Ena Murray Oordenkings. Ena Murray

Ena Murray Oordenkings - Ena Murray


Скачать книгу
is ons nie dikwels met dié dinge van werklike waarde nie! Ek werp vandag my bekommernisse op U, want ek wéét U sorg vir my. Amen.

      6 Maart

      … hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. – Openbaring 2:25

      Twyfel is ’n wurm wat die binnekant uithol en later net ’n uitgeholde dop agterlaat wat so maklik kan knak of platgetrap word en in duisend stukkies kan breek om deur die wind weggewaai te word.

      As jy die eiertjie van twyfel toelaat om in jou uit te broei, is jy verlore. As die wurm eers daar is, as hy eers toegelaat is om te begin knaag en sy vernietigingswerk voort te sit, is dit vir die mens ’n onbegonne taak om die gevolge te probeer voorkom.

      Die fout wat ons met twyfel maak, is dat ons die krag daarvan onderskat. Ons speel met twyfel tot ons op ’n dag moet vind dis hý wat nou met óns speel. En daardie spelery kan ’n mens soms tot by die grense van waansin en totale ineenstorting bring. Selfs tot in die hel.

      Die eiertjie van twyfel word so onrusbarend maklik in die menslike gemoed gelê. Dis ontstellend om te sien hoe kinders van God so maklik aan die twyfel gesit kan word deur ’n gladde tong wat net weet wanneer wat gesê moet word. Mense wat jare bely dat hulle kinders van God is, wat nou, sommige selfs op hul oudag, begin twyfel aan God en sy beloftes. Dis pateties om te sien hoe sommige mense van die een kerkgenootskap na die ander hardloop. Dis hartverskeurend om uit die mond van ’n Christen te moet hoor: Die lewe is vandag só deurmekaar, ek weet nie meer wat en waarin ek moet glo nie. Om te sien hoe jare lange kinders van God los raak van daardie Anker.

      Sal ons nie maar die Here vra om ons deur sy Heilige Gees vas te hou nie? Dit is net Hy wat ons teen hierdie gevaarlike wurm van twyfel kan beskerm.

      Hemelse Vader, laat u kinders vashou aan U. Gee dat daar nooit enige twyfel in ons gemoed gesaai word oor U en die wederkoms van u Christus nie. Amen.

      7 Maart

      … Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle. – Sagaria 8:23

      Watter wonderlike getuigskrif! As dit maar mýne kon wees!

      Dat mense graag in my geselskap wil wees, graag my teenwoordigheid opsoek omdat hulle kan sien God is by my!

      Maar, ag, alte dikwels is dit so dat mense nooit eens sal droom om God in my te soek nie, want wat hulle by my sien en hoor, kan hulle nie laat glo God is daar teenwoordig nie.

      Hoe wonderlik moet dit wees om só te lewe dat ek God se nabyheid en inwoning in my lewe só na ander mense weerkaats dat hulle nie anders kan as om tot my aangetrokke te voel nie. Om só te lewe dat ander sal begeer om óók so te kan lewe omdat die God wat my lewe weerspieël, hulle aantrek.

      Ek het in my lewe die voorreg gehad om twee besondere kinders van die Here te ken. Hulle lewe het God só uitgestraal dat ek iemand eendag hoor opmerk het: “Daar moet tog iets in steek om ’n Christen te wees.” Daardie iemand was ’n persoon wat baie onverskillig teenoor die dinge van God gestaan het. Maar selfs hý moes daardie onmiskenbare “iets” in daardie twee mense se lewe raaksien en erken.

      Sal ek en jy nie vandag probeer om deur die krag van die Heilige Gees naby aan daardie beeld te kom nie? Sal ons nie vandag vir ons voorneem nie: Vandag gaan ek in sy krag aan die wêreld om my toon dat God in my lewe is!

      Liewe Here, help my dat ek u beeld na buite sal straal sodat ander ook sal begeer om vir U in hulle lewe te hê. Amen.

      8 Maart

      Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. – Jesaja 32:17

      Op die beloftes van mense kan nooit ten volle peil getrek word nie. Maar van God se beloftes kan jy altyd seker wees.

      Dis so jammer dat ons nie meer sy beloftes ter harte neem nie. Dis so jammer dat ons nie meer sy beloftes op die proef stel nie. Ons versamel graag uitgetoetste resepte omdat ons weet ons kan daarop staatmaak. Die eindproduk sal nie ’n mislukking wees nie. Enigiets waarop “uitgetoets” staan, dra ’n waarborg wat jou ten volle gerusstelling en sekerheid gee dat daardie ding reg is en jou nie in die steek sal laat nie.

      Oor al God se beloftes staan “uitgetoets” gestempel. Dis “uitgetoetste” resepte vir ons lewe op aarde. Maar … in plaas van God se uitgetoetste resep te gebruik, maak ons ons eie mengsel aan. En laat ons maar erken: Dis gewoonlik ’n gemors wat jy liewer graag in die vullisblik sou wou gegooi het – as jy net kon. Maar ongelukkig kan ons nie altyd so maklik van die mislukking van ons lewe ontslae raak soos van die mislukkings in ons kombuis nie.

      Kom ek en jy toets vandag een van God se beproefde resepte uit: Laat ons vandag probeer om reg te doen. Dis nie altyd maklik nie, maar laat ons werklik probeer en áánhou probeer. God se belofte is daar vir ons op die end van die dag: Ons sal vrede en rus en sekerheid hê. Watter wonderlike resultaat! Sekerlik die moeite werd, nie waar nie?

      Here, ek gaan vandag een van u beproefde resepte gebruik. Die resultaat, weet ek, is deur U gewaarborg. Amen.

      9 Maart

      Ek is hulpeloos en arm, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie! – Psalm 40:18

      Hoe direk spreek die psalmdigter met hierdie woorde tot elke siel.

      Daar is van ons wat hulpeloos is. Miskien is ons liggaamlik ongesteld. Miskien bevind ons ons in ’n lewensituasie wat, na ons oordeel, hopeloos lyk. Daar is moontlik probleme in jou lewe wat jou reddeloos en radeloos laat voel. Jy het in ’n hoek beland en sien geen uitkomkans nie. Of jy bevind jou in ’n doodloopstraat – terug kan jy nie en vorentoe sien jy geen pad nie.

      Jy is dalk ook arm – arm aan noodsaaklike dinge wat liggaam en siel aanmekaar moet hou. Jy moet dinge betaal. Jy het sekere dinge nodig. En daar is net nie geld nie. Of jy het ’n ander armoede in jouself ontdek – die armoede van die gees. Jy het skielik tot die ontnugterende besef gekom dat jou aardse bestaan leeg en nutteloos is. Jou hele lewe het nog altyd net om dinge gewentel wat nou teen die end net ’n gejaag na wind blyk te wees. Nou besef jy jy het jou opgeswoeg vir die mot en die roes. Jy het jou lewe weggegooi soos pêrels voor die swyne.

      Maar juis dan gee ons teksvers vir jou die versekering: Die Here dink aan jou! Hy is jou hulp. Hy kán jou red uit hierdie kuil waarin jy jou bevind. Erken net aan Hom dat jy hulpeloos en arm is en dat Hý die enigste is wat jou kan red.

      Liefdevolle Vader, ek moet my in hierdie dag ten volle op U beroep. U is my enigste hulp en redder. Help my, asseblief! Amen.

      10 Maart

      Deurgrond my, o God, deurgrond my hart. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie. – Psalm 139:23, 24

      Nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het ons in verwarrender tye gelewe as vandag nie.

      Dis so hartseerwekkend om te sien hoe mense, kinders van God, vandag rondval in vertwyfeling, en baie sê: Ek weet nie meer wat om te glo nie. Ek weet nie meer wat reg of verkeerd is nie. Die slim, geleerde mense van die hedendaagse wêreld kom met soveel wetenskaplike stellings wat ons gewone mense meesal nie verstaan of onomwonde kan weerlê nie. Die gewone mens soos ek en jy word totaal oordonder deur al die tot nou toe onbekende slimmighede wat voor ons neergesit word as onomstootlike feite. Veral ons oumensies kry ek so jammer; hulle wat nou dink: As hierdie dinge dan so is soos hulle vandag sê, is ek mos op pad hel toe.

      Nee, jy is nie op pad hel toe nie. Want jy het nie een van hierdie slim dinge nodig om in die hemel te kom nie. Om daar te kom, het jy net die kern van geloof in God nodig: Dat jy glo in God, jou Skepper; dat jy glo in sy Seun, Jesus Christus, wat vir jou gesterf het maar ook opgestaan het en weer sal kom; en dat sy Heilige Gees hier is in elke gelowige kind van God. Jy het niks meer nodig nie.

      Vergeet al hierdie ander dinge. Dis van die vlees, van die aarde. Dis dinge wat sal verbygaan. Dit besit geen ewigheidswaarde nie. Teen God en die ewigheid hierna gemeet, is dit van geen belang nie.

      O


Скачать книгу