Met die oog op liefde. Malene Breytenbach
mooi man, wat gesteld is op voorkoms, sou nie so afwysend gereageer het nie. Sy kry sommer meer respek vir hom.
“Julle sal van Braam Lotter hou,” sê hy. “Hy is bekwaam en hy het ’n lekker sin vir humor.”
Monique vee ’n stukkie konfyt met haar vinger van haar mondhoek af. “Ag, hy kan tog so verspot raak, dit gee my ’n kramp.”
“O, ken jy hom dan?” vra Roelf.
“Ja, hy is mos Tony se tjommie.”
Tony kyk afkeurend na Monique. “Moenie die fout maak om te dink dat Braam bloot ’n grapjas is nie. Hy hou daarvan om mense te laat lag en hy maak kwinkslae, maar oppervlakkig en verspot is hy beslis nie. Jy kan in enige situasie op hom staatmaak. Hy het ’n goeie hart.”
*
Die Johannesburgse stasie is ’n miernes van bedrywigheid soos mense heen en weer haas om treine te haal of van hulle af te klim. Tony het vooraf gevra dat die oogtrein se mense nie afklim nie en dat hulle almal weer in die eetwa moet vergader sodra die nuwe mense opgeklim het. Dan vertrek die trein.
Naomi sit by haar venster en kyk na die beurende massas. Uiteindelik sien sy ’n skraal blonde man wat deur die mensemassa beur. Lily staan net buite hulle wa op die perron en wuif vir hom. Hy wuif terug, sleep ’n tas agter hom aan. Uiteindelik bereik hy vir Lily. Naomi probeer sien hoe hy lyk, maar vroue met tasse versper haar uitsig. Sy vermoed dit is die teatersusters wat ook aanmeld. Almal praat eers met Lily voordat hulle op die trein klim.
Na ’n rukkie hoor Naomi stemme in die gang. ’n Man lag vrolik.
“Jis, ek moes jaag dat die stof so staan. Hallo, Tony, ou pellie. Lekker om jou te sien. Goed om weer hier onder die engele te wees.”
Die stem vervaag, maar sy hoor twee mans lag. Braam Lotter en Tony is beslis groot vriende. Sy is nou baie nuuskierig om hom te ontmoet en kyk op haar horlosie.
Nou-nou vertrek die trein.
*
Almal sit al in die eetwa op hulle gewone plekke toe Braam Lotter en die nuwe verpleegkundiges laggend en geselsend inkom. Hy wuif al van ver af. Tony en Lily staan op om hulle te verwelkom en nou kan Naomi hulle goed bekyk. Braam Lotter is korter as Tony en skraal gebou. Sy kortgeknipte hare en sy wenkbroue is vlasblond, sy vel bloedrooi gebrand asof hy onlangs baie in die son was. Sy oë is ook blou. Hy glimlag onophoudelik met mooi tande waarvan die twee voorstes effens skeef is. Naomi voel klaar sy sal van hom hou.
Lily maak die mense stil. “Dít, mense, is dokter Braam Lotter, ons optometris, en ons teatersusters, Grace Apane en Joan Smit. Baie welkom, almal.”
Sy neem die drie na die verskillende tafels en stel die ander mense aan hulle voor. Laaste kom sy na Naomi-hulle se tafel. Een-een stel sy hulle voor. Toe Naomi aan die beurt kom, steek Braam Lotter sy hand na haar uit en druk hare ferm.
“Dit is dokter Naomi Harker, wat in oftalmologie wil spesialiseer,” sê Lily.
Die blou oë is nie spottend nie, maar vrolik en vol bewondering. “Wragtág! Vreeslik aangename kennis.”
Naomi se wange word warm van verleentheid, maar Braam draai weg na Roelf en groet hom met die hand.
Tony kyk geamuseerd na haar, wat haar gesig nog meer laat gloei. “Ek het Braam vertel van die GP wat op Elim gewerk het en saamkom. Ek en jy sal hierna jou pligte moet bespreek. Ons werk begin môre, wanneer ons by Polokwane aankom. Dan moet almal weet wat om te doen.”
“Nou gaan ons eers lekker tee drink om almal finaal te verwelkom,” sê Lily.
Naomi is verbaas om te sien dat die chef se personeel ’n verskeidenheid terte, koeke en kolwyntjies wat watertandlekker lyk by die tee voorsit.
Braam Lotter skuif langs Naomi in. “Lyk my dis die Mad Hatter’s Tea Party. Maar ek is die enigste malle. Julle ander lyk almal normaal, net sommige is veel mooier as ander. ”
“Nog altyd so mal soos ’n haas,” terg Tony laggend.
Braam lag en begin aan sy stuk suurlemoentert eet. “As die innerlike nou al so versterk word, sien ek uit na die res.”
Nadat hy die stuk lekkerny vinnig opgeëet het, draai hy na Naomi. “Vertel my alles omtrent jouself, mooi dokter.”
“Noem my asseblief Naomi. Dis nie nou die tyd en plek vir my CV nie, Braam.”
Hy trek ’n gepynigde gesig. “Later, dan. Ek moet mos my kollegas goed leer ken. Ons gaan tog nou saamwerk. Ek sal jou moet nooi vir ’n tête-à-tête, as Tony dit sal toelaat. Hy en dok Lily swaai die septers hier.”
Hy slaag werklik daarin om die hele geselskap op te vrolik, dink Naomi goedkeurend. Almal om hom lag en gesels. Hy roep selfs oor die gang na Welma Botma.
“Haai, ek hoor jy is allesbehalwe ’n dom blondine. Ons gaan lekker saamwerk. Ek skryf die brille voor, jy maak hulle, ons vra dubbel die voorgeskrewe prys. Ons betaal vir die Baxters wat hulle toekom en pocket die res. Na die toer is ek en jy dik in die geld.”
Welma lag. Sy reageer so vrolik dat Naomi verbaas is. Braam kry dit tot reg om haar belangrik te laat voel.
Hy draai na Tony. “Jy kan seker nie wag om die blindes weer te laat sien nie.”
Tony grinnik. “Ek ís nogal haastig om aan die werk te kom.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.