.

 -


Скачать книгу
tog maar die wysheid van ’n Jesus kon besit om te weet wanneer dit tyd vir praat is, en wanneer dit tyd is om te swyg, selfs ook as die onregverdigste beskuldigings na ons geslinger word.

      ’n Mens het gewoonlik meer spyt oor woorde wat jy gesê het as oor die dinge wat jy nié gesê het nie. Dit is nou maar eenmaal so dat ons haastig met die mond is, veral as ons seergemaak of veronreg voel.

      Een van dié kere wanneer ons altyd haastig met die tong is, is wanneer ’n skewe woord na ons gewerp word. Dis dan so menslik om ewe haastig ’n skewe woord terug te sê. Of wanneer iemand jou seermaak en jy boonop voel dit is onverdiend. Dan is ons haastig met die verwyte, haastig om ’n terughou in te kry. Of wanneer valse beskuldigings na ons geslinger word. O, dis ’n bitter ding, en dis so menslik om dan baie woorde van selfverdediging te hê en ook nog woorde van valse beskuldigings by te gooi.

      Menslik, ja. Maar ’n kind van God moet elke dag probeer om die menslikheid wat onsself en ander so seermaak en agterna soveel probleme gee, te kruisig. Jesus het ons die voorbeeld gestel. Hy, die Volmaakte, het voor die mens Pilatus geswyg. Wat was die resultaat? Pilatus was verbaas, op sý beurt só stomgeslaan dat hy nie kans gesien het om verder ’n oordeel oor Hom te vel nie. Hy wou liewer sy hande in onskuld was.

      Jesus, U wat my deur u voorbeeld getoon het dat dit moontlik is, help my dat ek nie so haastig met my woorde sal wees nie. Amen.

      4 Februarie

      Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. – Deuteronomium 11:19, 20

      Die hedendaagse ouer en kind kommunikeer soveel vryliker oor soveel meer onderwerpe as vroeër. Pa kan soms ure met die seuns gesels oor voetbal, krieket, boks of atletiek. Ma en dogter kan so lekker gesels oor die nuwe modes, oor resepte en so meer.

      Hoekom gesels ons so min met ons kinders oor God? Hoekom gesels ons selde met ons kinders oor die belangrikste in die lewe?

      Ons dink as ons ons kind kerk toe bring, hom Sondagskool toe laat gaan, vir hom ’n Bybel gee, is dit voldoende. Ons gewete is dan skoon.

      Maar dis deur te praat oor ’n onderwerp dat die belangstelling geprikkel word. Hoekom is dit so dat ’n kind dikwels gedwing moet word om kerk toe te gaan? Hoekom is Sondagskool vir hom so ’n straf? Hoekom is die dinge van God vir hom vervelige, afgedwonge pligte wat hy net nakom omdat Pa en Ma dit vereis?

      Dis omdat ons nie genoeg met hulle práát oor die dinge van God nie. As Hy ’n deel van ons gesprekke word, sal Hy vir ons kind ’n bekende word. Onbekend maak onbemind. Die teendeel van die spreekwoord is ook waar: Bekend maak bemind. Ek bedoel nie preek nie. Vat jou kind uit in die natuur, wys hom die wonderwerke van God. Soos byvoorbeeld die kleure en strepe op ’n skoenlapper se vlerk. Wys hom die spinneweb – die volmaakte voorbeeld van ingenieurswese. En vra hom dan: Het God dit nie mooi en wonderlik gemaak nie? Glo my, in die toekoms, ook wanneer hy al ’n groot man is, sal hy elke keer onthou wanneer hy ’n skoenlapper of ’n spinneweb sien – en God sal vir hom ’n werklikheid wees.

      Help my, Here, dat ek U ’n bekende en geliefde by my kinders sal maak. Amen.

      5 Februarie

      … Ek is baie bang … God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie … – 1 Samuel 28:15

      Dis Saul wat so praat. Ons praat ook soms so.

      Soms voel dit vir ons ons bid verniet. Ons dink ons gebede gaan nie hoër as die plafon nie. Dit slaan teen die mure om ons vas.

      Dan word ons bang, net soos Saul bang geword het. Ons word selfs paniekerig, net soos Saul wat so verskrik was dat hy hom na ’n dodebesweerster gewend het. (In ons geval kan ons maar van ’n fortuinverteller praat.)

      Maar geen gebed van opregte belydenis gaan by God verby nie. Die fout wat ons maak, net soos Saul, is dat ons gou weet waar God is wanneer ons in die knyp is. Ja, dán wil ons sy raad en leiding hê; dán moet Hy gou maak om te help.

      Maar God is nie in ons diens dat Hy gereed moet staan wanneer ons die vingers klap nie. Ons wil hê God moet ons help en ons uit ons benouenis red, sonder skuldbelydenis van ons kant.

      Hy het niemand nog ooit van Hom weggestuur of onbeantwoord en sonder hulp gelaat wat in opregte berou na Hom gekom het nie. Maar ons mag nie soos Saul maak wat net hulp van God gesoek het omdat die Filistyne hom in ’n hoek gedryf het nie. Ons eintlike nood is in elk geval nie die probleemsituasie waarin ons verkeer nie, maar ons sondige hart. As ons dít voor God bely, dan hoor Hy. Dan verlos Hy.

      Here, wanneer dit vir my voel U het u hemelpoort vir my gesluit en my gebede bereik nie u oor nie, help my om myself eers te ondersoek en my sondes te bely. Amen.

      6 Februarie

      … Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. – Jesaja 43:1

      Myne. Dis ’n woordjie wat so baie sê.

      As iets myne is, dan is dit mýne. Niemand anders s’n nie. Net mýne. As iemand iets wat myne is sommer wederregtelik gebruik of kom vat, dan is ek baie ongelukkig en opstandig, want dis tog mýne.

      Niemand gaan sommer my huis kom vat nie, my daaruit jaag en verklaar hý kom woon nou daar nie. Niemand gaan sommer van die straat af kom en mý motor uit mý motorhuis trek en daarmee wegry terwyl ek dit maar gedwee moet aanvaar nie. So ook met mý man, mý vrou. Miskien weet jy reeds hoe voel dit hierbinne as jy op ’n dag tot die besef moet kom jy deel jou lewensmaat met ’n ander. Dit vergruis iets hier binne-in jou.

      En jou kinders … natuurlik sal jy veg vir hulle, want hulle is jóúne. Hulle dra jou naam. Hulle is uit jou gebore.

      Maar wat doen ons met God? Ons sê ons is sy kinders. Ja. Hy sê ook: Jy is Myne.

      Maar hoe dikwels moet Hy ons deel met die duiwel. Hoe dikwels vergruis ons daardie Vaderhart wanneer ons Satan toelaat om van ons besit te neem. Ons doen en sê en dink so dikwels dinge wat lynreg teen die wil van God is – en tog wil ons ons nog steeds op ons kindskap beroep. Ons sê nog altyd ons is Syne. Maar hoe kan ons sê ons is Sýne as ons só maklik deur die duiwel verlei word, as ons só maklik die stempel van ons Eienaar, Jesus Christus, kan afruk deur ons verkeerde woorde, dade en gedagtes?

      Liefdevolle Vader, help my dat ek altyd en te alle tye en onder alle omstandighede in staat sal kan wees om te sê: Ek behoort aan U. Amen.

      7 Februarie

      U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. – 2 Samuel 22:29

      Ek wonder altyd wat maak mense wat God nie as anker in die lewe het wanneer krisisse hulle oorval nie. In elke mens se lewe breek daar ’n uur aan wanneer daar eintlik net één anker is om aan vas te klou – en dit is God.

      Daar is nie ’n mens wat kan sê hy het nog nooit ’n krisis beleef nie. Ek dink elkeen van ons sal kan getuig dat as dit nie was vir Gods genade nie, ons nooit deur hierdie of daardie donker tydperk van ons lewe sou gekom het nie.

      Miskien is daar diegene onder ons wat selfs sal kan getuig dat hulle deur dié wat die naaste aan hulle is, mense op wie hulle vertrou het, in die steek gelaat is. Of dat hulle wat bereid was om hulle bloed vir jou te tap, magteloos gestaan het. Alles was donker om jou.

      Maar … God het die lig gegee. Juis wanneer dit donker om jou is, skyn sy lig van genade soveel helderder.

      Watter wonderlike wete, watter wonderlike troos om te weet dat dit nóóit só donker kan word dat dit God se lig kan uitdoof nie! Daar is geen duisternis só ondeurdringbaar dat God se lig nie daardeur kan breek nie.

      Glo dit. Hou daaraan vas. Is jy vandag in die donker? Sê dan met oortuiging en dankbare sekerheid: My God, gee my lig as dit donker is om my!

      Watter heerlike versekering dat U my nooit alleen in die donker laat nie, maar dat U die duisternis lig maak. Dankie, Vader. Amen.

      8


Скачать книгу