Ena Murray Oordenkings. Ena Murray
Maart
As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou. – Esegiël 3:21
In hierdie teksvers word daar na twee partye verwys – die een party wat waarsku en die ander wat gewaarsku word.
In beide gevalle kan dit jý wees.
Hoe dikwels is ons geneig om by dinge verby te stap waar ons as kinders van God behoort te bly staan om die kwaad aan te spreek. Ons kan soms so ’n onheilige ongeërgdheid toon teenoor die lot van ons naaste. Die houding van “elke man vir homself” en “laat hom maar self sien kom klaar” kan nooit deel wees van die gesindheid van ’n Christen nie.
Dis jou plig as Christen om te waarsku waar jy sien gesondig gaan word. Daardie ou holruggeryde verskoning van “ek wil my nie inmeng nie”, hou nie steek by God nie. Dwarsdeur sy Woord gee Hy sy waarskuwings aan sy kinders. Jy moet sy voorbeeld volg. Wanneer ’n mens sy plig doen, is daar altyd ’n beloning. Ook hier het Hy ’n beloning vir jou as jy jou plig as sy kind getrou nakom.
Maar jy kan ook die ander persoon in die teksvers wees: die een wat gewaarsku moet word. Hoe dikwels is ons selfs aggressief teenoor mense wat dit goed bedoel wanneer hulle ons waarsku. Is jy miskien een van dié wat hulle nie wil laat vermaan nie? Bedink dan weer ons teksvers: Ook vir die een wat bereid is om hom te laat waarsku, is daar ’n beloning. En is dit nie maar die meeste van die tyd net blote koppigheid en suiwere eie ek wat maak dat jy ’n teregwysing nie wil aanvaar nie?
Here, help my om vandag my plig as kind van U te doen. En as ek die een is wat verkeerd wil trap, maak my ontvanklik vir waarskuwings. Amen.
12 Maart
… Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie … – Habakuk 2:6
Die waarheid van hierdie stelling sien ons daagliks om ons. Maar die mens leer so bitter moeilik.
Jy dink maar nog altyd jy gaan met jou onregverdige wins verbykom. En met verloop van tyd word jy daar seker van. G’n haan kraai immers daarna nie. Jou dwaas! Jy lag verniet so lekker in jou mou. Dis nie jý wat die laaste gaan lag nie. Wees gewaarsku!
Al word jy nie op die daad betrap nie, moet jy nie so gerus voel nie. Êrens vorentoe wag die afrekening. Êrens vorentoe gaan jy dubbel die bedrag, en meer, skade ly.
Want jy het vergeet dat daar meer oë as die menslike oog is wat jou sien. Daar is ’n Rekenmeester daarbo wat ook boekhou.
Maar dan is daar ander – en dit sluit seker die meeste van ons in – wat ook so onheilig gerus en tevrede met hulself kan voel: Ék het nie ’n miljoen rand verduister nie! Ék het nie ’n bank beroof of ’n oneerlike transaksie aangegaan nie!
Nee, jy het nie, maar … daardie twee sent te veel kleingeld wat vir jou uitgekeer is … daardie koppie suiker wat jy gister geleen en nie weer teruggegee het nie … daardie boek met ’n ander se naam voorin wat nog altyd op jou rak staan …?
Liewe Christen, of jy ’n miljoen rand of ’n kopspeld vir jouself toeëien wat nie joune is nie, dit maak geen verskil by God nie. Want by Hom is ’n miljoen rand en ’n kopspeld ewe veel, of liewer ewe min, werd. Daar is nie grade van sonde nie. Dis die dáád wat tel, vir of teen jou.
Here, help my om ook met die kleinste en geringste altyd eerlik te wees. Amen.
13 Maart
… Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet. – Matteus 10:8
Ons woeker so graag met goed wat vir onsself niks gekos het nie. Ons dryf so dikwels in klinkende munt met God se eiendom handel.
“Deesdae is niks meer verniet nie.” Dit het al ’n bekende gesegde geword. Dis tragies, want as ons regtig eerlik daarop ingaan, moet ons erken die meeste wat ons het, het ons verniet gekry.
Dis hartseerwekkend om te sien hoe min ons deesdae vir mekaar omgee, hoe mense op mekaar trap en mekaar vertrap, hoe daar niks van mý kant kom sonder dat klinkende munt uitgehaal moet word nie. Elke ding wat ek het, elke ding wat ek doen, het ’n prys.
Daardie liefdesdaadjies, daardie vrygewige en hulpverlenende hande het al hoe minder geword. “Ek sal dit doen, maar jy sal moet betaal!” is ook al bekende woorde.
Ek het al baie gewonder of ons nie self die skuld dra dat die opkomende geslag so sterk materialisties ingestel is nie. ’n Mens kry niks meer uit hulle sonder betaling nie. Eendag gaan hulle sulke grootmense ook wees. Sannie sal die huis uitstof, maar wat betaal Ma? Jannie sal in die tuin help, maar wat betaal Pa? Maar, Sannie en Jannie, wie betaal vir Pa vir die kos op die tafel, vir die fiets wat hy reggemaak het? Wie betaal vir Ma vir die kaste se regpak, die handdoek van die vloer af optel en die baie nagte wat sy by jou gesit het toe jy siek of bang was?
En jy, Pa, Ma, wat nooit tyd het vir Gods werk nie, want dit bring jou nie geld in die sak nie, jy wat nie tyd het vir jou medemens se nood nie omdat dit nie lonend is nie … al daardie genadegawes waarmee jy so woeker om geld te maak … by watter winkel het jy dit gekoop?
Here, maak my oë oop dat ek kan sien. Amen.
14 Maart
As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. – Lukas 6:29
Dis ’n bitter ding hierdie. Dit druis in teen alles in ons, teen ons menslike geaardheid.
Maar nou is ons nie nét mens nie. Êrens in ons is ’n siel en lê daar ’n stukkie van ons skepper ook in ons ingebou.
As mense sal ons altyd vyande op hierdie aarde hê, in dié sin dat daar altyd tot by Christus se wederkoms twee hoofgroepe mense op hierdie aarde sal wees: die kinders van God én die kinders van die Bose. En God het geweet dat daar van die begin tot die einde konfrontasie tussen hierdie twee groepe sou wees. Dis logies. Hy het ook geweet wat die optrede en houding van die kinders van die Bose teenoor die kinders van God sou wees. Hulle sal sy kinders haat, hulle vloek, hulle sleg behandel, hulle slaan, hulle besteel, hulle niks gun nie.
En toe het Hy ’n gedragskode vir sý kinders opgestel waarin Hy hulle leer hoe om hierdie aggressie reg te hanteer. Kan jý ’n beter gedragskode opstel, een wat met meer sukses bekroon sal word as dié kode van God? Sou joune dalk só gelyk het: Haat jou vyand met die haat waarmee hy jou haat. Probeer hom terug kwaad aandoen elke keer dat hy jóú kwaad aandoen. Vloek terug. Behandel hom so sleg soos hy jou behandel. Slaan hy jou, slaan terug. Besteel hom waar jy kan soos hy jou besteel.
Sien jy dan nog êrens ’n hemelpoort oopstaan?
Nee, God se gedragskode is volmaak. En terwyl jy daaraan getrou bly, doen dit met ’n innige jammerte vir jou opponent. Hy is op pad hel toe. Jy, deur die genade, nie.
Here, ek erken dis nie altyd maklik om aan u gedragskode te hou nie. Maar, Here, laat my nooit vergeet ek is op pad hemel toe nie. Amen.
15 Maart
’n Dienaar (1954-vertaling: dienskneg) van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. – 2 Timoteus 2:24, 25
Hier is nog ’n gedragskode van God wat Hy opgestel het vir sy diensknegte op aarde.
Glo my, dis ook nie ’n maklike reël om uit te lewe nie. Vra maar vir elkeen wat in die bediening staan.
Daar word soms die onmoontlike van hulle verwag. Ons behandel dikwels die diensknegte van die Here soos ons ook soms ons werknemers behandel. Ons praat met hulle soos ons wil, ons beledig hulle na willekeur, want hulle is mos nie veronderstel om terug te antwoord nie. Dit, so reken ons, behoort ons diensknegte en die diensknegte van die Here eenvoudig nie te doen nie!
En hoe gou is ons op ons perdjie as hy sy plig doen en ons op ons oortredinge wys. Hoe gou is ons dan om ’n swak plek by hóm te soek. Hoe gou is ons dan om te kritiseer