Geloof sonder sekerhede. Anton van Niekerk
ons die Bybel letterlik interpreteer?
Ons kan maklik met mekaar saamstem dat die allegoriese interpretasie nie werk nie. Maar hoe moet ons dan die Bybel lees? Die allegoriese interpretasie wys die gevaar van sogenaamde “inleeswerk” duidelik uit; dis onhoudbaar dat lesers hulle eie voorkeure en idees, en veral hulle eie voorskrifte oor moraliteit, op die Bybelteks afforseer. Beteken dit nou dat ons, om allegorie te vermy, versigtiger moet wees en die Bybel liewer “letterlik” moet interpreteer?
Dis hier waar die wortel van ernstige konflik lê – in die tradisie en tot in ons tyd. Hoe aantreklik die idee van ’n “letterlike” interpretasie van die Bybel ook al vir baie mense is, is dit veilig om te sê dat niemand in die Christelike tradisie nog ooit daarin kon slaag om konsekwent te hou by ’n letterlike verstaan van alles wat in die Bybel staan nie. Om ’n paar voorbeelde te noem: Dan sou ons al die seremoniële voorskrifte van die Pentateug2 steeds nougeset moes navolg: die “lossingsreg” (lees Lev 25) sou byvoorbeeld steeds van krag moes wees, en daar sou steeds “vrystede” moes wees (Num 35). Niemand glo dit meer nie. Al die (voor die hand liggende) simboliek wat ’n mens aantref in die Psalms, die profetiese en die apokaliptiese boeke3 van die Ou en die Nuwe Testament sou letterlik geïnterpreteer moes word. Jesaja se mond sou letterlik met ’n kool vuur aangeraak wees (Jes 6:6-7), Jona sou letterlik deur ’n reusevis ingesluk gewees het, ’n hele tyd (so groot soos hy is) in die vis se maag onder die see moes oorleef, en toe weer uitgespoeg word. Bileam se donkie sou letterlik moes gepraat het. Die semi-sosialistiese leefwyse van die eerste Christelike gemeente (Hand 2:44-47) sou steeds die model van kerkwees verteenwoordig, en ons sou dit letterlik moes navolg.
Die probleem is natuurlik dat die onhoudbaarheid van ’n letterlike interpretasie van sekere Bybelgedeeltes nie vir alle Christene so voor die hand liggend is soos dit (hopelik) in die geval van bogenoemde voorbeelde is nie. Die sentrale twispunt het te doen met die betekenis van Genesis 1 – 3. Terwyl ’n mens hopelik daarop kan reken dat die meerderheid verstandige mense – ook Christene – met my sal saamstem dat die voorbeelde wat in die vorige paragraaf genoem is, hulle op geen manier leen tot ’n letterlike interpretasie nie, is die probleem met die eerste drie hoofstukke van die Bybel meer kompleks. Hier het ons te make met materiaal waarop twee van die kernleerstellings van sowel die Roomse as die Protestantse leertradisies gebaseer is, naamlik die skeppingsleer en die verhaal waarop die Christelike kerk sy omstrede leer van die “erfsonde” baseer.4
Ek het wel ’n sterk vermoede dat ’n groeiende aantal Christene nie langer aanvaar dat die wêreld in letterlik ses dae van 24 uur elk geskape is, dat die volgorde presies so was soos wat Genesis 1 dit uitlê, en dat Adam en Eva historiese figure was nie. Hulle vind dit waarskynlik ewe problematies om, soos in die Inleiding beredeneer, die storie te koop dat ’n “reël/wet” wat dié twee in die “paradys” oortree het, meegebring het dat die res van die menslike geslag sowel as die ganse skepping (Rom 8:19-22; Kol 1:20) met ’n metafisiese, strafeisende banvloek getref is. Tog is die probleem dat selfs progressief denkende Christene in die gevestigde kerke dit lastig vind om hul skeptisisme oor hierdie leerstellings aan die groot klok te hang, aangesien hierdie soort aannames kennelik nog vervat is in sleutelleerstukke van die meeste gevestigde kerke.
Daarby het ’n groepering Christene wat kortweg beskryf kan word as “fundamentalistiese kreasioniste”, op voetspoor van hulle Amerikaanse eweknieë wat dit dekades lank reeds doen, toenemend die interpretasie van Genesis 1 – 3 tot slagveld verklaar. Dit blyk veral uit onverkwiklike briefwisselings in die Afrikaanse dagblad Die Burger wat taamlik gereeld voorkom en hervat. Met groot stelligheid verklaar hierdie groepering dat die hart van die Bybelse boodskap en die geloof in die evangelie in die gedrang kom indien die eerste drie hoofstukke van die Bybel nie as ’n min of meer letterlike beskrywing van werklike historiese gebeure beskou word nie. Dít ten spyte van die oorweldigend wyd aanvaarde wetenskaplike getuienis dat die aarde nie 6 000 nie, maar vier biljoen jaar oud is en dat lewe evolusionêr ontwikkel het uit primitiewe selle wat hul gene voortplant in die onoorskoulikheid van geologiese tyd en gedryf word deur slegs een dinamiese beginsel, naamlik natuurlike seleksie – die proses waardeur gene lewende organismes gebruik om optimaal te oorleef.5 Hier het ons op die oog te make met die skerpste konflik tussen wetenskap en geloof in die geskiedenis; een wat in heftigheid vergelykbaar is met die stryd tussen die kerk en Galileo Galilei tydens die 17de eeu.
Ons kan die Bybel nie deurgaans “letterlik” interpreteer nie, en die Christelike kerk het dit ook nog nooit deur die loop van sy ganse geskiedenis gedoen nie. Die hele idee dat “gewone mense” self die Bybel kan lees en verstaan, was ’n sentrale twispunt tydens die kerkhervorming van die 16de eeu, juis omdat Rome daarop aangedring het (en dit in sekere opsigte steeds doen) dat die enigste instansie wat regtig die Bybel betroubaar kan lees, die geïnstitueerde kerk is, en nie individuele lidmate van die kerk nie. Hulle standpunt was dat die leerstellige tradisie van die kerk, wat gevorm word deur die gesag van die biskoplike amp (met die biskop van Rome, oftewel die pous, as die hoogste gesag) ’n soort “bril” vorm waardeur gewone mense die Bybel behoort te interpreteer.
Uiteindelik het die Protestantse (en veral gereformeerde) tradisie nie te ver hiervan afgewyk nie. In die Protestantse wêreld is afgesien van die idee dat die kerk saamval met die biskoplike ampte en dat laasgenoemde via die biskop van Rome ’n unieke uitlêgesag het. Maar sedert die Sinode van Dordrecht in 1617 is in die gereformeerde wêreld die idee gevestig dat die kerk – al is die kerk alle lidmate, en nie slegs die ampte nie – tog ook “belydenisskrifte” moet hê. Belydenisskrifte is niks anders nie as ’n samevatting van kernelemente van dit wat die kerk meen dat die Bybel essensieel sê. In dié sin is die gereformeerde (en ander) belydenisskrifte voortsettings van die neiging tot belydenisvorming wat amper so oud soos die Christelike kerk self is, en wat teruggaan op die ontstaan van die oerbelydenisskrifte van die ganse kerk, soos die Twaalf Artikels en die Geloofsbelydenis van Nicea.
Ook die gereformeerde kerke aanvaar dus dat dit nie so eenvoudig is om te beweer dat enigeen, selfs al het hy of sy ’n opreg “gelowige hart”, eenvoudig die Bybel kan begin lees, by die essensie van die boodskap daarvan sal uitkom, en met ander gelowiges oor alles sal saamstem nie. Die kerk kan nie oor die weg kom sonder belydenisskrifte wat, soos die geval is met die tradisie by Rome, die “bril” vorm waardeur onderskei word tussen hoofsaak en bysaak in die Bybel, en waarin die kern van wat die Bybel eintlik sê, onder woorde gebring word nie. Die kerk het nog altyd besef dat daar chaotiese verdeeldheid sal ontstaan as elke lidmaat gewoon uitgelos word om wat hy of sy ook al in die Bybel raaklees, letterlik op te neem en toe te pas. Die vorming van ’n veelheid van Christelike kerke wat onversteurd voortwoeker tot in ons tyd, is ’n ongelukkige illustrasie van presies dié chaotiese verdeeldheid wat die kerk as liggaam van Christus tog steeds lamlê.
Wat is die Bybel, en wat is “God se Woord”
Ons kan die Bybel dus nie allegories lees nie, en ook nie letterlik nie.
Hoe dan? Miskien moet ons, voor ons dié vraag in verdere besonderhede bekyk, net eers meer duidelikheid probeer kry oor hoe presies ons oor die Bybel behoort te dink. Met watter soort “boek” – en om dié term vir die Bybel te gebruik, is al klaar nie sonder probleme nie, soos weldra sal blyk – het ons hier te make? Wat is die Bybel wesenlik? Met watter verwagtings kan en moet ons die Bybel opneem wanneer ons dit lees?
Die eerste wat ek hieroor wil beweer, is dat ’n mens die Bybel slegs “een boek” kan noem omdat daar vroeg in ons Christelike jaartelling deur ’n groep mense ’n bewuste besluit geneem is om dit te doen. Hulle was die geloofsgemeenskap wat ons die “vroeë Christelike kerk” noem en waarvan ons almal, wat steeds aan onsself as die “kerk” dink, die erfgename is. Die Bybel is egter inderwaarheid ’n versameling van verskeie boeke of geskrifte wat (soms dramaties) van mekaar verskil wat betref oorsprong, literêre genre, datering, skrywers, tydsomstandighede waarna verwys word en veronderstelde wêreldbeeld. Om byvoorbeeld net die verskille in wêreldbeeld te illustreer, kan ’n mens dink aan hoe die begrip van tyd en geskiedenis in boeke soos Genesis, Jesaja en Openbaring verskil van dié in byvoorbeeld Prediker. Volgens eersgenoemde drie boeke het die wêreld êrens ’n begin gehad in die tyd en stuur die geskiedenis af op ’n duidelike einde of konsummasie – die nuwe Jerusalem waarvan Openbaring praat, of die herstelde natuur waarin die leeu, wolf, luiperd, lam, suigeling en basilisk in