Ena Murray Oordenkings. Ena Murray
ma se dogter.” – Esegiël 16:44, 45
Watter groot, watter byna skrikwekkende verantwoordelikheid is ouerskap!
’n Mens word koud as jy net daaraan dink, want sekerlik moet jy weet dat die kind wat God aan jou toevertrou het, ook eendag van jou hand geëis gaan word.
Baiekeer hoor jy ’n ouer sê: Ek weet nie hoekom my kind hierdie of daardie verkeerde ding gedoen het nie. Hy of sy is nie so grootgemaak nie. My seun wéét dis verkeerd om dit of dat te doen. Ek kan nie glo dat my dogter haar so kon gedra nie.
Maar staan jy werklik so onskuldig teenoor hierdie dinge? Woorde wek, maar voorbeelde trek, sê die ou spreekwoord.
Jou kind vir wie jy daarop betrap dat hy leuens vertel … het jy nie miskien vir hom geleer lieg nie? Daardie wit leuens wat so maklik vertel word … Jou seun wat daarop betrap word dat hy steel … het jy nie dalk aan hom die voorbeeld gestel deur in die verlede dinge vir jou toe te eien wat jy, én hy, geweet het jou nie toekom nie? Jou dogter wat skielik in ’n swak tipe meisie ontaard … loop jóú spore kuis en reguit agter jou aan, of is sy nie miskien maar net “ma se dogter” nie? Moet jy nie miskien, wanneer jy die voorbeeld wat jy gestel het, in oënskou neem, bely nie: Die dogter is soos die ma, die seun soos die pa?
Ag Here, help my as ouer om my spore só te trap dat my kind in veiligheid en met trots en selfrespek daarin kan volg. Dit kan net gebeur as U in u genade my daartoe help. Amen.
26 Januarie
Wees altyd bly … Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. – 1 Tessalonisense 5:16, 18
Dis ’n tragedie dat ’n mens vandag meesal nie meer die kind van God en die kind van die duiwel uitmekaar kan ken nie. Jy moet baiekeer raai – en baiekeer raai jy verkeerd.
Blymoedigheid is ’n kenmerk, ’n identiteitskaart, van die kind van die Here. Maar hoe lyk ons? Ons loop met lang gesigte rond. Ons sien net die donker kant – in plaas daarvan dat ons jubel en juig omdat ons kinders van die almagtige God is!
Wanneer omstandighede nie gunstig is nie, word ons die kinders van die duiwel gelykvormig. Dan is daar geen onderskeidingsteken nie. Ons gaan in stof en as, asof ons net so reddeloos ronddobber soos hulle wat geen Stuurman aan boord het nie.
Op ’n klein dorpie was daar ’n ou moeder. Sy het haar identiteitskaart as kind van God altyd by haar gedra. Hoewel sy oud en sieklik en arm was, het blymoedigheid en dankbaarheid haar bestaan omglans. Hoe vol pyn ’n nag ook was, watter beperkinge die ouderdom ook al op haar gelê het, watter gebrek sy aan lewensmiddele ervaar het, haar antwoord aan almal wat gevra het hoe dit gaan, was altyd: “Dit gaan goed. God is so goed vir my!” Op ’n dag moes die predikant haar ’n tragiese tyding bring. Haar enigste seun is in Johannesburg vermoor. Met bedenkinge het hy haar vertel. Sekerlik sou hierdie ou moeder vandag nie weer kon jubel in Gods goedheid nie! Maar toe die dominee klaar gepraat het, vou sy haar hande saam, en sê: “O, God is só goed vir my!” Hy was verslae. Hoe is dit moontlik? Sy het vir hom vertel waarom dit vir haar moontlik was: “Jy kon my vandag kom vertel het dis my seun wat ’n ander vermoor het. Maar nou vertel jy my hý is die vermoorde. Hoe goed is God vir my!”
Maak my ’n blymoedige kind van U, Here … en ’n dankbare kind onder alle omstandighede. Amen.
27 Januarie
Maar binnekort sal ek na julle kom, as die Here wil, en dan sal ek self die verwaandes leer ken, nie volgens hulle praatjies nie, maar volgens wat hulle kan doen. Die koninkryk van God is immers nie ’n saak van praatjies nie, maar van krag. – 1 Korintiërs 4:19, 20
As ons maar meer wil doen en minder praat. As ons maar na onsself kon luister soos wat ander – én God – ons moet aanhoor. Nie een van ons staan hier onskuldig nie.
Ons vertel so graag hoe hard ons werk, wat ons nog alles wil en alles gaan doen, wat ons nog wil en gaan bereik. Maar hoeveel daarvan is ooit regtig waar? Hoeveel doen en hoeveel bereik ons werklik?
Ons ken hulle almal: daardie mense wat alles met die mond reg práát. Jy word so maklik deur hulle om die bos gelei. Eers later kom jy tot die besef: Dit was net alles woorde; die dade ontbreek.
Is jy een van hulle? Is jy een van daardie mense wat net praat en niks doen nie? Praat jy jou lewe reg? Praat jy jou foute en jou skuld weg? Praat jy net oor dié dinge wat jy wil hê sonder om daarvoor te werk? Praat jy jou in mense se goeie boekies in? Gebruik jy woorde om te kom waar jy wil wees?
Dis maklik om mense te bedrieg. Die mens wat glad van mond is, wat woorde gebruik om sy lewe en wandel in die beste voeë te lê, strooi maklik sand in ander se oë. Maar, liewe ou gladdetong, op die ou end sal jy nie geoordeel word aan wat jou tong kon sê nie. Jou dade sal vir jou moet spreek. “Want die koninkryk van God is immers nie ’n saak van praatjies nie, maar van krag.” Van dade. Nie van verwaandheid nie, maar van opregtheid.
Help my, Here, om in hierdie dag minder te praat en meer te doen. Amen.
28 Januarie
Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. – Kolossense 2:8
Deesdae word alles mos wetenskaplik ontleed. Daar is kwalik iets meer oor, selfs in verband met die heelal, wat nie verklaar kan word nie, waarvan die oorsprong en ontstaan en bestaan nie deur geleerde, slim mense ontrafel, ontleed en uitgelê word nie. Misterie is iets wat byna heeltemal verdwyn het.
Daar is nie meer ’n onderwerp onder hierdie son waaroor daar nie geargumenteer word nie; niks onder en anderkant hierdie son waaroor daar nie geleerde en wetenskaplike teorieë bestaan nie. Selfs oor die Godheid en sy almag en sy Woord bestaan daar verskillende en dikwels botsende teorieë. ’n Ieder en ’n elk argumenteer daaroor – van die leek tot by die man wat homself as ’n gesaghebbende beskou.
Ek wonder dikwels hoe pateties slim ons – wetenskaplikes, teoloë en ons gewone mense – nie vir God moet voorkom nie. Met watter heilige bejammering in die hart Hy na ons slim en geleerde praatjies luister. En met watter heilige toorn Hy toekyk hoe die mens homself al meer aan God en sy almag wil gelykstel.
God het geweet dat so ’n tydperk sou aanbreek waarin teorieë en selfs wetenskaplike argumente aangevoer sou word om sy kinders te verwar en selfs van Hom afvallig te maak. Dink maar hoe daar al meer vandag ’n vraagteken geplaas word agter die waarheid van die Bybel. Hy het vroegtydig gewaarsku.
Here, help dat die mens en sy slimheid my nooit meer sal beïndruk as U nie, en dat geen teorie of argument van hierdie wêreld my sal wegvoer van u waarheid nie. Amen.
29 Januarie
Doen alles sonder kla of teëpraat. – Filippense 2:14
Die onmoontlike word hier verwag. Dis ons eerste reaksie wanneer ons hierdie teks lees. Daarom gaan ons vinnig daaroor, so asof ons dit met ’n amper meerderwaardige beterweterigheid verwerp. Want dit is net nie menslik moontlik om alles sonder kla of teëpraat te doen nie. Daar is mos darem perke aan wat van ons verwag kan word. Daar is mos darem dinge wat by die grense van redelikheid verbygaan.
Maar weer is dit maar net goeie raad en werd om uitgetoets te word.
Ons moet almal dinge doen wat nie altyd vir ons aangenaam is nie. Daar is dinge wat gedoen móét word wat ons veel liewer sou wou omseil het, of, nog beter, vir iemand anders wou gelaat het. Dis mos lekker om net lekker dinge te doen. En hoe minder eise iets aan ons stel, hoe lekkerder is dit.
Ons vergeet egter dat dit net dié dinge in die lewe is wat eise stel, wat die moeite werd is, wat werklik bevredig en uiteindelik ewige waarde het.
Hoe harder ons kla en teëpraat, hoe moeiliker en onaangenamer word die taak wat ons moet verrig. Bes moontlik is dit ook nie régtig so erg nie, maar met ons verkeerde gesindheid het dit nou dubbel so moeilik geword.
Hou op pruttel.