Ena Murray Oordenkings. Ena Murray
jy nog altyd wou doen en sou doen, doen dit vandag! Doen dit nóú! Gaan sê die “Ek is jammer” wat jy lankal moes gesê het. Gaan sê dit nóú! Veral as jy nog steeds nie in jouself seker is van jou hiernamaalse bestemming nie, maak vandag daarvan seker. Die eindpunt is dalk nader as wat jy dink.
O Here, hoe wonderlik om te weet dat daar ’n ewigheidslewe saam met U wag ná hierdie aardse wat maar net ’n gedagte lank is. Amen.
13 Februarie
Ellende wag vir dié wat dink hulle het die wysheid in pag, wat dink hulle het baie verstand. – Jesaja 5:21
Ons sien dit byna daagliks om ons gebeur: die “slim” mens wat skielik lelik op sy eie neus moet kyk. Ons loop hulle daagliks raak: die “slim” mense wat altyd vir ’n ander te vertel het wat hy moet doen of nie moet doen nie, wat hy behoort te doen, hoe hy moet optree, waar hy gefouteer het en wat hý sou gedoen het as hy in daardie posisie sou gewees het.
Jy kry ook die baie “slim” kinders wat vir Pa en Ma van die lewe wil kom vertel, wat dink hulle het die wysheid in pag; wat reken dat daar geen aspek of faset van die lewe is waarvan hulle nie meer en beter weet as ouer mense wat die jare se ervaringspad al gestap het nie.
Jy kry die jongmens wat glo hy het baie meer verstand as Pa en Ma. Trouens, dit wil voorkom asof elke geslag dink hulle is met meer verstand toebedeel as die vorige. Niemand kan hulle iets leer nie, want hulle weet reeds alles, ken die lewe reeds op vroeë leeftyd só dat hulle vir Pa en Ma kan uitwys waar Pa en Ma verkeerd getrap het sonder dat hulle ooit besef hulle sal dalk op ’n keer ook skeeftrap.
Tot op ’n dag dat iets – of iemand – hulle dwing om ’n slaggie terug te kyk. Dán eers sien hulle die kronkelspoor wat agter hulle eie voete lê – ’n spoor wat minder kronkels sou gehad het as hulle minder slim was en meer geluister het.
Is jy een van daardie baie slim mense? Herlees dan weer ons teksvers en wees gewaarsku!
Dis my gebed, Here, dat ek my wysheid by U sal soek, en dat my handboek daarvoor u Woord sal wees en my raadgewer u Gees. Amen.
14 Februarie
… wat ek beloof het, sal ek doen. – Jona 2:9
Ons beloof so maklik! Ag, so reken ons, kom ons sê tog maar ja, ons sal dit of dat doen – net ter wille van die liewe vrede. En so stel ons dwaaslik die vrede van ons siel in gevaar.
Hoeveel beloftes maak ons wat ons nooit nakom nie? Erger: Hoeveel beloftes maak ons waarvan ons voor ons siel wéét dat ons dit nooit gaan nakom nie?
Hoeveel onvrede en vyandskap is nie die uitvloeisel van sulke beloftes nie? Hoeveel sielevrede moet ons nie soms as gevolg daarvan inboet nie?
Hoeveel beloftes lê ons af sonder dat dit werklik by ons registreer dat dit beloftes is wat nie net in die kerk se register of op ’n amptelike vorm aangeteken word nie, maar ook daarbo in die hemel deur God se hand? Ons beloftes by die doopvont, by die aflê van belydenis van geloof, by die huwelik …
Daar is beloftes aan ons ouers, aan ons kinders, aan my man, my vrou, my vriende … En dan die baie beloftes aan God wat gedoen word wanneer ons ons in tye van nood op Hom beroep! “Here, ek belowe!”
Maar nadat God uitgered het …?
Daar word gesê die pad na die hel is uitgeplavei met goeie voornemens. Dan kan ’n mens amper glo dat die hel se vloer geheel en al uitgelê is met vuurvaste stene van beloftes wat nie nagekom is nie.
Here, ek wil nakom wat ek beloof het. Help my asseblief daarmee. Amen.
15 Februarie
… Ek gaan ook! – Sagaria 8:20
In hierdie gedeelte sê God dat volke en stede en nasies sal kom “om na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg”.
Daar kom dikwels van kerk- en owerheidsweë sulke oproepe om na die huis van God te gaan om na die wil van die Here die Almagtige te vra en Hom te raadpleeg. Dikwels word daar ’n beroep op ’n volk gedoen om, veral in tye van teëspoed en rampe, hulle tot God te wend en hulle voor Hom te verootmoedig. Ook in die binnekamer het dit sekerlik vandag ’n groot behoefte geword om te bid vir onsself en vir die wêreld en te vra na die wil van die Here.
Maar jy kry daardie los donkie wat maar altyd saam hardloop sonder om ooit regtig deel van die span te wees. Hy is in die bondel, maar doen niks om die wa deur die drif te kry nie. Menigmaal is dit hierdie soort mens wat die meeste kritiek te lewer het.
Die los donkie reken daar is genoeg ander; hy is nie ook nog nodig nie. Daar is genoeg wat bid; sy gebed sal dus nie gemis word nie. Daar is genoeg wat hulle volle gewig ingooi; sý gewig by sal nie ’n verskil maak nie.
Is jý so ’n los donkie?
’n Hoeveel beter plek sou hierdie ou wêreld gewees het as daar nie soveel los donkies was nie. Hoeveel mooier sou die lewe gewees het as ons elkeen sou gesê het: Ek gaan ook! Ek gaan ook help trek om die wa deur die drif te kry. Ek gaan ook saam bid. Ek gaan ook na God se wil vra.
Here, waar dit nodig mag wees, waar U my nodig het, waar daar ook al ’n beroep op my gedoen word, gee my die genade om te sê: Ek gaan ook! Amen.
16 Februarie
Weer het Petrus dit ontken en met ’n eed gesê: “Ek ken die man nie!” – Matteus 26:72
Die ontrou van die swakke mens!
Hoeveel keer was ek al ’n Petrus! Dis nie net met woorde, soos in Petrus se geval, dat ek God al misken het nie. Daar is talle ander maniere waarop ek met my gedagtes, met my dade, met my optrede, en met my gesindheid dit uitgeskreeu het: Ek ken God nie!
Die groot ironie daarvan is dat dit juis ék is wat so optree, ek wat beweer dat ek Hom ken. Ek wat Sondag kerk toe gaan, wat mildelik vir sy saak gee, wat Nagmaal gebruik, wat my kinders laat doop en sorg dat hulle Sondagskool toe gaan. Ek wat ’n prentjie van Christenskap, van kindskap van God aan die wêreld voorhou …
Maar toe die ware toets kom, het ek gefaal. Net soos Petrus. Toe ek moes staan by wat ek bely, het ek Hom verloën.
Toe ek kwaad word, het ek kwaad geword soos die sondaar. Ek het nie die geleentheid gebruik om vir die wêreld te toon hoe ’n kind van God woede hanteer nie. Ek het so getier en uitgevaar dat iemand kwalik kon glo dat ek die Naam van Christus bely. Toe daar onregverdig teen my opgetree is, wou ek kwaad met kwaad vergeld, nes die nie-Christen. Wanneer ek langs die vure van aardse plesier sit … ag, wie sal my tog daar herken as een van Jesus se volgelinge? Dikwels sê my gedrag dan presies wat Petrus met ’n eed gesê het: Ek ken die man nie!
Ag, Here, ek is swak. Staan my by sodat ek getrou sal wees. Amen.
17 Februarie
… en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart. – 1 Konings 8:39
Dit is voorwaar die waarheid: Net God alleen ken elke mens se hart.
Ons het almal geheime. Niemand se lewe is ooit heeltemal ’n oop boek vir ’n ander nie – nie eens vir die een wat die naaste aan jou staan nie. Êrens in die skuilhoeke van die hart lê daar dinge wat jy nie kans sien om met ander te deel nie.
Die een of ander tyd in ons lewe word ons genoop om ’n valse front voor te hou. Of het jy nog nooit in jou lewe in ’n situasie beland waar jy dinge moes voorgee waarvan jy voor jou siel weet dat dit nie so is nie? Nie? Dan raak jy aan volmaaktheid.
Om voor te gee dat dit finansieel goed gaan terwyl dit nie werklik alles so rooskleurig is nie. Om blink te lewe terwyl al die blink op skuld is. Om voor te gee dat jy gelukkig is in jou huwelik terwyl jy eintlik al sterk aan egskeiding dink. Om voor te gee dat jy volmaakte kinders het terwyl jy weet van die baie stille trane wat jy al oor hulle gestort het. Om jou doelbewus blind te hou vir feite én vir die waarheid, en die verkeerde met mooi woorde te probeer regpraat. Ag, daar is soveel