Met die oog op liefde. Malene Breytenbach

Met die oog op liefde - Malene Breytenbach


Скачать книгу
van die treinvensters uit, reguit na Naomi, maar sy groet nie. Dit is die mooi brilmaker wat Naomi in die wagkamer gesien het. Dus was haar aansoek ook geslaagd. Naomi vermoed dat hulle twee nie juis vriendinne gaan wees nie. Daardie ligblou oë omring deur swaar maskara was net te krities. Bykans vyandig.

      ’n Vrou in wit klere kom staan langs haar en glimlag vriendelik. “Goeiedag en baie welkom. Ek veronderstel jy is dokter Harker?”

      “Ja, ek is.”

      “Ek is dokter Lily Mpephu, die bestuurder van die trein vir dié reis.” Sy skud Naomi se hand.

      “Aangename kennis. Jy is seker ’n Vhavenda, nè?”

      Die vrou glimlag breed met spierwit volmaakte tande. “Ek is inderdaad, dokter Harker. Ek hoor jy het op Elim gewerk.”

      “Ja, en ek het baie by daardie sendingdokters geleer.”

      “Hulle doen goeie werk daar op Elim. Ek is daar naby gebore, op Alfred Baxter se plaas. Hy is meneer Max Baxter se broer. Die Baxters het my gehelp om ’n dokter te word. Meneer Max Baxter het vir my ’n beurs gegee om medies aan Wits te gaan studeer en nou werk ek vir Baxter Pharmaceuticals.”

      “Dis vir my lekker om iemand te ontmoet wat uit daardie omgewing kom.”

      “Dis mooi daar, nè?”

      “Pragtig … en misterieus.”

      Lily Mpephu lag. “Ja, die ou gelowe en bygelowe is nog sterk daar.”

      Sy wink ’n portier nader. “Frans, neem asseblief vir dokter Harker na haar kompartement. Nommer drie langs myne in die eerste passasierswa.” Sy draai glimlaggend na Naomi. “Maak jou tuis, dokter. Die kompartemente is knap, maar ons hoop almal sal tevrede wees. Ons sal oor ’n uur vertrek sodra almal aangemeld en ons alles gelaai het.”

      Naomi volg die portier wat haar tas neem, en wonder waar Anthony Baxter is. Haar kompartement is klein, maar sy is gelukkig om alleen in hare te wees. Sy wonder wie almal saam in dié wa gaan wees. Sy hoop regtig Roelf is nie te naby nie. Haar moed sak omtrent in haar skoene as sy dink dat hy weer in haar lewe ingestap het.

      Sy kyk by die venster uit na die perron. Sien mense wat soos spyseniers lyk. Hulle dra uniforms met ABC Chef School op geborduur. Drie verpleegsters in uniform staan by dokter Lily Mpephu. Sy verduidelik iets en hulle luister aandagtig.

      Waarom sal sy net vir almal sit en kyk? Sy moet met die mense gaan kennis maak. Sy klim af en loop na dokter Mpephu.

      “Stel my asseblief voor aan die mense?”

      “Sekerlik, al sal dokter Tony Baxter dit in die eetwa doen sodra die trein vertrek. Hy is nog nie hier nie. Ek hoop hy kom betyds.” Sy beduie na die een fris vrou wat met ’n glimlag na Naomi kyk. “Dit is suster Edith Ngobeni wat die hoofassistent van oftalmologie sal wees.”

      Naomi skud haar hand. “Hierdie dames is verpleegkundige Thandiwe Gumede en verpleegkundige Iris van Wyngaardt wat ons sifters sal wees. Dames, dit is dokter Naomi Harker wat in oftalmologie wil gaan spesialiseer en nou onder dokter Baxter hier sal werk.”

      Naomi groet die ander twee ook met die hand. “Ek dink ons gaan lekker saamwerk.”

      “Kan ek jou aan die ander oftalmoloog voorstel?” vra Lily Mpephu.

      “Ek ken hom reeds.”

      “Ja, ons ken mekaar al van studentedae af,” hoor sy agter haar en draai om. Roelf staan met sy gewone spottende grinnik daar. Sy vererg haar van voor af vir die man.

      “Dis goed dat julle mekaar ken,” sê Lily Mpephu.

      ’n Man geklee soos ’n chef, met ABC Chef School groot op sy sak, kom nader. Dokter Mpephu stel hom voor as Clyde Bosman, hoof van spyseniering en logistiek.

      “Wel, hier sal darem een mooi vrou op die trein wees,” maak hy ’n grap.

      “Jy sal jou moet gedra, meneer Bosman,” raas dokter Mpephu kastig. “Die Baxters keur dit glad nie goed dat mense verhoudings op die trein het nie.”

      “Ek sal my personeel moet waarsku dat hulle nie tweede porsies vir mooi dokters mag gee nie.”

      Laggend loop hy weg.

      “Ek hoop die kos is lekker,” merk Roelf suur op.

      “Dit sal wees,” sê dokter Mpephu en wink ’n fris man nader. “Hier is Peter Mazibuko, ons hoof van sekuriteit.”

      “Ek en my personeel sal julle goed oppas,” sê Peter Mazibuko ernstig.

      “Ek is seker julle sal,” sê Naomi.

      “Ons hoop so,” sê Roelf.

      “Julle kan nou na julle kompartemente gaan. Ons vertrek binnekort,” sê Lily Mpephu.

      Almal is naderhand op die trein, maar Anthony Baxter is nog nie daar nie. Naomi kyk by haar deur uit en hoor Lily Mpephu vir iemand sê: “Dokter Tony is op pad. Hy moes die apteker by die lughawe gaan haal en haar vlug was laat.”

      “Is dit nie sy verloofde nie?” hoor Naomi Roelf se stem vra.

      “Hulle is nog nie verloof sover ek weet nie,” sê Lily. “Maar hulle ken mekaar al redelik lank.”

      Naomi gaan weer na die venster, afgehaal oor Anthony Baxter wat toe nie getroud is nie, maar tog ’n vrou het vir wie hy lief is. Moenie verspot wees nie, vermaan sy haarself. ’n Man so begeerlik soos hy sal mos nie ’n alleenloper bly nie.

      Sy sien twee mense op die perron aangedraf kom, met tasse wat hulle sleep. ’n Man en ’n lang, slanke jong vrou met welgevormde bene, vlamrooi hare en ’n mooi gesig. Die man is Anthony Baxter en sowaar, as dit moontlik is, is hy nog aantrekliker as toe Naomi hom laas gesien het. Die twee klim in die wa waar Naomi, Roelf en dokter Mpephu is. Naomi brand om in die gang uit te kyk om te sien by watter kompartemente hulle ingaan, maar sy beteuel haar. Hoe sal dit nou lyk as sy spioeneer? Sy hoor ’n deur oopgaan en Anthony Baxter se stem. Dit klink asof sy kompartement langs hare is. Sy is tussen hom en dokter Mpephu. Waarom wil haar hart nie normaal klop nie? Naomi, jy gaan nié vir dié man wys hy versteur reeds jou ewewig nie, raas sy met haarself. Hy behoort buitendien aan daardie skoonheid met die vlammende hare.

      ’n Sirene blaas skril en die trein begin beweeg. O, lekker. Uiteindelik is hulle op pad. Sy hoor ’n klop aan haar deur en maak oop. Snak omtrent na asem toe Anthony Baxter voor haar staan, sy oë opvallend in sy bruingebrande gesig.

      “Welkom op die trein, dokter,” glimlag hy. “Is jy al tuis?”

      “Dankie, ek het ’n lekker kompartement. Ek sien regtig uit na die reis.”

      “Ons gaan almal middagete in die eetwa geniet en dan gaan ek die mense verwelkom. Jy het seker nog nie met enig-een behalwe dokter Lily kennis gemaak nie.”

      “Ek het al van die mense ontmoet.”

      Hy lyk verbaas. “Dis goed. Wel, dié wat jy nie ken nie, sal jy oor ’n halfuur in die eetwa ontmoet. Ek laat almal nou roep. Sien jou daar.”

      Hy tree nou meer informeel op. Spreek haar nie soos by die onderhoud as u aan nie. Hy loop weer en sy maak haar deur toe. Leun daarteen. Sjoe, om weer van naby af direk in daardie blou poele te kyk is om van lam in die bene te raak.

      *

      Sy hoor die gekwetter van geselsende mense toe sy by die eetkompartement ingaan. Hulle sit reeds aan die rye tafels voor die vensters. Anthony Baxter, Lily Mpephu, die rooikopapteker en Roelf Malan sit saam by een groot tafel waar daar nog plek oop is. Naomi wil nie by Roelf sit nie en gaan sit oorkant die gang.

      “Kom sit by ons, dokter Harker,” nooi Anthony Baxter. “Hier is nog genoeg plek.”

      Sy is verplig om langs Roelf in te skuif en sien hy kyk haar skalks aan. Moenie weer idees kry nie, mannetjie, dink sy vies.

      Anthony Baxter beduie na die mooi rooikop. “Dokter Harker, dit is Monique Retief, ons apteker. Monique, dis dokter Naomi Harker wat


Скачать книгу