Ena Murray Oordenkings. Ena Murray
is dit genoeg, Here!” … Die engel het … gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” – 1 Konings 19:4, 6
Ons kom almal daar – by daardie besembos. Daar is nie ’n mens op aarde wat nie die een of ander tyd daaronder inkruip en sê nie: Nou is dit genoeg, Here!
Soos Elia voel jy jy het die end van die pad, die end van jou uithouvermoë, jou deursettingsvermoë, jou geduld, jou kragte, jou moed, ja, selfs die end van jou geloof bereik. Jy het dáár gekom waar jy soos Elia ten hemele uitroep: Neem my lewe, want dis nou genoeg, Here!
Hoe vreeslik sou dit vir ons wees as God al hierdie smekinge moes verhoor het! Elia smeek om te sterf – in plaas daarvan gee God hom brood! So gaan dit met baie van ons gebede: Ons vra een ding, Hy gee iets heel anders. Elia wil sterf, maar sy Hemelvader wéét wat vir hom die beste is en gee vir hom nie één keer nie, maar twéé keer kos sodat hy sy kragte kan opbou. Ons vra dikwels iets wat vir ons net die dood kan inhou, en Hy gee ons die brood van die lewe, want anders sal die pad vir jou te lank word.
Hy sal ons nooit op die lang pad stuur sonder sy Goddelike versorging nie. En Hy gee mildelik. Twéé keer voed hy Elia voordat Hy hom weer uitstuur. Daarna kon Elia veertig dae en veertig nagte aanmekaar loop. So kan ons ook die onmoontlike regkry as ons sy brood van genade en liefde aanvaar. So kan ons ook die besembos van wanhoop en handdoek-ingooi agterlaat en ons lang pad aandurf met die brood van sy gebreekte liggaam en die kruik van sy gestorte bloed wat ons krag vir die onmoontlike sal gee.
Word wakker en kyk! Kruip uit onder jou besembos: Jou God hét vir jou gesorg, wíl vir jou sorg, sál altyd vir jou sorg.
Hoe skaam ek my dat ek onder ’n besembos wou lê en sterf terwyl U vir my ’n feesmaal wil voorberei. Vergewe my, Vader! Amen.
6 Januarie
Julle weet nie wat julle vra nie. – Matteus 20:22
Jakobus en Johannes se moeder vra vir Jesus dat haar twee seuns eendag aan weerskante van Hom in die hemel mag sit.
Op sigself is dit nie verkeerd van ’n moeder om net die beste vir haar kinders te wil hê nie. Maar is dit nie ook só dat my ambisie vir my kind soms meer kwaad as goed doen, soms selfs sy lewe kan verwoes nie?
Ons as ouers moet versigtig wees waar dit ons ambisies vir ons kinders aangaan. Dieselfde geld ook vir die ambisies wat ek vir my man koester. Ons kan dalk dinge nastrewe wat meer ongeluk as geluk gaan bring. Ons kan dinge van God vir onsself en ons dierbares vra waarvan ons later hartseer en geskok moet erken: Ek het nie geweet wat ek gevra het nie.
Ook in ons daaglikse versugtinge tot ons Hemelvader moet ons eers dink voordat ons sommer blindelings vra. Ons is te dikwels nog kinders in die versoeke wat ons tot God rig – soos ’n seuntjie van ses wat vir sy pa sê hy wil met sy volgende verjaarsdag ’n groot Mercedes Benz-motor hê. En watter vader wat werklik vir sy kind lief is en waarlik sy belange op die hart dra, sal in so ’n begeerte voorsien?
Leer my, Here, om te dink voordat ek sommer vra. Dankie vir u Heilige Gees wat vir my leer wat om te bid. Dankie dat Hy self ook deur my wil bid. Amen.
7 Januarie
Die Here julle God het julle voorspoedig gemaak in alles wat julle gedoen het. Hy het sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn, en in hierdie hele veertig jaar was die Here julle God by julle en het julle niks kortgekom nie. – Deuteronomium 2:7
Ondankbaarheid is seker een van die lelikste eienskappe wat daar op aarde is. En ons wat ouers is, weet maar te goed hoe dit voel wanneer jy dit teëkom. Jy voel seer en kwaad en diep teleurgestel.
Maar hoe ondankbaar is ons nie almal teenoor ons Hemelvader nie? Ons staar so afgunstig na dié dinge wat ons begeer, dat ons nooit sien wat Hy ons alles reeds geskenk het nie. Is dit nie van jóú ook waar nie?
Kyk terug op jou lewe. Het God jou nie voorspoedig gemaak nie? Het Hy jou nie al die jare gedra, sy oog oor jou gehou nie? Was Hy nie in al die jare tot op vandag toe vir jou ’n wonderlike God nie? Het Hy jou nie al die jare versorg nie? Jy was tog nooit regtig nakend nie. Jy het nooit regtig honger gely nie. Daar was, hoe eenvoudig dan ook al, nog altyd vir jou ’n skuilplek wanneer die nag toesak.
Ook toe jy jou in ’n woestyn bevind het – miskien ’n woestyn van smart, van teleurstellings, die dood van ’n dierbare, groot finansiële probleme en ander terugslae in jou persoonlike lewe – was Hy daar by jou, nie waar nie? Maar het jy raakgesien hoe Hy jou deur daardie woestyn gedra het? Het jy dankie gesê? Of staar jy jou net altyd so blind teen die dinge wat jy nie het nie, dat jy die ontelbare seëninge wat Hy wel op jou uitgestort het, nie raaksien nie?
O Here, ek is so skaam oor my ondankbaarheid. Vergewe my! Amen.
8 Januarie
Wat redeneer julle by julleself hieroor? – Markus 2:8
Die mens belas homself met soveel kwelvrae. Daar is so baie vrae waarop ons antwoorde wil hê. Daar is so baie dinge wat ons met ons beperkte menslike verstand en insig verklaar wil hê. En as ons nie die antwoorde kry nie, kritiseer ons. Dan dink ons ons het die reg om die Hoër Wil te bevraagteken.
Daar is die vrou wat vra hoekom God juis háár skoot gesluit het sodat sy nie ’n kind kan hê nie. En dan is sy gou om na ander wat na haar mening slegter en swakker is as sy, te wys vir wie God wel met kinders geseën het. Dan wil sy ’n antwoord van God hê: Hoekom, Here?
As ons net ons gesindheid teenoor ons kwelvrae wil verander, sal die lewe soveel makliker en ons teleurstellings soveel draagliker wees. Soos ons kinderlose vroutjie. God is onregverdig teenoor my, redeneer sy by haarself. Ek is gekul uit iets waarop ek net so geregtig is soos elke ander vrou.
Maar as God haar miskien ’n antwoord sou gee? Iets soos: Ek weerhou van jou ’n kind omdat Ek ook ’n groot smart van jou wil weerhou. As jy ’n kind gehad het, sou jy ontelbare trane van smart oor hom/haar gehuil het. Daarom sluit Ek jou skoot omdat Ek vir jou lief is en jou teen sulke hartseer wil beskerm.
Laat ons ons gesindheid teenoor ons kwelvrae verander. Laat ons glo dat ook hierdie dinge waaroor ons met onsself in die hart en teenoor God loop en redeneer, besluite is wat deur ’n liefdevolle Vader geneem is omdat Hy ons liefhet en ons wil beskerm.
O Vader, laat ek ophou redeneer oor dinge wat ek nie verstaan nie. Help my om alles, ook my teleurstellings en hartseer, te aanvaar as komende uit ’n liefdevolle Vaderhart. Amen.
9 Januarie
Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen. – Prediker 8:11
Dis ontsettend watter mag die voorbeeld het. Jy sien iemand doen iets. Jy wéét dis verkeerd. Maar as daardie persoon daarmee verbykom, begin dit mos vir jou al minder verkeerd lyk. So asof dit nie meer heeltemal so erg kan wees as wat dit aanvanklik gelyk het nie.
Moenie jou laat bluf nie! Daardie man wat roof en lieg en bedrieg sonder dat ’n haan daarna kraai, gaan die een of ander tyd tóg vasgetrek word – dan nie hier nie, dan wel in die hiernamaals. Moet nooit aanvaar dat as iemand met iets oneerliks of ongeoorloofs of skandeliks verbygekom het, jy dit ook gaan regkry nie. Wees verseker hý het nie, en jý gaan ook nie.
Daar kan baie redes wees waarom iemand se verkeerde daad nie dadelik gestraf word nie. Jy sal nie weet waarom God ’n oortreding laat deurgaan asof Hy dit nie raaksien nie. Wees verseker dat Hy dit wel deeglik sien. Ook as jyself al een of twee keer iets ongeoorloofs probeer het en straffeloos deurgekom het, moet jy nie gerus word en sommer aanneem dat dit ’n derde keer ook ongestraf sal verbygaan nie. God is nie blind nie. Niks gaan ongemerk by Hom verby nie. Vorentoe wag Hy vir jou.
Liewe Here, verhoed in u genade dat ek myself sal bluf en gerusstel wanneer ek sien ander mense doen oënskynlik straffeloos verkeerde dinge. Bewaar my daarvan om so ’n verkeerde voorbeeld te volg. Amen.
10 Januarie
Ek het die koers van my lewe