Helene de Kock Omnibus 4. Helene de Kock
nie die antwoord nie. Hy weet wragtie nie of dit hom grensloos irriteer of net krapperig amuseer nie. Daarom het hy liefs stilgebly. Maar hoe lank, wonder hy, kan ’n man swyg voor hy lostrek? Want hulle het toe maar gaan kyk na die uitstalling in die Orangerie. En haar oom François was reg. Monet se persblou en lila Waterlelies was ondraaglik mooi in die skemerte van die groot ovale vertrek. Hulle het met ingehoue asem, vingers verstrengel en skouers teen mekaar gedruk, na die werk bly staar. Die oomblik wou soos ’n rimpeling uitkring oor die beskilderde doek.
’n Soet en ragfyne emosie het in hom oopgevou – soos by ’n mens se eerste gewaarwording van aanskoulike, sensuele genot. Hy was lus om Surita net daar sag te soen. Maar sy het dit goedgedink om hom ’n lesinkie te gee oor die lewe van Monet. In ’n paslike fluistertoon natuurlik, maar dit het die oomblik soos ’n bel laat bars. Hy het niks van die goed bewoorde relaas gehoor nie, haar in stomme teleurstelling staan en aanhoor. Maar toe sy skielik op haar horlosie kyk en hom ietwat gejaag aan die hand neem, het hy hom nie eens verset nie. “Kom,” het sy gemaan, “ons gaan laat wees en tant Yvonne het vir ons kaartjies gekry vir die Comédie Française. ’n Stuk van Molière!”
En vanaand is dit opera toe. Madama Butterfly . . .
Pietman leun agtertoe en laat sy kop teen die koue muur rus, kyk afwesig na ’n troppie skoolkinders voor ’n groot kunswerk en hoe hul juffrou met baie handgebare iets aan hulle beduie. Hy wens opeens dat alles nog so eenvoudig was dat dit verduidelik kon word.
Hy staan sugtend op en stap deur die hoë sale buitetoe. Maar die sonnetjie het steeks geraak, skuil kort-kort agter laagdrywende grys wolke. En hy kry ’n wilde lus om sommer weer op ’n trein te klim. Dalk na Beaune of weswaarts na Mont-Saint-Michel . . .
Dis toe hy die deftige woonstel in die Rue Saint Honoré binnestap en die huishoudster sy baadjie swygend by hom vat dat hy weet: Hy’s klaar met somme maak. ’n Man laat hom nie vasvra of voorsê nie. Nie ’n man der manne nie – soos wat Keppie sou sê.
Hy wens ineens Keppie was hier. Dan sou daar darem pret gewees het! Keppie sou ook daarvan gehou het om sommer net rond te loop. Hulle sou dalk iewers ’n lang Franse brood gekoop het saam met ’n stukkie klassieke Pont l’Évêque-kaas en ’n bottel soeterige Montbazillac-wyn. Dan sou hulle die eerste openbare park opgesoek het en hulle op ’n bankie tuis gemaak het om so proe-proe die wêreld te beskou.
Die Druets en Surita sit nog aan ontbyttafel toe hy binnestap. Hulle kyk beleef op, glimlag met hul mondhoeke.
“Jammer dat ek laat is,” sê hy toe hy langs Surita gaan sit, “maar die uitstappie het my goed gedoen.”
“Mooi,” sê tant Yvonne en glimlag. “Ek hoop net nie jy is nou te moeg om saam met ons te gaan inkopies doen nie. Ons wil na die Samaritaine se uitverkoping gaan en dan tee drink op die daktuin. Die uitsig is fabelagtig en . . .”
“Liefs nie!” keer Pietman, ook glimlaggend, en oom François kyk belangstellend op van sy croissant af wat hy liggies aan ’t piets is met botter en patee.
Tant Yvonne se keelsenings trek styf, haar wenkbroue lig. Surita sit haar mes effentjies te luid in die klein bordjie neer. Maar hy druk deur. As Keppie nou hier was, dink hy in sy agterkop, sou hy my op die skouer geklop het. Hy glimlag weer oorredend na die twee vroue se kant toe – daardie skewerige glimlag wat sy ma altyd spottenderwys sy Tom Cruise-paspoort noem. En hy sien hoe hulle smelt. Tant Yvonne se skouertjies verslap en Surita se mond word weer sag.
“Luister, ek weet dis te veel gevra, maar kan ek nie asseblief vanoggend tuis bly nie? Ek het hoofpyn en miskien moet ek ’n bietjie rus voor vanaand se opera.”
Oom François glimlag fyntjies en rol ’n stukkie bros croissant van die een kies na die ander, knik wyslik. “Geniet die rus!”
Yvonne klik soetjies met haar tong en bied pille aan. Surita staar voor haar op haar bord en kerf haar broodjie aan flentertjies.
Na ete kry sy hom op die balkon met die smeedystermeubels en beskutte immergroen plante.
“Jou ma het gebel toe jy uit was,” sê sy bot. “Sy’t bekommerd geklink – meer as gewoonlik.”
Pietman voel hoe ’n ysigheid deur hom trek. Sy ma was juis so ongewoon tranerig toe sy hulle op die lughawe weggesien het. Sy het hom styf vasgehou en met haar gesig teen sy skouer gesê: “Pas jouself op, Pietman! En kom gou terug!” Surita het nog ewe getroos: “Toe maar, tannie, ek sal mooi na hom kyk!”
Hy bly half magteloos staan, kyk weg oor die blougrys dakteëls.
“Bel jou ma,” sê Surita skielik simpatiek en kom staan dig teen hom, hou haar mond. Hy buig sy kop werktuiglik, soen haar sag. “Toe kom,” sê sy weer. “Bel haar en stel jouself gerus. En ek sal by jou bly ook as jou kop seer is.”
“Sal jy?” vra hy bly.
“Natuurlik!” Sy glimlag. “Ek sal net weer vir tannie Yvonne vra of dit haar planne nie te veel sal omkrap nie. Sy sien nou so uit na die inkopietog!”
Pietman maak sy mond toe en byt op sy tande. Hy kan maar die idee van ’n stil, huislike middag saam met Surita groet. Dit sal ongetwyfeld tant Yvonne se planne te veel skommel.
En hy is reg. Toe Surita die onderwerp aanroer, werk haar tante se keelsenings weer en dis Pietman wat gul sê: “Ag nooit, Surita! Gaan saam met tant Yvonne. Jy is mos nie aldag by haar nie! En moenie jou bekommer nie, ek sal doodreg wees.”
Tant Yvonne glimlag al haar plooie weg en antwoord ewe ruimhartig: “Nou ja, daar het jy dit! Maar bel eers jou moeder, Pietman. Ek sal Jeanne aansê om vir jou lekker flou tee te maak, maar dan moet jy gaan lê!”
“O . . . baie dankie,” sê hy, maar voel ’n benoudheid agter sy borsbeen swel. As hy nie oppas nie, gaan hierdie Franse vrou en haar mooi niggietjie sy lewe vir hom leef. Die idee tref hom soos ’n skoot koue water en hy kry opeens heimlik lekker oor die wit leuentjie. Sy kop is ver van seer af. Maar as hy nog so ’n bietjie beter toneel speel, kan hy dalkies vanaand se opera ook ontduik.
Toe die vroumense weg is en die stywegesig-Jeanne vir hom sy tee gebring het, trek hy die telefoon nader. Sy ma antwoord byna dadelik en soos male tevore verstom hy hom dat ’n mens met iemand anders oor die lengte van ’n kontinent en die breedte van die see kan gesels asof die persoon langs jou staan. “Ma!” sê hy bly. “Ek hoor Ma soek my?”
Daar is ’n kort, hewige stilte. So asof sy haar emosies eers op hok moet kry. Hy ken haar mos. Sy het die manier om haar asem op te hou as sy nie mooi weet hoe om haar woorde in te span nie. Toe hoor hy haar futloos sê: “Hallo, Pietman. Ja wat, ek soek jou mos maar altyd. Gaan dit goed?”
“Baie goed dankie, Ma. Maar wat klink Mams so moeg?”
Weer die stilte. En ’n diep sug. “Ag, my kind, dis Kerstyd en ek mis jou. Gelukkig is oupa Murray darem hier. Hy sal bly tot na Nuwejaar.”
“Dan het hy regtig gekom?” Pietman is bly. Oupa Murray kom nie graag Johannesburg toe nie – hy wat dikwels luidkeels sweer hy verlaat nooit weer Potchefstroom se buitewyke nie, want in die stad is daar te veel mense en te min voëls; hy wat, sy groot lading kennis ten spyt, ligvoets fietstrap saam met die studente en smiddae op die wal van die Mooirivier onder die wilgers sit en droom.
Sy vraag ontlok darem ’n laggie. “Ja, hy kuier nou al ’n week lank hier en dit help nogal. Jou oupa is ’n wyse mens, Pietman. Jy is baie gelukkig om hom nog te hê. Al is Pappa weg, is oupa Murray nog daar. Ek . . . is so innig bly daaroor.” Dis of haar stem stok en sy swaar moet sluk om die emosie af te kry. En dit ontstem hom. Als is nie pluis nie.
“Wát is dit?” wil by trompop weet. “Ma klink nie lekker nie.”
Sy gee ’n blaaslaggie. “Ag toe nou! Lyk my jy verlang na my! Geniet jy darem die vakansie saam met Surita?”
“Ja en nee,” sê hy doodeerlik. Want dis nou een ding: hy jok nooit vir sy ma nie. Sy het ’n neus vir leuens en van kleins af het hy geleer dis die beste om liefs oop te maak en te bieg, want as sy jou vang dat jy lieg, raak dit net te warm.
“Hoe