar die deur oop. Sy het ’n sagte grys wolrok met ’n mooi blou sjaal aan en haar wit hare is netjies gekam, maar sy lyk koud en beteuterd en Veronica is seker dat sy koors het.
“Dis gaaf om jou te sien, hartjie,” sê sy heserig. “Ek het al gewonder wat van jou geword het.”
“Ek is jammer, ek was besig,” begin Veronica, maar ’n hoesbui oorweldig die ouer vrou. Sy hou haar vas totdat sy uiteindelik ophou met hoes, dan sê sy besorg: “Waarom is mevrou nie in die bed nie?”
“Dis net ’n verkoue. En dis so vervelig om in die bed te lê.”
“Dis meer as net ’n verkoue. Ek gaan Adèle se koorspen haal en ons sal sien wat hy sê.”
Georgina Louw wil nog teëpraat, maar Veronica is reeds op pad en hoe sy ook al ’n rukkie later protesteer, moet sy noodgedwonge gaan sit met die koorspen in haar mond en Veronica se hand op haar pols. Die pols is taamlik vinnig, haar arm voel droog en warm, en Veronica is nie verbaas toe sy sien dat sy ’n koors van byna 102 grade het nie.
“Heeltemal professioneel,” spot mevrou Louw toe sy weer kan praat. “’n Mens sal sê jy weet alles daarvan af.”
“Ek weet genoeg om ’n koorspen te lees. En die koorspen sê: dadelik bed toe. Kom, ek help mevrou gou om uit te trek. Het u al iets geëet?”
“Daar is sop in die yskas, maar ek was nie honger nie. Ek sal ’n bietjie gaan lê, maar ek gaan nie nou uittrek nie. Ek verwag vanmiddag kuiermense en ek is nie van plan dat hulle my in die bed moet kom kry nie. Ek belowe jou, sodra hulle weg is, sal ek gaan lê.”
Dit het niks gehelp om teë te praat nie. Veronica het haar met ’n donskombers toegemaak, ’n warmwatersak by haar voete gesit, vir haar ’n bietjie sop warm gemaak en gekyk dat sy dit drink. Maar mevrou Louw wou nie daarvan hoor dat sy ’n dokter laat kom of vir haar seun wat in