Geloof sonder sekerhede. Anton van Niekerk
Prediker dink egter glad nie só oor die geskiedenis nie en werk duidelik met ’n sikliese idee van tyd: “Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie” (Pred 1:9). Volgens die Prediker het die wêreld waarin ons leef ook nie noodwendig ’n sinvolle einde nie; trouens, “alles kom tot niks” of soos die 1953-vertaling beter gesê het: “alles is tevergeefs.”
Die Bybel het ontstaan oor ’n periode van etlike honderde jare. Die skrywers daarvan was gewone, meesal ongeleerde of ongekultiveerde mense (met Paulus as belangrike uitsondering). Die keuse oor watter boeke om in die Bybel op te neem, was ’n bewuste besluit van die kerk, en as sodanig bly dit in sekere opsigte aanvegbaar. Iemand soos Martin Luther het byvoorbeeld ernstig beswaar gehad teen die insluiting van die brief van Jakobus in die Bybelse kanon. Kortom, die Bybel is ’n versameling geskrifte wat tot stand gekom het deur mensewerk oor eeue heen, en ten opsigte waarvan ons kan aanvaar dat daar in die ontstaan van hierdie boeke geen selfbewuste proses was nie. Die skrywers het met ander woorde nie geweet dat hulle besig was om iets tot stand te bring wat in latere eeue as ’n “heilige boek” beskou sou word nie.
Is die Bybel dan bloot ’n “boek tussen boeke”, iets met geen ander status as dié van ander klassieke werke in die wêreld-literatuur nie? Dit sou ek tog ook wou ontken. Vir die Christelike kerk is die Bybel die gesaghebbende getuienisse wat in die tradisie gelewer en opgeskryf is aangaande God se selfopenbaring aan die mense. Dat hierdie boek die “Woord van God” genoem word, hang onlosmaaklik saam met ’n bewuste geloofskeuse deur die Christelike kerk. Dit is naamlik gekies om “Woord van God” te wees op grond van die geloofsoortuiging dat God Hom aan ons in die geskiedenis bekend gestel het. God, so glo die kerk, het gehandel in ons wêreld en geskiedenis, en doen dit steeds. Die Bybel is essensieel die verhaal daaromtrent – die verhaal oor die “groot dade van God”. Wat ons gesaghebbend oor God kan weet, so glo die kerk, weet ons op grond van wat ons opgeteken vind oor sy heilbrengende handelinge in die getuienisse van die begenadigdes wat dit van naby beleef en daarvan vertel het.
Dat die Bybelskrywers God se handelinge van naby beleef en getuienisse daaroor gelewer het, beteken egter nie dat hulle foutloos of “onfeilbaar” geskryf het nie. Hulle het natuurlik baie foute gemaak en onakkuraathede begaan. Hulle het nie (soos soms letterlik in die Middeleeue geglo is) gesit en luister na die direkte “influisteringe van die Heilige Gees” nie. Die Bybel is nie, soos Karl Barth ’n keer grafies geskryf het, ’n “papierpous” waarvan elke letter heilig en onfeilbaar is en waarvan elke woord, bloot omdat die woord in die Bybel voorkom, “die waarheid” is nie. Barth se manier om dit te verduidelik was om te beweer dat, eerder as om te sê die Bybel is God se Woord, ’n mens moet sê die Bybel bevat God se Woord.
Die Bybelskrywers het dinge beleef – gesigte, drome, redenasies, wyse insigte, historiese gebeure en ervarings soos die Babiloniese ballingskap, en baie meer – en hulle het daaroor geskryf soos hulle dit beleef het. Op die een of ander wyse, wat ons steeds nie behoorlik verstaan nie, het dié geskrifte bewaar gebly – hoofsaaklik omdat ander mense wat dit gelees het of (soos meer waarskynlik was) aan wie dit voorgelees is, daarin heilsame betekenis gevind het. Dit het soos weinig ander dinge tot lesers gespreek. Hulle manier om dié aangesprokenheid te verwoord, was om, in die idioom van hulle tydgenote, saam te stem dat “God met ons praat” in hierdie geskrifte. Sodoende het dié geskrifte ’n bepaalde gesag begin verwerf in die gemeenskappe waarin hulle gelees en oordink is.
’n Mens kan dit verduidelik met verwysing na byvoorbeeld die versameling werke wat in ons kultuur uit die pen van William Shakespeare verskyn het. Nie al Shakespeare se dramas of gedigte is ewe goed nie. Maar die goeies is só goed, hul trefkrag so wyd en hul relevansie so durend, dat dié versameling geskrifte ’n korpus van literêre insig bied wat in hul totaliteit ’n haas ongeëwenaarde aanklank en status in die wêreldliteratuur gevind het.
Ek wil beweer dat dit ook só is met die Bybel: Nie alles daarin is op dieselfde vlak van óf gesag óf durende betekenis nie. Min dele van die Bybel vergelyk, na my mening, in hul trefkrag en sin met die Psalms of met Prediker of die historiese dele van die Ou Testament of die drie sinoptiese Evangelies (Matt, Mark en Luk). Terselfdertyd meen ek dat boeke soos Levitikus, Numeri, Hooglied, die meeste van die kleiner profete, enkele gedeeltes van die Pauliniese briewe, Hebreërs en veral die Openbaring, die meeste van hulle trefkrag en appèl vir moderne lesers verloor het. (Ander hedendaagse lesers mag natuurlik anders hieroor oordeel). Nogtans vorm al die boeke van die Bybel tesame ’n geheel waaraan die kerk reeds vroeg in die Christelike era ’n gesaghebbende betekenis en gesag toegeken het – as erkenning dat hierdie versameling van dokumente die beste uitdrukking bied van wat die kerk bedoel as die kerk sê dat God deur sy Woord en Gees vir Hom in hierdie wêreld ’n verbondsvolk versamel. In hierdie sin is die Bybel die “Woord van God”.
Dat die Bybel op dié manier “Woord van God” is, impliseer dus dat dit nie bloot “mensewerk” is nie, maar ook “God se werk”. Die kerk glo wel dat die Bybel, uiteindelik, ’n geïnspireerde boek is. Maar dié inspirasie het nie soseer te make met iets wat plaasgevind het toe dit geskryf is, of met die skrywers as sodanig nie. Dit het meer te make met die betekenis wat dié versameling Bybelse geskrifte met verloop van tyd in die lewe van die geloofsgemeenskap verwerf het. Die Bybel is “die Woord van God” omdat die kerk as gemeenskap ervaar dat hulle in die Bybel, meer as op enige ander plek of deur enige ander gebeurtenis of ervaring of boek, telkens en opnuut God se stem en sy boodskap van heil en bevryding daarin hóór. Ons hoor God se Woord egter nie bloot omdat ons meganies woorde lees wat op papier geskryf staan en dat daardie woorde dan asof vanself God se “stem” word nie. God se Woord moet verkondig word. Laasgenoemde is die wonderbaarlike gebeure wat kan plaasvind wanneer die Woord aan die woord gestel word in die erediens of in ander geloofsbyeenkomste of in situasies van toegewyde Bybelstudie. Dan ontdek ons God se Woord in die Bybel – soos Barth dit so goed ingesien het; dan hoor ons God se stem; dan word ons deur God aangespreek en tot antwoord of verantwoording en aksie opgeroep. In dié sin word die Bybel as die werk van mense getransformeer tot die Bybel as die Woord van God self.
In ’n vorige paragraaf het ek gewaag om te beweer dat sekere Bybelboeke of -gedeeltes baie meer tot my spreek as ander. Trouens, daar is sekere Bybeldele wat, moet ek bely, my heeltemal koud laat of selfs afstoot. Neem die geval van God se opdrag aan Abraham om sy enigste en langverwagte seun Isak op die berg Moria te gaan offer (Gen 22). Wat moet ons sê van ’n God wat so iets van ’n mens vra? Ek is grootgemaak met die idee dat God dit van Abraham gevra het om die egtheid van sy geloof te toets; om hom “op die proef te stel”. Hebreërs 11:17 regverdig dié gebeure ook só. Maar dit help my beswaarlik. Wat sou ons vandag sê van ’n vader wat hom dit laat welgeval om sy geloof in God te laat toets deur die bereidheid om sy enigste kind – of dan énige mens – om die lewe te bring? As ’n mens die God van wie hier sprake is, regtig wil verdedig, kan jy seker na die uitkoms van die gebeure verwys, naamlik dat God, volgens die verhaal, Abraham toe tog gekeer het (het God self toe eers besef waarmee Hy eintlik besig is?) en ’n bok in die plek van Isak vir die offer aangewys het. Dit troos my skaars.
In ’n ander Bybelverhaal – dié van Jefta se onbesonne belofte ten einde God se arm te draai vir ’n oorwinning oor die Ammoniete – onderneem hy naamlik om, indien God dié vyand in sy mag gee, die eerste mens wat hy by sy terugkeer ná die suksesvolle veldslag teëkom, aan God te “offer” (Rig 11:30-31). Hier, egter, vind die deus ex machina-verlossing van Genesis 22 ongelukkig nié plaas nie. En God is skynbaar ewe rustig daaroor dat Jefta se dogter – die slagoffer van sy onbesonne gelofte – aan die pen moet ry ter wille van haar onverantwoordelike pa se roekeloosheid.
Simone de Beauvoir, die bekende ateïstiese Franse skryfster en “moeder” van die 20ste-eeuse feministiese beweging, skryf in die vierde deel van haar bekende outobiografie dat sy, as bejaarde, die eerste keer sedert haar kinderdae (toe sy diep gelowig was uit vrees vir die verdoemenis) weer ’n keer die Bybel van voor tot agter deurgelees het. Haar oorheersende indruk was die wreedheid van Jahwe, die “hoofkarakter” van die Ou Testament. Hoewel dit myns insiens ’n oordrewe stelling is, kan ’n mens tog iets daarvan verstaan.
Drie opmerkings oor hoe ons die Bybel moet lees
Ek wil hierdie hoofstuk oor hoe ’n mens die Bybel lees – wat geen aanspraak maak op volledigheid