Ena Murray Oordenkings. Ena Murray
bestee aan wapens en die ontwikkeling en verbetering van oorlogvoering. Miljoene rande word bestee aan kos – en tog bly mense honger en sterf daagliks ’n hongerdood in die wêreld om ons. Dit wil lyk asof hoe meer geld gegee word tot die daarstelling van ’n beter lewe, hoe hagliker word die omstandighede. Hoe meer geld beskikbaar gestel word om menseverhoudinge te verbeter en te bevorder, hoe verder, so lyk dit, beweeg ons van ons doel af weg.
Dit het tyd geword dat ons weer ons betaalmiddels in oënskou neem. Dit het tyd geword dat ons die ander middels tot ons beskikking moet uithaal en in die veld stoot.
Wanneer jy vandag die wêreld instap, vergeet van jou plat beursie en haal uit die skatkamers van die hart en die gees. Die wonderlikste hiervan is dat dit, anders as in die geval van jou geldbeursie, net al voller en voller word, hoe meer jy daarvan uitdeel.
Het jy nie vandag ’n muntstuk om aan die minderbevoorregtes te gee nie? Gee hulle dan jou belangstelling. Het jy nie vandag geld om in die kollektebussie op die straathoek te gooi nie? Gee hulle jou kragte en bereidwilligheid tot diens. Het jy nie vandag geld om aan die sieke te gee nie? Gee hom jou glimlag en bemoediging. Het jy nie vandag brood om aan die hongeriges te gee nie? Gee hulle jou medelye en gebede. Het jy nie vandag geld om by te dra tot sentrums en instansies waar gepoog word om beter menseverhoudinge te skep nie? Gee dan jou liefde en bereidwilligheid om ’n beter wêreld te skep. Ons het altyd iets om te gee, al het ons nie geld nie.
Here, help my om nie suinig te wees nie. Help my dat ek sal gee wat ek het, en dat ek veral myself sal gee. Amen.
21 Januarie
… My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. – Johannes 5:17
Een van die grootste mistastings van die lewe is dat ons reken mense word te oud om te kan werk. Jy makeer nog niks. Jy is nog gesond, gesond genoeg om iets te kan doen, jy is nog verstandelik by jouself, maar wanneer jy by die aftree-ouderdom kom, moet jy ophou met werk. Jy moet gaan sit. Dis tyd om dood te gaan.
Wat ’n skreiende vermorsing van bruikbare materiaal! Van die wêreld se grootste wetenskaplikes, kunstenaars en staatsmanne het bo die ouderdom van sewentig jaar hulle belangrikste bydraes gelewer.
Maar selfs as die eise van jou beroep te veel geword het en jy genoodsaak is om uit te tree, beteken dit nog nie jy moet ophou met werk nie. Dis juis dán dat jy dalk die belangrikste bydrae van jou lewe kan lewer, ’n bydrae wat ewigheidswaarde besit. Miskien is dit nou die tyd om jou bankbalans Daarbó aan te vul. Jy was al die jare so besig met jou aardse bankbalans … maar hoe lyk dit in die Hemelbank?
En jy wat jou lyf skraal hou as dit by werk kom … jy wat nog in die fleur van jou jare is, maar net die nodigste doen … jy wat dinge waarvoor jy nie lus voel nie maar net altyd wegskuif vir ’n ander dag … jy wat gemaksugtig en lui is, wat na ander kyk om die taak op hande te doen terwyl jou eie hande slap hang …
In vandag se lewe is daar nie plek vir ’n lui mens nie. In die hemel ook nie.
Jesus, dankie dat U my die voorbeeld gestel het om te werk. Help my om elke dag my plig getrou te doen – en ’n bietjie meer. Amen.
22 Januarie
Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. – Jesaja 53:7
Ons kla so graag. Ons is so gou om te vertel wat ons hinder, wat ons ontevrede stem en hoe sleg dit met ons gaan. En ons word so gou ongeduldig as dinge nie verloop soos ons dit wil hê nie.
Die meeste van ons het ’n negatiewe houding aangekweek. Geen wonder dat dit mense na moord en selfmoord dryf nie.
Ek sit eendag in een van ons stede in ’n motor en wag en kyk toe na die voetgangers wat op die sypaadjie verbykom. Toe my man terugkom, vra hy: “Iets snaaks gesien?” “Ja,” antwoord ek. “ ’n Stad vol mense met lang gesigte. Daar was net een wat ’n goedige uitdrukking in die oë en ’n klein glimlaggie om sy mond gehad het. Net een.”
Dis die waarheid. Ek het langer as ’n uur daar gesit en alle soorte het op die sypaadjie by my verbygekom. En almal was haastig. Nie een van hulle was bewus van die ander om hulle nie. Elkeen was net te besig met sy eie ding, en te oordeel na die uitdrukking in die oë, besig met sy eie probleme. Net die een gehawende ou man, met swaarkry oor sy hele wese geskryf, het rustig aangestap gekom, en toe ons mekaar sien, het hy geglimlag.
Kan ons nie ’n bietjie geduldiger wees nie? ’n Bietjie minder kla? ’n Bietjie meer glimlag nie? ’n Bietjie meer tyd hê om om ons te kyk en dinge én mense raak te sien nie? Want ons het alle rede om te glimlag. Ons het alle rede om geduldig en verdraagsaam te wees; alle rede om nie te kla nie; alle rede om blymoedig te wees, want Jesus het vir ons aan die kruis gehang en só die hemel vir ons oopgemaak.
Here, leer my vandag om ’n blymoedige kind van U te wees. Amen.
23 Januarie
Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. – Psalm 25:4
Die mens is ’n verwaande skepsel. Omdat die Skepper hom ’n denkvermoë gegee het, verbeel hy hom maklik hy het die wêreld se wysheid in pag. Hy verbeel hom sy intellektuele vermoëns is voldoende om alles uit te redeneer en hom by die regte besluite uit te bring. Nou het hy al so ver gevorder dat hy die rekenaar uitgevind het, en hierdie robotverstand wat hy geskep het, het nou selfs bo sy meester uitgestyg. Niemand stry met ’n rekenaar nie. Ek sal dit nog waag om van ’n medemens te verskil, maar as die rekenaar sê ’n ding is so … ek probeer nie eens nie. Ek mors tog net my asem.
En so, namate die mens al slimmer word, en sy rekenaar saam met hom, word hy al God-loser. God word al minder geraadpleeg. As ons die saak nie vir onsself uitgeredeneer kry nie, hardloop ons rekenaar toe. Die blikbrein besluit vir ons wat die regte pad is, gee ons die verlangde, en volgens ons, onweerlegbare antwoord.
Gaan sit jy nog en vra voordat jy ’n taak aanpak: Here, hoe wil U hê moet ek dit doen? Vra jy nog vir God of die metode wat jy vandag gaan toepas, volgens sý wil die regte is? Die oplossing waarna jy soek … is dit ’n oplossing wat ’n kind van God waardig is? Is jy nog so naby aan God dat jy ook sy wil in die kleinste dingetjie soek? Dat jy na sy wil vra ook wanneer jy groot besluite moet neem? Of het jy besluit jy is slim genoeg om alle feite self te verwerk en tot die regte slotsom en beslissing te kom? Het jy nie dalk ongemerk ’n rekenaar-Christen geword nie?
O Here, maak my u wil bekend in al my besluite – van die grootste tot die kleinste. Gee dat u Woord my rekenaar sal wees. Amen.
24 Januarie
God hou my paaie dop en tel elke tree wat ek gee. – Job 31:4
In die wêreld waarin ons vandag lewe, voel ons dikwels so onveilig. Ons sien om ons die maatskaplike en morele verval – en ons is bekommerd, oor onsself, maar veral ook oor ons kinders en kleinkinders en wat die toekoms vir hulle sal inhou.
Ons is bekommerd oor die finansiële toestande van vandag. Ons maak vir ons sorge omdat tye, soos dit wil lyk, vorentoe net swaarder gaan word. Ons wonder soms hier in die hart of ons ooit genoeg vir ons oudag gaan hê, en veral, of ons kinders ooit vorentoe kop bo water sal kan hou.
En soms, heel menslik, vra ons onsself beangs af of die magte van die duisternis nie te oorweldigend sal word nie. Want as ons die koerante oopmaak of na die wêreldnuus op televisie kyk, sien ons oë net moord en selfmoord, oorlog en hongersnood, peste en verkragtings, en duisend ander dinge wat ten hemele skree en dan wonder ons soms of God nie van ons vergeet het nie …
Hy het nie. O, watter wonderlike versekering, watter onbeskryflike verligting om te weet: Hy het ons nie vergeet nie! Om te weet Hy hou saam met ons die wêreldtoestande dop. En ook nie net dit nie: Hy hou ook vir my persoonlik dop. Ek is nooit uit sy oog nie. Hy weet nie net van elke tree wat ek gee nie, Hy tel hulle!
O almagtige God, ek dank U vir u almag wat dit moontlik maak dat U nie net die hele wêreld dophou nie, maar ook weet van elke tree wat ek, klein mensie, gee. Ek stap met gerusstelling en vertroue die toekoms saam met U in. Amen.