Met die oog op liefde. Malene Breytenbach
Mpephu nie gesê dat die Baxters verhoudings op die trein afkeur nie?
Indien wel, waarom bring Anthony Baxter sý meisie saam?
3
Toe hulle klaar geëet het, sê Anthony: “Dokter Harker en dokter Malan, kom asseblief saam met my na die oogwa.”
Op pad soontoe wys Anthony hulle die kantore. Daar is twee kleintjies elk met ’n lessenaar, twee stoele en ’n bed, en een grote met verskeie lessenaars en tafels. In al die kantore is rekenaars. “Ek en Lily het elkeen ’n kantoor op die trein, maar julle ander deel ’n kantoor,” sê Anthony. “Die grote is die algemene een.”
Daarna sien hulle die ontvangslokaal met ’n groot toonbank, twee stoele en twee rekenaars, die apteek met rakke vol medikasie en die oogtoetssentrum waar brille gehou word.
“Ons behandel mense wat nie toegang tot programme vir die behandeling van katarakte, pterigium en afwykings in die okulêre refraksie het nie.” Hy wys vir hulle twee klein, dog goed ingerigte en silwerskoon operasieteaters wat nie vir Naomi lyk asof dit by dié in ’n stedelike hospitaal sal afsteek nie.
Hy staan langs haar. Kyk af na haar. Sy wil amper tru deins, so oorweldigend is sy nabyheid.
“Dokter Harker, jy weet natuurlik van die nuwe metode van katarakte verwyder, die fako-emulsifisering waar ons ’n baie klein snytjie maak en die katarak uitsuig nadat die ultraklank die katarak opgebreek het. Dis te duur vir die mense wat ons gaan behandel. Dit kos ongeveer ’n miljoen rand. Net die weggooibare instrumente vir elke operasie kos twee- tot drieduisend rand. Jy sal nog sien hoe baie mense kom met katarakte na ons toe. Ons volg dus die goedkoper opsie, die ECCE of ekstrakapsulêre katarakekstraksie, wat sonder masjiene gedoen word. Die sny in die oog is groter en ons druk die hele katarak uit. Die pasiënt betaal dan net ’n klein bedraggie. Jy het dié soort operasie seker dikwels op Elim gesien?”
“Ja, ek het dikwels gekyk hoe opereer die ander dokters. Soms het ek geassisteer. Dit was regtig hartverblydend om te sien hoe dankbaar die mense is om weer te kan sien.”
“Ek is bly jy weet reeds iets van die prosesse wat ons toepas. Ek en dokter Malan doen die operasies, en jy assisteer. Dit beteken jy gaan meer kyk as iets anders.”
Die oë wat haar soos blaasvlamme skroei, kyk weer weg. “Ons skrop- en vloersusters sluit in Johannesburg by ons aan, saam met dokter Lotter.”
Naomi ruik ’n vae aangename geur van seep gemeng met deodorant, en iets anders. Hy beduie met sy hande en sy kyk gefassineer daarna. Om te dink dat daardie hande die delikate operasies doen wat mense se sig verbeter. Sy het opgelet hoe delikaat hy sy eetgerei hanteer. Hy vat raak, sekuur. Hoe sal dit voel as hy met daardie hande liefkosend aan jou vat …
Moenie aan so iets dink nie, vermaan sy haarself. Maar o tog, dit is klein ruimtes waarin hulle ’n hele ruk lank baie naby of teenaan mekaar sal moet werk. Sy gaan heeltyd te naby aan hom wees. Sy mág nie toelaat dat dit haar ontsenu nie.
“En daardie frons? Wat is die probleem?” ruk sy stem haar uit haar mymering. Sy kyk op. Hy kyk stip, streng, na haar asof hy in haar hart en emosies kan delf.
Sy glimlag gedwonge. “Geen probleem nie. Ek dink maar net dat ek nog so min weet. Ek het soveel om onder jou … julle supervisie te leer.”
Roelf is besig om haar spottend aan te kyk. Sien hy dat sy nie onbetrokke naby Anthony Baxter kan wees nie? Hy was altyd gans te oplettend en jaloers.
“Wat kyk jy my so?” vra sy vies.
“Ek het altyd gewonder of daardie tenger lyfie genoeg stamina vir die mediese beroep het,” gryns hy. “Ons sal moet sien of jy die druk kan hanteer.”
Sy vererg haar, maar reageer kil. “ ’n Dokter hoef nie groot en fris te wees om stamina te hê nie. Jy ken my al lank. Jy weet ek bly altyd fiks.”
Anthony se wenkbroue skiet die hoogte in. “Het julle mekaar dan voorheen geken?”
Naomi kreun innerlik. Roelf moet nou net nie te kenne gee dat hulle ’n ernstige verhouding gehad het nie.
“Ons het albei medies geswot by Stellenbosch,” sê sy vinnig en opsetlik kortaf. “Roelf was ’n senior toe ek ’n junior was.”
Verbeel sy haar of is daar agterdog in die blou oë al bly Anthony Baxter se gesig uitdrukkingloos?
Roelf grinnik insinuerend. “Ons wás darem goeie vriende. Báie goeie vriende.”
Naomi kan hom klap. Sy weet wat in sy kop aangaan. Hy sien dat Anthony Baxter ’n besonder aantreklike man is en dat sy van hom hou. Hy sal ’n wig tussen hulle probeer indryf soos hy gemaak het met haar en ’n medestudent van wie sy ook gehou het. Deur haar te gaan beskinder, het hy die ander man afgeskrik. Eers veel later het sy agtergekom waarom Steven die aftog geblaas het, nadat hy om verskoning gevra het dat hy Roelf se leuens geglo het. Hy wou die vriendskap hervat, maar dit was te laat. In ’n man wat so maklik dinge van ’n meisie glo, stel sy nie belang nie.
Dit het haar dubbeld versigtig gemaak vir Roelf. Sy het probeer om hom uit haar lewe te weer. Maar hier is hy wragtig weer. Die opperste moeilikheidmaker.
Sy kyk skouerophalend na Roelf en hoop Anthony interpreteer dit as iets in haar verlede wat nie vir haar so belangrik was soos Roelf te kenne probeer gee nie.
Anthony draai weg. “Kom kyk asseblief hier.”
Hy wys hulle die spleetlampe en mikroskope. “Naomi, jy moet hieraan gewoond raak. Jy toggle met die voet, fokus en zoem. Maar ek glo jy weet hoe. Jy gebruik die tweede mikroskoop. Nadat jy op Alice en op Elim gewerk het, weet jy seker dat swart mense se oë sterker as ons s’n is. Hulle kry nie die degenerasie wat ons kry nie. Wit mense kry maklik retinale loslating. Swart mense kry dit net weens ernstige besering.”
“Hoeveel katarakoperasies het jy al gedoen?” wil sy weet.
Hy frons met sy vinger teen sy ken. Sy kan die aantreklike kuiltjie nie miskyk nie.
“Seker al so tweeduisend. Geen operasie is maklik nie en elke katarak is anders. Daar is klein verskilletjies waarna mens moet oplet. Ek moet net sê, ons gaan nie ernstige oogtrauma behandel nie. Dit word na hospitale verwys. Ons het met die laaste treinreis heelwat pterigiums verwyder. Jy weet, die vliese wat oor die kornea groei. Hier sal ek en dokter Malan tot twintig operasies op ’n dag moet doen wanneer dit eers regtig druk gaan.”
Naomi kyk na Roelf wat haar soos ’n valk dophou. Sy moet seker met hom ook praat. “Wat is die ergste wat jy al teëgekom het?”
“Beserings, meesal. Ek het al gewerk met oë wat gebrand is deur die kalk op rugbyvelde. Die ouens duik daarin. Ook met arc eyes, of fotokeratitis, wanneer iemand sonder ’n bril gesweis het. Die epiteel in die oog breek af. Maar hier doen ons seker net die eenvoudige dinge.”
“Ja, die eenvoudige dinge,” merk Anthony droogweg op, en tot Naomi se verbasing knipoog hy vir haar. “Jy sal gou leer. Sodra jy sekere stappe bemeester het, kan jy naderhand die maklikste en eenvoudigste prosesse onder toesig doen. Jy sal meesal onder my werk.”
Amper sê sy hardop “dankie tog”.
“Maar jy sal ook moet kyk hoe dokter Malan werk.”
“Ek sou so dink,” sê Roelf.
Anthony wys noukeurig vir haar alles waarmee hulle gaan werk. Soms skuur hy liggies teen haar in die beperkte ruimte, of sy hande raak vlugtig aan haar. Sy ervaar dit intens. Te intens. Hy versteur werklik haar emosionele ewewig, en hulle het nog nie eens saam begin werk nie.
*
Na die besigtiging van al die fasiliteite en gesprekke met dokter Lily Mpephu en die ander personeel, is Naomi goed op hoogte van hoe dinge op die trein gaan werk. Sy gaan terug na haar kompartement en kyk hoe snel die landskap buite die venster by haar verby. Daar is ’n rukkie om te rus voor die aandete wat elke aand van sewe- tot agtuur sal wees. Maar sy is nou so aangevuur, op so ’n high, dat sy nie na rus voel nie. Daarvoor het Anthony Baxter se nabyheid gesorg.