Ena Murray Oordenkings. Ena Murray
in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat ’n toesegging aan ’n mens, Here my God! – 2 Samuel 7:18, 19
Elke keer wanneer ek hierdie woorde lees, wek dit twee reaksies by my op.
Ten eerste, daardie vraag wat so diep indring – tot op die been: Wie is ék, Here my God, dat U my só ver gebring het? Voor hierdie vraag moet ek met skuld en skaamte op my knieë neersak, in die volle besef dat ek sy genade deur al hierdie jare nie waardig was nie. Want wie is ek? ’n Mens ken jouself beter as wat ander mense jou ken. Vir ander mense kan jy nog sekere dinge verdoesel. Maar teenoor jouself kan jy daardie “wie” en daardie “is” nie wegpraat nie. En wanneer ek dan voor God staan en sien wié ek is, wát ek is, kan ek net bely dat dit my tot verstomming bring dat Hy ten spyte daarvan vir my só ver gebring het.
En dan volg die onuitspreeklike dankbaarheid, ’n grenslose dankbaarheid wat my weer eens op my knieë dwing. Want nie net vir mý nie, maar ook my dierbares sluit Hy in in sy onuitputlike genade. Dan moet ek ook uitroep: Wat ’n toesegging aan ’n mens, Here my God! Dat U aan ’n sondige, swakke mens sóveel genade kan betoon, só goed vir hom kan wees! Dat U, ten spyte van wat ek is, ten spyte van wat my kinders is, steeds wil vergewe, steeds genade wil betoon, steeds net die goeie vir ons wil.
Here, ek is op my knieë voor U. Hoe min verdien ek hierdie Goddelike genade wat my deur die jare gedra het tot op hierdie dag. En dat U vir my en my nageslag ook tot in die verre toekoms wil seën! My dankie is net ’n stameling, maar neem dit asseblief aan. Om Jesus ontwil. Amen.
2 Maart
Laat dit vir julle ’n saak van eer wees om rustig te lewe … – 1 Tessalonisense 4:11
Dis iets wat blykbaar uit die mode geraak het: om rustig te lewe.
As jy om jou kyk, na jou eie lewe kyk, dié van jou eie gesin en familie, jou vriende, dan kan jy dit kwalik as “rustig” beskryf, nie waar nie?
En tog is dit iets wat elkeen begeer. Dis so ironies dat ons so gejaag lewe juis om rustigheid te probeer bekom. Ons jaag ons nóú dood sodat ons ééndag stiller kan lewe. Ons bevind ons nóú in ’n malle gejaag om genoeg te bekom om ééndag rustig te kan gaan aftree.
“Stres” is ’n woord wat onlangs in die woordeboek aangeteken is. Aan my as kind was dit totaal onbekend. Vandag is dit ’n woord wat selfs jong kinders nie net ken nie, maar ook aan eie lyf ervaar. Die tempo word al hoe gejaagder. Ook vir ons kinders. Daar is so baie dinge waaraan hulle eenvoudig móét deelneem. Ons as ouers jaag ons gedaan om al hierdie dinge vir hulle moontlik te maak, om hulle alles te gee wat vandag gebied word.
Maar in een ding bly ons so ontsaglik in gebreke – die één ding wat net so noodsaaklik, indien nie noodsaakliker nie, vir ons kinders is as al die ander dinge wat die lewe hulle vandag bied: Ons leer hulle nie hoe om rustig te lewe nie, miskien omdat ons self vergeet of verleer het hoe om dit te doen.
Sorg jy nog vir rustige oomblikke vir jou man ná die dagtaak? Vir jou gesin saam? Nie? Hoekom dan so verbaas as jou “gesonde” man skielik op ’n dag ’n hartaanval kry, of een van jou kinders aan stres, die gevreesde siekte van ons tyd, ly?
Here, help my as vrou en moeder om dit ’n saak van eer te maak om te midde van al hierdie gejaagdheid rustigheid te skep. Amen.
3 Maart
… want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers. – Hosea 6:6
Ons sê wel dat woorde sonder die daad daarby betekenisloos is, maar die daad sonder die regte gesindheid is eweneens kragteloos.
In hierdie hoofstuk is God so diep teleurgesteld in sy volk en die profete en priesters dat Hy sê: Ek gaan My terugtrek van hulle!
Hoekom? Nie omdat hulle steeds nie hulle offers van kleinvee en beeste gebring het nie. Nie omdat daar nie ’n tempel was en daar tot Hom gebid is nie. Nee. Maar die priesters wat gebede na Hom opgestuur het, noem Hy ’n rowerbende. Hy beskuldig die volk wat so getrou hulle offers aan Hom gebring het, daarvan dat hulle mekaar belieg. Hulle breek in en steel van mekaar. Hulle beroof mekaar oop en bloot.
Dáárom is die offers wat hulle bring kragteloos. Is ons nie ook so nie?
Ons gaan tog kerk toe, gee wanneer daar gekollekteer word. Aan die uiterlike vorm skeel daar niks. Van ons sal die predikante kan getuig dat ons godsdienstige mense is, getroue kerkgangers, staatmakers in ons gemeentes.
Maar hoe lyk dit regtig? Ons werk hard vir elke kerkbasaar … maar ons weerhou ’n regverdige loon van dié wat vir ons werk. Ons gee mildelik op die kollektelys – of so reken ons altans – maar as ons ’n paar sente kan buitmaak op ’n nie so eerlike transaksie …? Ons werk en gee vir barmhartigheidsdienste … maar wanneer my medemens in die knyp en verleë is, maak ek nie alte dikwels my eie prys wat hy my vir my hulp moet vergoed nie?
Here, help my om my hart eerlik te ondersoek en seker te maak dat ek nie my offers aan U bring sonder dat dit nie ook onderskraag is deur liefde vir my medemens en ware toewyding aan U nie. Amen.
4 Maart
… wees tevrede met wat julle het. – Hebreërs 13:5
Ag, daardie afguns en jaloesie wat in ons is! Daardie manier wat die mens het om altyd net dié dinge raak te sien wat ’n ander het en wat hy nie het nie. Daardie ongedissiplineerde begeertes in ons wat net altyd wil hê sonder om voorraad op te neem van wat ons reeds het. Daardie sug na oordaad …
As ons net die vermoë wil aankweek om tevrede te wees met wat ons het, sou vyftig persent, indien nie meer nie, van die ellendes van hierdie lewe uitgeskakel kon gewees het.
Daar sou soveel meer gelukkiger mense gewees het. Ook soveel meer mense met minder, of glad geen skuld nie.
Die meeste van die tyd is hulle wat altyd begeer wat ander het, nie waarderend teenoor wat hulle wel het nie. Hulle pas ook nie die dinge wat hulle wel het, op nie. Inteendeel. Hulle vind gedurig fout daarmee en ander se goed is altyd beter as hulle s’n.
Is jy een van hulle wat net altyd raaksien wat ’n ander beter of meer het as jy? Probeer hierdie medikasie: Soek iemand wat minder het as jy. Tot jou verbasing en skok gaan jy by laasgenoemde baie meer vind as by die ander groep wat na jou oordeel so baie het. Maak jou oë oop en kyk om jou en jy sal vind dat jý weer ’n bron van afguns vir baie ander is. Jy sal vind dat daar baie is wat baie graag met jou sou wou ruil. As jy eers dáár gekom het waar jy besef hoeveel méér God uit sy goedheid aan jou as aan ander geskenk het, sal jy leer wat dit is om dankbaar te wees en tevrede te wees met wat jy het.
Hoe dikwels begeer ek terwyl U my so mildelik versorg dat ek niks wesenliks kortkom nie. Vergewe my, Here! Amen.
5 Maart
Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. – 1 Petrus 5:7
Hoe eenvoudiger iets gestel word, hoe minder glo ons dit. Hoekom is dit so? Tog kom ons dit oral teë.
’n Lang ruk gelede het ek tien klein hondjies ryker geword. Pragtige goedjies en baie goed geteel. Ek wou hulle present weggee, want die bedoeling was nie om met hulle geld te maak nie. Ek wou net goeie huise vir hulle kry. Dit was ’n groot gesukkel. Die volgende werpsel, besluit ek toe, gaan ek hierdie keer verkoop. Binne ’n week het almal base gehad, en daar was selfs ’n waglys. Dieselfde reun en teef se kleintjies, maar die present-hondjies het nie sommer base gekry nie; dié waarvoor betaal moes word wel. Belaglik, nè?
Net so belaglik is ons wanneer dit kom by die werklik waardevolle dinge van die lewe, want ook dít is verniet. Jy hoef nie geld uit te haal om daarvoor te betaal nie. Ook die uitnodiging van God in vandag se teksvers is verniet. Hy vra nie jy moet na ’n bieghokkie toe gaan of eers ’n klomp note uithaal en jou sondes só afkoop en dán sal daar raad vir jou bekommernisse wees nie. Hy vra jou nie eers geld en dan sal Hy kyk of Hy iets aan jou kommer gaan doen nie. Nee. Soos die eerste klein hondjies is sy versorging verniet. Al wat Hy vra, is dat jy Hom met jou bekommernisse sal vertrou en in Hom glo, want … het