Geloof sonder sekerhede. Anton van Niekerk
Dit is hoogstens die uitkoms van die besinning van ’n twyfelende gelowige; iemand wat dit so voortdurend aan die lyf voel dat hy wil sê: “Ek glo Here, maar kom tog altyd weer my ongeloof te hulp.”
My besinning oor die geloof word gedryf deur my aanvoeling, reg of verkeerd, dat ons, veral in die gereformeerde tradisie, van die geloof ’n veels te teoretiese saak gemaak het – ’n saak van die verstand en van serebrale inspanning – en te min van ’n praktyk. Daarenteen is die geloof wat ons by Jesus leer, ’n manier van lewe. Dit is weliswaar nie ’n aktiwiteit wat ontdaan is van begrip en besinning nie – natuurlik moet ’n mens ’n denk- en verstaansgreep hê op wat jy glo.13 Maar die geloof wat ons by Jesus leer, is net soveel (indien nie meer nie) praktyk as teorie.
Ek kan nie in eerste instansie oor geloof dink as intellektuele instemming met ’n aantal leerstukke, en oor die lewe volgens die wet as ’n blote dankbetuiging in reaksie op iets wat ek “eintlik” slegs met my verstand en intellek doen nie. Geloof is ook en veral lewe; dit is om lief te hê, om te vergewe, om nood te verlig en om jou lewe te gee vir jou medemens. Kortom: Dit is om die “wil te doen van ons Vader”. Wie dit ontken, glo nie, so lyk dit my, soos Jesus ons leer om te glo nie. As wat ek hier beweer, neerkom op “werkheiligheid”, dan is Jesus ’n verkondiger van werkheiligheid. Dit is ’n uiters ernstige vraag in hoe ’n mate die groeiende geringskatting van die getuienis en die gevolglike ontkragtiging van die rol van die kerk in die wêreld te make het met ’n serebraalteoretiese geloofsbeskouing wat selde sigbaar word in ’n praktyk en leefwyse wat ’n wesenlike verskil maak aan die lewe waarin ons ons bevind. My passie vir ’n meer praktykgerigte geloofsbeskouing is gebore uit hierdie waarneming en besorgdheid.
Dit is oor dié beskouing van geloof dat hierdie eerste afdeling van die boek handel. Ek begin met die vraag na hoe ’n mens die Bybel lees, aangesien die Bybel tradisioneel beskou word as die bron van geloof en die verwysingspunt van wat in die geloof bely word.
2
Hoe lees ’n mens die Bybel?
Wat ons in die Bybel vind as “God se Woord” kan op geen manier losgemaak word van die behoeftes, omstandighede en eise van die wêreld waarin ons as lesers hier en nou leef nie … Ons [verstaan] iets eers … wanneer ons dit op onsself of ons eie omstandighede kan toepas, dit wil sê wanneer ons die waarde en waarheid daarvan vir ons huidige lewensoriëntasie raaksien. Daar is dus nie iets soos “die betekenis van die teks” wat vas en onveranderlik bly staan nie. In die woorde van Gadamer: “Om dieselfde (dit wil sê wat ‘eintlik’ in die teks staan) te verstaan, is om dit anders te verstaan.” Daarmee bedoel hy dat die boodskap van die teks vir mense in elke leessituasie ’n nuwe betekenis verwerf na gelang van hulle besondere agtergrond of verstaanshorison.
Hermeneutiek as teorie van interpretasie
Aan die wortel van al die kontroversie rondom wat ’n Christen deesdae kan en behoort te glo, en hoe ons sin kan maak van geloof in ’n veranderde wêreld, lê die vraag hoe ’n mens die Bybel moet lees en verstaan. Dis ’n vraag met geen eenvoudige antwoorde nie. Amper so lank soos die Bybel of sy verskillende boeke in die tradisie gelees is, bestaan daar al ’n reeks teorieë (sommiges sal sê ’n “wetenskap”) oor hoe ’n mens die Bybel behoort te lees. Hierdie teorieë word “hermeneutiek” genoem.1 Hermeneutiek is die teorie van interpretasie; dit is die neerslag van besinning oor die voorwaardes waaronder en die strategieë waarmee ’n mens dit wat jy lees, verstaan of probeer verstaan.
Deesdae is hermeneutiek ’n gevestigde en welbekende filosofiese dissipline wat sigself besig hou met die vraag hoe die verstaan van ’n teks, in die mees omvattende sin van die woord, moontlik is. Dit dek dus nie slegs die vraag na hoe ’n mens tekste moet lees en begryp nie, maar ook vrae soos watter rol “verstaan” in die praktyk van die wetenskap speel.
Een van die bekendste filosowe van die 20ste eeu, Martin Heidegger, het die vraag na die betekenis van “verstaan” selfs verhef tot die mees grondliggende filosofiese vraag wat daar is. Volgens Heidegger is die poging om te verstaan kenmerkend van die fundamentele manier waarop ons as mense is wat ons is. Ons menswees, sê hy, is ten diepste die volgehoue poging om sin te maak van onsself, of in sy eie formulering: “ons synswyse is synsinterpretasie”. Die vraag na verstaan is dus ten diepste die vraag na die sin van ons bestaanwyse as mense.
Allegoriese interpretasie
Lank voor hierdie meer komplekse onlangse ontwikkelings in die filosofie, is die hermeneutiese vraag egter al in die teologie gestel, in die vorm van die eenvoudige vraag: Hoe lees ons die Bybel? Soms is die vraag op ’n taamlik naïewe manier beantwoord. Een van die bekendste antwoorde uit die tradisie was afkomstig van die kerkvader Origines wat in die derde eeu nC geleef het. Origines was ’n voorstander van die sogenaamde “allegoriese” interpretasie van die Bybel. Dit is ’n leesstrategie waarvolgens ’n mens die betekenis van ’n teks nie letterlik opneem nie, maar die dinge wat die teks op die oog af sê (selfs al is dit heel konkrete dinge), beskou as simbole van iets dieperliggends.
Allegoriese interpretasies kan ten beste verduidelik word deur ’n voorbeeld of twee. Tot onlangs het ’n mens byvoorbeeld steeds gehoor dat die boek Hooglied in die Bybel nie regtig handel oor die erotiese liefde tussen twee minnaars nie, maar eintlik te doen het met die liefdesverhouding tussen Christus en sy kerk – selfs al kom die begrippe “Christus” of “die kerk” nie ’n enkele keer in die ganse Hooglied voor nie. Dit maak nie eens saak dat dié boek duidelik die lig gesien het lank voor Christus se geboorte nie. Vir dié soort interpretasie maak dit nog minder saak dat, indien die boek oor die verhouding tussen Christus en sy kerk sou handel, dit ’n opvallend erotiese verhouding sou moes wees – iets waarvan daar geen sprake is in ander Bybeldele waar gepraat word oor die kerk in verhouding tot die Hoof van die kerk nie. Die een of ander “begaafde” teoloog het bloot op ’n goeie dag met dié idee vorendag gekom – ’n idee wat wyd aanklank gevind het in ’n tydvak toe die kerk erg puriteins oor seksualiteit gedink het en in dié interpretasie ’n gerieflike uitkoms gesien het uit hul verleentheid om in die reine te kom met die feit dat daar, nogal in die Bybel van alle plekke, taamlik grafies en eksplisiet oor die ekstase van egte erotiese liefde geskryf word.
’n Selfs beter voorbeeld van ’n allegoriese interpretasie gaan terug op ’n jeugervaring wat ek self gehad het. Ek herinner my ’n preek wat ek as kind aangehoor het oor die meevoerende Ou-Testamentiese verhaal van Dawid en Goliat. In die kinderdiens dié dag weet die dominee ons toe te vertel dat die vyf klippies wat die jong Dawid daardie dag in sy slingervel gehad het toe hy die gepantserde reus Goliat tot ’n geveg uitdaag, natuurlik nie sommer gewone klippies was nie. O nee! Die klippies, het die dominee beweer, staan eintlik vir iets anders – vir die deugde van geloof, gehoorsaamheid, hulpvaardigheid, vriendelikheid en (soos ’n mens destyds altyd kon verwag) reinheid. Met daardie “vyf klippies in jou slingervel”, het die dominee ons met groot oortuiging meegedeel, kan ’n mens, soos ’n Dawid van ouds, die “(sondige) reuse van hierdie wêreld tegemoetgaan en oorwin”.
Allegoriese interpretasies het baie eeue lank ’n groot invloed uitgeoefen in die kerk, en dit gebeur tot in ons tyd. Drie dinge val ’n mens op van die allegoriese interpretasie. Die eerste, soos reeds gesuggereer, is dat dit klaarblyklik weinig begronding het in die teks wat gelees word. Dit spreek wel van verbeeldingskrag en oorspronklikheid, maar wat dit te make het met die teks waarna dit verwys of wat dit probeer “uitlê”, is wesenlik onduidelik. Die tweede is dat die allegoriese interpretasie altyd gedoen word met oënskynlik goeie bedoelings; ’n mooi sedelessie is meesal die motief daaragter. Die vraag is of daardie sedelessie – goed of sleg soos dit mag wees – hoegenaamd die teks waarna dit verwys, nodig het om die punt te maak wat dit probeer oordra. Die derde ding wat opval – en dit veroorsaak die grootste probleme met hierdie soort interpretasie – is dat dit volledig afhanklik is van die persoon wat interpreteer se vrye verbeelding, met geen waarborg dat ’n ander leser by dieselfde interpretasie van die teks sal uitkom nie.
Daar is wye konsensus dat ’n allegoriese interpretasie van die Bybel nie houdbaar is nie. Dit gee aanleiding tot verbeeldingsvlugte en breinspinsels wat op geen manier deur die teks ondersteun word nie. Dit veroorsaak dat sekere “begaafdes” al hoe meer ’n monopolie op Bybelinterpretasie verwerf, aangesien