Geloof sonder sekerhede. Anton van Niekerk
Dit is natuurlik ook so dat ’n mens die leerstelling dat Christus “uit ’n maagd gebore” is, nie letterlik hoef op te neem nie. Dit is immers nie slegs van Jesus dat daar in die tyd toe die Nuwe Testament ontstaan het, beweer is dat Hy uit ’n maagd gebore is nie. Dit is ook beweer van allerlei ander baie bekende historiese figure, onder wie iemand soos Aleksander die Grote. Volgens hierdie interpretasie was die geboorte uit ’n maagd in daardie tyd nie primêr ’n aanduiding van die negatiewe beoordeling van seksualiteit nie, maar eerder van die buitengewone bewondering wat so ’n figuur uitgelok het. Dit sou ook ’n erkenning kon wees dat die betrokke figuur so besonderlik gelewe en presteer het dat sy of haar ontstaan iets totaal buitengewoons moes wees; iets méér as dié van ’n gewone mens. Die wyse waarop ’n negatiewe beoordeling van seksualiteit gekoppel is met die idee van ’n maagdelike geboorte sou volgens hierdie interpretasie iets wees wat eers baie later in die geskiedenis van die kerk na vore getree het.9
Ek ontken nie dat só ’n interpretasie van die maagdelike geboorte moontlik ’n sekere geldigheid het nie. Die implikasie sou wees dat, wanneer die kerk Jesus se maagdelike geboorte bely (soos in die Twaalf Artikels), die bedoeling nie hoef te wees dat Jesus letterlik uit ’n maagd gebore is nie, maar bloot dat Hy erken word as die buitengewoonste van almal wat ooit geleef het: God in die vlees, Immanuel. Ek het egter nogal bedenkinge oor wat die implikasie van so ’n interpretasie sou wees vir ons ewe sterk gehuldigde belydenis dat Jesus waaragtig mens (vere homo) was: ’n belydenis wat ek as van sentrale belang vir die Christelike geloof ag. Daarby kan nie ontken word nie dat, al was die negatiewe beoordeling van seksualiteit moontlik nie van die begin af ’n motief vir die belydenis dat Jesus uit ’n maagd gebore is nie, dié negatiewe beoordeling hoe langer hoe meer die werklike motief vir die leerstelling geword het.
Die primêre assosiasie van sonde en seks is immers ’n motief wat deur die hele Westerse geestesgeskiedenis loop. Die huidige vigsepidemie en die probleme wat stigmatisering – as gevolg van die seksuele oordrag van die virus – veroorsaak ten opsigte van die effektiewe bestuur van dié siekte, wys veral in ons tyd hoe destruktief hierdie assosiasie kan wees. Ek bly daarom onoortuig daarvan dat die kerk ernstig van sy teenswoordige lidmate kan verwag om die leer van die maagdelike geboorte letterlik, of selfs ernstig, op te neem.
Moet ons die geloof dus prysgee? Is ongeloof die prys wat ons vir moderniteit moet betaal? Ek dink nie so nie. Ek dink wel ons kan en behoort anders te glo as in terme van ’n model van geloof wat alles wat in die Bybel staan, eenvoudig letterlik wil opneem en wat die leerstellings van die kerklike tradisie en belydenisskrifte klakkeloos en onkrities wil aanvaar. Ek dink selfs nie dat my oortuiging ’n radikale en onherstelbare breuk met ons gereformeerde nalatenskap impliseer nie. Een van die kosbare erfenisse van die Reformasie is immers die verbintenis daartoe dat hervorming nie ’n eenmalige nie, maar ’n voortgaande proses is. Ek bied nie my idees aan as, in enige sin, ’n nuwe finale waarheid of die laaste woord oor hierdie aangeleenthede nie.
Om te glo ten spyte van onsekerheid
Een van die bevrydende dinge van ons demokratiese Suid-Afrika, so lyk dit my, is die tekens van groter vryheid en minder vrees vir sosiale verwerping, wat ’n mens toenemend opmerk in die manier waarop mense hul geloof beleef, daaroor praat en gemeenskappe kies waarbinne hulle in godsdienstige verband tuis voel. Een van die beklemmende dinge van die ou apartheidsbestel, afgesien van al die onreg wat dit bestendig en vergoeilik het, was die wyse waarop ons samelewing, veral wat Afrikaanssprekendes betref, geslote geraak het. Apartheid was ’n outoritêre sisteem wat sterk staatgemaak het op vrees en dreigemente om mense binne die laer te hou. Soos dikwels in die geskiedenis van die Christendom is ’n strakke ortodoksie – ’n konsensus oor vermeende ononderhandelbare kerklike leerstellings – afgedwing met dreigemente van sosiale verwerping (ostrasering) teenoor “afwykendes”. So is die “goeie orde”, en die beheer oor die samelewing wat daarmee saamhang, deur die magstrukture van die apartheidsorde behou. Benewens baie ander dinge gee ons nuwe bestel ons veral ook die vryheid om te kan dink en te kan redeneer sonder vrees vir uitwerping uit die hegemonie van die bevoorregtes. Vandaar ook die verontwaardiging by baie Suid-Afrikaners van Afrikaner-oorsprong, veral onder die jonger geslag, oor die muwwe tradisionalisme van die vervloë tyd. Mense kies vandag baie meer as vroeër wat hulle wil glo en waar hulle hul tyd wil deurbring as vroeër. Mense is heelwat meer Christene “by choice” as “by convention”.
Hoewel laasgenoemde tendens op die oog af nie goeie nuus is vir instellings wat ten nouste met die apartheidsbedeling geïdentifiseer het nie, soos byvoorbeeld die drie “suster-” gereformeerde kerke in Suid-Afrika, moet ons dit verwelkom. Dit is ’n tendens wat op die duur vir hierdie instellings ten goede kan wees as hulle hul op ’n verbeeldingryke wyse daarby kan aanpas. In die gees van ons nuwe vryheid wil ek daarom lesers in hierdie boek uitnooi om saam met my nuut te probeer dink oor die Christelike geloof: wat dit is, hoe dit werk, waarop dit gerig is en wat dit kan bewerkstellig.
Laat my by voorbaat ’n waarskuwing rig aan enigeen wat die boek lees met die verwagting dat dit, in die plek van die ou sekerhede wat dikwels in die visier van my kritiek sal kom, ’n nuwe reeks sekerhede sal oplewer wat die oues goedskiks en heelhuids kan vervang. ’n Leser met dié hoop gaan teleurgesteld word. Ek is ’n mens en ’n skrywer met min sekerhede.
Trouens, wat my afskrik van heelwat wat tradisioneel in die naam van die Christendom en die kerk gesê en aangevang is, was juis die aanspraak op sekerheid – dogmaties, stellig, onbetwyfelbaar – wat dikwels daarmee gepaardgegaan het. ’n Ander manier om hierdie punt te maak, is om te sê dat ek nogal skepties is oor die vermoë van die teologie om met deurslaggewende stelligheid baie oor God te weet, en dus ook oor wat ons moet dink, sê en doen. Een van die aspekte van die Bybel wat my toenemend tref, is die stemme van onsekerheid, twyfel en beskeidenheid wat deurspeel in die getuienisse van talle Bybelskrywers. In die Psalms is daar wel soms sprake van hartlike geloofsekerheid. Tog is ek eweseer aangegryp deur die belydenisse van verwondering, ontreddering, skuld, vervreemding en onbegrip in byvoorbeeld Psalms 8, 31, 86, 88, 123 en 139. Habakuk, die enigmatiese profeet wat meer soos ’n priester opgetree het in sy voorspraak vir die volk by God, worstel ook met meer vrae as antwoorde.
Die aangrypendste van almal is egter Job, die slagoffer van ’n “weddenskap in die hemel” wat nooit aan hom verduidelik word nie. Job verstaan nie wat met hom gebeur nie en word gekonfronteer met die teologie van sy vriende – hulle wat met groot stelligheid en sekerheid voorgegee het dat hulle “weet” hoe God werk: “As jy goed doen, seën God jou; en as jy kwaad doen, straf God jou.” Dit kon Job nie aanvaar nie, en daardeur bewys hy hom as die vyand van die teologie van sekerheid oor God: “In die huise van die rowers is daar rus,” sê hy, “en dié wat God se toorn verwek, is veilig, dié wat meen dat hulle vir God in hulle mag het” (Job 12:6; ek hou egter meer van die letterlike ou vertaling: “Rustig staan die tente van die verwoesters, en sekerheid is die deel van hulle wat God vertoorn, van hom wat sy God in sy hand dra”). Job ken God – die God van liefde, sorg en geborgenheid. Die misterie van die weddenskap in die hemel word nie in die laaste hoofstukke van die boek aan hom geopenbaar nie; God vertel liewer, met meesleurende humor (“probeer maar ’n krokodil in ’n koutjie vang, en kyk hoe ver jy kom!” – Job 40:24) iets meer van sy soewereiniteit en onpeilbaarheid vir Job, sonder om iets te onthul oor die misterie van wat met hom (Job) gebeur het.
Dít is die tradisie van Bybelse geloofshelde waarby ek graag wil aansluit – diegene vir wie onsekerheid net so ’n onvervreembare komponent van hul geloofslewe was as sekerheid. Ek weet nie of ons te veel kan weet van God nie. Jesus self sterf met ’n vraag op sy lippe: “My God, waarom het U My verlaat?” Op daardie vraag kom geen onmiddellike antwoord nie. Die kerk van die eeue is steeds besig om, via die teologie, die mees betroubare antwoord op daardie vraag te soek.
Daarby lyk dit my asof van die grootste tragedies in die geskiedenis van die Christelike kerk – wisselend vanaf die skeuring tussen die Oosterse en die Westerse kerke, via die Reformasie, die afskuwelikhede van die Inkwisisie en die godsdienstige vervolgings van die 16de en 17de eeue, tot by die huidige, voortgaande, uiters onverkwiklike impasse tussen die NG Kerk-familie oor die Belydenis van Belhar om mekaar in eenheid te vind – die gevolg is van te veel teologie van sekerheid, te veel sekerheid omtrent wie God nou eintlik is en wat presies ons omtrent Hom moet bely, of nie moet bely