Geloof sonder sekerhede. Anton van Niekerk
“Nuwe Hervormers”, maar dat ek ’n ander weg as hulle opgaan.
Ná hoofstuk 1 val die boek in twee hoofafdelings uiteen. Die eerste afdeling bevat my beskouing van wat geloof is en wat dit impliseer. Hier ontwikkel ek dan veral perspektiewe op die aard en inhoud van die geloof waaroor daar, in die lig van die eise van ons tyd, nuut gedink moet word. Ek handel oor hoe ’n mens die Bybel behoort te lees (hfst 2) en hoe ons oor God behoort te dink, veral as inhoud van die diepste misterie wat ten grondslag lê van ons ganse bestaan in die wêreld (hfst 3). Daarna opper ek die idee dat ons gerus minder teoreties oor die geloof moet begin dink, en baie meer prakties. Geloof is vir my ’n manier van lewe. Dit is die lewe in die liefde soos ons dit leer by Jesus van Nasaret. Ek wys daarop hoe hierdie perspektief reeds sterk na vore kom in die denke van Desiderius Erasmus (c 1466-1536), iemand wie se bydrae deesdae gerus herontdek kan word en wat na my mening die potensiaal het om sekere ontsporings in ons verstaan van die evangelie wat deur die Reformasie meegebring is, weer op koers te kry (hfst 4). Ek sluit die eerste afdeling van die boek af deur aandag te gee aan die morele revolusie wat ’n terugkeer na die eenvoudige lering van Jesus self kan bewerkstellig – Hy wat ons leer dat ons roeping is om, na sy voorbeeld, ware mense te word, en dat dít eers en slegs bewerkstellig word as ons volle verantwoordelikheid vir ons medemens aanvaar (hfst 5).
Die praktiese implikasies van bogenoemde geloofsbeskouing word in die tweede afdeling van die boek ondersoek. Ek kyk veral na die implikasies vir ’n vyftal vraagstukke waarmee moderne mense in die Suid-Afrika van vandag, maar ook wêreldwyd, worstel as hulle steeds in God wil glo. Die eerste is die immergroen maar steeds tergende vraagstuk van die verhouding tussen God en die lyding en kwaad wat nie minder nie, maar skynbaar al hoe meer in ons wêreld word. Hoe moet ons dit kleinkry (hfst 6)? ’n Volgende hoofstuk in hierdie tweede afdeling van die boek handel oor die verhouding tussen geloof en wetenskap – ’n kwessie wat met groeiende dringendheid vanuit wetenskaplike geledere aan die orde gestel word, en wat sporadies in fel openbare debatte uitbars. Ek is van mening dat daar nog heeltemal te min helderheid oor hierdie belangrike saak bestaan, en lewer my eie beskeie bydrae tot die gesprek (hfst 7). Nou verwant daaraan is die verstommende ontwikkelings op die terrein van biomediese tegnologieë, en veral die komplekse morele probleme waartoe hierdie ontwikkelings dikwels aanleiding gee. Ook hier word ons gekonfronteer met ’n aspek van die moderne wêreld waarvoor ons geloof meesal verleë staan en waarop dit dikwels op ’n onbeholpe en verleentheidskeppende wyse reageer. Aangesien hierdie onderwerp ’n kernaspek van my akademiese navorsing uitmaak, maar ook omdat ek daarvan oortuig is dat van die moeilikste morele besluite wat ons in die toekoms sal moet neem direk met hierdie kwessies in verband staan, wy ek twee hoofstukke (hfst 8 en hfst 9) hieraan.
Om in ons huidige wêreld te glo, en boonop jouself in Suid-Afrika te bevind, het onvermydelik betekenis en implikasies vir die sosiaal-politieke werklikheid waarin ons ons bevind. Suid-Afrika het ʼn traumatiese geskiedenis waarin godsdienstige geloof en die kerk as propageerder van daardie geloof ’n sentrale rol gespeel het, en in sekere opsigte steeds bly speel. Ook en veral op hierdie terrein is die vraag wat die betekenis en beduidenis van ʼn geloofsbeskouing soos ontwikkel in hierdie boek is. Dit is die tema van hoofstuk 10.
Wat oorbly, is die kwessie van ons eindigheid en die werklikheid van die dood. Die dood is die groot verleentheid en taboe van ons tyd. Dit is die een grens aan ons vermoë en skeppingskrag wat skynbaar steeds onoorskrybaar bly (hoewel, soos aangetoon sal word in hoofstuk 9, die idee en moontlikheid van menslike onsterflikheid iets is wat tans in sekere kringe begin posvat en ondersoek word; dit is natuurlik ook ’n ernstige vraag wat ons vanuit die perspektief van die geloof oor so ’n moontlikheid behoort te dink.). Hoe moet eietydse gelowiges oor die dood dink? Is die dood die sin van die geloof? Hoe maak ons sin van die dood sonder om eensydig in ’n “pie in the sky”-geloof te verval wat sy relevansie vir die lewe hier en nou verloor het? Dit is die onderwerp van die slothoofstuk (hfst 11).
’n Paar kort woorde van bedanking is van pas. Eerstens wil ek my dank uitspreek teenoor Lux Verbi.BM wat kans sien om die taamlik onortodokse idees van ’n filosoof wat op ’n manier probeer glo, maar dit maar “snaakserig” doen, op hierdie wyse die wêreld in te stuur. Ek vertrou dat ek én hulle dit sal oorleef. Die name van Lux Verbi.BM se publikasiehoof, Lambert Jacobs, en Estelle Steenkamp verdien hier spesiale vermelding. Estelle was vir baie jare my redakteur, maar ek is dankbaar om te sê dat sy oor tyd ook ’n ware vriendin geword het. Haar entoesiasme was altyd aansteeklik, haar aanmoediging is hoog op prys gestel en haar sorgvuldige versorging van die manuskrip word opreg waardeer. Baie dankie ook vir haar Afrikaanse vertalings van ’n hele aantal Engelse aanhalings wat ek in die boek gebruik.
Ek is eweneens baie dankbaar teenoor Hennie Rossouw, Leon Fouché en Hennie Lötter wat die hele manuskrip gelees en besonder waardevolle kommentaar daarop gelewer het. Willie Esterhuyse, Hendrik Bosman en JL (Jan) de Villiers het ook enkele hoofstukke gelees en ek waardeer hul kommentaar opreg. Dankie ook aan my vroeëre navorsingsassistent, Liezl Dick, vir haar proefleeswerk en hulp met die opspoor van bronne. Die foute en tekortkomings wat oorbly, is vanselfsprekend vir my eie rekening.
Dankie, laastens, aan my vrou, Amy, wat baie ure lank my geselskap moes ontbeer ter wille van hierdie werk. Uit waardering vir die begrip en blymoedigheid waarmee sy dit al soveel jare doen, dra ek die boek aan haar op. Sy is my eerste leser en altyd ’n betroubare klankbord. Die boek se uiteindelike titel was ook haar voorstel. Daarvoor, sowel as vir 36 jaar se volgehoue en vreugdevolle kameraadskap, sê ek baie dankie.
Anton van Niekerk
Stellenbosch
Julie 2005
1
Geloof in onseker tye
Ons is moderne mense wat, indien ons bly glo, dit wil doen op ’n manier wat aangepas is by, en nie voortdurend lynreg vloek teen die veronderstellings, insigte, waardes en verwagtings wat ons lewe, as erfgename van die eeu waarin ons ons bevind, kenmerk nie.
Om in God deur Christus te glo, is om op ’n bepaalde wyse inhoud te gee aan die geheimenis van ons bestaan. Ons glo nie omdat ons alles weet wat daar te weet is oor en omtrent die wêreld nie. Ek verwonder my dikwels aan gelowiges wat skynbaar op grond van hul geloof so baie weet en so min vrae het. As ons deur (byvoorbeeld) wetenskap en tegnologie alles kon weet wat ons wou weet, was geloof nie nodig nie; en dan het ons, Bybels gestel, nie geleef “uit geloof” nie, maar “in aanskoue”. As ons egter eerlik is, moet ons – ten spyte van die magdom kennis en insig wat die wetenskap al opgelewer het – erken dat wat ons nié weet of verstaan nie, steeds ons bestaande kennis en insig verreweg oortref.
Die misterie dat ons hier is …
My manier om hierdie insig te verwoord, is om te sê dat ons, by alles wat ons weet en reeds presteer het, steeds lewe in ’n misterie, ’n geheimenis wat ons nie kan deurgrond nie. Ons glo omdat geloof ons as mense se manier is om inhoud te probeer gee aan hierdie geheimenis. Geloof is daarom deel van ons “menslike kondisie”; dit is die algemeenste manier waarop mense reageer op die misterie van ons bestaan. Nie alle mense glo nie. Nie alle mense voel enige behoefte daaraan om die misterie te probeer peil nie. Hulle is tevrede om te aanvaar dat ons bestaan in die wêreld ’n naakte feit of gegewe is “waaragter” ons geen verdere verklaring of geheim hoef na te speur nie. Om nie te glo nie, is sulke mense se goeie reg, wat ek ten volle respekteer.
Ek wend my egter in hierdie boek tot ’n ander groep mense: diegene, soos ek self, wat nie tevrede is daarmee dat die wêreld is soos dit is en lyk soos dit lyk nie; wat verwonderd bly oor die feit dat ons hier is en dat die wêreld en gebeure in die wêreld die voorkoms het wat dit het. Dit is die groep mense vir wie die wêreld, soos die Duitsers dit so mooi stel met ’n onvertaalbare frase, fraglich is (letterlik “vraaglik”, dit wil sê bevraagtekenbaar, onverklaar, geheimenisvol). Wat bedoel ons daarmee? Laat ek dit kortliks toelig:
Hoe moet ons dit byvoorbeeld kleinkry dat ons hier is – bewoners van ’n klein planeet, wentelend rondom ’n ster van middelmatige grootte, een van biljoene sonne (laat staan hoeveel planete) in ons sterrestelsel (die Melkweg), deel van ’n sonnestelsel op die buitewyke van ’n sterrestelsel van middelmatige grootte, wat op sy beurt weer een is van letterlik biljoene sterrestelsels in ’n heelal waarvan